Ek het reeds oor vakansies geskryf maar wil tog een van die heel lekkerste vakansies ook aanraak.
Toe ek so in standerd ses rond was het oom Tienie ons genooi om saam met hulle Kaap toe te toer. Ons so sou met hulle karavaan reis al langs die kus af tot in die Kaap. Vir my was dit ‘n heel nuwe ervaring en ek het uitgesien daarna om weer die see te sien. Ek kan nou nie meer onthou hoe die slapery gereël was nie want daar was sekerlik nie genoeg slaapplek vir almal in die karavaan nie, maar dit nou maar daar gelaat.
Ons het van Oos London af gereis tot by die Strand en oral ‘n dag of meer vertoef op pad Strand toe. Ek onthou veral my eerste kennismaking met die prag van die tuinroete. In die Strand het ons in die karavaanpark kamp opgeslaan vir ‘n paar dae. Vriende van Oom Tienie het in ‘n vakansiewoonstel tuisgegaan en ons het daagliks by hulle ook ‘n draai gemaak. Die woonstel was letterlik ‘n klipgooi van die branders af.
Ons het feitliik heel dag lank geswem en in die see baljaar. Saans het ons in die woonstel gekuier en speletjies gespeel. Oom Tienie het ons ook op allerhande uitstappies in die Kaap geneem. Alles was net te wonderlik vir woorde vir my as plaaskind!
Daar het ek toe ook nuwe maats gemaak! Wat my meer opgewonde gemaak het was dat daar ‘n tienerseun min of meer my eie ouderdom was wat nogal belangstelling in my getoon het. Dit was vir my ‘n lekker ervaring want anders as op skool in Theunissen het hy my net geken vir wat ek regtig was! Dit was ook toe nie hoe lank nie of ek was smoorverief!
Die liefde het geblom en hy het my laatmidddae by die karavaanpark kom haal sodat ons saam kon kuier. Ons het egter selde alleen gekuier en maar meestal saam met die nefies en ander maats uitgehang. Die kêrel (ek sal maar sy naam verswyg) was op skool in die Noortransvaal by die Merensky hoërskool in Tzaneen. Wel als het goed gegaan en al wat my gepla het was dat ek uitgevind het dat Ma vir Philip aangesê het om ons dop te hou. Dit het beteken dat hy agter ons aangeloop het en terugrapporteer het aan ma oor elke soen wat ek gekry het! Ek was erg verontwaardig hieroor maar daar was weinig wat ek kon doen aan die luistervink en agtervolger. Ons verhouding was heel onskuldig en het op die mees romantiese noot slegs gebly by soen en handjies hou. Pure kinderonskuld!
So het die lekker dae veels te vinnig verbygegaan en moes hy terug Tzaneen toe nog voor ons vakansie in die Strand verby was. Ek onthou tot vandag toe hoe ons gegroet het en ek hom sien wegstap het om te vertrek met die trein. Ons het groot beloftes gemaak om te skryf en kontak te behou.
Terug by die koshuis het sy eerste briewe toe ook aangekom tot my groot plesier. Die mannetjie was nogal vaardig met die taal en het vir my lang stukke prosa uit P.J. Schoeman se boek uit “Fanie se veldskoodae” aangehaal. Dit was tog te romanties. Ek was natuurlik nie links om ook die prosa by te trek nie. So het die skrywery aangehou.
Massa gimnastiek. (Foto nog met my ou Brownie kamera geneem) |
Daardie selfde jaar (1960) sou ons aan die Uniefees verrigtinge in Bloemfontein deelneem. Ons het geoefen aan ‘n massa gimnastiekvertoning. Ek onthou nog hoe die inspektrise besoek gebring het aan die skool en hoe ons aktiwiteite met baie meer ywer en aksie uitgevoer was na haar besoek.
Die Uniefees was gedurende Meimaand gehou en ons het in ‘n skoolkoshuis tuisgegaan. Die seuns het by die Bloemfontein skougronde geslaap. Dit was saans bitter koud maar heel gemaklik gedurende die dag. My “kêrel” sou ook die fees bywoon en ek het almal angstig dopgehou veral gedurende die eerste paar dae want ons kon nie afspreek waar om mekaar te ontmoet tusen al die baie mense en skoliere nie. Daar was besoekers van regoor die land.
Ons in skooldrag by die Uniefees |
Op die pawiljoen by die Uniefees |
Teen omtrent die derde dag van die fees het ek hom vir die eerste (en enigste) keer raakgesien!. Ons was op die pawiljoen en hy het reg voor my verbygeloop met ‘n ander meisie aan die hand! Ek het dadelik besef dat ek groot kompetisie op liefdesfront gehad het. Hoe agnstig ek daaroor gevoel het, het niks tot gevolg gehad nie en ek kon hom net eenvoudig nie weer opspoor nie en ek kon ook nie betyds af van die pawiljoen om hom te gaan groet nie.
My hartjie was gebroke! My eerste kennismaking met kalwerliefde was ‘n verpletterende ervaring! Terug by die skool na die fees het ek toe besef dat die verhouding verby was en het ons korrespondensie toe ook opgehou. Skooldae was weer net so sonder opwinding as tevore.
Ek en my skoolvriendin Louise Theron, het maar saam ons wonde gelek want sy was dieselfde tyd smoorverlief op ‘n onderwyser (in ‘n ander skool) wat sy ook gedurende hulle vakansie ontmoet het. Soos ek is hulle kalwerliefde op feitlik dieselfde manier as myne by die Uniefees ‘n nekslag toegedien!
Nog 'n (swak) fotojie van my en die onderwyseresse by die Uniefees.
Later jare was daar weer kêrels maar daarvan vertel ek
later.
No comments:
Post a Comment