Thursday, August 4, 2016

Outobiografie Deel 7: Kuier en vakansies


Skoolvakansies is meestal slegs op die plaas deurgebring maar daar was ook heerlike kuiergeleenthede by die familie aan beide kante. Ek vertel van ‘n paar…

Vakansie by Oom Charlie 


Vier de la harpe geslagte
Een van die eerste familiekuiers wat ek onthou was gedurende die Kerstyd by Ma se oudste broer Charlie en sy vrou tant Killie op hulle plaas Topfontein in die Standerton distrik. Oom Charlie was Oupa Johnnie se ewebeeld, ‘n liefdevolle man wat net sulke lekker stories soos Oupa kon vertel. Hy het geboer en as ekstra inkomste windpompe herstel. Tant Killie was ‘n geregistreerde verpleegster en was die streek se vroedvrou. Sy het menige babas in daardie omgewing “gevang”. Later jare het sy ook siekes opgepas waartydens sy aan huis by hulle ingewoon het. Om die tyd te verwyl tydens sulke besoeke het sy gebrei en gehekel. Hulle het vier kinders gehad twee seuns en twee dogters. Dié neefs en niggies was heelwat ouer as ons.


Op die foto is Oupa by oom Charlie, sy seun en kleinseun wat almal die familiename gehad het.
Tant Killie en haar hekelwerk
Die aankoms by oom Charlie se huis het nogal ‘n drama in die kleine opgelewer toe hulle hond my aan die hand gebyt het. Ek wou die hond bloot net groet deur op sy kop te streel toe hy my byt! Tant Killie was egter dadelik by om die wond te onstmet en te verbind en het daagliks die proses herhaal. 

Ons drie by Oom Charlie

Ons het maar net op die werf gespeel maar Oukersaand onthou ek nog baie goed. Al drie van ons het nog in Kersvader geglo en daar is toe aan ons vertel dat hy later die middag persente sou bring. Teen laatmiddag het hy dan toe ook opgedaag in die perdekar! Dit was ‘n heerlike verrassing en ons het ewe soet aangetree om die geskenke van Kersvader te ontvang. Wat die geskenke was kan ek nie onthou nie. Later het ek verneem dat oom Charlie se dogter Alice Kersvader gespeel het.

Familie kuiers in Pretoria


Ons het dikwels in Pretoria by pa se broer Tienie en tant Joey gaan kuier en daarvandaan ook by Pa se oudste broer Koos en tant Ena.

Oom Tienie was bestuurder van die Jeugsentrum in Vermeulenstraat, Pretoria en hulle het in ‘n woonstel op die eerste vloer van die sentrum gewoon. Tant Joey het as oom Tienie se sekretaresse in die kantoor gewerk. Hulle was maar altyd baie bedrywig en Ma en Pa het ook soms maar in die kantoor by hulle gekuier of net lekker gerus in die woonstel. Ons het heerlik gespeel oral in die sentrum en dit was so lekker dat ons tot op die dak kon gaan! Die baie trappe (daar was agt verdiepings!) was vir my seker die lekkerste want soveel trappe het ek nie op de plaas of Theunissen geken nie. Hoe min kan ‘n kind tog gelukkig maak. Ek kan onthou hoe ons vreesloos met die traprelings afgegly het!
Tienie en Joey in die kantoor. Foto Johan Cronje
‘n Verdere lekkerte was dat ons saam met die nefies by the 20th Century Fox teater in Vermeulenstraat en ook by die ou teater op Kerkplein (kan nie die naam onthou nie) gaan fliek het. Ons het altyd na die middagvertonings gegaan en Klein Tienie het soos gewoonlik kaartjies vir die heel voorste ry gehad sodat ons die fliek “eerste kon sien”. Hy het al die fliekkaartjies gebêre en ek was verstom om te sien hoevvel hy het want fliek toe gaan was vir hom min of meer ‘n weeklikse aktiwiteit.

Neef Flip het stapels “Comics” gehad! Dit was net so lekker want sulke “luukshede” het ons nie geken nie. Dis seker waar my Engels lees ‘n hupstoot gekry het al was die grootmense soms skepties oor die taalkundige korrektheid van die strokiesprente. Dit het my beslis geen skade berokken nie!

Saam met Flip het ek ook daar die eerste keer (en vele kere daarna) lietsjies ge-eet. Oom Tienie het die Jeugsentrum se markaankope direk gedoen en dan was daar sommer ‘n hele boks vol lietsjies wat ons maklik in een sitting kafgedraf het. So het ek ook ander vrugte leer ken wat ons nie op die plaas gehad het nie. Pynappels, veselperskes, grenadillas en selfs piesangs en papajas ook. ‘n Gastronomiese verryking vir ‘n plaaskind!

Etenstye by die Jeugsentrum was ook ‘n belewenis. Ons het in die eetsaal saam met oom Tienie-hulle gaan eet. Dit was tog te lekker om deur die kelners met hulle wit gestyfde uniforms bedien te word en as ek regonthou kon ons kies wat ons wou eet.

Dan was daar ook die inry-teaters! Wat ‘n lekkerte! Vroeg daar aangekom en dan komberse voor die motor oopgegooi of almal agter in die kar gebondel. Deel van die lekker was om verversings by die kafeteria (of wat mens ookal die plek waar koeldranke lekkers en ander goed verkoop was genoem het) te gaan koop. Ekstra sakgeld was deel van die inry-toe-gaan pakket.

Dis dan ook hier waar ons ‘n Cowboy fliek gesien het met die naam “Winnato” waar die held in die storie almal gegroet het met ‘n uitroep van “Hakawaan!” Ek en neef Tienie het gedink Winnatou is amper soos Wia en hy het my van daardie aand af gegroet met “Hakawaan Winnato!” Hehehe hy doen dit vandag nog maar deesdae met ‘n stywe drukkie by!

Ander uitstappies was ook aan die orde van die dag. 

Oom Tinie het ons almal vir ‘n uitstappie Yscor toe gevat. Ek kon nie oral saamgaan nie want ek het oop sandale aangehad wat nie aanvaarbaar was (om veiligheidsredes) nie. Toe kon ek nie ingaan waar die yster gesmelt was nie. Ek kan nie onthou wie saam met my gewag het tot die ander in die groep klaar gekyk het nie.
Ons gesin by Hartebeespoortdam
Ons het ook Hartebeespoort dam besoek en natuurlik die ander besienswaardighede soos Uniegebou en Voortrekker Monument. Lekkerste was wanneer ons gaan piekniek hou het by die fonteine en in daardie dae kon ons nog heerlik daar swem. Ons hetoook gereeld op die miniatuur treintjie daar gery. Glimlag ek nou weer toe ek myself en Hester sien met die swemkepse - ek lank en maer soos 'n kraai en sy lekker mollig.

Swem by Fonteinedal, Pretoria
Dis ook in Pretoria waar Ma die geleentheid benut het om ons eerste ateljee foto’s te laat neem. Ons het opgedress by die ateljee aangekom vir die fotosessie. Hester was toe nog nie gebore nie. Na ons almal gereed was om te “smile” het Philip begin peuter met ma se string krale en kon sy hom nie sover kry om na die kamera te kyk nie. Al wat sy toe kon doen was om maar die krale af te haal en dit vloer langs tot byna by die kamera te gooi sodat Philip minstens vorentoe kon kyk. Op die foto kan julle sien hoe dikbek hy hieroor was maar hy het darem later weer begin glimlag.
 
Philip speel met ma se krale
Ek vier jaar oud - het die foto's bietjie ingekleur
Hester 2 jaar oud

Soos die gebruik met foto’s in daardie dae was is kinders ook op ‘n tafel laat sit. Seker maar omdat dit makliker vir die fotograaf was om met hulle op ooghoogte kontak te maak. Ek sit ewe kordaat op die tafel en staan ook en elders en “pose”. Die fototjies hang vandag nog in my slaapkamer. By ‘n volgende geleentheid het Ma toe weer ‘n fotosessie spesifiek vir Hester gereël. Ek onthou hoe Ma vertel het dat die vrou van die fotograaf wat sy assistent was, baie ingenome met Hester was en toegesien het dat sus Hester haar mooiste glimlag tevoorskyn bring. Sy moes ook op die tafel sit.

Aliwal toe

Ons eerste werklike vakansie was saam met ma se suster Katie en haar man Gawie na die warmwaterbronne op Aliwal Noord. Dit waws ‘n weeklange kuier warons inrondawels bydie Oord tuisgegaan het. Dis ook hier waar tant Katie my leer swem het. Daar was destyds twee sulke vlotte wat soos bote met bankies gelyk het redelik naby aan mekaar in die water. Ons “tjoepies” van fietswielbande aansit vir veiligheid. So het ek dan van die een”boot” na die ander geswem. Later selfs sonder die “tjoep” nadat ek die swemmery vinnig bemeester het. Ek het my verstom aan Tant Katie en oom Gawie wat so doodstil op die water kon dryf.
Ons saam met oom Gawie by Aliwal

Ons gaan see toe! 

Ek was a twaalf jaar oud toe ek vir die eerste keer die see gesien het. Weer was dit ‘n familiekuier en hierdie keer ‘n taamlik uitgebreide toer. Ma het terug gehunker na die Ooskaap en familie wat sy baie lank laas gesien het. So gaan ons toe tuis by haar niggie in Port Elizabeth.

Die reis na Port Elizabeth was ook nie sonder voorval nie en Ma moes maar speletjies uitdink as ons te woelig geraak het in die kar. Natuurlik wou ons dan ook elke paar minute weet waaar die see dan was. Toe ons deur Bloemfontein by Naval Hill verbyry het Hester voordat Ma die Wit Perd kon uitwys uitgeroep:”Kyk daar’s ‘n seekoei!’ Baie snaaks wantop haar jjeugdige ouderdom het synog gladnie eers geweet hoe ‘n seekoei lyk nie! Al wat in haar koppie was, was “see”.

So ry ons toe verder aan en bereik uiteindelik Grahamstad en Pa, komende van die plat vlaktes van die Vrystaat, is maar lugtig vir die berge en die bergpasse. Nie hoelank nie of daar hardloop toe ‘n apie reg voor ons oor die pad. Hester kon dit weer nie hou nie en roep uit:” Kyk Mamma daar’s ‘ n bobbejaan wat Oupa nie doodgeskiet het nie!” Dit was na aanleiding van al die bobbejaanstories wat Ouopa Johnnie vir haar vertel het. Oupa het op sy plaas in die Ooskaap dikwels bobbejane geskiet wat lastig was op sy plaas en die jagstories in detail aan ons vertel. Wens ek kon nog die stories onthou.

Vanaf Port Elizabeth het ma op haar soektog na familie gegaan en het ons aangedoen by Jeffreysbaai waar ‘n broer van Oupa nog gewoon het. Ons het ook die Bellingan familie opgesoek in die Steytlerville omgewing en ook familie by Graaf Reinett en Aberdeen. Die besoeke was vir ons – en vir Pa – maar taamlik vervelig! Wat sou ek tog nie vandag wou gee om so te toer agter genealogie aan nie!

Wel, ons het darem die see ook gesien! Lekker geswem by Humewood al het die wind ons omtrent weggewaai! By Jeffreysbaai was die skulpe ‘n hoogtepunt. In daardie jare was die hele strand omtrent toe onder ‘n laag skulpe! Altans, so onthou ek en was dit dalk nie so baie omdat alles mos vir mens mooier en groter lyk as jy nog kind is. Ek kon my oë nie glo toe ek baie jare later weer daar was dat ek omtrent geen skulpe gesien het nie. Wat ek wel deeglik onthou is dat die wind ook erg gewaai het by Jeffreysbaai en dat die sand mens seer gepiets het teen jou kaal bene!

Ons was ook lateraan toe ek ongeveer in standers ses was, saam met oom Tienie-hulle op ‘n toer Kaap toe, maar daarvan sal ek later vertel.






 












No comments:

Post a Comment