Vandag iets oor my verskeie woonplekke in Bloemfontein
Ek kan nie presies onthou op watter stadium van my verblyf in Bloemfontein dit was nie, moontlik ongeveeer 1969, het ek begin dink daaraan om ‘n groter woonstel te kry. So het ek toe ‘n tweeslaapkamer woonstel gehuur reg oorkant die Ramblers Klub en oorkant die straat van die bekende Klipkerk af. Kan julle glo dat ek nou nie die naam van hierdie woonstelblok kan onthou nie. Dit sal my seker later byval.
In hierdie woonstel het ons ook lekker gekuier en baie partytjies gehou. Daar was gewoonlik lekker kos gemaak en veral paella en garnale was dikwels op die spyskaart. My woonstel was op die tweede vloer met ‘n lekker balkon aan die noordekant. Na ek daar ingetrek het, het die sosiale patroon van my lewe ook verander. Een van die skoolverpleegsters, Hanna Robb en haar man, Ian het ook in dieselfde woonstelblok gewoon. Ma hulle kon gereeld kom kuier en ek het genoeg slaapplek vir almal gehad.
In hierdie tyd het ek ook begin rolbal speel by Ramblers Klub en gou vriende gemaak met ander volwassenes. Ek het gou gevorder tot ‘n 4 voorgee en het omtrent elke naweek aan kompetisies deelgeneem. So het ek ook kennis gemaak met ander rolbalspelers beide in Bloemfontein en selfs met spanne wat van ander plekke af gekom het. So het ‘n vriendskap onder andere met Murray Colyn, ‘n rolbalspeler van Kimberley wat Provinsiale kleure in rolbal gehad het, ontstaan. Hy het my die fynere kunsies aangeleer het en ons het saam ook groter toernooie elders bygewoon. (Murray is 'n paar jaar na ek hom leer ken het onverwags dood aan 'n hartaanval.)
Hy het ook sommer baie gereeld kom kuier wanneer hy op besoek in Bloemfontein was en ons was jarelank vriende – ook met hom en ‘n vriendin met wie hy uitgegaan het na sy egskeiding. Selfs nadat ek met Hennie getroud is het ons by hom op Kimberley gaan kuier. Die rolbalspelery was my eerste sportprestasies en ek het dit baie geniet al was ek jare jonger as die ander rolbalspelers. Na die wedstryde het ons dan ook gewoonlik lekker saam gekuier by die Ramblers Klub. Ek onthou veral hoe ek later jare tydens ‘n enkelspeler wedstryd my destydse buurvrou oorkant die straat by Whitesweg geklop het tot verbasing van al die ander senior spelers en toeskouers. Sy was beskou as een van die top spelers in die klub en ek was maar nog ‘n beginner sonder voorgee. Dit was beslis een van daardie dae dat die geluk 100% aan my kant was.
Ek het dikwels onthaal en later het my klasmaats in die Magisterklas ook gewoonlik saam gekuier. Ek onthou spesifiek ‘n heerlike Gatsby partytjie wat baie aftrek gekry het. Een keer per jaar was daar ook ‘n groot vergadering by Hospitaaldienste gereël wat deur die Mediese Superintendente, sekretarisse en ander personeel bygewoon was. Na die vergadering was daar gewoonlik ‘n sosiale byeenkoms vir almal. Na hierdie amptelike partytjie het my goeie vriende uit die platteland dan ‘n soort “after party” by my woonstel gehou waar ons min of meer deurnag gekuier het. Dit was goeie dae…
Ek het ook begin om posseëls te versamel en so met nog meer mense kennis gemaak. Andre Bezuidenhout was die persoon wat my ingelui het tot die nuwe stokperdjie en laat aansluit het by die Filatelieklub in Bloemfontein. Daar was een keer per maand ‘n byeenkoms van die Klub gereël en ek onthou ook ‘n Nasionale Uitstalling wat ‘n week lank geduur het. Tydens daardie uitstalling het ek skouers geskuur met die Filatelie miljoenêrs. Ek onthou spesifiek ‘n uitstappie na Onze Rust wat gereël was vir die filateliste wat spesifiek Anglo Boereoorlog seëls versamel het, ook ‘n besoek aan die Oorlogsmuseum in Bloemfontein en ander historiese geboue in Bloemfontein soos die ou Presidensie.
Die lekkerste vir my was egter dat daar 'n filatelis was wat daar was met sy splinternuwe Lambhorgini wat groot belangstelling uitgelok het. Ek was die gelukkige een wat gereeld saam met hom rondgerits het - 'n goeie bevrediging van my liefde vir spoed!
Die stokperdjie het ook later ‘n vroeë dood gesterf en vandag is my seëls bo in ‘n kas weggepak en vergete. Wagtend op daardie dag dat ek weer lus sal wees om iets met die versameling te doen.
Die lekkerste vir my was egter dat daar 'n filatelis was wat daar was met sy splinternuwe Lambhorgini wat groot belangstelling uitgelok het. Ek was die gelukkige een wat gereeld saam met hom rondgerits het - 'n goeie bevrediging van my liefde vir spoed!
Die stokperdjie het ook later ‘n vroeë dood gesterf en vandag is my seëls bo in ‘n kas weggepak en vergete. Wagtend op daardie dag dat ek weer lus sal wees om iets met die versameling te doen.
Whitesweg 4
Nog later het ek besluit om ‘n eie huis te koop. Ek was maar baie dom met huiskopery maar het advertensies begin bestudeer. Na ‘n gesoek het ek afgekom op iets wat na ‘n winskopie gelyk het en ‘n aanbod gemaak op n eiendom in Whitesweg. Nie hoe lank daarna nie was ek die eienaar van ‘n ou huis met ‘n erf van meer as 2000 vk. meter en ‘n groot oorgroeide tuin met 18 reuse dennebome. Die huisplan het aangedui dat dit in 1916 gebou was en die eerste eienaar was ‘n Professor Laubscher van die destydse Normaalkollege (toe lank reeds oorlede). Hy was ook toevallig familie van een van my huishoudkunde kollegas, (Annette Laubscher in Pretoria). Ek het die eiendom by die tweede eienaar van die huis gekoop. Ek was die trotse eienaar van Whitesweg 4 teen ‘n koste van R 22 000!
Ek het nie dadelik ingetrek nie want daar was baie om te doen by hierdie huis en ek was van plan om dit geleidelik te restoureer. Ek het gehou van die groot tuin met die baie bome. So gebeur dit toe dat ek Windhoek toe moet gaan vir drie dae om ‘n vergadering by te woon en my broer en Hennie besluit dat hulle sal help om die tuin te orden. Ek het dit waardeer en ingestem omdat tuinmaak op daardie tydstip ook nog nie een van my vaardighede was nie. Min het ek geweet wat die resultaat sou wees! Met my terugkoms was ek stomgeslaan van skok want daar het net ‘n hengse hoop takke gelê en die dennebome aan die suidekant van die huis was heeltemal afgesaag. Gelukkig het die jakarandabome nog gestaan. Ek kon huil in my hande! Philip kom my toe help intrek by Whitesweg 4 op 1 Mei 1979 en begin die bome afsaag. Die stompe het ons maar in die grond gelos want dit was te 'n groot taak om diet uit te haal.
Die “verwoesters” (soos ek toe aan Hennie en Philip gedink het) se kommentaar was dat dit alles nodig was en dat ek gou die verandering ten goede sou sien. Wat nog verder gedoen moes word was om die 18 dennebome aan die weste grens van die eiendom af te saag. Dit was nodig omdat sommige van die bome begin oorhel het en die gevaar ingehou het dat dit op die huis se dak kon val.
Toe koop ek toe maar ‘n elektriese bandsaag en Philip kry opdrag om die taak af te handel. Hennie sou toesig hou. So word die bome dan ook een vir een afgesaag en lyk my tuin al hoe droewiger maar ek besef dat dit noodsaaklik was. My hart was altyd nog seer as bome afgesaag moes word en verbygangers in die straat het ook hulle misnoeë uitgespreek oor die verlies van die bome.
Toe koop ek toe maar ‘n elektriese bandsaag en Philip kry opdrag om die taak af te handel. Hennie sou toesig hou. So word die bome dan ook een vir een afgesaag en lyk my tuin al hoe droewiger maar ek besef dat dit noodsaaklik was. My hart was altyd nog seer as bome afgesaag moes word en verbygangers in die straat het ook hulle misnoeë uitgespreek oor die verlies van die bome.
Saul snoei die heining en kap die wilgerboom uit |
Die spaarkamer venster aansig (links) en die noordeike aansig (regs) |
My enigste troos was dat dit nie inheemse bome was nie en ek was van plan om wel ‘n paar inheemse bome aan te plant. Na omtrent twee weke was die bome afgesaag. Die enigste ongeluk was dat die heel laaste boom op die kragdrade op die oorkantste sypaadjie geval het! Die buurman oorkant die straat se krag was sleg onderbreek en ons moes laat die dag met die Munisipaliteit onderhandel om die kragonderbreking weer te herstel. Gelukkig kon dit nog gedoen word.
Die enigste ongeluk was dat die heel laaste boom op
die kragdrade op die oorkantste sypaadjie geval het! Die buurman oorkant die
straat se krag was sleg onderbreek en ons moes laat die dag met die
Munisipaliteit onderhandel om die kragonderbreking weer te herstel. Gelukkig
kon dit nog gedoen word.
Die laaste boom val... |
Toe kon ek begin tuin maak van voor af. Ek het
tuinboeke aangeskaf en Hennie se tuinhulp, Saul, het twee keer per week by my
ingeval. My bure was Irene en Willie Seyffert. Hulle het ‘n pragtige tuin gehad
en Irene was ‘n waardevolle bron van kennis en inspirasie.
Bloemfontein se rose en blomme |
Die bekende Dr. Goedhart het ‘n entjie verder af in Whitesweg gewoon en daagliks by my tuin verbygestap. Hy het soms ook familie en vriende saam met hom geneem op sy staptogte en spesifiek om my rose te bewonder. Dit was ‘n lekker gevoel!
Ek het ook baie kompos laat inwerk en gras geplant. Die grassnyery het ek meestal self behartig en dit het gewoonlik ‘n hele Saterdagmiddag in beslag geneem. So het my bedrywighede na werk dan verskuif van kuier en partytjies hou na tuinwerk en restorasie aan die ou huis. Hennie het ook ‘n groot aandeel gehad aan my sukses met die tuin. Ek het ook selfs groente geplant en ek onthou spesifiek ‘n groot oes van witloof. Ek het ‘n sand trog in die donker garage gehad waar ek die witloof plantjies laat uitspruit het om geoes te word net voor die blaartjies groen begin verkleur het. Heerlik! Ek het mandjiesvol witloof (met resep en al) uitgedeel aan almal wat wou hê en nie bekend was daarmee nie.
Restourasie
Die restorasie aan die ou huis was ‘n groot maar lekker taak. Ek het gou uitgevind dat die huis nog met rou stene gebou was en dit was nie so maklik om die krake te herstel nie. Ek het die sitkamermure wel oor laat pleister. Daar was drie kaggels in die huis en ook ‘n ou staal bad met pootjies. Ek het die bad vervang met ‘n nuwe meer moderne een en die ou bad omskep in ‘n bank vir die stoep deur ‘n gedeelte van die een lang kant uit te sny en kussings vir die bank te maak. Die materiaal het ek self gekleur en die kleurskema het aangepas by die baie houers waarin ek potplante gehad het.
Geld vir die restourasie was ook maar ‘n probleem
en ek moes suinig werk en baie planne maak. So het ek toe muurpapier gekoop
waar spesiale aanbiedings beskikbaar was en self die mure geplak. Dit kon ek
goed doen want ek het altyd vir Ma hiermee gehelp by ons huis op die plaas en
daardie dae was sy ook nog by om raad te gee. Dit het die fyn barste mooi
toegemaak en binnekort het my huis sommer spoggerig begin lyk. Ek het ook al
die lae verf van die ou staal kaggel in die spaarkamer begin afskuur en die
blommetjies wat toe verskyn het sorgvuldig begin verf.
Aan die noordekant was ‘n groot sonkamer wat later jare deur die tweede eienaar aangebou was. Dit was ‘n lekker kuier vertrek maar die plafon en vloer het aandag gekort. Hennie het een van sy studente, Willem van Deventer, gekry om die plafon met “knotty pine” in te slaan en ek het self matteëls op die vloer geplak.
Hes, Ma en ek met Jaco en Adele voor by sonkamer deur |
Whitesweg se huis was ‘n lekker kuier-en afpakplek vir die familie wanneer hulle Bloemfontein toe gekom het. Philip em Ma het sleutels vir die huis gehad en soms het ek by die huis aangekom en slegs deur die KFC boksies in die kombuis afgelei dat hulle daar was terwyl ek weg was platteland toe of by die werk was. Philip se dogter Amalia het na haar st vyf jaar aan die Oranje Meisieskool, wat net ‘n hanetree ver van die huis was, gestudeer. Sy kon dus lekker na my toe stap om te kom kuier.
Die lekkerste kuier in Whitesweg was egter met die kleinkinders. As ek reg onthou was dit gedurende ‘n Junie vakansie. Beide Philip en Hester se kinders sou vir ‘n week lank by my kom kuier. Die ouers was maar taamlik skepties oor my vermoë om met soveel kinders – daar was ses van hulle – te kon huishou. Wel my planne was in plek en die kinders erg opgewonde. Ons het sommer die eerste dag al huisreëls in plek gehad. Hulle moes onder andere self hulle kamers aan die kant hou en help met kos maak en skottelgoed was. Die groteres moes die kleiner kinders oppas.
In die aande het ons bordspeletjies gespeel maar veral die “onthou” speletjie waarmee Adele baie goed was. Die speletjie het bestaan uit duplikaat prentjies op kartonkaartjies wat gesig na onder op die mat of tafel geplaas was. Die spelers het dan elkeen ‘n beurt gekry om ‘n kaartjie om te draai en as hy of sy reeds so een gehad het kon hy ook die duplikaat wat hy opgetel het kry en het weer ‘n beurt gehad om nog ‘n kaartjie te kies. As mens nie reg geraai het nie is die kaartjie bloot weer gesig na onder op dieselfde plek geplaas. Dit het beteken dat mens moes onthou waar die spesifieke kaartjies was. Die wenner was die een wat die meeste kaartjies gehad het nadat al die kaartjies omgedraai was. Ek dink ek het nou nog hierdie speletjie iewers in ‘n kas.
Afgesien van die kinders se baie lekker kuier was daar ook ander en veral die kuiers tydens Kersfees, maar daarvan het ek reeds vertel. Pragtige herinneringe wat ons altyd in stand sal hou.
Troeteldiere
Na ek die huis aangeskaf het was daar ook plek om
troeteldiere aan te hou. My eerste troeteldier was ‘n opregte Rottweiler wat ek
in Heilbron by ‘n teler aangekoop het. Ek was gewaarsku dat ek gou sou moes
leer om die hond te wys wie is baas sodat ek haar kon beheer. Ek het toe ook
dadelik vir gehoorsaamheidsklasse op Sondae na ‘n klub gegaan. Sy het gou
geleer maar was nog eintlik baie jonk vir die klasse. Sy het egter bo
verwagting goed gevaar met haar eerste “eksamen” Toe was sy maar drie maande
oud! Ek het weggestap met die beker vir die gehoorsaamste jong hondjie.
Vicky
Ek onthou een spesifieke insident waar ‘n vriend
met sy Afgaanse hond kom kuier het om te spog met hoe mooi sy gelyk het na die
middag se bad en hare borsel. ‘n Pragtige dier! Nie lank nie of sy en Vicky
begin speel terwyl ons rustig op die voorstoep sit en teug aan ‘n wyntjie. Die
sproeiers was aan in die tuin en aan die westekant was daar ‘n baie groot hoop
kraalmis en kompos wat nog ingespit moes word. Die volgende oomblik verskyn die
twee honde toe druipnat en vol bolle kraalmis – veral aan die Afgaanse hond se
hare! Ai tog! Die hond moes van voor af gebad word en my vriend is toe maar ewe
boos terug na sy huis met die nat hond. Vicky het nie eers ‘n bad nodig gehad
nie.
Vicky |
Vicky was meer lojaal en beskermend teenoor my as
wat ek aanvanklik besef het. Ek is vertel dat sy sou toelaat dat ‘n vreemdeling
in die erf inkom maar dit was nie ‘n gegewe dat ‘n oortreder weer die erf sou
verlaat nie. So werk my broer Philip toe daaraan om ‘n sementblad voor die
garage te gooi en die werkers staan ook daar rond. Ek kyk toe ook na die
werkery met die hond kort agter my. Die oomblik toe ek egter met ‘n man praat
en hy sy hand uitsteek om teen die hek te leun is Vicky soos blits by en gryp na die
man se hand. Dit was vir my ‘n goeie teken dat sy my sou beskerm en ook
terselfdertyd ‘n les vir ander wat daaroor gewonder het.
Gina
Na die voorval het ek besluit om ‘n kleiner hond aan te skaf. Ek lees toe ‘n advertensie van ‘n man van Jagersfontein wat foxterriers te koop aanbied by ‘n huis in Bloemfontein en sit dadelik af daarheen. Die hondjies was in die agterplaas terwyl mense besig was met tuindienste en grassnyers wat ‘n erge geraas gemaak het. Uit die werpsel was daar nog een tefie wat nie verkoop was nie en sy het bewerig in ‘n hoekie gesit – baie bang vir die ongewone geraas. Ek verneem toe dat sy aan iemand in Virginia verkoop sou word as rotvanger indien ek haar nie koop nie. Wel die koop is beklink want die klein bang hondjie het dadelik in my hart gekruip. Ek het haar Gina gedoop.Gina was reeds op ses weke huismak en gewoond om in ‘n mandjie te slaap. Die eerste aand het ek geen moeite met haar gehad nie. Die volgende aand het ek haar egter by my in die bed getel om bietjie te speel en toe wil sy nie weer afklim nie! Van daardie aand af het sy altyd by my onder die kombers geslaap en slegs uitgekruip tot haar kop op die kussing was as dit te warm geword het onder die komberse!
Gina en Gatto stoei |
Gina het my soos ‘n skaduwee gevolg en was vir die volgende veertien jaar aan my sy. Na ek en Hennie getroud is het sy hom aangeneem as haar daaglikse metgesel maar steeds saans aan my kant van die bed kom inkruip. Tydens my studies het sy nagtelank by my gesit en saans tot op my boeke op die tafel gespring as sy gedinkhet dat dit al tyd was om te gaan slaap. Gina was my enigste kind…
Gatto was ‘n regte rondloper wat die strate verken het. So het dit dan toe ook gebeur dat ook sy deur ‘n motor raakgery is en dat ek dit eers na ‘n paar dae uitgevind het. Daarna het ek ook nooit weer ‘n kat gehad nie.
...en Gina het saam met my graad gevang...
No comments:
Post a Comment