Kom ek vertel eers van Oupa Flip en Ouma Hessie…- grootouers aan Pa se kant van die familie.
Oupa Flip se huis |
Hierdie Oupa en Ouma het ek nie so goed geken nie hoewel ons saam op die plaas gewoon het. Dit was bloot omdat ek nog maar klein was en meestal op die dorp by die ander Ouma en Oupa was omdat ek teen die tyd dat Ouma Hessie dood is al in Sub A was. Ouma Hessie is in 1951 oorlede en Oupa Flip in 1953. Ek kan niks van hulle begrafnisse onthou nie.
Oupa Flip en Ouma Hessie het in hulle eie huis op die werf gewoon. My herinneringe aan Ouma Hessie is dat sy altyd op die trappies by die kombuis gestaan het wanneer sy die skottelgoedwater uitgegooi het of oor en weer met Ma staan en praat het. Sy het diabetes gehad en was ook feitlik blind. Wat vir my erg was is dat sy haarself elke dag moes inspuit! Sy was baie lief vir haar kinders – ‘n groot gesin van nege broers en een suster afgesien van kinders wat jonk oorlede is.
Ouma Hessie met Hester |
Hester was jonger en nog nie op skool voor Ouma Hessie oorlede is nie en sy sal haar dan ook baie beter onthou as ek. Hester is ook na hierdie Ouma vernoem: Hester Cornelia. Ek onthou dat Hester vertel het dat daar op ‘n keer ‘n huishulp by Ouma Hessie begin werk het wie se naam ook Hestertjie was. Ouma het haar onmiddellik verdoop en “Anna” genoem!
Afgesien van stories wat familie tot heel onlangs vir my vertel het kan ek nie veel van hierdie Ouma onthou nie. My Pa se broer Tienie het ook in sy outobiografie baie vertel van Ouma Hessie toe hulle nog op Philippusdeel in die Winburg distrik gewoon het. Oom Tienie was in daardie dae haar regterhand in die kombuis.
Oupa Flip |
Oupa Flip kan ek beter onthou maar ek het nooit ‘n hegte band met hom gehad nie. Hy was nie baie spraaksaam nie en het veral na Ouma Hessie se dood maar langs die huis gesit en so al met die sonnetjie saam geskuif terwyl hy ook gesit en pruim het. Die pruimtwak kouery was daardie dae al vir my ‘n aaklige gewoonte. Na Ouma Hessie dood is het Oupa Flip in sy huis aangebly en slegs by ons kom eet.
“Oupa” Kosie (Koos van Zyl) het saam met Oupa Flip en Ouma Hessie gewoon. Hy was Oumagrootjie van Biljon se tweede man. Die Ouma was op Werda begrawe en later weer herbegrawe – waar weet ek nie. Wat Oom Jan my vertel het was dat Oupa Kosie saam met Oupa Flip in die Anglo Boereoorlog was. Oupa Kosie sonder geweer om slegs vir hulle kos te maak want hy het gereken: “Hy sou nie ‘n skepsel van God doodskiet nie al was dit ook ‘n Engelsman.” So is Oupa Kosie en Oupa Flip toe in die Anglo Boereoorlog en word gevange geneem en Ceylon toe verban. Hulle het in daardie tyd nog in die Winburg distrik op die plaas Philippusdeel gewoon. Oom Jan het ook vertel dat alles op die plaas afgebrand was gedurende die oorlog en dat Ouma met die twee oudste dogtertjies in die Konsentrasiekamp op Brandfort was. Die oudste sussie, Cornelia, is daar in die kamp oorlede. Na die oorlog is Ouma terug plaas toe in die Winburg distrik. Hulle was maar nog steeds bang vir die Engelse en sy het eers weggekruip toe sy twee mans aangestap sien kom. Groot was haar vreugde toe hulle nader kom en sy sien dat dit Oupa en Oupa Kosie was.
Familiekuiers op die destydse Mon Desir en later op Werda was heuglike geleenthede – veral vir die neefs en niggies en kom ‘n lang pad…
Tollie Cronje - 2016 |
My neef Tollie (Pa se broer Flip se seun) vertel pragtige staaltjies van hierdie Sondag kuiers op Mon Desir. Oupa Kosie het glo kerk gehou en Oom Flip-hulle het te voet van die huis op Mon Desir gestap om die diens by te woon en saam te kuier op Sondae. Insgelyks het oom Noek-hulle ook van Vredelus (omtrent vyf myl ver) na Mon Desir gekom. Die ander broers ook sodat daar ‘n groot byeenkoms van familie was elke Sondag en almal het bygedra tot die middagete. Die kos was in die kombuis warm gehou en daar was gewoonlik gebraaide hoender ook met pensies - wat ‘n gesogte lekkerny was. Tollie vertel hoe hy en oom Ockert, Pa se jongste broer, so onder Oupa Kosie se lang gebed, wanneer almal op hulle knieë gestaan het soos die gebruik in daardie dae was, uitgeglip het en dan die hoenderpensies gaan opeet het en weer betyds terug was voor die “Amen”.
Al die broers was ook lief om Oupa Kosie se siel te versondig. Inteendeel hulle was voorste poetsbakkers en die broers het mekaar ‘n lewe gelei! Ek kan goed onthou hoe ons oopmond sit en luister het na spookstories in die aande in Oupa se voorhuis. Na so ‘n vertellery was mens heeltemal te bang om die klein entjie na Ma se huis te stap in die donker.
So was Oupa Kosie ook maar bang vir spoke en vertel Tollie hoe Oupa Kosie minstens een keer per week saans so teen sononder na die Ouma Martha se graf daar onder die bloekombome gestap het met ‘n bakkie water, sy Bybel en ietsie te ete. Dan het hy die grafsteen gewas en sommer daar sit en lees en bid wanneer dit reeds skemerdonker was. Hierdie was ‘n geleentheid wat die broers nie kon laat verbygaan nie en klaarblyklik het my pa en nog ‘n broer op ‘n aand vir Oupa Kosie ingewag met lakens omgebind en hom die skrik op die lyf gejaag. Hy het glo net die hasepad gekies terug huis toe en nooit weer in die donker daar by die graf gaan sit nie.
Pa het gedurig poetse gebak. Nog een ten koste van Oupa Kosie was dat Pa op ‘n keer een van Ma se kraamrokke aangetrek en haar kappie opgesit het om die vroumense wat in die kombuis gekuier het te gaan verras. Dit was glo skreeusnaaks en hulle vra toe vir pa om by Oupa Kosie ook te gaan “kuier”. Pa doen hom toe voor as die weduweetjie wie se kar in die vlei vasgeval het en kom hulp soek by Oupa Kosie. Niksvermoedend en baie opgewonde oor die mooi weduwee (nadat hulle goed kennis gemaak het - sy sig was seker ook al effens verswak teen daardie tyd) spring hy toe op om hulp te gaan soek en beveel haar om net daar te bly tot hy terugkom. Toe verdwyn pa natuurlik en na ‘n ruk kom Oupa Kosie toe by ons huis aan om te verneem wat van die weduwee geword het. Natuurlik het almal hieroor gegiggel want daar was in elk geval nie ‘n teken van reën wat sou kon veroorsaak dat die arme weduwee se motor vasgesit het in die vlei nie…
Oom Flip en tannie Marthie |
Ek was baie lief vir my Pa se broers juis omdat hulle sulke mooi stories kon vertel. Die wat ek goed geken het was Oom Flip wat saam geboer het maar hy is ook oorlede toe ek nog taamlik klein was. Soos ek reeds vertel het was ek en Bettie boesemvriende. Dan was daar Pa se jongste broer Ockert wat by Welgeleë geboer het en ek en sy dogter Marie het gedurende vakansies oor en weer gekuier. Marie se ma, Tant Sannie, het die allermooiste popklere vir ons gemaak.
Oom Tienie was egter my gunsteling oom en was al die jare na my pa se dood soos ‘n eie pa vir my. Hulle het gereeld met vakansietye plaas toe gekom en by ons oorgebly vanwaar hulle gery het om ook by die ander familie te gaan kuier. Die drie nefies was maar lekker woelig en het allerhande kattekwaad saam met Philip aangevang. Dit was dan ook vir hierdie onnutsighede dat oom Tienie altyd ‘n plak – hout steel met ‘n leer band aan – saamgebring het om die tugtiging te kan behartig. Die plak het ‘n naam gehad wat ek nou vergeet het…
Keer op keer het my pa dan die plak in die hande gekry en daar en dan vir oom Tienie pak gegee. Dit het tot groot vermaak van ons kinders dan ‘n stoeiery afgegee waar die een wat eerste die plak gehad het dit soms verloor het en dit dan in die ander se hande beland het. Dan is die plak weer weggesteek totdat die ander een dit weer ontdek het en ‘n soortgelyke geveg weer ontstaan het. Die speletjie kon nogal erg raak en ek kan onthou hoe dit Ma ontstel het want sy het geglo dat Pa ‘n hartaanval kon kry as hy so opgewonde raak.
Daar was darem ook rustige tye en ek onthou goed hoe pa en oom Tienie na middagete so ‘n bietjie gaan “gesels” het. Dit het beteken dat die een op die ottoman en die ander op die riempiesbank in die eetkamer gaan lê en dut het.
Ma het almal maar veral die seuns, bederf as dit by eet gekom het. Daar is atyd vir hulle ‘n “vyfpond” Consol bottel vol ingelegte perskes gegee wat hulle by die kombuistafel kon sit en verslind. Vir oom Tienie is daar altyd skaapafval gekook en ook sult wat gewoonlik tydens ontbyt bedien was – verder egte boerekos met vleis drie keer per dag. Ja dit was goeie dae en op die plaas is ‘n vyfstêr boere spyskaart voorgesit. Tussen-in was daar gedroogde vrugte en allerhande soorte koekies. Ma het elke jaar lank voor Kersfees dae lank staan en koekies bak om die paraffienblikke waarin die koek en beskuit geberg was vol te kry.
Van die kattekwaad wat aangevang was deur veral die vier nefies sou ek boeke vol kon skryf maar ek onthou nie al die besonderhede nie – net hoe hulle pa se lusern “platgery” het as hulle in die lusernland gespeel het, hoe ons kalwers en donkies gery het, saam gespeel het op die dorsvloer en dan natuurlik al die ander speletjies en veral die swem en spelery in die sementdam. Ander niggies en nefies asook maatjies onthou ook 'n swemmery op Werda.
Ons en die "Tienies" in die sementdam |
Oor en weer kuier
Daar was natuurlik gereeld oor en weer gekuier ook. Dorpsvriende het gereeld op die plaas kom kuier – of by ons of spesifiek by Oupa Johnnie in die tyd toe hy by ons gewoon het na Ouma Hennie se dood. Afgesien van familie wat gereeld vir Oupa kom kuier het was daar sy goeie vriende wat veral met verjaardae kom kuier het, bv. Mnr Schonees wat ons Duits onderwyser op die dorp was en ook Oom Albert Venter wat ‘n winkel op Theunissen gehad het. Ma het ook in hierdie winkel by oom Albert gewerk voor haar troue en was jarelank goed bevriend met hulle
Ek kan ook onthou dat die bankbestuurder oom Flip Theron gereeld kom kuier het oor naweke. Sy dogter Ona was saam met my in die klas. Dan het die predikante natuurlik ook gereeld kom huisbesoek doen saam met die ouderling. Dorpsvriende het selde teruggegaan huis toe sonder proviand van die plaas af – melk , groente en vleis - en selfs blomplante – veral van ma se mooi dubbele pienk Kannas en bolletjies van haar Dahlias en Affodille asook Shasta daisies.
Ek kan ook onthou dat die bankbestuurder oom Flip Theron gereeld kom kuier het oor naweke. Sy dogter Ona was saam met my in die klas. Dan het die predikante natuurlik ook gereeld kom huisbesoek doen saam met die ouderling. Dorpsvriende het selde teruggegaan huis toe sonder proviand van die plaas af – melk , groente en vleis - en selfs blomplante – veral van ma se mooi dubbele pienk Kannas en bolletjies van haar Dahlias en Affodille asook Shasta daisies.
Kuiers by oom Jan op Aanvang onthou ek ook baie goed. Oom Jan se ou huis was ‘n sinkhuis wat vir my baie interessant was en later het hy ‘n meer moderne huis laat bou. By oom Jan was daar ook die massiewe peperboom waarin ons tog te lekker geklouter het! Ek het heelwat later – ongeveer in 2012 - weer met oom Jan kontak gemaak en baie inligting gekry oor genealogie en ook weer neef Jannie en sy vrou Anne-Marie beter leer ken. Daarna was ek en Kalie ook na Oom Jan se 90 ste verjaardag in 2009.
Middel en regs bo: Die ou sink huis en die nuwer huis
Onder: Neefs en niggies by oom Jan se 90 ste verjaardag in 2009: Ek, my broer Philip, Oom Jan, Sy dogter San, Tollie, Klein Tienie en Klein Jannie en die peperboom.
Ons het ook gereeld by tant Annie en oom Jaap Momberg aangery wanneer ons op Vrydae van die skool af gekom het. Hierdie kuiers was vir my baie vervelig en ek het meeste van die tyd in die motor bly sit totdat ma ons geroep het om te kom groet. Ek het gewoonlik weggeskram van tant Annie se klapsoen! Die Momberg kinders was heelwat ouer as ons en het dikwels in die dam baljaar maar ons het nooit daar saam geswem nie – seker maar omdat ons nie swemklere byderhand gehad het nie. Wat ook interessant was, was oom Jaap se steenmakery op die plot.
Ons het dikwels lekker gekuier by oom Ouman Steyn en tant Max. Hulle het ‘n moderne huis gehad wat my as kind aan ‘n paleis herinner het asook ‘n ouer huis waar ons lekker rondgesnuffel het. Hulle seun Piet, was een van Philip se beste maats en het sy eie buitekamer gehad. Verder was die blomtuin pragtig met wye grasperke en ‘n lieflike roostuin. Tannie Max was jarelank voorsitster van die Vroue Landbou Unie en haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie – kos maak, koek bak, tuinmaak, blomme rangskik – jy noem dit en sy kon dit perfek doen. Al wat sleg was van hierdie kuiers is dat ek as kind ontsettend hooikoors gekry het en meestal nie saam kon kerjakker op die grasperk nie want my oë het toegeswel van die grassade en stuifmeel. Dan moes ek maar eenkant op die stoep sit en kyk hoe die ander speel as gevolg van my erge allergie.
Die lekkerste byeenkoms by die bure was oom Ouman Steyn se verjaardag op 5 November elke jaar. Dit was ‘n groot geleentheid en omtrent die hele dorp se mense was uitgenooi. Die hoogtepunt van die aand was gewoonlik wanneer die groot roomyskoek want tant Max van Johannesburg af bestel het, voorgesit was. Ons kinders het buite rond gespeel. In die tradisie van Guy Fawkes was daar gewoonlik ook later die aand vuurwerke en klappers geskiet.
Ek vertel in deel 6 van Kersfees en Nuwejaar en al die familie wat daardie tyd van die jaar plaas toe gekom het. Ook van Sondag kerk toe gaan en wyksbidure op die plaas.
Lekker gekuier saam met jou op in die verlede. Mooi herinneringe
ReplyDelete