Wednesday, August 24, 2016

Outobiografie Deel 20: Hoofdieetkundige


My werk as hoofdieetkundige was baie aangenaam met baie hoogtepunte. Hier wil ek slegs enkeles uitlig.

Ek het goeie ondersteuning gehad van kollegas Ek het aan die begin direk gerapporteer aan Dr. Kruger en later aan Dr. James Bester. Toe ek in Boemfontein begin werk het was Dr. Johan de Beer Direkteur van Hospitaadienste. Dr. Kruger het hom later opgevolg toe hy by Die Nasionale Departement van Gesondheid in Pretoria ‘n pos aanvaar het. 

Ons het elke week ‘n vergadering gehad waar almal terugrapporteer het oor werk op die platteland en ander aangeleenthede. Terwille van besparing is daar ook gereël dat ons soms saam met ander moes platteland toe ry indien ons by dieselfde hospitaal op die platteland sou werk. Hiervoor het ek dikwels saam met Dr. Andries Aucamp gereis. Hy was nie baie spraaksaam nie en dit was soms maar moeilik om ‘n sinvolle gesprek tydens die rit aan die gang te hou. Ek onthou nog hoe ek my kop moes breek om die geselskap te laat vlot. Ek onthou oor ritte saam met die Hoofapteker waar kommunikasie nie so ‘n groot probleem was nie.

Ek het veral gehelp met die spyskaarte by die kleiner hospitale en ook met die aankoop en spesifikasies vir kleiner apparaat en toerusting. Ek onthou een insident waar ‘n elektriese mes vir een van die hospitale aangekoop was en die matrone baie trots vir my die nuwe mes gewys het. Haar kommentaar was: “ Juffrou! Hulle het tot ‘n ekstra lem vir die mes ingesluit”. Toe moes ek mooi verduidelik dat dit nie ‘n ekstra lem was nie maar dat die twee lemme saam die werk moes doen.

As dit by terapeutiese diëte gekom het was dit meestal nie te moeilik nie behalwe by die Provinsiale hospitaal op Bethlehem. Daar was ‘n dokter wat baie belangestel het in dieetterapie en hy het my dikwels in ‘n hoek vasgekeer om daaroor te praat en my advies te vra. Hy was goed belese en het eintlik meer as ek geweet! Sy vrou was ‘n huishoudkundige en hy het my ook genooi om soms by hulle aan huis middagete te gaan geniet. Dan het die ondervraging voortgegaan. So het ek toe later alles in my vermoë gedoen om hom te vermy wanneer ek by die hospitaal was. Hierdie ongemaklikheid het later jare daartoe gelei dat ek besef het dat ek meer van dieetterapie behoort te weet en verder moes gaan studeer. Dit het later gevolg - die detail hoort by ‘n ander storie.

Die Afdeling Hospitaal dienste het ook projekte aangepak waar kombuise opgradeer en hernu moes word. Daar was ook nuwe hospitale wat gebou moes word. My betrokkenheid by hierdie werksaamhede was van die lekkerste van my loopbaan.

Die eerste nuwe hospitaal waarby ek betrokke was was die Provinsiale hospitaal op Sasollburg. Ek moes die argitek gaan spreek om die kombuisplan te bestudeer en my instemming te gee dat alles in plek was. Toe ek vir die vergadering opdaag het die argitek net gesê dat die vergadering gou verby sal wees want ales was gereed en ek moes net vinng daarna kyk en my handtekenng daarop plaas. Ek het dadelik gesien dat ales NIE in plek was nie en het punt vir punt vir hom probleme uitgewys. Soveel so dat hy na die vergadering, wat heel middag geduur het, gesê het dat hy weer sou moes teruggaan na sy tekenbord want my voorstelle het vir hom sin gemaak. Daarna het ons ‘n paar verdere vergaderings gehad wat baie aangenaam was en ek het deur hom ook kennis gemaak met ander argitekte, ingenieurs en bourekenaars. Uit die aard van hierdie (vir my) nuwe take het ek dan ook baie geleer. Eintlik dink ek dat ek dit nogal sou geniet het om argitek te wees!

Na die planne goedgekeur was moes ek ook help met die aankoop van toerusting en apparaat en het ek ook die nuut aangestelde personeel opgelei. Ek was verantwoordelik vir die aanbevelings vir die toekenning van tenders en het sodoende ook kennis gemaak met verteenwoordigers van firmas wat tenders ingedien het. Dit het meegebring dat ek mense van reg oor die land leer ken het. Die verteenwoordigers van die firmas het ook goed gesorg daarvoor dat ons onthaal word om hulle guns te wen. Die bederf het my egter nooit beïnvloed wanneer ek die finale besluite geneem het nie.

Ek onthou die inwyding van die nuwe hospitaal op Sasolburg baie goed. Daar was ‘n groot funksie gereël en ‘n afvaardiging van Hospitaaldienste sou die geleentheid bywoon. Ons het almal saam afgesit na Sasolburg en die aand in huisies by ‘n vakansie-oord langs die Vaalrivier oorgeslaap. Dit was heerlik en daardie aand het ek my kollegas en die hoofde by Hospitaaldienste ook in hulle privaat hoedanigheid leer ken. Rondom ‘n geselige kampvuur was hulle vol stories en het baie te vertel gehad oor komiese ervarings gedurende hulle loopbane by Hospitaaldiienste. Ek het basies heel aand oopmond sit en luister! Ek wens so ek kon daardie stories nog onthou. 

Daarna het nog soortgelyke werk by ander hospitale gevolg. Sommige kombuise is in geheel herbou en ander net gemoderniseer. Daar was onder andere die kleiner hospitaalkombuise by Winburg, Senekal, Jagersfontein, Harrismith, Vrede, Parys en ander wat ek nie meer so goed onthou nie. Op Bethelehem en Kroonstad is splinternuwe Swart hospitale gebou met groot kombuise waar “nuwe” personeel aangestel en opgelei moes word. By sulke geleenthede het ek dan vir enkele dae oorgebly by die hospitale. Hierdie werk was uiters bevredigind want anders as met dieetterapie kon ek fisies die resultate van my werk en aanbevelings sien. Soort van monumnete vir myself.

Ek wonder vandag hoe daardie kombuise waar ek so ‘n groot aandeel gehad het aan die oprigting en modernisering vandag daar uitsien. Ek sal liewer nie wil weet nie want ek dink baie daarvan is tot niet of totaal vervalle. Selfs die hospitaal op Welkom bestaan nie meer nie. Vandag staan net die dop van die hospitaal en Verpleegsterstehuis nog.

My heel grootste taak wat kombuisbeplanning betref was die oprigting van die Kookvrieskombuis in Bloemfontein. Hieroor asook die bou van Universitas hospitaal vertel ek later.

Die werk as hoofdieetkundige het ook baie administratiewe werk behels. Voorleggings was aan die orde van die dag. So ook veral die voorleggings vir begrotings waarvoor ek vir my eie afdeling moes sorg en hulp moes verleen aan die hospitale. Ek kan nie eers onthou dat die korrupsie waarvan ons van dag so baie het daardie tyd eers bestaan het nie! Indien wel was ek gladnie bewus daarvan nie en het ek streng by voorskrifte en regulasies gehou. ‘n Administratiewe klerk by Hospitaaldienste het my met voorleggings en ander administratiewe take gehelp tot ek in staat was om op my eie aan te gaan.

Na Petro Wolmarans aangestel was as dieetkundige het ons ook werk gemaak daarvan om ander dieetkundiges in diens te neem. Ek het besef dat die maklikste sou wees om reëlings in plek te kry vir die aanbieding van ‘n Nasionale Diploma in Hospitaaldieetkunde. Destyds moes dieetkundiges hierdie Diploma, wat meestal praktiese werk ingesluit het, voltooi voordat hulle toegelaat was om te by die Raad op Mediese en Aanvullende Geonsheidsberoepe registreer as gekwalifiseerde dieetkundiges. Die aanbieding van so ‘n Dipomakursus het moontlik geraak nadat die Mediese Fakulteit van die Universiteit van die Oranje Vrystaat (KOVSIES) tot stand gekom het.

Ons kon toe die Dipoma deur die Mediese Fakulteit aanbied. Ek is toe ook aangestel op die gesamentlike diensstaat van die Mediese Fakulteit en die Afdeling Hospitaaldienste. Gedurende die eerste jaar was daar slegs twee studente. Een van hulle, Susan Smit het my later opgevolg as hoofdieetkundige by Hospitaaldienste nadat ek met die volwaardige Departement Dieetkunde by KOVSIES begin het. So het die dieetkunde poste gevul geraak en het ons later ‘n hele klomp dieetkundiges by die hospitale gehad.

Ons het ook die eerste Swart dieetkundiges vir die Diplomakursus opgelei. Ek het te hore gekom dat daar Swart studente was wat reeds die basiese B.Sc kursus by Natal Universiteit voltooi het en nie geleentheid gehad het om hulle nagraadse Diploma te doen nie aangesien die Universiteite wat wel hierdie Diploma aangebied het (Tukkies en Maties) nie Swart studente kon inneem nie. Ek het begin onderhandel met die Universiteit van Natal en die Dekaan van die Mediese Fakulteit. Ons kon dit bewerkstellig dat die Universiteit van Natal (Pietermaritzburg kampus) amptelik die kursus sou aanbied en dat die studente dan hulle praktiese opleiding by die Pelonomi hospitaal in Bloemfontein sou doen. So het die eerste drie Swart studente dan by ons ingeskryf. Dit het eintlik beteken dat hulle slegs die eindeksamen by die Unversiteit van Natal sou afê maar die hele jaar in Bloemfontein sou werk.

Die kursus het vereis dat die studente ook by meer as een hospitaal sou moes ondervinding opdoen of werk. Dit was nie maklik nie en al wat ek kon doen was om hulle saam te neem wanneer ek die groter hospitale besoek het. Teen daardie tyd het Bettie Preller ook as dieetkundige saam met my gewerk by Hospitaaldienste en ons twee het rondgery met die drie Swart studente.

By een so ‘n geleentheid was ons op pad terug Bloemfontein toe van Kroonstad af. Ek het atyd afgedraai en ‘n vinnige besoekie by Ma op die plaas afgelê as ek daar verbygegaan het terug Bloemfontein toe en op hierdie spesifieke dag het ek en Bettie oorweeg om dit ook te doen. Ons was bietjie bekommerd oor die ontvangs op die plaas want Ma was nie ingelig oor die ekstra gaste wat by sou wees nie. Nietemin het ons afgedraai plaas toe en gehoop vir die beste.

Ma het geweet van die Swart studente vir wie ek verantwoordelik was en het ons gul hoewel effens angstig, ontvang. Nie lank daarna nie het ons gesit en tee drink uit ma se beste koppies met koekies daarby. Die volgende oomblik het my broer in die eetkamer ingestap en vasgesteek by die deur. Hy was verbaas oor die gaste maar het net gesê: “O, ek sien Ma is besig” en weer geloop. Ek was ook benoud dat een van die kinders sou kom groet (met ‘n onvapaste opmerking of vraag) by hulle Ouma nadat hulle my motor gewaar het, maar niemand het opgedaag nie. Ons is toe daar weg na ‘n lekker kuiertjie.

Later het Ma my vertel dat haar huishulp en die tuinjong die volgende dag uitgevra het oor die Swart besoekers wat so goed onthaal was. Ma het bloot verduidelik: “Hierdie mense het net so baie soos mies Wia geleer” bedoelende dat die bykomende studie en kwalifikasies genoeg was vir haar om hulle voorkeurbehandeling te regverdig en almal was doodtevrede met haar verduideliking.

Ons kleinkind Pieter was toe nog nie in die skool nie en het ook ingeloer tydens die besoek maar van ‘n afstand af en ek was nie bewus daarvan nie. Ek het later by sy ma verneem dat hy net by hulle huis kom aankondig het: “Tannie Wia is by Ouma maar sy drink tee saam met die Ousies” So het almal dan slegs soos altyd aanvaar dat alles reg is want Ouma doen soos dit gedoen moet word. Baie jare later het ek weer een van die studente raakgeloop in Johannesburg. Ons het gesels oor die jare in Bloemfontein en sy het spesifiek na hierdie besoek verwys en gesê dat sy dit nooit sou vergeet dat ek sonder skroom bereid was om hulle vir ‘n besoek na my ma toe ook te neem. Toe het ek eers besef hoe ‘n belangrike figuur ‘n ma vir haar kinders, veral in die Swart kultuur, is.

Een van die eerste drie studente was driedubbel gekwalifiseer. Sy het reeds ‘n BA. graad ’n basiese B.Sc. en ‘n verpleegkunde kwalifikasie gehad. Ten spyte daarvan dat sy beter gekwalifiseerd was as die huishoudsters saam met wie en onder wie se toesig sy moes werk, was sy verplig om na hulle pype te dans. By Pelonomi Hospitaal het sy en die ander Swart studente gevolglik derugeloop onder rassistiese aanmerkings en verbale afknouery. Hiervan het ek nie geweet nie totdat die student my gedurende die laaste week wat hulle by Pelonomi sou werk gebel het om te sê dat sy dit nie langer kon verduur nie en nie weer sou teruggaan werk toe nie. Die eksamen was toe reeds agter die rug en hulle moes nog slegs ’n paar dae by Pelonomi werk.

Ek het haar dadelik ingelig dat ek hulle by die hospitaal sou kom oplaai en dat ons dan die saak verder by my huis kon uitpraat. Toe meld sy dat haar kinders by haar kuier en sy dit nie sou kon doen nie. Ek was stomverbaas want ek het nie geweet dat sy kinders het nie en het dadelik gesê dat die kinders kon saamkom. So het ek toe haar en die drie kinders asook die ander twee studente na my huis geneem. Sy het vertel dat die kuier van die kinders ‘n geskenk aan hulle was sodat hulle vir die eerste keer kon vliegtuig ry en kuier in Bloemfontein. Dit sou opmaak vir die hele jaar wat hulle haar nooit gesien het nie. Hulle het by ‘n Metodiste Predikant se pastorie tuisgegaan. Sy het die hele jaar lank geld gespaar om vir die vliegkaartjies te kon betaal!

Dit het my nie net hartseer gemaak dat daar so teen hulle gediskrimineer was nie, maar ook met bewondering vervul oor hoe hierdie jong vrou alles opgeoffer het vir haar kinders. Ons het lekker gekuier en die kinders het heerlik gespeel met die speelgoed wat ek vir ons eie kleinkinders in my huis gehou het. Ek onthou veral dat die sesjarige seuntjie die “Tinker Toy” stokkies gebruik het om trom te slaan en nie soos ons kinders daarmee waentjies gebou het nie. Daarna het ek net gereël dat die studente nie nodig sou hê om verder by Pelonomi te werk nie.

So het die werk lekker verloop en het ek gereeld bevordering gekry en moes ek al hoe groter uitdagings aanvaar. Meer spesifiek hieroor lateraan.

No comments:

Post a Comment