Sunday, August 14, 2016

Blog deel 15: Karl Bremer Hospitaal - 1967

Na ek die eindeksamen in my finale jaar geslaag het was dit ook tyd om werk te begin soek. As huishoudkundige kon ek werk kry by die Departement van Landbou as voorligtingsbeampte. Dit het egter beteken dat ek op Cradock in die Oos Kaap sou moes begin werk. Vir my was dit totaal onaanvaarbaar want Daanjie sou Kaap toe gaan om by die Universiteit van Kaapstad met sy navorsing voort te gaan en ek wou saam Kaap toe.

Daantjie se niggie Ena Wolfaardt was hoofdieetkundige by die Departement van Gesondheid van die Kaapse Provinsiale Administrasie. Hy verneem toe van haar dat hierdie departement ook huishoudkundiges in diens neem om by hospitale as dieetkundiges te werk. So gebeur dit toe dat Ena Wolfaard vir my werk kry by die Karl Bremer hospitaal in Bellville.

Op 1 Januarie 1967 groet ek toe my ouers in Bloemfontein by die lughawe en vertrek Kaap toe. Min het ek toe geweet dat dit die laaste keer sou wees dat ek Pa groet!

In die Kaap aangekom het Lerine, Daantjie se suster reeds vir my verblyf gereël in ‘n buitekamertjie ongeveer ‘n myl vanaf die hospitaal. Die verblyf was maar primitief en ek onthou dat ek ‘n “donkie” moes stook vir badwater. Waar ek ge-eet het kan ek nie onthou nie, maar ons het etes by die hospitaal gekry teen R1.75.00 per maaltyd. Lerine het my ook soort van onder haar vlerk geneem om die aanpassing makliker te maak en Daantjie was naby genoeg om vir my in Bellville te kon kom kuier.

My eerste dag by die werk was gladnie aangenaam nie. Ek het dadelik die gevoel gekry dat my baas, Gerda Swanepoel nie gelukkig was met my aanstelling nie. Haar eerste opdrag aan my was dat ek die swart boek met die werkreëls minstens binne drie weke onder die knie moes kry.

Alles was vir my vreemd maar ek het so goed as moontlik probeer inpas. Natuurlik was my kennis van dieetkunde feitlik nul en het ek maar staatgemaak op my nuwe kollegas om te help. Gelukkig was my senior kollega Marietjie Hammer wat ‘n hart van goud gehad het!

Die werk het soggens bestaan daaruit om die saallyste na te gaan en etikette vir die terapeutiese diëte uit te skryf. Dit was in drievoud op deurslagpapier gedoen en dan is slegs die gedeeltes wat nie van toepassing was vir die volgende ete uitgeskeur en weggegooi.

Ek onthou baie goed hoe ek op een van die eerste dae ‘n fout hiermee gemaak het en dat die korrekte diëte toe nie by sommige sale uitgekom het nie. Ek het die papiertjies vir die oggend pap per ongeluk weggeggoi. Toe die telefoon lui om die fout aan te meld het een van die werkers my erg uitgetrap hieroor. Marietjie het haar dadelik aangevat en gevra:” Hoe lank werk jy al hier Marie? Het jy nog nooit ‘n fout gemaak nie?” Op haar antwoord het Marietjie net gesê: “Wia werk maar nog ‘n paar dae hier! Help jy haar liewer!” So het ek baie respek vir hierdie kollega gekry en kon ek na haar gaan as ek nie geweet het hoe om die werk te doen nie. Dit was ook lekker om saam met haar na die klinieke te gaan om daar te werk.

So het die dae verloop en op my vry dae het Daanjie kom kuier of het ons iewers heen gery, veral oor naweke. Lerine het my ook aangespoor om model klasse te loop by Audrey Weinrich wat ‘n mannekynskool in die Kaap gehad het. Dit was lekker en ek het goed gevaar met die eerste klasse en is toe gevra om ook die gevorderde kursus te doen. Ek het gewoonlik per trein Kaap toe gereis hiervoor en dan het Daanjie my na die klas teruggeneem Bellville toe.

Ek het later ander verblyf gekry by tannie Bets Green waar die geriewe darem beter was en ek in haar huis ‘n kamer gehad het en ook etes gekry het. Nog later het ek weer verhuis nadat Ma deur ‘n vriendin vir my nog beter huisvesting gekry het by Hettie (van vergeet). Die huisvesting was nader aan die hospitaal in vyftiende laan. Die ergste was die koue, nat wintersoggende waar ek teen die aanslae van die winterreën moes stap hospitaal toe. Ek het bitter koud gekry en die wintersonnetjie van die Vrystaat en Pretoria baie gemis en kon nie gewoond raak daaraan dat my skoene feitlik permanent nat was nie. Ons het ‘n spaar skoene en ander klere by die hospitaal gehou wat ons kon aantrek as ons druipnat daar aangekom het voor werk.

Daantjie was lief vir die buitelewe en ons het gereeld gaan bergklim en ook snorkelduik by Boulders strand gedoen. Snaaks dat ek nie kan onthou dat daardie tyd bewus was van die pikkewyne nie. Die bergklimmery was lekker maar ek kon soms nie byhou nie. Daantjie se vorige meisie was ‘n ballet danseres en baie fikser as ek en hy het my altyd met haar vergelyk. Nietemin was die klimmery vir my baie lekker wanneer ons uiteindelik na die steiltes by die rotse gekom het.

So het ons baie naweke Tafelberg (reg onder die kabelspoor) uitgeklim. Ons kon later daarin slaag om binne twintig minute weer onder by die motor te kom na so ‘n klimmery. Ons het ook vanaf Houtbaai om Leeukop geloop en daarvandaan af tot by Sandy Bay. Ek onthou nog ons kaalbas swemmery by hierdie nudistestrand waar daar tydens ons besoeke nie ‘n ander siel in sig was nie. Dan het ons gewoonlik met die wit sandduine langs teruggeloop Houtbaai toe. Lekker uitstappies!

Ons het ook dikwels by Stellenbosch al langs die Eersterivier gestap tot by tweede waterval. Ongelooflik mooi! Die bergklim ervaring by die Pieke in Stellenbosch was een van die laastes wat ek nooit sal vergeet nie. Ons het goed begin tot heel bo waar ons omtrent ‘n meter ver oor ‘n duiselingwekkende afgrond moes spring. Daar was geen omdraaikans nie en ek was vreesbevange. Uiteindelik moes ek maar spring en het darem veilig anderkant geland (om vandag die storie te kan vertel).

Teen die tyd dat ons bo gekom het was dit al redelik laat en moes ons vinnig die aftog begin aanpak. Teen drie uur die middag het ons ons vasgeloop by ‘n plek waar ons moes omdraai. Toe ons uiteindelik weer bo gekom het was dit al bykans skemer maar ons het toe ‘n ander roete terug gevind. Dit was winter en baie koud. Die vorige week het dit nog gesneeu op die berg en die waterstroompies was ysig.

So vorder ons toe al gly-gly berg af tot dit te donker word om te sien. Dan wag ons maar tot die volmaan weer oor die bergrand loer en klim verder. Plek plek het Daantjie maar sy polshorlosie na my kant toe gehou sodat ek in die fosforlig daarvan min of meer kon sien in watter rigting om te spring.

So spring ek toe verkeerd en beland binne-in die waterstroom maar ons gaan voort! Met die volgende springslag verloor ek balans en val omtrent drie meter ver. Dis toe dat ons besluit om maar liewer te wag tot dit lig word voordat ons verder afklim.

Ons skuil langs die oorhangende rots en probeer ‘n vuurtjie aan die gang kry met ons twee laaste vuurhoutjies, my nylon serp en ‘n paar takkies. Die vuurmaakhoutjies en alles is egter nat en ons slaag nie daarin nie. Met nat klere wag ons toe maar dat die dag moet breek en probeer mekaar warm hou. Toe dit uiteindelik lig word kom ons toe agter dat ons helfte van die nag ongeveer 50 treë van die motor af gesit en wag het dat dit lig moet word! Dit was ongeveer 5 uur die oggend en ons moes terug jaag Bellville toe want ek moes om 7vm vir ‘n lang skof aanmeld by die werk! Nodeloos om te sê dat ek moeilik deur die dag gekom het en daarna gesit het met ‘n hewige verkoue!

Gedurende my verblyf in die Kaap het ons ook gereeld by Lerine en Johan in Kampsbaai gaan kuier en gereeld strand toe gegaan by Derde strand in Clifton. So het ek die Kaap leer ken. Ek onthou ook veral die Suidooster en ‘n spesifieke laatmiddag waar die wind oom Stoney, wat by Lerine-hulle gekuier het, letterlik verby die voordeur gewaai het! Die wind was nog iets waaraan ek nie gewoond kon raak nie.

Een van die lekkerste uitstappies was ‘n naweek kuier in die Sederberg saam met Daantjie en sy swaer Johan. Ek onthou tot vandag toe die ongelooflike kranse en die fyn blommetjies tussen die rotse bo-op die berg. Hierdie kuier was net lekker kamp sonder teëspoed. Tot vandag toe wens ek dat ek weer daar kon kom maar die geleentheid het hom nooit weer voorgedoen nie.

Na ‘n ruk het Daantjie aangekondig dat hy my nie meer kon kom haal om die mannekynklasse by te woon nie. Hy sou my egter weer kon terugneem as ek met die bus tot by sy woonplek in Oranjesicht kon kom. Ek was onbekend met die busroetes maar klim toe tog maar laataand op die bus na so ‘n klas. Ek mis toe die afklimpunt en moes toe maar aan die busbestuurder verduidelik  dat ek nie geweet het waar om af te klim toe ons by die einde van die busroete aankom. Toe ry ek maar saam terug met die bus tot by die stasie en besluit om per trein terug te gaan. Daantjie moes toe al begin wonder het wat van my geword het maar ek kon hom nie inlig nie. Onthou ons het daardie tyd nog nie selfone gehad nie.

Hoe dit ookal sy het hy my opgespoor by die stasie net voor die laaste trein sou vertrek Bellville toe. Ek was in trane en hy baie omgekrap omdat ek so versukkeld was dat ek nie eers ‘n busroete kon verstaan nie. Dit was die begin van die einde van my en Daantjie se verlowing.

Terug by Hettie het sy my kort daarna vertel dat sy nie kon verstaan dat Daantjie my nie een keer per week kon kom haal nie, maar wel in staat is om ‘n ander vrou twee keer per week na hulle kantore te bring om die prokureur te kom sien. Ek was hoogs ontsteld en het aan hom getorring totdat hy erken het dat hy ‘n verhouding met die vrou gehad het.

Dit het die einde van ons verlowing tot gevolg gehad maar omdat ek my ouers nie wou ontstel nie en op pad was om die gradeplegtigheid in Pretoria by te woon het ek besluit om eers die verloofring te hou tot na my besoek aan Pretoria en die Vrystaat.

Ek het reeds vertel van die gradeplegtigheid en Pa se dood.

Die eerste persoon wie ek in die Kaap wou laat weet van Pa se dood was Daantjie want ek het hom dan ook gevra om die nuus by my werk te gaan oordra en te vra dat ek my verlof met ‘n paar dae tot na die begrafnis kon uitstel. Toe doen hy dit nie! Die volgende wat ek toe sien is dat hy in Theunissen opdaag vir die begrafnis! Toe kon ek minstens sy ring vir hom teruggee en self die hospitaal kontak om my verlofreëlings aan te pas.

Terug by die werk in die Kaap was daar niks meer oor vir my nie . Ongeveer Meimaand daardie jaar het ek ‘n paar dae verlof geneem om weer Theunissen toe te gaan. Ma het my vertel dat daar ‘n dieetkundige pos vakant was by die hospitaal in Welkom. Ek het nie regtig belangestel in hierdie pos nie maar tog saam met Ma welkom toe gery om die Superintendent by die hospitaal te gaan sien en meer uit te vind oor die werk. Ek kan tot vandag toe onthou dat ek met verskeie mense daar gesels het, maar gladnie dat ek ooit vorms ingevul het of enige ander dokumente geteken het nie.

Iewers in Juliemaand daardie jaar word ek toe ingeroep deur Mev Swanepoel en vreet sy my baie ontsteld uit omdat ek “reël vir ‘n oorplasing Welkom toe sonder om enigeen by Karl Bremer hospitaal daaroor in te lig!” Hoe meer ek probeer verduidelik dat ek van geen sulke reëlings bewus is nie, hoe minder glo sy my. Ek vra toe toestemming om die saak met die sekretaris te gaan bespreek en sy stem in met: “Nou goed dan! Gaan vertel as jy dink dat dit jou sop minder sout sal maak”.

Wel die werkery op daardie stadium was sleg genoeg vir my en ek besluit toe maar dat dit gladnie erger kan wees op Wekom nie! My laaste werksdag in die Kaap was 31 Julie 1967. Geen vaarwelpartytjie soos vir ander werkers nie. Mev. Swanepoel se afskeidswoorde aan my toe ek haar gaan groet het, was: ”Jy sal hare op jou tande moet hê om te dink dat jy OOIT ‘n dieetkundige kan wees.”

Op 1 Augustus is ek toe per trein terug Vrystaat toe. Die varkore het geil langs die treinspoor geblom en my hart was swaar want ek het nie kon dink wat die toekoms vir my sou inhou nie. Op ‘n manier het ek tog ten spyte van alles lief geword vir die Kaap.

No comments:

Post a Comment