So het die jare verbygeglip en het ek stadigaan begin verstaan dat alles nie bestaan het uit kinder onskuld nie. My hoërskooldae was ook nie juis besonder interessant nie. Ek het steeds gedroom en storietjies geskryf en bloemlesings gemaak. Die skrywery is aangemoedig deur my Afrikaans onderwyser, Mnr. Jan Rossouw, wat aan my ‘n lang lys temas gegee het vir opstelle. My klasmaats het ongeveer een opstel per kwartaal moes skryf maar ek het so om en by dertig in die eerste jaar geskryf. Opstelle skryf was lekkerder as ander skoolwerk en ek het baie tyd daaraan bestee gedurende studietyd in die koshuis. Ek sou nogal graag weer daardie pogings vandag wou beskou maar alles het verlore geraak. Ek kan nog net onthou dat my sus Hester opstelle geneem het uit my boekies en nadat sy advies gevra het by haar maats oor watter een dan nou die beste was, die einste opstel oorgeskryf en ingedien vir die skool jaarblad! Hierdie plagiaat het my gladnie aangestaan nie en ek het gewoonlik eers daarvan bewus geraak as die jaarblad klaar gepubliseer was. Gelukkig het sy my bloemlesings bewaar.
Vandag is ‘n hartseer dag. Twee maande sedert Kalie weg is en die hartseer verhoed my om sommer net te kan skryf. Ek het ook toevallig op ‘n bloemlesing afgekom wat sus Hester nog by haar gehad het en onlangs vir my gegee het. Ek gaan julle dalk verveel maar ek wil ook hierdie geskriffies deel. Meestal nie my eie woorde nie maar woorde wat my hart geraak het toe ek nog ‘n tiener was en wys waar my liefde vir ons taal vandaan kom.
Ek plaas ‘n paar foto’s uit die bloemlesing.
Die voorblad en enkele sketsies |
Eensaamheid
Jan F.E. Cilliers
My vuurtjie en ek is op wag
My vuurtjie en ek alleen
Die awendstêr wink al van ver
En die velde slaap omheen.
En stadigies sterwe die dag,
Soos een in sy armoed verlaat
Ongesien , ongeag sonder suggie of lag.
Waar niemand van weet of van praat.
Nou bly die lug alom
In stil aanbidding staan -
Geen tampende bel, wat die ure tel
Net die sterre wat kom en gaan.
Die osse met koppe gebuie,
Herkoue nog stil in die nag,
Tot een vir een buk en gaan lê by sy juk
Met ‘n sug na die trek van die dag.
My vuurtjie is al wat nog lewe
In die eindloos ruim met my,
En sy stemmetjie dwaal
Soos ‘n deuntjie wat draal,
om dae lank verby.
Om jonkheids blye môre
En laggies lank verlewe
Dan voel ek ‘n traan in my oë staan
En ek fluister : “ Heer vergewe!”
Die slapende velde lê wyd
En wyer die donkere see
Wat my vuurtjie en my vonawend skei
Van die wêreld se vreug en wee.
Ek weet daar’s fees vanaand
In menig verligte saal
Maar geeneen wat my mis
By die dans en die dis
‘n Balling vergeet en verdwaal.
Maar al is ek ver van die skaar
In eensaaheids woning getrede
Ek voel my soos een
Met die Heer alleen
‘n Kind aan Sy boesem tevrede.
*******************************
Ek was (en is nog steeds) versot op die verse van Elizabeth
Eybers. Toentertyd het ek al “Die eerste nag” aangeteken…
Die eerste nag
Elizabeth Eybers
Hoe veilig en stil is my kindjie se slaap,
die tastende handjies so vreedsaam gevou,
die soekende mondjie geslote en soet,
die ogies ‘n skemering van blank en blou.
Wat sal haar moeder nou vir haar bid
Waar sy slaap in haar wiegie, so warm en wit?
Watter geheim sal sy vra dat haar kind
In die skadu vanlatere nagte mag vind?
Wat in die nag wat eensaam is?
- Dat
skoonheid gebore word uit gemis.
Wat in die nag van kwelling en pyn?
- Dat die môrester
dan die suiwerste skyn
Wat in die nag vanliefdeslus
- Dat
teerheid sterker as hartstog is.
Wat in die nag van barendsnood?
- Dat die lewe magtiger is as die dood.
Wat in die nag wat die laaste sal wees?
- Dat wie
die lewe het niks hoef te vrees.
Want elkeen aan wie die nag dit verklaar
Sal wysheid dieper as kennis bewaar.
Hoe veilig is nou nog my kindjie se slaap,
die tastende handjies so vreedsaam gevou
die soekende mopndjie geslote en soet,
die ogies ‘n skemering van blank en blou
O duistere Nag, wees goed vir my kind
later wanneer jy haar wakker vind.
******************************
Die ander gedigte en prosa kan in die bloemleding album hier gesien word:
Ek sluit af met 'n stukkie prosa.
Prosa uit: “Uitspring Kêrels” deur P.J. Schoeman
“Kaboemielies, staan op jou knieë daar by die deur en maak toe jou oë!”
“Kaboemielies, staan op jou knieë daar by die deur en maak toe jou oë!”
En toe het al die kleinbaas se onrus en hartseer uiting gevind in ‘n eenvoudige kindergebedjie.
“Liewe Jesus Boesnot is baie siek. ‘n Slang het hom gebyt. ‘Seblief tog moet nie dat hy doodgaan nie. Hy is maar ‘n arme hond. Hy kan nie self bid nie. Hy het ‘n omkrulstert, ‘n wit vlek voor sy bors en ‘n rooierige vlekkie oor die helfte van sy neusie. Bokant sy linkeroog is daar ‘n klein rooi kolletjie. Liewe Jesus sal hom sommer ken as Liewe Jesus hom sien. Boetie-hulle sê hy is ‘n regte ou kafferbrak. Maar hulle is jaloers op hom. Hy is nie ‘n kafferbrak nie. Hy is my hond. Ek het hom lief. Hy is ‘n pure hond. Hy het vandag ‘n pofadder doodgebyt. Sommer ‘n grote! Boetie-hulle se honde het nog nooit so een gevang nie…so dik soos my been>”
“Haai Jannie!”
“So ‘n bietjie dunner as mens verstaan…Wat moet ek nog sê Pappa?”
Hoërskool
Ek was reeds op Universiteit toe die nuwe Hoërskool gebou is. Terselfdertyd is die ou skool toe vernoem na Theunissen Laerskool wat later jare hernoem is na Concordia Laerskool. Hier onder is die skool soos ek dit nog onthou. Dit was wel hoër- en laerskool hoewel die naambord net Hoërskool wys.
Theunissen se skool soos ek dit onthou |
My eerste jaar in standerd ses was lekker. Ons was ‘n baie groot groep in standerd ses met omtrent veertig kinders in die klas. Die toename in leerlinge was omdat die kinders wat in plaaskole, en veral waar die bouwerk aan die Erfenisdam en Kanale aan die gang was, na die Hoërskool op die dorp moes kom. Ek kan onthou dat die seuns ongelooflik stout was en veral Mnr. Van Zyl se siel versondig het. Hy het feitlik daagliks van die seuns kantoor toe gejaag oor hulle stoutigheid. Ek kan nog goed onthou hoe hy die seuns uitgejaag het uit die klas met: “Kantoor toe! Kantoor toe!” Dan moes die skoolhoof maar tot sy redding kom met die rottang! Daardie dae is die lat nog goed ingelê vir stoutigheid! Teen die tyd dat ons in matriek gekom het, het die seuns darem meer respek vir Mnr. Van Zyl gehad wat toe al weer die onderwyser vir die standerd vier kinders was waar hy sekerlik rustiger en minder getreiter was. Hy het wel weer vir 'n rukkie die Engels klas behartig.
In standerd Vyf is ek koshuis toe en het daar aangebly tot in matriek. Dit was lekker in die koshuis met baie maats. My beste maats was Annatjie du Buys, Barbara Roodt en Inez Burger. Die vier van ons het ook ‘n kamer in die koshuis gedeel. Ons het die koeldrankverkopery behartig en gereeld saam met Mnr Henning, wat toe koshuisvader was, skool toe gery om leë koeldrankbottels terug te neem en nuwe voorraad te gaan haal.
In Matriek het ek en Bettie Jacobs ons ouers oortuig dat dit beter sou wees vir ons studies om privaat te loseer. Ek en Bettie Jacobs het toe vroeg in ons matriekjaar by tant Makkie Meintjes gaan loseer. Dit was baie lekker om by haar te woon want tant Makkie het lekker stories vertel en ons nie veel gepla met die leerdery nie. Die eerste aand by tant Makkie het ons al kattekwaad aangevang! Ek en Bettie en nog ‘n paar ander het gaan rondloop en by die Apostoliekerk waar ‘n biduur aan die gang was ‘n draai gaan maak. Ek kan nie meer mooi onthou wat die motivering hiervoor was nie, maar vir tant Makkie het ons vertel dat ons by die koshuis gaan studeer.
Terwyl ons op hierdie uitstappie was het Ma gebel om te hoor hoe dit met ons gaan. Na sy verneem het dat ons nie tuis was nie, het sy die koshuis gebel en toe sy hoor ons is ook nie daar nie, het sy ook vir Bettie se ma ingelig. Die uiteinde van die storie was dat beide ouerpare toe dorp toe gery het om na ons te gaan soek! Teen die tyd dat hulle al naby die dorp was, was ons al weer terug by tant Makkie om die nuus te verneem dat die ouers op pad was om ons te kom soek. Groot angstigheid! Na ‘n groot preek is ons toe belowe dat ons dadelik weer teruggeplaas sou word na die koshuis, sou so ‘n voorval homself weer voordoen. Daarna was ons baie meer versigtig met ons nagtelike uitstappies!
Amper aan die einde van my standerd sewe jaar het ek geirriteerd geraak met die Duits onderwyser en besluit dat ek liewer Handel en Administrasie wou neem as Duits. So gesê, so gedaan na ek Pa oortuig het dat ek ‘n verandering in vakkeuse MOES maak. Ek moes toe natuurlik die hele jaar se werk inhaal maar het nie te vrot gevaar nie. Ek het darem ‘n B simbool in die matriekeksamen gekry. Min het ek toe geweet dat ek later jare tot by ‘n Doktoraal in Publieke Administrasie sou vorder!
Awie Botes hou toespraak. Ek Tienie Aucamp en Louise Theron sit voor |
Ek het ook nie juis uitgeblink in sport nie. Ek het darem in die tweede span netbal gespeel in my standerd nege en matriekjare. Met skole atletiek het ek aan die hoogspring deelgeneem maar ook maar sonder veel sukses. Sport was veral tydens my skooljare nie juis vir my ‘n prioriteit nie. Ek was ook veels te tingerig !
So het my laaste skoojare dan ook maar sonder baie opwinding ten einde geloop en kon ek nie wag vir die dag dat ek Theunisen se stof van my voete sou afskud nie. Ek wou Universiteit en Pretoria toe! Ek wou stad toe! Ek moes net seker maar dat ek akademies goed vaar en Universiteitstoelating kry. Ek was akademies begaafd en het dan ook goed gevaar hoewel ek slegs twee onderskeidings in matriek gehad het en verder B’s vir al my ander vakke. My pad Universiteit toe het soos ‘n groot nuwe avontuur voor my uitgestrek!
Ek het veral goed gevaar in geskiedenis, Afrikaans, Engels en wiskunde. Die voorligtingonderwyser, Mnr Strydom, het aanbeveel dat ek B.A met Afrikaans as hoof vak by Kovsies gaan swot, maar daarvan het ek niks gehou nie. Op ‘n dag in die voorligtingklas was Mnr. Strydom kantoor toe geroep en aangesien al ons lêers met sy notas op sy lessenaar was kon ons die versoeking nie weerstaan om daarin te snuffel nie! Een van die kinders het natuurlik “kywie” gehou terwyl ons hiermee besig was. Toe sien ek mos dat my IK nie te vrot was nie en onder andere dat hy ‘n nota gemaak het dat ek NIE goed genoeg was vir ’n B Sc. rigting op Universiteit nie! Net daar het ek my toe natuurlik voorgeneem dat ek wel B. Sc. SAL gaan swot en beslis nie by Kovsies nie. Wel vandag is nie spyt oor die destydse hardkoppigheid nie…
No comments:
Post a Comment