Saturday, July 30, 2016

Outobiografie blog deel 4: Speeltyd op die plaas

Lekker dae saam met Pappa op die plaas
Daar was nooit ‘n tekort aan speletjies en dinge om te doen op die plaas nie. Die bure se kinders het dikwels saam gespeel.

Ons speelplek was onder twee groot pruimbome langs die watervoor. Daar was lekker sanderige grond en dit was ook lekker om die water sommer byderhand te hê. Die enigste probleem was dat die kalwers soms ons “plase” kom verwoes het maar later het pa takke om ons speelplek geplaas om dit te beskerm. Daar was ook ‘n balk hoog in die bome waaraan pa rieme gebrei het. Ons swaai het ook aan hierdie balk gehang en ons kon van die een boom na die ander loop al op die balk langs. Boomklim was van kleins af ‘n aktiwiteit wat ons goed bemeester het en nie een van ons het ooit uit ‘n boom geval en iets gebreek nie.

Ons het gewoonlik met die suurpruimpies gespeel. Oral was paadjies met die hand in die sanderige grond gemaak by elke kind se “plaas” en ons het huise gebou deur klam grond op ons voete te pak en dan die voet uitgetrek om die deuropening te maak. Die groen pruimpies was ons skape en die rooies die beeste.

Modderkoeke bak

 

Ek en Bettie
Dis ook hier waar ek en my niggie Bettie ons modderkoeke gebak het. Bettie het van Mon Desir af na ons geloop om saam met my te kom speel. Ons panne vir die modderkoeke was vloerpolitoer blikkies. Die klam grond is eenvoudig in die blikke geplaas en toegelaat om droog te word voor dit uitgekeer was. Soms het ons vyfstêr koeke gebak en voëleiertjies in die “deeg” gebreek. Dan het ons versier met rosies wat van die klein rankroosboompie gepluk was. Die mooiste modderkoeke was egter gemaak met die slik uit die sementdam wanneer die dam skoongemaak was en die slik langs die dam begin droog word het. Hierdie slik was so ‘n grys kleur en het pragtige koeke gemaak wat ‘n beter en vaster “tekstuur” gehad het as die gewone modderkoeke. Ons poppe was ook gewoonlik byderhand met hierdie spelery en dan het ons teepartytjie gehou met die poppe en ons speelgoed teestelletjies.

Die ander spelery op die “plase” was met broer Philip se karretjies en trekkers maar hy was maar suinig om die meisiekinders toe te laat om met sy karretjies te speel en ons het nie karretjies van ons eie gehad nie daarom het ons maar met sy karretjies gespeel as hy self nie by was nie. Broer Philip was ook gedurig aan die terg en het dikwels ons pogings gesaboteer!

Nog ‘n lekker speelplek was in die bloekomlaning. Hier het ons van sak en takke vir ons ‘n tent gemaak en ons het ons teestelle poppe ens. aangedra na hierdie huis. Dan het ons ook teepartytjies gehou en die meisiekinders moes gewoonlik huis toe stap om koekies by ma te gaan haal. Telkens was dit dan kwansuis en te min en het hy ons weer gestuur. Hester was meestal gestuur om die koekies te gaan haal. Terwyl ons dan weg was het hy weggelê en die koekies wat reeds daar was opgeëet. Mens kon nie wen teen broer Philip se tergery nie!

Skyfskiet met Oupa


Oupa het ons almal leer skiet met Philip se windbuks. Die skyfskiet het gewoonlik vanaf die voorstoep plaasgevind en kinders het instruksies van Oupa gekry en beurte gemaak om te skiet. Dan het Oupa rekord gehou van die pogings en uiteindelik die wenner aangewys. Ek was nogal goed hiermee en het dikwels as wenner uitgetree tot groot wrewel van die seunskinders.

Die windbuks is ook ingespan om voëls te skiet. Daar mog net nie duiwe wat op die nes sit geskiet word nie. Mossies en vinke was ook dikwels in die korrel. Die voëltjies het baie skade in die vrugtetuin en lande veroorsaak en pa het ‘n tiekie (Nou ongeveer drie sent) betaal vir ‘n mossie en ‘n sikspens (vyf sent) vir ‘n geelvink. Wie onthou nog tiekies en sikspense ?
Mens kon natuurlik ook voëls onder ‘n wip vang wat meer voordelig was as dit by die betalery gekom het maar dit was moeilik om dan die vasgevangde voëltjies dood te maak – gewoonlik nek omgedraai. Ons het wel tortelduiwe met die windbuks geskiet. Dan is hulle afgeslag en ”biltong” gesny uit die boudjies. Sulke dun repies wat gesout was en dan aan die doringdraad opgehang was om droog te word. In die warm son het dit gewoonlik gou droog geword as Jan Fiskaal nie die nat “biltong” gesteel het nie.

Troeteldiere



Meerkat: My geliefkoosde troeteldier was ‘n meerkat! Pappa het met die klein meerkatjies in sy kakiejas se sak by die huis aangekom. Ons het een makgemaak en Bettie hulle die ander een. Tog te oulik! Die meerkatjie het soggens buite voor die agterdeur in die son sit en bak en die lug fyn dopgehou. Die vliegtuie op pad Jan Smuts Lughawe (ja dit was nog voor dit Oliver Tambo International geword het) toe het oor ons huis gevlieg en telkens as ‘n vliegtuig oorgekom het het meerkat se kind vervaard geskrik. Andersins het hy soms so lekker gekry dat hy sommer aan die slaap geraak en omgeval het.

Op ‘n dag was die meerkatjie net weg. Hy het soms rondgeloop tot so ver as Mon Desir en ons het vermoed dat hy daar was. Wel daar was ook geen spoor van meerkat nie en al wat ons kon aflei was dat die oesters wat jaarliks uit Lesotho kom help het hom gevang en opge-eet het.

Hasies: Pappa het ook dikwels klein hasies huis toe gebring. Die hasies het net so mak geword en veral vir Mamma deur die huis gevolg. Lateraan het hulle sommer net verdwyn en terug veld toe gegaan. Die een hasie was ook weer weg en ons het maar aangeneem dat hy terug is veld toe. ‘n Paar dae na die verdwyning maak Mamma toe haar kruidenierskas in die gang oop en siestog! daar val die dooie haas uit. Hy was agter haar aan en sy het nie gesien hy bly agter in die kas toe sy toegesluit het nie. ‘n Hartseer storie en ons moes begrafnis hou…

Budgies: Ons het ook verskeie budgies as troeteldiere gehad. Hulle was tog alte oulik en was uitgelaat uit die koutjies gedurende die dag. Dan het hulle op die “pelmit” gesit en tjirp. Al vrees was dat die kat hulle sou vang. Hulle vere was geknip om te verhoed dat hulle wegvlieg. Soms het dit gebeur dat hulle buitentoe vlieg maar ons kon hulle meestal weer vang omdat hulle so mak was. Op ‘n dag het die kat wel een bygedam en ek glo die arme voël het hom dood geskrik. Dit was Hester se voëltjie en die sterfte het ’n ernstige tranedal veroorsaak.

Toe moes ons weer begrafnis hou. Die oorlede voël is seremonieel in ‘n kartondosie, gevoer met watte, geplaas en Philip het ‘n behoorlike begrafnis, met sang en gebed, gehou waar ons hom langs die ou groot boom begrawe het. ‘n Paar dae later merk ons toe op dat Philip van die budgie se mooi vlerkvere by hom het. Dit was amper groter konsternasie as die werklike sterfte! Hester was woedend! Ons moes toe van voor af begrafnis hou met die vlerkvere. Ek kan nie onthou wat van die karkassie geword het nie.


Hondjies: Ons het ‘n hele paar honde gehad. Vir Ma was honde diere wat buite gehoort het en ons was verbied om hulle in die huis of ons kamers te laat kom. Philip se eerste hondjie was ‘n Jack Russel. Hy was absoluut verknog aan hierdie hond! Hy het die hond oral saam met hom geneem. Ongelukkig het die hond daarvan gehou om agter die skoolkarre aan te hardloop en hoe ons ookal probeer het om hom hiervan te laat afsien het niks gehelp nie. Dit was toe ook nie hoe lank nie of hy hardloop weer agter die skoolkar aan en word raak gery. Tiekie (sy naam) was nie dood nie en ma het hom probeer red maar toe ons van die skool af terugkom was Tiekie dood. Philip was gebroke.

Weer was daar begrafnis gereël en die tuinjong aangesê om die graf te grawe naby die turksvylaning. Daar is toe ook ‘n “grafsteen” gemaak van ‘n stukkie blik vasgemaak aan ‘n kruis met die inskripsie: “Hier rus Tiekie my hondjie”. Weer het die begrafnis soos gebruiklik verloop maar die keer was daar nie weer ‘n opgrawing nie.

Rommel: Philip het nog ‘n hond gehad waarvoor hy baie lief was. Die hond was ‘n rifrug wat hy Rommel genoem het. Hy het die hond te perd by ‘n maat gaan haal waar hy ook sommer tot amper donker gekuier het. Met die terugkoms huis toe moes hy af van die perd om hek oop en toe te maak en toe hy weer wou opklim was daar niemand wat die hond vir hom kon aangee nie. Die perd wou gladnie kopgee dat die hond opgetel word nie en Philip was toe maar verplig om die paar myl huis toe te stap met die twee.

Honde op die plaas toe ek reeds op Universiteit WAS

Op daardie stadium het Philip in die buitekamer geslaap met die hond by hom. Die eerste aand het die hond onbedaarlik getjank. Al wat Philip kon doen om hond te troos was om vir hom koekies te voer. So het Rommel dan ook deur die nag ‘n hele blik koekies opgevreet. Rommel was ook soos Philip se skaduwee en het oral saamgedraf as Philip iewers heen was met die perd. Soms baie ver.

Na hierdie uitstappie het Philip verwoed by die huis aangekom en net geweer gesoek want hy wou die vragmotorbestuurder wat Rommel langs die grootpad raakgery het gaan skiet. Dit het mooipraat van Ma en Pa gekos om hom tot bedaring te bring. Op daardie stadium was Philip al in die hoërskool. Sover ek kan onthou was daar nie begrafnis gehou vir Rommel nie.

Verskeie ander honde is ook met liefde aangehou op Werda maar nie een regtig so geliefd en spesiaal soos Tiekie en Rommel nie. Tobi was ‘n hondjie wat verwaarloos by my huis in Bloemfontein aangekom het. Ek het haar kos gegee, gewas en vlooie afgehaal en begin soek na haar baas. Tevergeefs! Die hond het geweier om my erf te verlaat en telkens teruggekom as ek haar uitgesit het in die straat. Toe het ek haar maar plaas toe geneem waar sy baie liefde ontvang het van Philip en Laetitia se kinders. 

Vicky: Ek het nooit ‘n troetelhond op die plaas gehad nie. Na ek egter begin werk het en my eie huis gehad het het ek aanvanklik ‘n Rottweiler, Vicky, gehad. Sy was ‘n opregte hond wat goed beheer moes word en ek het haar Saterdae laat “klas loop” by ‘n hondeskool. Ek was gewaarsku dat ek streng sou moes wees om haar in toom te kan hou. Dit was egter nie so moeilik nie want op drie maande ouderdom was sy al baie gehoorsaam en het sy my mooi opgepas. Anders as op die plaas het sy voor my bed geslaap. ‘n Week nadat sy eerste prys gewen het vir die gehoorsaamste hond het sy die Saterdagoggend uit die huis geglip en in die besige straat voor die huis beland. Die huishulp het vergeet om die voordeur toe te hou en sy kon maklik deur die heining kruip. Die slag het my tot stilstand geruk en ek het haar gaan optel aan die oorkant van die straat maar sy was so erg beseer dat ons haar aan die slaap moes maak.

Gina roep my bed toe en se ons het nou genoeg geswot
Gina was my foxterrier en hondekind vir veertien jaar. Sy was reeds goed geleer toe ek haar op ses weke ouderdom gekry het – het nie in die huis gepoef nie en was rustig in haar mandjie voor my bed tot ek haar die tweede aand by my in die bed getel het. Daarna was die mandjie vergete en het sy net getjank as sy nie by my kon slaap nie.

Ek het ook ‘n gemmerkat, Gatto, gehad op dieselfde tyd en Gina het by die kat geleer om op die kombuistoonbank te spring en by die venster in en uit te gaan. Dit was baie gerieflik want ek kon haar as ek platteland toe moes gaan by die huis as ek net gesorg het vir water en droë hondekos. My buurvrou het ‘n ogie gehou as ek langer as een dag weg moes wees. By ander geleenthede het ek haar eenvoudig op Werda gaan aflaai en Mamma moes maar verlief neem daarmee dat sy Gina se Ouma was en dat Gina ‘n huis hond was. So het baie jare verbygegaan en nadat ek getroud is het Gina saam met Hennie se poedel Tutu, ons oral vergesel. In Johannesbrug is Tutu was baie astrant was deur ‘n Doberman wat in ons erf gekom het raak gebyt en moes ons haar laat uitsit omdat sy heeltemal verlam was.
Gina het daarna jarelank soos Hennie se skaduwee by ons gebly totdat sy leukemia gekry het en na ‘n lang siekte ook maar aan die slaap gemaak moes word. Dit was Hennie se taak om haar hiervoor vee-arts toe te vat en hy het daar en dan besluit dat ons NIE WEER troeteldiere sou hê nie omdat hy nie weer vir soveel hartseer kans gesien het nie. Sedertdien is ek steeds sonder troeteldier - deesdae bloot omdat ons hier in die aftree-oord nie troeteldiere anders as voëltjies mag aanhou nie.




No comments:

Post a Comment