Friday, August 5, 2016

Deel 8:Laerskool en meer oor Theunissen



My laerskooldae was sonder veel voorvalle behalwe dat ek die tergery van boelies moes verduur. In standerd een het daar ‘n paar kinders by ons aangesluit wat oor geplaas was van Sub A af en dus ‘n jaar “gespring” het. Ek het altyd gewonder waarom dit nie ook met my kon gebeur nie want ek was min of meer ‘n jaar ouer as my klasmaats omdat ek eers op sewejarige ouderdom begin skoolgaan het! Later jare het ek egter beter gevaar as daardie outjies wat nie in Sub B was nie.

Die laerskool op Theunissen is nou bekend as Concordia en ek het met ‘n latere besoek ‘n paar foto’s daar geneem. Van die ou groot peperboom waar onder ons tydens pouses gespeel het was daar niks te siene nie maar die skoolgeboue is min of meer steeds soos ek dit onthou, behalwe dat die tydelike klaskamers afgebreek is. Na ek matriek geslaag het is ‘n nuwe Hoërskool gebou en vernoem na die destydse prinsipaal, Mnr Piet Crowther.

Concordia Laerskool se ingang met die skoolsaal sigbaar regs agter
Ek was meeste kere tussen die top drie kinders in die klas en het skoolwerk maklik gevind. Dis dan ook daarom dat ek baie tyd bestee het daaraan om net te droom en ek het toe al baie gelees en begin storietjies skryf so ongeveer toe ek in standerd vier was. Hierdie storietjies is in ‘ dagboekie aangeteken en was “streng privaat” hoewel my suster tog daarin geslaag het om soms die dagboekies in die hande te kry. Ek het ‘n plekkie in die sipresheining langs die huis gehad waar ek kon sit en droom en skryf. Hier was ek rustig en lekker weggesteek agter die Oupa se Pyp rankplant wat voor die opening in die heining was. Dit is dan ook hier waar ek meestal my dagboekie weggesteek het. Ongelukkig het ek gladnie meer daardie eerste en ook latere dagboekies nie.

Juffrou Rina Hendriks was my onderwyseres in standerds een en twee. Sy was my gunsteling onderwyseres gedurende die laerskooljare en het my seker ook so bietjie voorgetrek. Aan die einde van my standerd twee skooljaar is sy getroud (met Josua Wiegand) en is sy weg uit Theunissen. Hulle het toe in Stilfontein gewoon en ek het begin om met haar te korrespondeer en dit vir baie jare volgehou. Ek het ook vir hulle op Stilfontein gaan kuier en gedurende daardie kuier was ek ook saam met hulle na die plaas op Vredefort waar Rina grootgeword het. Hierdie vriendskap met Rina Hendriks was baie besonders en het selfs nog voortgeduur nadat hulle na Barberton verhuis het. Daar het ek toe later kontak met haar verloor. Ek het vergeefs probeer om weer kontak te maak maar my skrywery het geen resultate opgelewer nie. Ek vermoed dat sy lank reeds oorlede is.

Klaskamers by die laerskool.
Een van my syverf kwilts
Standerd vier was ook ’n lekker skooljaar. Mnr Brits was die eerste manlike onderwyser in my skoolloopbaan en kon baie mooi teken. Die asbes klaskamer se mure was vol van sy mooi sketse. Hy het ons ook lekker leer skets en het sy sketse altyd met die buitelyn ovaal sirkel, soos ‘n rugbybal, begin. Vir die eerste keer in my lewe het ek die gevoel gekry dat ek ook kon “teken”. Ek het baie gewonder of ek dit nie sou geniet het om op daardie stadium kunslesse by iemand te kry nie, maar daar was nie so ‘n geleentheid nie en ek hunker vandag nog daarna om te kan skilder. Ek kan wel baie goed na teken en het sommer so op my eie baie jare later begin sketse maak en het my verlustig daarin om met syverf rond te speel. Dit was baie soos waterverf en ek het prente uit kinderboeke nageteken om syverf lappe te maak wat ek dan gebruik het in kwilts vir kinders.
 
Die beste was egter dat ek in standerd vier NIE in die ander klas was nie. Hulle juffrou was “Tant Gesie” en sy was baie kwaai. Sy was die suster van tant Ollie vir wie ek geen liefde gehad het nie. Soos julle reeds weet het tant Ollie (Mev du Preez) my eerste gekies toe die klasverdeling vir standerd vyf gedoen was.

Een insident wat ek kan onthou van standerd vyf was dat tant Ollie op ‘n dag weer besig was om op die swartbord te skryf. Die ander standerd vyf klas was reg langs ons klas en die onderwyser daar, Mnr. Paul Fouché, het die manier gehad om die swartbord uitveër te gebruik om na die stouterds in sy klas te gooi. Die klaskamers was tydelike asbes geboue wat nie goed geisoleer was nie en klank het duidelik deur die mure weergalm as die onderwysers hard gepraat het. Op die betrokke dag tref die einste uitveër toe die muur reg teenoor die swartbord waar tant Olie besig was om te skryf! Sy het byna agteroorgeslaan van skrik en hard geskel op Paul Fouché en uitgedraf om haar misnoeë te betoon en hom verder uit te vreet. Nodeloos om te sê dat al die kinders in ons klas dit besonder geniet het!

Ons het ook in die laerskool reeds naaldwerkklasse gehad. Die onderwyseres was Juffrou Rina Horn. Ek dink sy was maar ook net min of meer in staat om die leerplan te volg en het na my beskeie mening maar min geweet van naaldwerk. Ek was teen daardie tyd al heel vaardig met die naald en het selfs van my eie klere gemaak, want Ouma Hennie en Ma het my goed vertroud gemaak met die ou Singer naaimasjien. 

Op ‘n dag was dit tyd vir naaldwerkinspeksie en het die inspektrise van die Onderwysdepartement haar plig nagekom by Juffrou Rina se naaldwerkklas. Ons was op daardie stadium besig om rompe te maak en myne het nog net ‘n ritssluiter kortgekom. Juffrou Rina het nie geweet hoe nie en toe het die inspektrise my romp geneem om te demonstreer hoe dit gedoen moet word. Ek het dit baie interessant gevind omdat Ma en Ouma nie dieselfde metode gevolg het nie. Daardie middag het ek toe vir Ma gedemonstreer hoe dit gedoen moet word en sy het jare daarna nog dieselfde metode gevolg. Later jare het ma ‘n kombers oorgetrek met die lap van hierdie romp en dit was jarelank my hond se kombers wat ek in die motor gehou het.

Min of meer een keer per jaar het die Departement se verpleegsters die skool besoek. Dit was niks lekker nie! Ons is beloer en ondersoek deur die verpleegsters en die toestand van ons tande was een van die hoof ondersoeke waarna die by wie probleme gevind was, by die skooldokter ook moes aandoen. Na so ‘n besoek van die skoolverpleegsters is daar dan verslag gedoen aan die ouers en ons moes die briewe aan ons ouers oorhandig. As daar fout was met my tande het ek die brief eenvoudig vernietig en Ma en Pa het niks daarvan geweet nie. Die idee was natuurlik dat die ouers moes opvolg na die verpleegsters se besoek.

Ek was vrek bang vir die tandarts! Ma het ons in elk geval gereeld tandarts toe gevat en ek onthou veral dat my verstandtande iewers gedurende my hoërskooljare getrek was omdat dit skeef uitgegroei het. Die tandarts was Dr. Fourie en my niggie Magda vertel dat my Ma haar ook na hom geneem het waar hy ‘n stukkie goud tussen haar tande gesit het wat sy vandag nog dra.

Daar was vier mediese dokters op Theunissen. ‘n Ouerige dokter (wie se van ek ook nie kan onthou nie), Dr. Deetlefs en Dr. Venter en sy vrou Dr Marthie Erasmus wat saam ‘n praktyk gehad het en dan die tandarts Dr. Fourie.

Ma was goed bevriend met Dr. Deetlefs se vrou en het dikwels daar gekuier. Dr Deetlefs se dogter het huishoudkunde by Maties geswot en dis daar waar Ma besluit het dat ek ook Huishoiudkunde sou gaan swot, maar meer later daaroor.

Ons is meeste kere na Dr Marthie geneem. Dit was ‘n minder angsvolle ervaring om na haar of Dr. Venter geneem te word vir ons kwale, wat gewoonlik maar kindersiektes was, behalwe vir die enigste tyd wat ek as gevolg van siekte lank uit die skool gehou was.

Ek het dikwels pitsere en karkaatjies gekry. Met een so ‘n toeval het ek verskeie pitsere en karkaatjies in my gesig gehad. Dit was so erg dat ‘n erge infeksie in my limfkliere ontstaan het en my gesig dik geswel was en skeef getrek het aan die regterkant. Die behandeling was daaglikse “penissillien” inspuitings en ek moes in die koshuis siekekamer bly daarvoor. Die ongesteldheid het omtrent ‘n maand lank geduur. Ek was toe al ‘n tiener.

Later jare het ek besef dat hierdie episode dalk die begin en oorsaak was van my doofheid. Die antibiotika was waarskynlik nie penisillien nie maar sterker antibiotika wat wel doofheid kon veroorsaak. Met die evaluasie vir my gehoorverlies baie jare later, kon geen genetiese oorsaak daarvoor gevind word nie en ek glo tot vandag toe dat dit die groot dosis antibiotika was wat ek mee behandel was wat daartoe gelei het dat ek geleidelik my gehoor verloor het.

My broer Philip het ook ‘n erge infeksie in sy heup potjie gehad toe hy ook al ‘n tiener was. Hy was in traksie in die Nasionale hospitaal in Bloemfontein vir ‘n maand lank waar hy ook met antibiotika behandel was. Dit is volgens my beskeie mening dan ook die rede waarom hy later jare, nes ek, doof geword het. My afleiding word gemaak omdat daar behalwe vir Ma en Oupa wat op ‘n hoë ouderdom doof geword het, niemand anders in ons gesin gepla was met vroeë doofheid nie. Ek onthou nog goed dat ek gedurende Philip se hospitalisasie by nig Susie gekuier het en elke middag met die bus hospitaal toe gery het om vir Philip te gaan kuier. Dit was gedurende die winter skoolvakansie.

Teen die tyd dat ons skool toe gegaan het, het ons as kinders ook al meeste kindersiektes gehad. Dan is ons maar eenvoudig weggehou van ander kinders sodat ons hulle nie ook kon aansteek nie. Ons het dan ook almal na mekaar dieselfde siekte opgedoen. Een so ‘n geval was kinkhoes waar ons weke lank so in afsondering op die plaas was. Ma het toe op ‘n dag besluit dat ons bietjie uit moes kom en sy en Pa het met ons na ‘n ou oop myn gery waar ons in die veld kon rondhardloop.
 
Die oop myn gat was diep en gevul met water, amper soos die Groot Gat op Kimberley net baie kleiner. Daar was ‘n taamlike steil helling in die rigting van die oop gat. Dis toe dat Philip begin hardloop en algaande momentum begin optel en reguit op die rand van die gat afpeil. Gelukkig het Pa die petalje gesien en hom gevang net voordat hy oor die rand van die gat sou verdwyn! Toe hy gevra was waarom hy nie gestop het nie was sy antwoord bloot: “ Ek wou maar my beentjies wou nie!”

In die laerskool en tot en met standerd sewe het ek klavierlesse by Mev Louw gehad. Omdat ons skoolkar gery het en ek nie in die middae vir lesse kon gaan nie het ek gewoonlik gedurende die sang- of gimnastiekperiodes gegaan vir klavierlesse.

Aanvanklik het dit baie goed gegaan. Ek het my eerste Unisa musiekeksamen met lof geslaag en ek onthou nog hoe Mev. Louw na die klaskamer gekom het om die uitslag bekend te maak en my gelukgewens het met ‘n stywe drukkie en uitgeroep het ”Wia! Jou pragtige kind!”. Ek het baie goed gevoel daaroor en het later jare eintlik besef dat Mev. Louw se opgewondenheid eintlik daaroor gegaan het dat sy baie gevlei was deur die besonder goeie resultate van al haar leerlinge en nie soseer oor my eerste prestasie nie.

Later jare het ek al hoe luier geword om klavier te oefen en het was klavierlesse vir my minder aangenaam. Wat bygedra het daartoe is dat ons maar slegs die stukke wat voorgeskryf was vir die Unisa eksamens gespeel het asook toonlere ens. Dit was vervelig! My laksheid het ook spanning tussen my en Mev. Louw veroorsaak en ek het later by Mev. Crowther lesse geneem. Dit het eintlik nie die situasie verbeter nie en vandag besef ek dat my gehoorverlies alreeds op daardie stadium begin het en waarskynlik die rede was waarom musieklesse vir my nie meer lekker was nie. Ek het goed gevaar in die musiekeksamens behalwe vir die gehoortoetse wat ek keer op keer gedruip het. Dit was ook seker omdat ek toe al begin doof word het. Ek kon nooit op gehoor speel soos my suster Hester en ander kinders nie en was maar aangewys op bladmusiek lees, wat ek wel goed kon doen.

Van standerd vyf af was ek in die skoolkoshuis. Die ander kinders het nog skoolkar gery. Wat lekker was is dat Pa op Dinsdae skoolkar gery het. Ons kon op Maandagmiddae na middagete en tot en met studietyd dorp toe gaan vir inkopies. Die inkopies het meestal daaruit bestaan dat ons ons hele week se sakgeld op lekkers en koedranke gaan blaas het by Tannie Marie Davies se kafee. Wanneer Pa dan op Dinsdae skoolkar gery het, het ek die Koöperasie oorkant die skoolgronde goed dopgehou tydens die pouse. Pa het gewoonlik daar ‘n draai gemaak en as ek ons motor daar gesien het, het ek vinnig daarheen gehardloop om vir Pa te gaan dagsê. Die groetery het tot gevolg gehad dat hy gewoonlik weer vir my sakgeld gegee het. Sodoende het ek gewoonlik twee keer per week my halfkroon (25 sent) gekry.

Voordat Mnr Crowther skoolhoof geword het na Mnr. Du Toit se dood, kon ons met pouses na Mev Voland se winkel gaan om lekkers te gaan koop. Heerlike pienk toffies – vier vir ‘n pennie en vir ‘n tiekie was dit ‘n handvol! Ook Nicker Balls en swart toffies teen twee vir ‘n pennie. Mev Voland het ons lekkers in ‘n gedraaide papierhouertjie wat soos ‘n horinkie gevou was oorhandig. Toe Mnr. Crowther skoolhoof geword het was ons verbied om tydens pouses dorp toe te gaan en het die lekkergoedkopery ook tot 'n einde gekom.

‘n Ander lekker plek vir snoeperye was Mnr. Voland se bakkery. Ma het altyd daar vars brood gekoop wat sy beskou het as die lekkerste ooit! Mnr Voland se bakker het gedurende die nag die broodbakkery behartig. Sy bynaam was “Ou Lekkerlê”. Seker maar omdat hy gedurende die dag moes slaap hehehe!

Gedurende daardie lekker jare was daar wonderlike winkels op Theunissen en was daar baie winkeleienaars wat na die Tweede Wêreldoorlog na Theunissen emigreer het en besighede op Theunissen begin het. So was daar Mnr. Tesseling wat die slaghuis gehad het en die heerlikste klein gerookte worsies en ander (vir ons) uitheemse wors gemaak het. Mense het van heinde en verre gekom om van sy wors te koop. Mnr Wildeboer was ‘n Hollander wat ‘n hardewarewinkel gehad het. Die Volands het die bakkery en algemene handelaar gehad. Mev Voland was uit die aard van hulle ontberinge gedurende die oorlog uiters spaarsaam. Sy het bestellings per telefoon ontvang en dan die “notisies” op stukkies karton wat sy uit verpakkingsmateriaal gesny het, geskryf. So het Ma dan ook haar lysie deurgebel na Mev. Voland sodat sy net die goedere kon afhaal teen die tyd dat sy op die dorp arriveer het. Ja, die winkeleienaars het “groen” geleef in daardie dae.

Daar was ook ‘n groot Jodegemeenskap op Theunissen. Hulle het hul eie kerk gehad. Ek onthou die apteek van Mnr Schmidt en ook Mnre. Jack Ogins en Rabinkowitz se negosiewinkels waar pa-hulle skaapvelle verkoop het. Daar was ook twee apteke. Ons het gewoonlik aankope gedoen by Oom Hannes Els se apteek. Oom Hannes het ook in die kerkkoor gesing en partykeer kerkorrel gespeel as Mev Louw nie kon nie en was die amptelike fotograaf op Theunissen vir baie jare. Die ander apteker was Mnr Shmidt en ma het vertel dat hy eerste haar oë getoets en vir haar ‘n bril gemaak het.

Theunissen het ook ‘n losie gehad vir Vrymesselaars. Die losie was naby die stasie nie ver van Oupa se huis af nie en ek het altyd gewens ek kon sien wat agter daardie hoë mure sonder vensters was. Alles omtrent die losie was geheimsinnig en selfs die grootmense wat nie Vrymesselaars was het enigiets daarvan geweet nie.
Die inwyding van Theunissen se nuwe stasie was ook ‘n groot geleentheid wat ek goed onthou. Die skoolkinders moes aantree daarvoor en het saam met die ander teenwoordiges in die warm son gesit. Dit was maar ‘n vervelige besigheid want daar was die een toespraak na die ander deur hooggeplaasdes, wat my erg verveel het. Ek onthou nog ook dat daar ‘n groepie lede van die Black Sash was wat eenkant gestaan het asook ‘n orkes van die Heilsleër.
Van treine gepraat. Ma het alreeds gedurende ons vroeë laerskooldae besluit dat ons treinry moes ervaar. Sy het ons drie dan in Theunissen op die trein gesit en na Theron stasie gery om ons weer daar af te haal wanneer die trein daar aangekom het. Dit was maar ‘n rit van enkele kilometers en ‘n groot lekkerte. Later jare toe ek op Universiteit was het ek dikwels per trein Pretoria toe gery en op Johannesburg stasie oorgeklim na die trein wat Pretoria toe gegaan het.

Ek onthou Theunissen as ‘n mooi vooruitstrewende plattelandse dorp met mense wat deernis en liefde vir mekaar gehad het en altyd hulpvaardig was. Ek was bevoorreg om tot matriek daar te studeer. Vandag breek my hart as ek sien hoe alles verval het en die besighede feitlik almal deur Chinese of ander “vreemdelinge” bedryf word. Die ouer garde mense wat ek daar geken het is reeds omtrent almal oorlede of weg van Theunissen af en so ook meeste van hulle nasate. Die laaste keer dat ek daar was, was met my broer se begrafnis in 2015 en toe het ek nie eers die kans of lus gehad om bietjie die dorp te verken nie. Al wat ek waargeneem het was die baie grafstene van mense wat ek voorheen op die dorp geken het. Die ou begraafplaas is heel vervalle en die nuwe lyk ook maar verwaarloos want die beeste wei daar en daar is geen heining meer nie.
Theunissen Wes Kerk
Theunissen stadsaal
Munisipale kantore/Landdroshof








Agter die verwaarloosde huis kan Oupa se huis gesien word soos dit later verander is. Op die foto hieronder is die huis soos ek dit laas gesien het. Ek het intussen verneem dat die huis nie meer so pienk geverf is nie.

Oupa se huis in 2007
 




Die nuwer begraafplaas met die foto onder van die grafte van die Du Plessis familie met die bekende/berugte rooi Afrikanerbul op oom Rooi Josef se grafsteen.


No comments:

Post a Comment