Uiteindelik het die einde van my skooljare aangebreek en het ek begin planne maak om Universiteit toe te gaan. Ek wou Pretoria Universiteit toe gaan. Ma het besluit dat ek huishoudkunde sou gaan swot. Sy het alle advies wat sy by Mev Deetlefs, (die mediese dokter op Theunissen se vrou) wie se dogter huishoudkunde by maties geswot het, kon kry ingewin en ons het aansoek gedoen by Pretoria Universiteit. In daardie dae het Kovsies nog nie huishoudkunde aangebied nie. Daaroor was ek bly want al wat ek in belangsstel het was om so ver weg as mooontlk van Theunissen te kom.
My matriekuitslae was goed en ek het Universiteitstoelating gekry. My plek was ook bespreek in Asterhof, die destydse nuuutste koshuis by Tukkies. Ma het klere gemaak en so hier en daar nogal ‘n rok gekoop ook. Ek was hoogs in my skik. Ek het min begrip gehad van die finansiële las wat my droom vir my ouers was nie want ten spyte van my relatief goeie uitslae het ek nie ‘n beurs gehad nie en moes hulle vir alles self betaal.
Die groot dag het aangebreek en Pa en Ma het my Pretoria toe geneem en was aan my sy tydens die inskrywing. Hulle sou nog ‘n paar dae by oom Tienie-hulle kuier om seker te maak dat alles reg is met my. Ek was nie toegelaat om uit die koshuis te gaan nie omdat dit deel van die reëls van die oriëntasie periode / (ontgroening) was.
Ek was in ‘n dubbelkamer in die hoofgebou en my
kamermaat was Antoinette Human wat van Wolmaransstad af gekom het. (Jare later
was dit ‘n heerike herontmoeting toe ek vasstel dat Antoinette in dieselfde
aftree-oord as ons woon!). Haar tweeling sussie Christine was ook ingeskryf as
eerstejaar vir medies. Sy het in een van die Asterhof annekse plek gekry.
Antoinette het liggamlike opvoeding (L.O.) geswot en was meeste middae met
sportaktiwiteite doenig of het by haar suster en dié se maats in die anneks
uitgehang.
Gedurende die April vakansie het ek en Antoinette by my naamgenoot niggie Hennie du Plessis, in Durban gaan kuier. Dit was ‘n heerlike kuier met baie bederf. Hennie het ook aangedring daarop dat ek my slag in die kombuis moes wys aangesien ek huishoudkunde geswot het. Wel ek het hard probeer maar was nie juis besonder suksesvol nie hoewel almal darem van my konkoksies ge-eet het.
Antoinette by Hennie se motor |
Kyk ons enerse handsakke |
Ek het maklik deur die ontgroening gekom want ek het gou agtergekom dat mens so onsigbaar as moontlik moet wees en met my destydse inkennigheid was dit maklik. My bynaam was “Suutjies Trap” omdat ek oor my voete geval het toe ek die eerste keer by die Huiskomitee moes aanmeld waar almal aan hulle bekendgestel was en hulle dan ook meer omtrent ons uitgevind het. Aangesien ek geen merkwaardige sport- of ander prestasies gehad het wat van belang sou wees nie, het my teenwoordigheid hulle nie veel geskeel nie.
Tydens die ontgroening het ons almal mekaar ook beter leer ken. Een van my skoolmaats, Ona Theron, was ook in Asterhof. Sy het ‘n ouer broer gehad wat ook op Tukkies was en het voor ons vertrek het uit Theunissen my ingelig dat haar ma vir haar ‘n spesiale rok vir die ontgroening gemaak het wat sy daarna nooit weer sou dra nie. Die rok het aan al die vereistes voldoen - lank genoeg, kort moue, met ‘n sierlike kraag met ‘n kuis halslyn wat alles gepas het by die ontgroeningsvoorsrifte. Dit was so ‘n wye blou nylon rok (wat dus ook nie stryk nodig gehad het nie) en haar bynaam het toe terstond “Blou Donou” geword. Sy was juis as gevolg hiervan baie meer as ek getreiter tydens die ontgroening. Ek het die eerste dag my beste gekoopte rok aangehad en moes dit vir die hele ontgroeningstydperk dra en ons is ook nie toeglaat om gedurende hierdie tyd die rok te was nie. My rok het ‘n oop vierkantige hals gehad en ek was aangesê om dit meer kuis te maak deur toiletpapier in die hals vas te werk. Ek moes ook toiletpapier onder aan die soom werk want die rok was kwansuis te kort.
Ons hare moes ook aandag kry en ons was beveel om
minstens vyf bokstertjies oral op ons kop te maak. So het ons dan in hierdie
uitspattige voorkoms deur die ontgroeningsperiode gegaan. Die slegste was dat
die senior mans meestal in ‘n ry voor die Landbougebou gesit het met
wolwefluite en allerhande aanmerkings op die eerstejaar verbygangers wat daar
langs klas toe moes loop. Ons het maar net so vinnig as moontlik by hulle
verbybeweeg.
Ek onthou ook kennismakings met die mans
eerstejaars. Dit het altyd in ‘n groep geskied waar die meisies afgepaar was
met eerstejaar mans studente. Een geleentheid onthou ek baie goed. Ons moes in
volle gewaad aantree vir ‘n middag fliek met een van die manskoshuise. As
handsak moes ons ‘n klere tas saamneem en in die tas moes die snoepery vir die
fliek pouse wees – twee geelwortels! Stel jou die ry eerstejaars voor met die
groot tasse in die beperkte ruimte van die flieksitplekke! Eintlik was dit na
alles verby was groot pret wat ons tuis laat voel het en goeie bande gesmee het
met mede-studente wat in dieselfde verknorsing was. Ons is deurentyd rondgejaag
met vroegoggend oefensessies en allerhande “vergaderings” in die groot koshuis
sitkamer. Daar was ook geoefen vir ‘n eerstejaarskonsert.
Na die ontgoening verby was kon ons ernstig begin
klasloop. Vir my was die slegste die namiddag praktiese klasse en ek het elke
middag behalwe een dag in die week praktiese klasse gehad. Al wat aangenaam was
van die huishoudkunde prakties was dat ons die geregte wat ons gemaak het kon
koop om saam te neem koshuis toe. Professor Ackerman het die kookkunsklasse
aangebied en ek was maar lugtig vir haar.
Gedurende die eerste jaar het ons basiese B Sc.
Vakke geneem. Ek moes fisika, chemie en dierkunde neem en dan natuurlik kookkuns
101. Fisika was vir my aaklig, Chemie effens beter en dierkunde lekkerder want
ons dosent in dierkunde was die bekende Prof. Fritz Eloff. Hy was interessant
en selfs die dierkunde prakties was nie te sleg nie. Ons het sandhaaie en platannas
gedissekteer.
Ek het algaande beter ingeskakel by die
nie-akademiese sy van Universiteitslewe en het maar die leerdery erg afgeskeep.
In my eerste jaar het ek ook “gesleep” met Chris van Heerden – ‘n outjie wat by
sy ma in die Jeugsentrum gewoon het. Ek was goed bevriend met hom en sy suster
Lala. Ons het gereeld uitgegaan en hy het ook sy eie motor gehad wat dit maklik
gemaak het. Ek het meeste naweke by hulle in die Jeugsentrum deurgebring.
Eintlik was dit sleg want ek het nie soveel deelgeneem aan die buitemuurse
aktiwiteite op die kampus nie, maar dit het my min geskeel. Ek het ‘n kêrel met
‘n motor gehad en dit was al wat belangrik was.
Teen die tyd dat die eindeksamen aangebreek het
was my punte maar power! Ek het nie eksamentoelating vir fisika gekry nie en
dit net-net gemaak met chemie en dierkunde Huishoudkunde was goed. Ek sou hard
moes werk om die eksamen te kon slaag. Ek onthou nog die eksamen dag vir
chemie. Die jakarandas het pers in die blom gestaan met ‘n groot jakarandaboom
reg by die voorhek van die koshuis. Ons het vas geglo dat mens die eksamen sou
slaag indien daar ‘n jakarandabloeisel op jou kop val. As dit afval sou jy ‘n
hereksamen kry. Wel daar val die blommetjie toe op my kop daardie dag en bly lê.
Ek het die blommetjie die hele eksamen lank in my potloodblikkie gedra. Wel, dit
het gewerk want ek het toe al my vakke behalwe natuurlik fisika, geslaag
daardie jaar.
Dit was ook hier dat ek vir die eerste keer
agtergekom het hoe dit voel om te druip of in my geval nie toegelaat te word tot
eksamen as gevolg van swak prestasie nie. Op skool het dit nooit met my gebeur
nie. So brei die lewe mens!
Wat ek ook onthou van daardie jaar was dat die
jakarandas vir my so pragtig was want in al die kere wat ons voorheen Pretoria
toe gegaan het was dit nie jakarandatyd nie. Op die eerste Oktober daardie jaar
het ek in verwondering deur my kamervenster gestaan en kyk na die jakarandas in
die reën. Die telefoon in die gang het gelui en iemand het my kom roep. Dit was
Chris se ma wat gebel het om te sê dat Lala, sy suster, oorlede is. Sy het
kanker gehad en was nog in haar twintigerjare. ‘n Hartseer dag wat ek
lewenslank sal onthou.
Tannie "Blommretjie en Lala op Lala se troudag |
Gedurende die jaar was daar natuurlik ook die
gewone bedrywighede soos Jool waarby die eerstejaars baie belang gehad het. Ons
moes op Kerkplein werk by stalletjies waar goed verkoop was vir fondsinsameling
en moes ook tydens die jooloptog blikkies skud vir sente wat langs die pad
uitgedeel was. Dan het elke eerstejaar student ook vyftig joolblaaie gekry om
te verkoop. Hiermee het ons straat af en op gesmous.
Ek is so jammer dat ek nie meer foto's van daardie jare het nie en slegs hierdie relatief swak foto's het om herinneringe te laat herleef.
Volgende keer vertel ek van my eerste studentetoer
by Tukkies.
No comments:
Post a Comment