Tuesday, August 30, 2016

Outobiografie Deel 22: Nagraadse kwalifikasies


My gebrek aan kennis van terapeutiese diëte het my genoop om verder ondersoek in te stel na die moontikhede vir verdere studie. Eerstens moes ek dieetkunde kwalifikasies verkry sodat ek daarna nagraadse studie kon aanpak. Omdat ek reeds oor 'n huishoudkunde graad beskik het het dit beteken dat ek slegs die ontbrekede vakke vir dieetunde moes doen. Ek sou wel nie ‘n bykomende kwalifikasie verwerf met sodanige studie nie maar dit sou my in staat stel om wel as dieetkundige te registreer by die Raad vir Aanvullende Gesondheidsberoepe.
 

Dieetkunde kwalifikasie


Ek het navraag by die Universiteit van Pretoria gedoen en positiewe terugvoering ontvang dat ek wel sodanige studie kon onderneem. Ek het ook aansoek gedoen vir studieverlof by die Afdeling Hospitaaldienste en dit is toegestaan. Ek sou vir ‘n jaar lank in Pretoria kon gaan studeer en moes slegs tydens Universiteitsvakansies weer aanmeld in Boemfontein vir my werk.

Oom Tienie en tant Joey het ingestem dat ek vir die jaar by hulle sou tuisgaan en ek het ‘n heerlike blyplek gehad in die woonstel by hulle huis. Dit was baie lekker en gerieflik. Die terugkeer na Pretoria Universiteit was ook aangenaam en heel anders as met my voorgraadse studies. Die vrees vir die dosente was weg en ek was vasbeslote om goed te vaar met my studies.

Omdat die paar vakke wat ek moes neem nie ‘n volle kursus was nie het ek sommer ook ingeskryf vir Publieke Administrasie 1, 2 en 3. Hiervoor sou ek aandklasse by die Buitemuurse afdeling van Tukkies moes bywoon. Dit was 'n lywige kursus wat ander studente oor drie jaar gedoen het.

Professor Ackermann was baie ingenome met my wens om verder te studeer en het kort na my aankoms gevra of ek haar sal help deur as haar persoonlike assistant op te tree teen betaling. Dit het behels dat ek moes help met die praktiese klasse van die eerstejaar kookkuns studente en peuseltakies te doen soos om aankope by die plaaslike winkeltjies in Hatfeld te organiseer. Ek moes van tyd tot tyd pryslyste saamstel vir kruideniersware wat dan deur die studente gebruik kon word in die praktiese klasse. Vervelige takies maar die ekstra sakgeld het handig te pas gekom.

Die buitemuurse aandklasse het my baie besig gehou en beteken dat ek sommige aande eers na 22:00 huis toe kon gaan. Dit het later erg geraak en my laat wonder of dit hoegenaamd die moeite werd was om hierdie klasse by te woon. Op navraag by Prof. Ackermann of sodanige kursusse erken sal word indien ek nagraads sou studeer was haar antwoord negatief en het sy net gemeld dat ek seker net by base daarmee sou kon beïndruk. Wel dit was nie goed genoeg vir my nie en ek het ten spyte van goeie vordering met hierdie vakke summier die kursusse gestaak. Min het ek toe geweet dat ek uiteindelik tog Publieke Administrasie kwalifikasies nagraads sou verwerf.

Die dieetkunde vakke was maklik omdat ek eintlik reeds die praktiese kennis opgedoen het en slegs die teorie moes bemeester. My klasmaats was baie jonger as ek ek kon hulle baie help met die praktiese werk. Soveel so dat een van die lektrises my daarvan beskuldig het dat ek die werk vir die ander tudente doen en dit nie aanvaarbaar was nie. Ek het haar gerusgestel dat ek beslis nie die werk vir die studente doen nie maar slegs raad gee en hulle het dit bevestig. Daarna het alles sonder drama verloop en het ek goed bevriend geraak met my jonger klasmaats. Ek het daardie jaar al my vakke met lof geslaag en kon toe met baie meer gemak aandag bestee aan dieetterapie by die hospitale.

Magisterstudie


Nadat ek die nodige dieetkunde vakke geslaag het wou ek verder gaan met magisterstudie. Die enigste twee Universiteite waar ek ‘n magister in dieetkunde kon doen was Maties en Tukkies en in beide gevalle het dit beteken dat ek omtrent elke twee weke daar moes klasloop. Dit was onmoontlik weens die afstand van Bloemfontein af. Die opleidingsbeampte by Hospitaaldienste het gehoor van my belangstelling om verder te studeer en kom sien my toe en beveel aan dat ek die Magister in Publieke Administrasie by Kovsies doen. Die kursus het aandklasse behels en ek kon ook ‘n beurs kry wat ek tegelykertyd kon afbetaal deur slegs aan te hou werk. Hierdie aanbod kon ek nie versmaai nie en het ingeskryf vir die twee jaar kursus. Die kwalifikasie in Publieke Administrasie sou ook belangrik wees vir verdere bevordering aangesien my werk hoofsaaklik administratief van aard was.

Die eerste aand in die klas was ons drie dames tussen ongeveer 30 mans. Dit het my nie gepla nie maar die ander twee dames het kort daarna opgeskop en toe was ek die enigste dame tussen die mans. Nadat ons ons eerste werkstukke by Prof. Hennie Kotzé ingehandig het, het hy tydens die volgende klas almal se werkstukke teruggegee om oor gedoen te word. Dit het my erg ontstel want ek kon nie aflei wat dan nou so vreeslik verkeerd was met my werkstuk nie. Ek besluit toe sommer om die kursus te staak as dit dan nou hulle manier van doen is want ek het redes gesoek vir negatiewe kommentaar op my werk en was ontsteld omdat my werk sommer summier afgekraak word.

Hy laat weet my toe dat ek hom moet kom spreek. Ek was nie baie lus daarvoor nie maar besluit toe tog maar om te gaan hoor wat hy te sê het. Daar aangekom tref ek ander studente aan wat ook voor sy kantoor staan en wag. Toe dit my beurt is was hy baie vriendelik en sê toe dat ek nie die werkstuk oor hoef te doen nie want dit is uitstekend maar dat hy nie my werkstuk as die enigste aanvaarbare een kon teruggee in die klas nie omdat dit sou lyk asof hy my as enigste dame bevoordeel. Kan jy nou meer! Ek het toe maar aangehou met die kursus en daarvandaan goed gevorder.

Die kursus het bestaan uit verskeie modules plus ‘n skripsie wat tydens die tweede jaar ingehandig moes word. Die eerste jaar het ek al die vakke met lof geslaag. My skripsie het gehandel oor personeelopleiding by die hospitale. Die skripsie moes ook deur Prof. Philip Fourie (as eksterne eksaminator) beoordeel word en hy was maar moeilik met al die studente. Hy het die gewoonte gehad om ons op te komandeer na sy huis op ‘n plot buite Bloemfontein. Hierdie onderhoude met hom het gewoonlik laat in die nag plaasgevind sodat hy kon aandui hoe vreeslik besig hy was en ons te laat voel dat hy ons ‘n hengse guns bewys. So staan ek toe ongeveer midddernag voor sy deur my beurt en afwag. Al wat hy toe doen is om my ‘n dop wyn aan te bied en land en sand te kla omdat ek reg deur die skripsie Suid-Afrika sonder die deelteken gespel het! Ek kon duidelik aflei dat hy reeds meer wyn as ek weggesluk het. Na ‘n halfuur se wyndrinkery is ek toe daar uit net om nog ‘n student voor die deur aan te tref! Dit was vir my die laaste strooi maar ten minste sou my skripsie aanvaarbaar wees vir die eindeksamen. So slaag ek toe darem die Magistergraad met lof.
Magister in Publieke Administrasie 1979

Doktorale studie


Ek was heel tevrede en het nie belang gestel om nog verder te studeer nie aangesien die werk baie lang nagte se studie geverg het. Ek kry toe weer ‘n oproep van Prof. Kotze om hom te kom sien. Hy reken toe dat ek moet aangaan met doktorale studie in Publieke Administrasie en sê dat hy reeds vir my ‘n onderwerp en ‘n navorsingsfonds vir die studie gekry het by die Instituut vir Sosiale en Ekonomiese navorsing. (ISEN). Ek kon navorsing gaan doen by Die Qwa Qwa tuisland hiervoor. Wel daar was net nie uitkomkans nie en so begin ek toe met die navorsing onder leiding van Prof. Hennie Kotzé. Ons moes ‘n eksterne eksaminator aanstel en dan ook nog drie keurders om aan ISEN se vereistes vir die navorsing te voldoen. Die keurders was toevallig ook van my destydse dosente by die Buitemuurse Afdeling van Tukkies tydens my kort, onvoltooide studieperiode daar.

Tydens en reeds voor die doktorale studie het ek ook goed bevriend geraak met Hennie Kotzé se vrou, Mari en sy dogters. Uit die aard van die studie moes ek dikwels rapporteer oor my vordering en dit het meestal aan huis van die Kotsé’s plaasgevind. Ek meestal in trane met Mari wat kos en tee aandra en troos. Die Prof. was ‘n harde leermeester en ek moes dikwels werk oor doen maar het tog goeie vordering gemaak.

In dieselfde tyd het ek ook proefleeswerk vir Hennie se boeke gedoen. Die medewerkers aan sy boek was van my studente klasmaats en hulle het niks gehou van my kommentaar nie. Die probleme het daartoe aanleiding gegee dat groot wrywing ontstaan het tussen die klomp by Publieke Administrasie. Die vernaamste ongelukkigheid was tussen Hennie en Prof. Fourie. Soveel so dat ek op ‘n middag ‘n oproep kry en opgekommandeer word om ‘n vergadering by ISEN by te woon. Dit was ‘n regte kettery en hulle het van my verwag om kant te kies tussen die ongelukkiges. Ek was gladnie van plan om dit te doen nie en het net laat blyk dat ek nie vasgevang wil wees in hulle vete met mekaar nie. Ek het geweier om enigiets te sê en huis toe gegaan.

Almal was vies vir my en Hennie meeste van almal omdat ek dan kwansuis nie my man kon staan en kant kies vir hom nie. Intussen het ek ‘n afspraak gemaak by Prof. Richards, die Vise Rektor om die saak met hom te gaan uitklaar. Tydens hierdie afspraak is ek baie vriendelik ontvang en kon ek in rus en vrede my kant van die saak stel sonder om enigiemand persoonlik te na te kom. Ek onthou nog dat ek hom op ‘n Sondagoggend aan huis besoek het vir hierdie afspraak. Ek kon hom ook breedvoerig inlig oor hoe ons voorheen geviktimiseer was om snags na Prof. Fourie se pype te dans. Prof. Richards het goed verstaan en ek is tevrede by hom weg maar nie sonder dat ek ook ‘n draai by die Rektor ook wou gaan maak nie.

Die enigste ander persoon wat aan my kant was gedurende hierdie debakel was Hennie se vrou Mari wat saamgestem het dat ek die regte ding gedoen het. Hennie was steeds kwaad vir my!

Ek het ‘n afspraak by die destydse Rektor, Prof. Mouton, gemaak omdat daar tydens die eerste vergadering ook geskimp was dat my proefskrif vir die D.Admin.-graad in die gedrang was. Dit was vir my belangrik om enige bedenkings wat daar sou wees dat ek onregmatig bevoordeel was deur Prof. Kotzé uit die weg te ruim. Tydens my onderhoud met Prof. Mouton het hy goed uitgevra en ek het die prentjie baie mooi aan hom verduidelik.  Prof. Mouton het my gerusgestel dat hy weet alles was my eie werk en dat ek met gemoedsrus kon teruggaan dat my proefskrif wel aanvaar sou word sonder enige probleme en dat die finale besluit slegs by die eksterne eksaminator gelê het. Ek was gerus dat ek uit daardie oord geen probleme sou hê nie en dat die beoordeling regverdig sou wees en net gebaseer word op wat ek akademies ingehandig het.

Ek het die proefskrif voltooi en dit met spesiale pos aangestuur na die eksterne eksaminator, Prof. Strating by Medunsa. Ongeveer ‘n week later ontvang ons toe ‘n oproep van hom af dat hy nog nie die manuskrip van die proefskrif ontvang het nie en slegs die naweek oor gehad het om aandag daaraan te bestee. Dit was die Vrydag en ek het reeds ‘n afspraak gehad om hom die volgende Maandag in Pretoria te gaan sien om die finale uitslag te kry. Gelukkig was ‘n vriend van Hennie uit Johannesburg in Bloemfontein en hy onderneem toe om ‘n ander afskrif persoonlik aan Prof. Strating te gaan oorhandig.

My senuwees was gedaan! Die Maandag was ek en Hennie toe betyds vir die afspraak by Medunsa. Terwyl ons toe daar voor sy kantoordeur staan en wag lewer die poskantoor toe die oorsrponklike dokument wat ek gestuur het daar af! Groot was my verbasing toe professor Strating altwee sy hande uitsteek en myne vasvat met die woorde: “Juffrou Cronjé! ‘n Fenominale stuk werk!” Ek dink sit was die blyste dag in my akademiese loopbaan! Nee miskien die tweede blyste want sy verslag het gelui dat hy aanbeveel dat die graad met lof aan my toegeken moet word.

D. Admin 1981
Aangesien Doktorsgrade nie met lof toegeken word nie was dit vir my ‘n besondere lekker gedagte. Die kommentaar wat voorgelees word tydens die gradeplegtigheid het dan ook verwys hierdie stukkie “lof” met die byvoeging dat verwerwing van die graad reeds lof verdien het en dus en nie met lof toegeken sal word nie. Wat vir my egter die dag gemaak het was dat Prof. Fourie wat toe Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Administratiewe Wetenskappe was, hierdie woorde tydens die gradeplegtigheid moes voorlees. Met die toekenning van die graad deur Prof Mouton het ek ook ‘n betekenisvolle oogknip van hom waardeer. Dit was die heel lekkerste van my loopbaan en ek het die rooi jas met trots gedra. Ek was toevallig ook die heel eerste vrou in Suid-Afrika wat die D.Admin. graad verwerf het.

Nog ‘n lekkerte by al die gelukwensings was dat ek ‘n baie spesiale kaartjie van die Administrateurspaar ontvang het. Louisa was ook vol lof vir my prestasie. 

Goed – nou het ek klaar gespog… 
Louisa en Louis Botha se gelukwensing
























Monday, August 29, 2016

Outobiografie Deel 21: Bloemfontein se mense


My werk in Bloemfontein het al hoe meer opleiding ingesluit. Aanvanklik eers by die kleiner hospitale maar later veral in Bloemfontein. Na Mnr Wïrthel se dood is ander spyseniers aangestel maar hulle was nie sulke “kleurvolle” karakters as hy nie. Ons het goed saam gewerk en teen daardie tyd was die dieetundiges in beheer van die kombuis en het Mev. Du Plessis ook by ons aangesluit. Soos in enige ander beroep was daar ook maar konflik tussen die werkers. Dit was meestal my taak om die vure dood te slaan. Petro en Mev. Du Plessis (wat heelwat ouer as ons was) het nie altyd so goed oor die weg gekom nie. As gevolg van die konflik is Mev. Du Plessis later oorgeplaas na Pelonomi Hospitaal.

Ek het goed oor die weg gekom met Dot du Plessis omdat ons ook ‘n gesamentlike belangstelling in naaldwerk en kuns gehad het. Ek het dikwels by haar aan huis gekuier en sy was ook altyd besig om self huisverbeteringe aan te bring wat baie interessant was. Sy was nogal vaardig met kraggereedskap!

Ons het ook van tyd tot tyd eie werksklere (uniforms) ontwerp. Aanvanklik het die dieetkundiges die outydse wit gestyfde verpleegstersuniforms gedra. Die het hulle by die hospitaal wassery ingehandig sodat dit gestryk en gestywe kon word. Later was die ou uniforms net nie meer aanvaarbaar nie en het ons ons eie kleurvolle uniforms self gemaak. Destyds nog met kreueltrae “Crimplene” materiaal. Die besluit op ‘n kleurskema en patroon was altyd moeilik omdat ons die voorkeure van ‘n hele klomp dames in ag moes neem. Lateraan het ek nie meer uniforms gedra nie maar privaat klere verkies.


Die totstandkoming van die Mediese Fakulteit het ook ‘n groot impak op ons werksaamhede gehad. Petro het leiding geneem en ons het die saalrondtes saam met die professore begin bywoon. Ek was maar tingerig en kon nie maklik vir lang tye stil staan nie. Die gevaar was altyd daar dat ek duiselig sou word en omkap! Hiervan was sommige dokters bewus en ek onthou goed hoe ‘n spesifiekedokter my dopgehou het en soms sommer ‘n hospitaalbankie nader gesleep het sodat ek kon sit of hy het net vir my gekyk en beduie dat ek bietjie moes rondtrap en nie so botstil staan nie. Onder sy wakende oog het ek darem toe gelukkig nooit omgekap nie.

Enkele pasiente wat ek onthou

Ek was ook baie lief daarvoor om van tyd tot tyd ‘n draai te maak by die kindersaal. Die suster in beheer van die saal was ‘n dierbare vrou wat die kinders op die hart gedra het – veral die van hulle wat baie lank in die hospitaal was. So kan ek onthou dat daar ‘n pragtige tweejarige dogtertjie was wat ons “Jackie Kennedy” gedoop het omdat sy net soos die bekende Amerikaanse Presidentsvrou gelyk het. Ek kan nie onthou wat sy makeer het nie maar wel dat sy ook uit ‘n gebroke huis gekom het en telkens na sy uit die hospitaal ontslaan was weer teruggekom het nadat sy weer eens mishandel was. Later het die saalsuster haar tydens die saalrondtes of besoeke van die geneeshere, weggesteek in die linnekamer van die saal sodat die dokters moes vergeet van haar en haar liewer nie ontslaan nie.

Dan was daar ook die seuntjie met nierversaking wat dikwels in die hospitaal was. Ek onthou dat Matrone Lochner in die kombuis kom vertel het dat daar nog ‘n konsultant betrokke was by sy behandeling. Die twee dokters was ‘n uroloog en internis – Drs. Pauw en Arndt. Die mannetjie se kommentaar met die ontmoeting van die nuwe dokter was: “ O! Nou is daar twee voël Dokters!” Haha “pun intended”!

So het die kinders mens se hart gesteel. Daar was ook ‘n ander seuntjie wat kanker gehad het en lank in die hospitaal was. Kom ek noem hom André. Ek kan onthou hoe hy soms by ons in die kombuis kom kuier het met ‘n rolstoel want hy was baie swak en iemand anders het dan die rolstoel gestoot. Hy was toegelaat om self vir ons te kom vertel wat hy wou eet en sy spyskaart het dikwels slegs rooiworsies ingesluit. Ek kan met hartseer ook onthou dat André kort voor Kersfees oorlede is en almal by die hospitaal hartseer was.

By Pelonomi hospitaal was daar baie kinders met derdegraadse brandwonde in die kindersaal. Dit was interessant om te sien dat hierdie kinders geen fiemies oor kos gehad het nie. Hier het hulle meestal meer ontvang as by hulle eie huise. Hulle het alles ge-eet wat voorgesit was. Voor die ete het almal wat self kon eet, ook in ‘n kring gesit en ‘n tafelgebed opgesê voor hulle begin eet het.

‘n Mens het sover moontlik probeer om nie emosioneel betrokke te raak by pasiënte nie maar soms was dit tog moeilik. Ek onthou een geval van ‘n vrou by die Verslankingskliniek. Sy was morbied oorgewig en het meer as 200 kg geweeg. Ons kon haar nie inweeg op die skaal by die kliniek nie en moes haar na die massaskaal by die slaghuis neem om geweeg te word. Afgesien van haar gewig en voorkoms was sy ‘n begaafde musikant wat onder andere musieklesse gegee het. Petro het met die wêreld se geduld aandag bestee aan haar en haar soveel gemotiveer dat sy oor ‘n paar maande 85 kg gewig afgeskud het! Op ‘n dag het sy aangekondig dat sy vir sjirurgie wou gaan om haar maag gedeeltelik te verklein en dat die dokters ingestem het om die operasie te doen. Ek kan onthou hoe Petro die hele middag probeer het om haar te oortuig om die assebelief nie te doen nie en ook met die dokters wat die operasie sou doen gekonsulteer het. Daar was egter niks wat sy kon doen om te verhoed dat met die operasie voortgegaan word nie en die vrou is die volgende dag op die operasietafel oorlede…

Bettie Preller het later by Hoofkantoor saam met my begin werk. Sy het veral leiding gegee aan die Dieetkunde studente wat die Hospitaaldiploma gedoen het maar het ook uitgehelp met die skryf van spesifikasies vir toerusting en kombuisbeplanning. Ons het nie slegs lekker saam gewerk nie maar ook huisvriende geword en dikwels saam gekuier.

My sosiale lewe is ook aansienlik verryk deur my buurvrou Irene Seyffert. Ons het baie goed bevriend geraak en ek het feitlik daagliks by haar ingeloer en dan dikwelsook somer aangesit ensaam met hulle geëet. Irene het gedurende haar matriek jaar ‘n ernstige beroerte gehad wat haar linkerkant heeltemal verlam het Sy het effens moeilik geloop maar kon gladnie haar linkerhand gebruik nie. Ten spyte hiervan was sy lief vir kos maak en het allerhande spesiale apparate gehad om dit vir haar makliker te maak. Irene se Fudge was van die lekkerste wat ek ooit geeët het! Sy het dikwels ook hiervan as geskenke uitgedeel en ek het telkens in die ry gestaan daarvoor. Ek kon dit nie namaak nie ten spyte van haar resep en spesiale instruksies.

Wanneer ek platteland toe gegaan het en nie vir Gina by Ma kon gaan aflaai nie het Irene ingeloer net om te kyk of alles pluis was met haar Ek onthou dat sy vertel het dat Gina gewoonlik onder de bed weggekruip het as sy daar aangekom het en geweier het om uit te kom. Op daardie tydstip het Gina slegs droë hondeblokkies geeët. Irene se hondjie was erg bevoorreg en het blikkies hondekos gekry wat vir haar in netjiese klein blokkies opgesny was. Haar kos was altyd in die slaapkamer gehou. Telkens as Gina saam met my was het sy soos blits kamer toe gehardloop en die lekkerder hondekos gaan opeet! Ons moes toe elke keer seker maak dat die kamerdeur toe was sodat Gina nie by die blikkieskos kon uitkom nie.

Irene was ook baie lief vir musiek en het dadelik as nuwe 78 spoedplate uitgereik was die plaat gaan koop en op band oorgedra. So het sy ‘n fantastiese versameling dansmusiek opgebou. Die Seyfferts het ‘n groot kuierkamer naby die swembad gehad. Hier het ons heerlik partytjies gehou en naglank gedans. Die laaste dans was altyd “Good night Irene” Gedurende die warm somerdae het ons ook baie tyd langs die swembad spandeer om seker te maak dat ons mooi sonbruin was vir die somer. Hiermee was ek met my bleek vel nie suksesvol nie en het ek maar meestal net beetrooi verbrand en dan weer vervel!

Ons het ook lekker bordspeletjies gespeel saam met Irene se twee seuntjies. Hier het ek vir die eerste keer kennis gemaak met die uitdrukking HKGK LOL Dit was ‘n geliefde sêding van die jongste seuntjie as hy in die moeilikheid begin raak het met die speletjie. Irene se enigste wens vir haar kinders was dat hulle vir haar gespaar moes bly voordat sy weer ‘n beroerte sou kry. Sy wou hulle net graag groot en onafhanklik van haar sien. 
Irene se pynappelblom

Tydens een van my verjaardae kort voor my vertrek uit Bloemfontein het Irene vir my ‘n pragtige pynappelblom persent gegee. Soos sy bevrees was het sy toe ook weer ‘n erge beroerte gekry. Na ek die nuus verneem het is ek dadelik na hulle huis en onthou hoe Billy, die jongste seun, met skok die deur oopgemaak het vir my. Hy het net gevra:” Weet tannie van my ma?” Dit was hartverskeurend en ek sal daardie dag ook nooit vergeet nie. Die twee seuns was toe onderskeidelik in standers ses en agt.

Irene was in Universitas hospitaal, totaal verlam en nie in staat om te kommunikeer nie. Ek onthou dat ‘n platespeler aan was met haar geliefde musiek maar sy het gladnie reageer of my herken nie. Die besoek was een van die laaste kere dat ek Irene gesien het. Sy was eintlik fisies gesond en is later oorgeplaas na die Marthie Du Plessis Versorgingsoord in Bloemfontein. Die laaste blom wat sy vir my ggee het het jare lank telkens met my verjaardag geblom – selfs toe ek al in Johannesburg gewoon het!

Kuiers by my niggie Susie was ook lekker. Ek het veral die kinders se petaljes en dingetjies geniet. Susie se dogter praat tot vandag toe nog oor hoe ek vir haar ‘n rolmodel was en sy gewens het dat sy ook soos ek “‘n regte sportmotor” kon hê. My groen Ford Capri was vir haar net te “cool”. Susie se jongste kind was net so ‘n boffin met die uitkenning van motors. Hy het my geleer hoe om na ‘n motor te kyk om vas te stel watse maak en model dit was. Susie was ook die vrou wat my leer borduurwerk doen het toe ek nog op laerskool was! Baie jare later het ek Susie ook in dieselfde Sekuriteitsoord waar ek nou nog bly, kom woon. Ook hier het ons die jarelange besondere vriendskap voorgesit en het sy tot haar dood (enkele jare gelede) steeds die pragtigste borduurwerk gedoen. Deur Susie het ek ook baie waardevolle inligting oor ons familie vir my genealogienavorsing gevind.
Susie en haar laaste onvoltooide borduurwerk

Vrystaathuis

In Bloemfontein het ek ook kennis gemaak met Joey van Wyk, die dogter van die destydse Administrateur van die Vrystaat. Sy was ook ‘n vriendin van Petro en ons het dikwels saam gekuier by Vrystaathuis. So het ek haar ouers ook privaat leer ken asook die pragtige Vrystaathuis wat hulle amptelike woning was. Hulle sosiale status het my min gepla – vir my was dit net nog mooi vriendskappe.

Ek was betrokke by die stigting van ‘n Tak van die Huishoudkunde en Dieetkunde Vereniging in Boemfontein. Tydens die eerste jaar het dit ons toe ook te beurt geval om ‘n funksie van die Vereeniging aan te bied. Hiervoor sou daar dieetkundieges en gaste van oor die hele land kom. As ek reg onthou het hulle ook een of ander kongres bygewoon.

Mnr. Botha was daardie tyd Administrateur van die Vrystaat. Sy vrou Louise was ook ‘n huishoudkundige. Iemand stel toe voor dat ons haar vra of ons die funksie by Vrystaathuis kon aanbied en ek word afgevaardig om die vrawerk te doen. Toentertyd was ek voorsitster van die Huishoud- en Dieetkundevereniging se tak in Bloemfontein. So besluit so gedaan en ek maak afspraak met Louisa. Ons het sommer van die staanspoor af lekker gesels hoewel sy effens skepties was oor die klomp mense by Vrystaathuis. Na ons egter besluit het dat dit nie ‘n oproerige groep rugbyspelers sou wees nie het sy ingestem en kon ek die funksie begin beplan.

Louisa het spesifieke voorkeure vir die spyskaart gehad en sou sef bv. gerookte hoender van ‘n slaghuis in Bethelehem (waar hulle voorheen gewoon het) voorsien en het ook gesê dat die administrateur self tydens die funksie die skaapboud sou opsny. Toe verneem ek ook dat sy ‘n baie spesiale nagereg sou voorsit wat bestaan het uit ‘n toring van skuimpies, vars aarbeie, room en sjokolade. Die skuimpies sou opmekaar gestapel word en met room “vasgeplak” word met aarbeie tussenin en hier en daar sjokolade oorgedrup. Toe verneem ek ook dat sy die instruksies vir my sal gee en dat EK die nagereg sou moes maak op die dag van die funksie.

Die voorbereidings was in volle swang toe ek die middag begin het om die nagereg aanmekaar te sit. Mev Hesse het pragtige spierwit skuimpies gebak en Louisa het die glas staanders waarop die nagereg moes staan gemaak word voorsien. Die resep was ‘n hele tydskrifbladsy vol geskryf en nie soos ek gewoond was aan ‘n resep nie! Alles het goed verloop tot ek die room begin klits het. Die eerste lot wat uit ‘n hele paar kartonnetjies room bestaan het, het tot botter geklop en was heel onbruikbaar! Gelukkig was daar nog tyd en ek laat weer room koop!

Intussen het Louisa laat weet dat hulle bietjie gaan rus en nie gepla mag word nie. Ek moes haar gaan vra of daar iets in die resep was wat ‘n effek op die digtheid (of vermoë om styf te klop) van die room gehad het en waag dit toe maar om aan haar deur te klop. Gelukkig was sy nie omgekrap hieroor nie en het my net ingelig dat ek maar slegs die instruksies baie deeglik moes volg.

Terug in die kombuis…maak ek toe wraggies weer botter van die tweede klomp room! Ek was buite myself van spanning! Gelukkig was daar ‘n verteenwoordiger van Nestlê genaamd Gerrie, (wat ook ‘n dieetkundige was) wat vertel dat hy ‘n grootskaalse blik kunsroom (“Orly Whip”) in sy motor gehad het en dat hy my waarborg dat ons dit styfgeklop sal kry sonder om botter te maak. Met Gerrie se hulp tower ons toe ‘n groot bak geklopte kunsroom op en ek voltooi die nagereg daarmee!.

Die gaste was nie bewus van my angs en die feit dat ek kunsroom gebruik het nie en Louisa was vol lof oor die nagereg! So het die funksie toe glad verloop en mooi afgesluit. ‘n Paar jaar later het ek die heel mooiste kaartjie met gelukwensing van Louisa ontvang met die gradeplegtigheid vir my doktersgraad.

Ek het ook aangegaan met my stokperdjies en veral baie naaldwerk gedoen. Soveel so dat ek ook een of twee trourokke vir vriendinne gemaak het. Verder het ons ook op uitstappies gegaan en dit was lekker om sommer net vir ‘n middag Maselspoort toe te ry. So besluit ek toe om die een vriendin se ma, skoonma en my Ma op ‘n uitstappie Maselspoort toe te neem die dag na die vriendin getroud is. Ons vier is toe ewe vrolik op pad na die restaurant en moet drie steil trappies af. Ek so min of meer voor die ouer tantes. Alles het goed gegaan tot ma haar balans verloor met die afklim van die laaste trappie en sy die ander twee met wie sy ingehaak was, saamsleep en bo-op my val! Daar lê ons toe gat oor kop en skaterlag. Gelukkig het slegs ons ego’s seergekry.

In Bloemfontein het ek ook baie stokperdjies beoefen. Ek het ook pottebakkery geneem, ‘n pistool aangeskaf en skyf geskiet en loodglaswerk begin doen. Die loodglaswerk was die lekkerste. My instrukteur was Harry (van vergeet) wat weekliks klasse aangebied het en ook vir ons die toerusting wat gebruik moes word aangekoop of self gemaak het. Hy het ook die pragtige glas van Johannesburg af aangekoop. Hiermee het ek aangehou tot ons later in Johannesburg gewoon het. Toe ons Pretoria toe trek het ek nie kans gesien om weer met die glas en al die parafernalia wat daarmee gepaardgegaan het te trek nie en het ek opgehou met die stokperdjie. Ook omdat ek nie weer ‘n lekker ateljee vir myself kon inrig by ons nuwe tuiste nie. Ek het egter telkens getrek met die mooi glaspanele wat Harry vir my gemaak het. Ek het destyds nie kans gesien vir so ‘n groot projek nie en hy was bereid om dit vir my te maak. 
My loodglaswerk
By Harry se vrou, Marthie het ek aanvanklik haar kwilt-, laslap- en kerspitwerk bewonder en later self daarmee ook begin. Dit het ek jarelank mee aangehou. Ek het ook by haar geleer hoe om kwilt baadjies te maak en daarna het al die dames in die familie kwiltbaadjies gekry as geskenke. Ek het in totaal seker meer as ‘n dosyn sulke baadjies gemaak met laslapwerk, beide vir kinders en volwassenes. Later het ek met syverfwerk begin en daarvan ook baadjies gemaak en sommige asook kinderkombersies wat ek by die kunsmark in Bloemfontein verkoop het. Ek het nou nog van die loodglas lampe wat ek gemaak het asook laslap duvets en ‘n groot kerspit deken. Dis afgesien van al die hekel- en breiwerk wat ek deur die jare gedoen het. Dan was daar ook die groot tapisserieë. Waar ek tyd gevind het vir alles weet ek nie, maar my destydse vriende in Welkom se opmerking dat naaldwerk tog my groot liefde sou bly, was waar. Dan was dit seker maar goed dat dit ook nie ‘n “werk” geword het nie. Vandag het my rekenaar heeltemal oorgeneem en raak ek nie meer aan naaldwerk nie. Ek “Facebook” net. 

My kerspit deken en Ouma se koperbed
Daar was ook vele ander insidente waarvan ek sommige later sal vertel maar my verblyf van 35 jaar in Bloemfontein het my lief gemaak vir sy mense. So plat en koud/warm soos die Vrystaat kan wees het ek lief geword vir die omgewing en sy mense. Ek het altyd gesê dat ons dinge soveel beter moes doen as ander dorpe, stede en provinsies omdat niemand geglo het dat dit in Bloemfontein kon gebeur nie en ons moes wys dat dit kon! En dit KON! 
Verskeie stokperdjies: tapisserieë, syverf, kwiltbaadjies en 'n syverf dooprok