Friday, August 12, 2016

Blog deel 14: Verdere jare op Tukkies


Gedurende ons tweede jaar in Asterhof het ons na enkel kamers verskuif. Die studente wat gerurende hulle eerste jaar in annekse was het ook hoofgebou toe geskuif en so het ek ‘n hele groep nuwe maats gehad – meeste van hulle wat in die anneks was waar Antoinette se suster die vorige jaar was. Beide Antoinette en haar sussie Christine, het nie hulle eerste jaar geslaag nie en was nie meer op Universiteit nie. My ander maats in die koshuis was ook huishoudkunde klasmaats maar hulle was meestal op ander vloere van die koshuis. Ons was op die vyfde verdieping.

My maats gedurende daar die jaar was Sproetie van Rooyen, Susan Voormolen (Sy het later Siembamba aangebied by die destydse SAUK), Sybil Vorster wat trompoppie leidster was, Loon Blignault, en Esther Jooste. My beste vriendin in die huishoudkunde klas was Nerine Houghton. Ek het later jare weer met haar kontak gemaak op Nelspruit Mbombela) waar ek uitgevind het dat haar man, Henning Radley, vriende was met Kalie. Henning was kalie se “skiwwie” in die Weermag.

Sybil Vorster
Kleding klasmaats 1966

Ek wonder vandag wie van hulle dalk hier op Facebook rondhang? Kalie was ook goed bevriend met Hans Kruger, Christine se man, met wie ons later weer kontak gemaak het en met wie ek nou nog bevriend is.)

My tweede jaar het goed begin maar ek moes fisika herhaal. Ek was selde in die klas maar moes gereeld die praktiese klasse bywoon omdat ons nie eksamentoelating sou kry as ons drie praktiese klasse gemis het nie. Wat my hier deurgetrek het was dat die mans wat saam met my prakties gedoen het goed genoeg was om my te help en ek het maar net hulle weergawe van die praktiese klas nagedoen.

Gedurende die Aprilvakansie het Nerine saam met my plaas toe gegaan. Ons taak in daardie vakansie was om die kleding praktiese werk op datum te kry. Dit het bestaan uit borduurwerk waarmee ek nogal goed was, maar Nerine minder so en ek onthou hoe my Ma haar gehelp het daarmee. So kon ons toe darem die borduurwerk lappies suksesvol inhandig na die vakansie. Ek het besluit om nie slegs monstertjies/voorbeelde van die werk te maak nie en het van elke stuk ‘n volwaardige voorbeeld begin maar op daardie stadium net ‘n klein stukkie borduur. Die res sou ek later doen. Wel sommige van daardie pogings is vandag nog nie voltooi nie en ek weet ook nie wat daarvan geword het nie! Ek het nog Ma en Ouma Hennie se ou borduurwerkboek waaruit ons voorbeelde gekry het en baie geleer het.

Toergroep op die sypaadjie in Salisbury 1964


Soos die vorige toer was oom Gert weer reg om ons die natuur op sy beste te laat beleef. Sommer die eerste middag al het hy indie destydse Wankie natuurreservaat met die bus oor ‘n sloot gery waar die bus toe natuurlik wydsbeen oor die sloot tot stilstand gekom het! Ons kon die bus nie uitkry nie en sy raad was dat ons maar moes kamp en wag tot die volgende dag. Ons het nie eintlik regtig gekamp nie en maar slegs ons slaapsakke oopgerol iewers naby aan die bus. Met die stories van wilde diere en veral olifante, waarop ons bedag moes wees kies ek toe maar ‘n plekkie tussen twee kleinerige boompies met die gedagte dat die olifant as hy sou storm darem seker langs die bome sou verbygaan. So droom ek toe mos die nag dat die olifant storm! Ek skrik wakker met’n angsvolle geskree wat omtrent die hele klomp kampeerders wakker maak want ek was te vasgerol in my slaapsak om maklik uit te kon kom! Ek was dae lank daarna gespot en kon my verleentheid haas nie verberg nie.
Oom Gert en die manne


Hoe ons uit hierdie penarie gekom het kan ek nie onthou nie, maar ons volgende stop was langs die Zambesirivier. By die Victoria waterval. Ons het op die wal van die rivier gekamp en oom Gert het ook ‘n rubber opblaas boot gehad waarmee ons kon rondrits op die rivier. Ek was nooit op die boot nie maar onthou dat oom Gert twee van die dames saam met hom geneem het op een van sy bootvaarte. Ons was erg omgekrap toe oom Gert daardie aand nie terugkom van sy bootvaart nie en ook half omgekrap omdat ons die pret nie kon meemaak nie.


Oom Gert op die Zambesi bokant die Victoria waterval
Die volgende dag ou sou ons toe uitvind dat hy besluit het om die twee dames wat nie so lekker ingepas het by die groep nie omdat hulle bang was vir alles, ‘n natuurles te leer. Hy het met hulle na een van die eilande in die rivier gevaar waar hy sy kampvuurtjie gemaak het wel wetende dat daar olifante op die eiland was. Die twee meisies was angsbevange maar het na hierdie avontuur goed ingepas by die res van die studente en was nogal in hulle skik daarmee dat hulle die uitverkorendes was vir die avontuur.


Ons het ook die Chobe besoek en weer langs die rivier gekamp. Daar was streng opdragte dat ons nie allen in die bos moet ingaan nie – nie eers as ons ‘n draai wou loop nie en baie versigtig moes wees vir die bobbejane. So kamp ons toe tog te lekker tewyl om Gert soos gewoonlik stories vertel. Na dat die kuierdery al hoe vroliker geword het onthou ek hoe een van die studente met die bynaam “Stompie”, water gaan skep het uit die rivier om te drink en vervaard uitgeroep het dat hy ‘n hele mondvol klein vissies ingesluk het met die water drinkery. Dit was nie ‘n versinsel nie en ek onthou hoe hy nader gestap het na die vuur toe en die laaste bietjie water in sy beker bekyk het waarin daar nog ‘n paar vissies rondgeswem het.

Stompie die grapjas


Die volgende oggend het ‘n paar van ons saam met oom Gert gaan ”koerant” lees. Ek onthou dat hy vir ons vars leeu spore uitgewys het op die rivierwal ongeveer 100 meter van waar ons kamp was. Die leeus het die vorige nag besonder na aan ons gebrul.

Die Chobe was pragtig! Ons was die middag by die enigste toeristekamp van daardie tyd waar ons ook lekker gekuier het en ek so gewens het dat ek met die magorras tussen die riete kon invaar! Dit was ook by hierde einste kamp waar Eizabeth Taylor en Richard Burton afgehaak het. 

Op die pont by Kazangulu
Na die gekuier is die Professor en André Hugo toe nêrens te siene nie en hoor ons toe dat hulle twee terug is na ons kampplek. Om Gert vat ons toe nog ‘n keer deur die bos en hou weer in die middel van nêrens stil en begin vuur maak. Toe volg die stories en word ons in besonderhede vertel van die naggeluide in die bos wat oral opklink. Die jakkalse was naby. Skielik is daar toe die gehuil van ‘n baba! Toe moes ons hoor dat dit ‘n luiperd was wat ‘n klein bobbejaantjie gevang het! So het ons toe ook nog ‘n baie besondere nag tussen die wilde diere in die bos deurgebring.

By die kamp aangekom was die professor en Nico toe dar erg gekrap deur die takke met hartverskeurende stories oor hulle ontberinge op pad terug kamp toe die vorige middag. Wel dit was alles versinsels ten spyte van die vele krapmerke op hulle bene en arms – bloot omdat hulle nie kans gesien het en geweet het van oom Gert se planne om ons ‘n regte Afrika nag in die bos te laat ervaar nie.


So het ons toe ook verder getoer tot by die Kariba dam en ook ‘n dag of wat in Salisbury vertoef. Toe was beide Suid en Noord Rhodesië nog wild en pragtig met ‘n ongelooflike hoeveelheid diere. Op een of ander stadium het ons ook die Zimbabwe ruines besoek en ook buite Bulawayo gaan kyk na die Matoppo koppies waar Cecil John Rhodes begrawe is. Net so ‘n lekker en ongelooflike ervaring.

Na die toer het ek toe weer fisika klasse begin bywoon. Nie soseer om my power kennis te verryk nie maar meer so omdat daar van die maats wat ek op die toer leer ken het ook in die fisika klas was. So het die praktiese klasse dan steeds voortgegaan en was my jaarpunt maar erg in die rooi. Dit was so ongeveer 19%! Ek het besef dat ek nie eksamentoelating gaan kry nie en het stadigaan per brief vir Ma en Pa begin inlig hoe sleg dit met my gaan.


Kort daarna word ek toe ook uitgeroep in die praktiese klas om by die dosent aan te meld. Hiervoor was ek baie bang want as hulle jou uitgevang het met gebrekkige kennnis was die kans dat jy toelating sou kry baie skraal.


Toe ek voor in die klas aanland word ek toe aangesê om by Professor Potgieter se kantoor op die tweede vloer aan te meld. Dit was baie vreemd en ek stap toe maar ewe gedwee en angsbevange aan! Toe ek by die kantoor aankom het ‘n floute my byna oorval, want wie sit toe daar by die professor? Niemand anders as Ma en Pa nie! Ek het nie eers geweet dat hulle in Pretoria was nie! Na ek skugter gegroet het het die professor so skalks na my putestaat voor hom gekyk en gevra: “Juffrou Cronjê verduidelik asseblef vir my waarom ek jou nie ken nie”! Ek was sprakeloos! Wel hy het toe vir Ma belowe dat hy werk sal maak daarvan dat ek toelating kry! Hy het ook sommer dadelik vir my ‘n werkopdrag vir die naweek gegee en beveel dat ek hom weer die volgende Maandag moes kom sien met my poging vir die werkopdrag.


Ma kon nie glo dat ek so bang was vir die gawe professor wat hulle so gul ontvang het nie! Ek moes natuurlik al vroeër daaraan gedink het dat ek nie by Ma sou wegkom met my gekerm oor my swak punte in fisika nie. Sy was nie ‘n vrou wat haar sommer laat onderkry het nie en volgens haar het ek nie ‘n ander keuse gehad as om te slaag nie! Ons is toe die naweek na Oom Tienie hulle toe. Wel daar het ek gelukkig hulp gekry by my slim neef Flip wat reeds die vorige jaar meer gevorderde fisika met lof geslaag het. Soveel so dat hy nie eers eksamen geskryf het nie maar direk bevorder was na sy tweede jaar!


Flip het die huiswerk vir my gedoen en ek kon dit gaan indien by die professor sonder dat ek weer eens veel meer geweet het van die vak. Daarna het nog meer huiswerk by Professor Potgieter gevolg en het hy my begin voorberei vir die eksamen. Die dag toe die klaspunte vir toelating bekendgemaak is was ek te bang om op die kennisgewingbord te gaan kyk want ek het steeds geglo dat ek nie toelating sou kry nie.

 

Toe vra ek maar my maats om te gaan kyk en hulle kom terug met die nuus dat my naam nie tusen die studente was wat nie toelating gekry het nie en ek dus eksamen kon gaan skryf.

So volg daar toe net voor die eksamen ‘n hele paar sessies by Professor Potgieter waar hy selfs so ver gaan om belangrike stukke in my handboek vir my te merk. Dit was natuurlik baie goeie “tips” vir die eksamen wat ek vryelik gedeel het met my maats. Soveel so dat ek feitlik die hele tyd op telefoondiens in die koshuis was, want studente van oral af het my gebel vir hierdie inligting. Die koshuisreël was dat die student wat ‘n telefoonoproep ontvang het gedurende die bloktyd vir eksamen aan diens was tot die foon weer vir iemand anders gelui het en niemand het omtrent gebel as gevolg hiervan nie. So het ek toe eksamen gaan skryf en gehoop vir die beste.


Na die eksamen verby was het ek Professor Potgieter gaan groet. Sy afskeidswoorde aan my was “Gaan hou lekker vakansie juffrou Cronjé”. Dit het beteken dat ek dan tog die eksamen geslaag het, maar moes wag tot die uitslae amptelik bekendgemaak sou word. Toe die uitslae bekendgemaak is daardie Desembermaand het ek wel geslaag en my verligting was groot want dit het beteken dat ek die graadkursus tog binne die vereiste vier jaar sou voltooi. Op die eerste dag van my volgende studiejaar het ek toe afgesit met Pa se beste klam “rugbiltong” vir Professor Potgieter.
 

 Ek het wel nie daardie jaar fisiologie geslaag nie, maar het wel ‘n hereksamen gekry. Die hereksamen was ‘n mondelinge eksamen en ek was so ontsenu omdat die dosente nie oor hulle eie werk vrae gevra het nie maar oor en weer tussen mekaar oor al die verskilende afdelings van die werk. Nodeloos om te sê dat ek die hereksamen nie geslaag het nie ten spyte daarvan dat ek die hele Desembervakansie slegs fisiologie geswot het. Gevolglik moes ek die vak die volgende jaar “Sleep”.
 

 My derde voorgraadse jaar by Tukkies was seker die maklikste. My studies gedurende die vorige Desembervakansie het vrugte afgewerp want die kennis het my goed te staan gekom. Aan die einde van daardie jaar het ek met gemak fisiologie geslaag. Nou nie top punte nie maar wel die vereiste slaagsyfer net-net gehaal. 




Mannekynklas - Kyk hoe vrek maer was ek toe nog!



Die huishoudkunde vakke was lekker en ek het dit met gemak geslaag. Prakties was goed en ek het selfs by die baie streng Juffou Muller goed gevaar. Aan die einde van elke jaar het die Huishoudkunde Departement ’n uitstaling van al ons werk gehou waarby ook ‘n modeparade deurdie finale jaar kleding studente ingesluit was. Vir hierdie geleentheid het ons ‘n mannekynkursus gevolg wat ook baie lekker was.

Ek het elke Desembervakansie dwarsdeur my Universiteitsloopbaan by die WNNR vakansiewerk gedoen en aanvanklik by Oom Tiinie hulle in die Jeugsentrumm tuisgegaan vanwaar ek daagliks met die bus WNNR toe gery het. Hierdie werkery het ‘n goeie inkomste tot my sakgeld vir die volgede jaar opgelewer. In my derde jaar het ek tydens hierdie vakansiewerk in die Eureka privaat hotel in Kerkstraat gebly saam met my vriendin Sybil Vorster wat ook iewers vakansiewerk gedoen het. Mnr PW Botha se dogter was een van ons maats in die hotel en het die kamer langs ons gehad. Daar ontmoet ek toe vir Daantjie Steenkamp, haar neef. Die ontmoeting het gou tot ‘n verhouding gelei. Saans het ons net gejol en eindelose partytjies oral gehou.

Die volgende jaar was ek en Daantjie gedurig by mekaar en het ons gewoonlik naweke by sy ouers in Benoni deurgebring. Sy pa was op daardie stadium eiendomsagent. Voorheen was hy skoolhoof by die Tokai Verbeteringskool in die Kaap en het hy ook ‘n lang tyd in die buiteland (Engeland) deurgebring. Hy was’n gemoedelike (maar in sy eie oë) baie vername man en het naweke lank met ons sit en filosofeer terwyl hy’n wyntjie geskink het. Sy vrou, tant Settie was orreliste by die gereformeerde kerk en ‘n uithaler kok en blommerangskikster. In hulle huis is ek vir die eerste keer blootgestel aan alkoholiese drank en het my formele sosiale skoling ook ‘n hupstoot gekry. Tant Settie het elke Sondag ‘n feesmaal berei met ‘n volledige spyskaart uit “Fyn Kookkuns” Daantjie het op daardie tydstip navorsing gedoen by die WNNR vir ‘n magister graad in Biochemie. Hierdie was die soort lewe wat ek my voorgestelhet – heeltemal anders en meer gesofistikeerd as op die plaas! Later jare hetek egter besef dat hulle eintlik van my ‘n snob gemaak het!
Oom Stoney en tant Settie Steenkamp

So het my finale jaar verloop en het ons gedurende die Junie vakansie plaas toe gegaan om ouers te gaan vra. Ek het geweet my ma was nie juis baie angstig dat ons moes trou nie en het daarom gesorg dat ons eerste vir Pa”gevra” het want ek het geweet hy sal nie vir my “nee” sê nie. Toe het ons Ma bloot ingelig dat Pa reeds tevrede was dat ons verloof sou raak.


Die verlowing het toe ook vroeg die volgende kwartaal plaasgevind. Ek onthou nog my mooi klein diamantringetjie wat erg afgesteek het by die van ‘n Jodinnetjie, Maxine Sachs, wat op dieselfde tydstip met haar ouma se vyf karaat diamantring verloof geraak het! Nietemin het ek weer ‘n kêrel gehad en dit was weer eens baie belangrik vir my sosiale verkeer op die kampus. Ten minste het ek nie nodig gehad om te wonder wie ek sou uitnooi na die einde van die jaar se afskeidsete in die koshuis en elders nie. Daantjie was daar al kon hy nie dans nie !
Aan die einde van daardie jaar het ek al my vakke geslaag en het die wêreld oop gelê voor my! Dit was die begin van ‘n heel nuwe avoontuur.

 














No comments:

Post a Comment