Die heel eerste dae in Bloemfontein het ek spandeer daaraan om die klein woonstel wat ek gehuur het na ‘n huis te laat lyk. Ek het ‘n langhaarmat, wat daardie dae hoogmode was, en sitkamerstel aangekoop. Die woonstel het sommer leefbaar gelyk en ek was reg om die bure en die omgewing te leer ken. So begin 'n nuwe fase in my lewe toe en geniet ek my eie plekkie by Hibiscushof.
Mev. Esterhuizen, Tannie Es soos ons haar genoem het, was dadelik by toe ek ingetrek het. Later sou ek vasstel dat niks wat by die woonstelle gebeur haar ontglip het nie en sy was ook die opsigter van die woonstelblok. Ons het gou vriende geraak en ek het maar haar ongevraagde inmengery verduur. Dit was seker goed dat daar iemand was wat ‘n ogie oor my gehou het.
Ek het egter my maats en die sosiale lewe op Welkom gemis. Aan die begin het ek elke naweek Welkom toe gery. Omdat ek meeste naweke nie in Bloemfontein was nie het ek ook nie juis op daardie tydstip met baie ander jongmense kennis gemaak nie.
Die eerste dag by die nuwe werk is ek voorgestel aan meeste mense met wie ek nou sou saam werk. Ek wou by Dr. Kruger weet wat my pligtestaat was en aan wie ek sou moes rapporteer. Sy antwoord was net dat daar nog nie voorheen iemand in die –pos aangestel was nie en dat ek die Afdeling moes opbou soos ek goed gedink het. Dit was vir my nogal ‘n ”Tall order” om te dink dat ek eintlik kon maak nes ek wou. Dr. Kruger het my egter aan die Hoofverpleegkundige, Mev Venter, voorgestel en aanbeveel dat ek saam met haar platteland toe moes gaan sodat sy my aan die mense by daardie hospitale kon voorstel. Later het ek agtergekom dat die ander verpleegsters by Hospitaaldienste maar taamlik lugtig vir Mev. Venter was maar ons twee het goed reggekom.
Dit was ook op hierdie eerste dag dat ek uitgevind het dat ek slegs een van twee dieetkundiges in die Vrystaat was. Met ander woorde my aansteling was nou nie juis ‘n groot prestasie nie, maar meer uit nood gebore. Die ander dieetkundige was Lunette van Niekerk wat by die Voortrekker hospitaal in Kroonstad gewerk het. Ek het kort na ek in Bloemfontein begin werk het met haar kennis gemaak.
Ek het vriende gemaak met die skoolverpleegsters en gewoonlik in die oggende ‘n eerste koppie koffie saam met hulle gedrink en ook etenstye saamgedrentel winkels toe. My beste vriendinne tussen die klomp was Ann Nortje, Marie Muller, Susan ? en Marthie le Roux. Die vriendskappe het dan ook daartoe gelei dat ek meer van die verpleegkundiges by die Nasionale hospitaal leer ken het en saans of oor naweke by hulle gekuier het. Soos in Welkom was daar ook partytjies maar nie op dieselfde informele vlak as in Welkom nie.
Die kennismaking by Nasionale Hospitaal se voedseldiensafdeling was ietwat van ‘n ander aard. Die spysenier daar was ‘n Duitse sjef, Mnr. Wïrthel. Ek het baie van hom gehoor by Mnr Schumacher wat ook voorheen saam met hom gewerk het en nie baie ingenome was met Mnr. Wïrthel. se manier van dinge doen nie.
Ek het ook gou agtergekom dat Mnr. Wïrthel die verpleegsters baie bederf het en elke dag gesorg het dat daar ‘n behoorlike feesmaal vir die verpleegsters was met die oggendtee en koek tydens die middagtee. Die hoof matrone van die hospitaal, Mej. Lochner het ook elke oggend ingeklok vir tee of koffie in die kombuis. Mnr. Wïrthel het haar gelukkig gehou deur sorg te dra dat haar yskas altyd vol was en daar is gereeld gebraaide skaapboud, ander vleisdisse, koek en ander lekkernye by haar afgelewer. Hierdie praktyke het my nie aangestaan nie en ek was van plan om ‘n stokkie daarvoor te steek. Dit sou my eerste konfrontasie met Wïrthel wees.
Die besoeke aan die plattelandse hospitale was lekker en ek het baie aangename mense so ontmoet. Aanvanklik het ek soos reeds genoem saam met Mev. Venter gereis maar ek was gou gereed om op my eie die inspeksies te doen. Eintlik was dit nie juis inspeksies nie maar meer om hulle aanvanklik te help met spyskaarte en personeelopleiding te doen. Dit kon ek ten minste doen met die ervaring wat ek in Welkom opgedoen het.
Vir hierdie besoeke het ek aanvanklik met die amptelike PAO motors gereis. Die motors was nie altyd betroubaar nie maar die amptenaar by die Provinsiale garage, Mnr. Groenewald, het sorg gedra dat ek meestal die beste motors gekry het vir my reise.
Ek onthou egter een insident waar ek met ‘n ou groot ses silinder Valiant om ‘n draai gegaan het op die destydse grondpad net voor Jagersfontein ‘n voorwiel verloor het en die motor teen ‘n grondwal tot stilstand gekom het. Ek was gelukkig nie beseer nie maar kon ook nie verder ry nie. Iemand het my toe langs die pad opgelaai tot by die hospitaal. Daar aangekom was daar niemand wat die motor kon herstel nie en moes ek per geleentheid terug Bloemfontein toe. Die spesifieke motor het lank op Jagersfontein gestaan voor dit uiteindelik herstel kon word.
Omtrent ‘n jaar nadat ek in Bloemfontein begin werk het, het ek ook gekwalifiseer om ‘n eie gesubsidieerde motor te kry. Die motor is afbetaal namate mens myle opgebou het en het beteken dat die motor jou eiendom geword het nadeat die vereiste myle afgelê was. Volgens die regulasies was ek wel toegelaat om ‘n aantal privaat myle ook af te lê. So het ek toe weer my ou Datsun motortjie laat teruggaan na die familie en my sus Hester en Ma het onder andere weer met dié motor gery.
My eerste gesubsidieerde motor se aankoop was ‘n groot geleentheid. Ek was ‘n regte spoedvraat en het besluit om ‘n drie liter Ford Capri aan te koop. Dit kon ek doen deur aanvanklik ‘n ekstra bedrag uit eie sak by die koopsom te voeg. Ek onthou baie goed hoe lekker dit was om hierdie (vir my) spogmotor in ontvangs te neem.
My eerste rit met die blinkgroen Capri was Oos Vrystaat toe. Daar tref die ongeluk my toe sommer die eerste dag toe ek geduldig by ‘n verkeerslig staan en wag en ‘n ander motor van agter af in my vas ry! Ek was hoogs ontsteld maar gelukkig was daar nie te veel skade aan die motor nie behalwe vir die agterste modderskerm. Ek was in staat om verder te ry maar heel verleë omdat ek so graag gespog het met my nuwe motor. Terug in Bloemfontein het ek gou werk gemaak daarvan om die skade te laat herstel. Die enigste ander persoon wat ‘n soortgelyke gesubsidieerde Ford Capri gehad het was een van die Provinsiale verkeersbeamptes. Ons het mekaar dikwel sop die Vrystaatse vlaktes raakgeloop maarh y het my gelukkig nooit beboet vir die angswekkende spoed waarmee ek oor die vlaktes gejaag het nie. Kon my nie uitvang nie want ek het geweet waar hulle “lêplekke” was.
Ek het gou besef dat daar ‘n dringende behoefte was aan meer dieetkundiges en veral by die Nasionale Hospitaal. Ek het die pos adverteer en Petro Wolmarans het aansoek gedoen. Sy het op Potchefstroom studeer en pas haar Nagraadse Diploma by Tukkies verwerf. Petro is toe aangestel by Nasionale hospitaal en ek het ook kon help dat sy ‘n woonstel by dieselfde blok as ek kry. So het ‘n lang vriendskap met Petro as my direkte buurvrou en kollega begin. Ons het vandag nog, hoewel minder gereeld, kontak met mekaar.
Ek het natuurlik ook met terapeutiese diëte te doene gekry en in daardie verband het Dr. Andre Steyn en andere my baie gehelp. Nadat Petro by die hospitaal begin werk het, het sy meestal die terapeutiese deel van die werk hanteer terwyl ek my maar toegspits het op die plattelandse hospitale en voedseldiensadministrasie. Ek het wel ook baie tyd by Nasionale Hospitaal spandeer en ongeveer so twee tot drie dae per week platteland toe gery. Ek het ook soms by die Diabetes Kliniek by die hospitaal ingeskakel. Dr. Steyn is later as Professor in Interne Geneeskunde by die Mediese Fakulteit aangestel.
Die volgende gebeurtenisse is slegs herinneringe van die take waarby ek aanvanlik gemoeid was en nie noodwendig in kronologiese volgorde nie.
Die eerste groot taak was baie implikasies (en ongelukkigheid) tot gevolg gehad het was my poging om die oormatige spandering wat die bederf (deur Mnr. Wïrthel) van die verpleegsters tydens hulle teepouse tot gevolg gehad het stop te sit. Ek het ‘n groot vergadering gereël en ook Mev van Niekerk van Kroonstad uitgenooi om die vergadering by te woon Die ander teenwoordig was amptenare van die Departement van Hospitaaldienste wat Dr. Kruger, Mev. Venter, en Dr. Bester (wie my direkte hoof was) asook ander amptenare wat met die administrasie van die hospitale gemoeid was. Uit die aard van die saak was Petro en mnr. Wïrthel ook daar. Die agenda het hoofsaaklik oor die opstel van rantsoenskale vir die hospitale gehandel.
Op die betrokke dag kan ek goed onthou hoe Mnr. Wïrthel met groot lawaai na die vergadersaal aangekom het. Dit was duidelik dat hy gereed was om oorlog te maak. Hy het ‘n kardoes rondgeswaai en luidkeels aangekondig: ”Ek het my skietgoed”. Die ander by die vergadering was niks minder as geamuseerd met sy manhaftigheid nie. Nadat Dr. Kruger die vergadering geopen het blyk dit toe dat Mnr. Wïrthel se skietgoed ‘n sakkie met droë bone was waarin daar allerhande ongewenste items soos onder andere miet en dooie insekte in was. Die vertoon is gou in die kiem gesmoor deur Dr.Kruger wat net aangekondig het dat die spesifieke geval nie op die agenda was nie en ons later daaraan aandag daaraan sou gee. Toe kon die vergadering voortgaan en het ons die rantoenskale punt vir punt bespreek waarop mnr. Wïrthel dan ook telkens beswaar aangeteken het, maar hy is keer op keer uitgestem. So het dit dan toe gebeur dat die rantsoeskale aanvaar en ingestel was en dat die groot feeste met teetye gestop was tot leed van beide die matrone en die spysenier.
Mnr. Wïrthel het daarna egter nog voortgegaan met sy skelmstreke. Hy het ‘n slaghuis by die kombuis bedryf wat hy self beman het. Hy kon die heerlikste Duitse wors maak en het ook gereeld gerookte biltong gemaak. Hierdie lekkernye is meestal as geskenke weggegee maar dit was moeilik om vas te stel wie die gelukkiges was. Ek het ook verneem dat hy sy dinge so gereël het dat die sekretaris en superintendent van die hospitaal van tyd tot tyd slagskape ontvang het om hulle te forseer om stil te bly. Die huishoudsters het ook vertel hoe hy gedurende die nag, wanneer hy alleen aan diens was, sy klein motortjie by die groot agterddeur ingetrek het om dan sy voorraad kruideniersware op te laai. So het korrupsie tog selfs in daardie “goeie ou dae” ook maar voorgekom!
Ek het altyd by die agterdeur van die kombuis stilgehou wanneer ek die hospitaal besoek het. Dit het dan aan Mnr. Wïrthel geleentheid gebied om items in my motor te plaas wat ek NIE wou ontvang nie. Ek het bloot elke keer sorg gedra dat ek goed inspeksie hou by die motor voor ek die hospitaal verlaat sodat ek dan die biltonge en ander goed wat hy ingelaai het netjies vir hom kon gaan teruggee. Daardie dae was ons nog nie so gesteld daarop om ons motors te sluit nie. So het hy nooit reggekry om my om te koop nie.
Kersfees by Nasionale Hospitaal
Kersfees was ‘n groot geleentheid by die hospitaal en daar is vroegtydig vir Kersfees vrugtekoeke gebak. Elke saal het ‘n vrugtekoek gekry en dan was daar ook uitgedeel aan ander personeel en ‘n paar vir die einde van die jaar se funksie vir die Verpleegsterstehuis.
Ek en Petro het gehelp met die versiering van hierdie vrugtekoeke. Wel Mnr. Wïrthel was nou nie juis baie kunstig nie en die versiering was maar ‘n rowwe geleentheid. Al wat hy gedoen het was om versiersel oor die koek te smeer en dan het hy ‘n gewone wit kers op elke hoek van die vierkantige koek staan gemaak en dit verder versier deur sjokolade lekkers met blinkpapier om ook op die koek te plaas. So is die versierdery dan relatief gou en maklik afgehandel. Ek onthou dat ‘n huishoudster wat ook hierby betrokke was vir my en Petro gewaarsku het dat ons nie ‘n spesifieke koek moet aanvaar nie omdat Mnr. Wïrthel eers op die lekkers gespoeg het voordat hy dit op die koek geplak het!
So het dit dan toe ook gebeur dat daar ‘n koek vir my gegee sou word. Weer wou ek dit nie ontvang nie en het ek elke keer die koek teruggedra na Mnr. Wïrthel. ‘n Dag of twee daarna staan die koek toe in al sy glorie op my lessenaar by Hoofkantoor waar Mnr Wïrthel dit persoonlik gaan aflewer het! Ek het die insident dadelik by Dr. Kruger gaan aanmeld. Sy kommentaar was bloot: “Ag man vat nou tog maar die koek en hou op om jou daaroor te bekommer!” So het ek toe dan ook ‘n egte hospitaal vrugtekoek gehad daardie Kersfees.
Die Kersfeesete by die verpleegsterstehuis was ‘n lekker geleentheid. Die kombuispersoneel het uitgehang so goed hulle kon en Mnr. Wïrthel was in sy element. Net voor die nagereg beden sou word was daar altyd die spesiale geleentheid waar die ligte verdoof was en die kombuispersoneel dan in hulle wit uniforms ingestap het elkeen met ‘n vrugtekoek met die brandende kerse.
Later (na Mnr. Würthel se dood) het ek en Petro baie meer aandag aan die versiering van die vrugtekoeke gegee en dae voor die tyd rosies ensomeer gemaak om in plaas van die skokoladelekkers en kerse te gebruik. Vir die kindersaal onthou ek dat ons die koeke spesiaal versier het deur bv. ‘n treintjie te maak of ander tema vir die versiering te kies.
Ja dié spysenier was ‘n kleurvolle karakter en ons het hom tog aanvaar en gerespekteer met al sy tekortkominge. Hy het later skielik siek geword en is opgeneem in die hospitaal. Wat hy makeer het kan ek nie onthou nie. Ek kan net onthou dat matrone Lochner ons by die kombuis in kennis kom stel het dat hy oorlede is. Daarna was daar ander spyseniers by die hospitaal maar niemand so kleurvol en interessant soos Mnr Wïrthel nie, sy tekortkominge ten spyt. Die hospitaalpersoneel was lief vir hom dalk meestal as gevolg van die baie kere wat hy hulle bederf het.
Ander aktiwiteite in die kombuis
In ‘n grootskaalse kombuis is daar maar altyd insidente wat mens bybly. Deels ook as gevolg van die verskeidenheid mense met eie gewoontes en uiteenlopende agtergronde met wie jy te doene kry. Dit was dan ook so dat werkers met persoonlike probleme en mindere inteligensie soms aangestel was omdat dit die enigste plek in die hospitaal was waar hulle ‘n werk en ‘n verdienste kon kry om ‘n karige bestaan aan te vul. Kom ek noem ‘n paar wat ek met weemoed en empatie onthou. Ek sal nie name noem nie.
So was daar ‘n ouerige vroutjie wat baie dom was. Sy was ook tuis gemolesteer deur ‘n skelm man wat haar gereeld fisies aangerand het. Al wat sy in die kombuis kon doen was sleurwerkies en onder andere om jellie vir die sale te maak. Dit het basies daaruit bestaan dat sy die jelliebakke moes reg sit en die jellie aanmaak. Die resep was eenvoudig – een grootskaalse pak jellie by ‘n emmer kookwater en dan is die aangemaakte jellie in die bakke gegooi vir elke saal en in die koelkamer gelaat om styf te word. Maklik! Slegs twee bestanddele.
Elke oggend het Oumatjie (haar bynaam) dan die bakke met jellie op die trollies vir middagete geplaas. Sy het darem ook geweet hoeveel elke saal moes kry en het haar taak nougeset en met trots uitgevoer. So is sy toe met verlof en moes iemand anders haar werk doen. Op die eerste dag wat sy weer begin werk kom sy toe baie ontsteld by my en Petro aan en kla dat “Die een wat my werk gedoen het kan nie eers jellie maak nie”. Ons was baie geamuseerd en Petro is dadelik saam met haar daar weg om ondersoek te gaan instel. Toe sy terugkom was Petro se enigste komentaar: “ Weet jy wat? Oumatjie is reg! Die ander kan regtig nie jellie maak nie!” So het elkeen maar sy vaardighede en talente gehad.
Ek onthou ook dat Oumatjie op ‘n dag met groot gejubel in die kombuis aangekom het! Haar dag was gemaak deur die feit dat haar man in die tronk was en vir ‘n geruime tyd daar sou bly! Sy was uiteindelik vry van sy aanranding!
Die insident het my ook daaraan herinner dat ‘n ander dame gereeld weggebly het van die werk en dan pimpel en pers teruggekom het na so ‘n afwesigheid. Dit kon ek nie verstaan nie want die rede vir haar beserings was dat haar man haar aangerand het met sy krukke. Hy was fisies gestrem en in ‘n rolstoel. Waarom kon sy dan nie net bloot weghol of uit sy pad by nie? Eers later het ek besef dat die groter rede seker was omdat hulle altwee ewe dronk was !
Daar is elke week op ‘n Woensdag koek gebak vir die verpleegsters. Dit het bestaan uit groot sponskoeke wat dan versier en in porsies opgesny was. Wel die botterversiersel was omtrent 8 kg – ‘n hele groot industriële mengerbak vol. Toe besluit die dame nadat sy te veel groen kleursel in die versiersel gegooi het om dit liewer pienk te maak. Duidelik het sy nie kennis gedra van die kleurwiel en teenoorgestelde kleure nie. Toe ons op die petalje afkom was die kleure goed vermeng met ‘n eenvormige donkergrys kleur as resultaat. Vandag sou dit dalk nog aanvaarbaar gewees het maar toenteryd was dit ‘n ramp met groot vermorsing van bestanddele. Daarkon niks verder gedoen word nie en die hele lot versiersel moes toe maar asdrom toe. Daarna is die dame toe goed ingelig oor hoe kleure werk en het sy nie weer met kleur eksperimenteer nie.
Soos reeds gesê is sekere werkers maar bloot verduur omdat die werk vir hulle ‘n inkomste verseker het en nie noodwendig omdat hulle ‘n besondere vaardigheid gehad het nie. So kom Matrone Lochner toe op ‘n dag om een van die jong meisies te spreek om te hoor hoe die nuwe meisie vaar met haar werk. Mnr. Wïrthel lig haar toe in: “Nee wat sy is oraait, sy is op rys”. Matrone is toe ewe verbaas dat die vrou alreeds met verlof kan wees. Toe word sy ingelig dat “op rys” beteken dat die werker die hoop rys wat elke dag gekook moes word “uitsoek” om van ongewenste voorwerpe ontslae te raak en nie dat sy iewers op “reis” is nie. Dit was in die dae voor Tastic rys! Om “op rys” te wees het toe ‘n nuwe betekenis in die kombuis gekry.
Daar was natuurlik nie slegs die werkers wat swaar gekry het nie, maar ook ander by wie ek baie geleer het en groot respek voor gehad het. So was daar Mev. Hesse wat eintlik ‘n beter spysenier was as al die ander wat daar gewerk het deur die jare. Sy kon al die werk in die kombuis doen en het goed toesig gehou oor ander en eerstehandse praktiese opleiding gedoen. Ek het goed bevriend geraak met haar en sy was ook die een wat ek gevra het om die onthaal reëlings in haar privaat hoedanigheid vir my suster se troue te doen.
Later het ek gesorg vir haar gereelde bevordering en sy is uiteindelik aangestel as spysenier by die Pelonomi Hospitaal. Die kos daar was so goed en gewild dat die dokters hulle skofte so gereël het dat hulle middagete by Pelonomi kon nuttig eerder as by Nasionale hospitaal. Later jare is sy oorgeplaas na die Provinsiale Hospitaal op Bethlehem waar sy ook, nog later, verantwoordelik was vir die Blanke sowel as die Swart hospitaal. Ek het gereeld by haar oorgebly in die verpleegsterstehuis wanneer ek die hospitale in Bethlehem besoek het en ek onthou veral hoe ons in die bittere koue in die Oos Vrystaatse winter om 5 vm opgestaan het om die nuwe werkers by die Swart hospitaal op te lei - beide voor en na die ingebruikneming van die hospitaal.
Dit was maar enkele storietjies van my ervarings by Nasionale hospitaal en ander pas nadat ek in Bloemfontein aangeland het. Later vertel ek meer oor my ervarings op die platteland.
No comments:
Post a Comment