Tuesday, August 2, 2016

Outobiografie deel 6: Kersfees, Nuwejaar en kerk


Kersfees op die plaas

Kersfees is voorafgegaan deur groot bedrywigheid veral in die kombuis. Ma het dae lank koekies en beskuit gebak en in een-gallon paraffienblikke weggepak. Daar was ook spesiale koekies vir die plaaskinders wat op Kersdag aangetree het vir snoeperye. Natuurlik was die koek ook bedoel vir die familie wat gedurende die Desembervakansie opgedaag het.

Pa se broers uit Pretoria het gereeld met die Kersvakansie kom kuier. Oom Tienie-hulle het by ons tuisgegaan en sy ouer broer Koos op Mon Desir by oom Flip. Wanneer die broers van vêr af kom kuier het, het die neefs en broers wat nader gewoon het ook op die plaas kom kuier. Ek onthou ook veral die kuiers van pa se neef oom Jannie Nel van Winburg.
 
Dieselfde het gegeld vir ma se familie. Ma se broer Eddie en sy gesin het elke jaar Port Elizabeth toe gegaan om vir sy skoonfamilie daar te gaan kuier en dan het hulle met die soontoe gaan aangedoen op die plaas en weer as hulle teruggery het Heidelberg toe. So was Werda vir baie besoekers uit die noorde ‘n gerieflike halfweg stop. Ma het omtrent nooit geweet wie wanneer gaan opdaag nie en het maar net bewus geraak van die besoekers as die motors stilgehou het. Geen probleem daarmee nie! Sy was gereed en het altyd ‘n plan gemaak vir slaapplek. Op die manier het kinders omtrent die hele Desembervakansie op die vloer in die sitkamer geslaap op ‘n groot kermisbed. Lekker dae!

Oukersaand

Geskenke is altyd op Oukersaand aan die kinders uitgedeel. Soms het Ma ons die middag laat slaap en gewag tot ons slaap voor sy die geskenke by ons beddens geplaas het. Dit het natuurlik beteken dat ons vroegaand al ons geskenke gehad het. Terwille van besparing en omdat daar nie baie geld vir speelgoed was nie, het ma dan ook vir ons klere en skoolbenodighede gegee vir Kersfees. Ek en Philip wat reeds geweet het dat daar nie ‘n Kersvader is nie moes belowe dat ons gladnie vir Hester sou sê nie want Mamma wou dat sy nog so ‘n rukkie in Kersvader glo en ons het gehou by ons beloftes. In die foto onder staan Millie (Philip se dogtertjie) met haar eerste skoolrok wat Ouma vir haar vir Kersfees persent ge gee het. (Ouma is amper sigbaar agter haar)

Ek onthou ‘n spesifieke Kersfees – dalk die enigste waar ons ‘n “regte” Kersboom gehad het – baie goed. Daar was baie familie op die plaas en pa en sy broers het ‘n groot tak van ’n denneboom afgesaag en daarvan ‘n Kersboom in Oupa Flip se huis geprakseer. Al die kinders het gehelp om die boom te versier. Daar was nie juis baie kersversierings soos ons dit vandag ken nie maar ons was taamlik vernuftig daarmee om kreukelpapier mooi te vou en op te hang of aan die boom te drapeer. As ek reg onthou het iemand ook Kersvader gespeel en die geskenke uitgedeel.

Ek kan nou nog onthou hoe ons by kerslig – noodgedwonge omdat daar nie elektrisiteit was nie – gesit en wag het om ons geskenke te ontvang. Dit was ‘n belewenis en een van min geleenthede wat ek vandag nog helder voor die gees kan hou. Iemand het voor die geskenke uitgedeel was ook uit die Bybel gelees van Jesus se geboorte en die Wyse manne en ons het Kersliedere gesing. Vir my as kind was dit sprokiesmooi! Oom Tienie en tant Joey was daar met geskenke vir al die kinders! Tant Joey het in elk geval altyd geskenke saamgebring as hulle plaas toe gekom het en Paaseiers met die April skoolvakansie.
Gerrit speel lekker met Jaco se Kersgeskenk
Flip en Gerrit saam met die kinders en hulle Kersgeskenke op Werda
Baie jare later is die Kersfees roetine ook gevolg met die kleinkinders. Geskenke uitdeel het dan gewoonlik in Philip se huis plaasgevind en lateraan het die pa’s net so lekker saam gespeel met die seuns se karretjies en trekkers. Soms het ek Kersfees by my huis gehou waar Hester hulle saam gekuier het. Dit was nodig omdat almal wat in die kombuis by die hospitaal gewerk het op Kersdag aan diens moes wees minstens tot middagete. Dan het ons maar ook die aand voor Kersfees by my huis geskenke uitgedeel. Hoe dit gewerk het dat ek nie gewerk het nie weet ek nie maar ek het ook saam met Philip-hulle en die kinders op Werda Kersfees gevier.

Kersdag op die plaas was baie lekker. Ons was vroeg uit die vere want die volkies het huis toe gekom om hulle “Krismis” te ontvang. By die huis aangekom was groot en klein almal daar gewoonlik uitgevat in nuwe klere en het in ‘n groot kring voor die agterdeur gestaan. Die kinders het vir ons gesing en so ook die ouer mense. Ons kinders het help koekies en lekkers uitdeel. Die kinders het ook tuisgemaakte koeldrank gekry. Die volwassenes het behalwe eetgoed ook ‘n dop wyn gekry wat baie vrolikheid tot gevolg gehad het. Na die feestelikheid het ons gewoonlik die Kersdiens op Theunissen bygewoon
. 
Met Nuwejaar is dieselfde prosedure herhaal – weer koek uitgedeel en gesing. Op Nuwejaar het ons na die volkies weg was gewoonlik na ‘n vakansieoord iewers gegaan waar ons vir die dag piekniek gehou het. Soms het ons na Maselspoort naby Bloemfontein gegaan of andersins saam met familie na Bloudrift op pad na Welkom langs die Sandrivier. Ons kinders het heel dag in die swembad baljaar en was gewoonlik erg verbrand in die skerp somerson. Ons het nog nie daardie jare soveel ag geslaan op sonblok en beskerming teen die ultravioletstrale van die son nie. Kinders was nog “tough” en nie baie opgepiep nie. Ons moes na die tyd maar saam leef met die seer en ma het brandspiritus aangesmeer!

Kerk toe gaan


NG Moedergemeente Theunissen
Theunissen NG Kerk Moedergemeente - binne
Sondae het ons kerk toe gegaan en die diens in die mooi ou kerk van die Moedergemeente bygewoon. Ons het altyd in die middelste blok ongeveer in die middel gesit. Omdat Oupa Johnnie doof was het hy voor in die kerk gesit waar daar gehoorstukke vir die dowes was. Soms moes ek by hom gaan sit en ek het niks daarvan gehou nie. Op een so ‘n dag was daar probleme met die klankstelsel en Oupa het die skriba se aandag getrek om dit reggestel te kry. Die skriba het op die preekstoel geklim en nadat hy bietjie rondgevroetel het daarmee in die mikrofoon gebulder: “ Oom Johnnie kan jy my nou hoor?” Ek het ineengekrimp van skaamte omdat hy so direk met Oupa gepraat het, maar toe kon Oupa hoor.

Na kerk was dit Sondagskool. Die kinders is in klein groepies verdeel vir Sondagskool en daar was nie soos hedendaags klaskamers nie. Daar is slegs sekere gedeeltes in die kerk aangedui waar elke groep moes sit. Die katkisante was in die kerksaal akkommodeer. Terwyl ons dan in die Sondagskool was het ma en Pa by vriende op die dorp gaan tee drink en kuier. Ons het nooit geweet waar hulle sou kuier nie en moes na die Sondagskool maar straat af en op kyk om vas te stel waar die motor was. Die dorpie was maar klein en meeste van die tyd het ons darem gesien waar hulle was en dan daarheen geloop.

Op die dorp was daar elke Donderdag biduur gehou en die koshuiskinders moes die biduur bywoon. Almal het hiervoor in ‘n lang ry aangetou kerk toe. Met Pinkstertyd was daar ongeveer ‘n week lank biduur gehou en moes ons ook al die dienste bywoon. Vir kinders was dit maar vervelig – veral die lang gebede van die gemeentelede as daar geleentheid vir gebed gegee was. Ek onthou veral een tante wat nie end kon kry met haar gebed nie en sy het nogal baie Hooghollandse woorde toegevoeg tot haar gebede. Dit was komies vir die kinders en ons het aanmekaar gegiggel daaroor. By een so ‘n geleentheid het ons erg gegiggel en was aangepraat daaroor na kerk by die koshuis.


Ek was ook een van die skuldiges en het die berisping erg ter harte geneem. Daardie nag droom ek toe dat ek “ekspel” word uit die koshuis. Die nagmerrie het my ook in my slaap laat loop want ek droom toe mos ook dat ek nie my bed en kamer in die koshuis kan kry nie. Op die manier beland ek toe ‘n paar kamers verder in die gang af by die matriekmeisies in hulle kamer en skrik eers wakker toe een vir my sê: “Dis nie jou blerrie kamer hierdie nie! Gaan terug en gaan slaap!” Groot verleentheid met gepaardgaande spot die volgende dag…

Wyksbiduur

Daar is gereeld wyksbiduur ook gehou op die plase en ma-hulle het die bidure gereeld bygewoon. Soms was dit by ons huis gehou en vooraf was daar dan koek en tee gereedgekry vir die kuier na die biduur. Die bidure is meestal deur die wyksouderling waargeneem wat Bybel en ook ‘n preek voorgelees het. Daar was nie altyd plek vir die kinders in die sitkamer nie en na ons almal plegtig gesoengroet het soos die gewoonte was, moes ons net buite die voordeur op die stoep sit. Dit was beter en lekkerder as om onder die oë vandie grootmens te wees. Die groot pret was dat die honde dan by ons was en tot ons groot vermaak het Philip se hond, Tiekie, lustig saam “gesing” elke keer wanneer die grootmense ‘n psalm of gesang aangehef het. Hoe Ma ookal probeer het om die hond uit te sluit by die singery en hom iewers toegemaak het, het hy dit tog reggekry om te ontsnap en saam te kom sing.

So was ons gekersten en grootgemaak met respek vir die kerk en wat daarmee gepaardgegaan het. Ek is ook voorgestel in Theunissen Moedergemeente. Dit was ‘n belangrike geleentheid vir my ouers. Ma moes voorstelrok maak en ook vir my ‘n hoed kry vir die geleentheid. Dit was nie ‘n maklike taak nie want daar was nie geld vir spoggerige klere nie. Toe het ons by die klerewinkel van Mev. Van Heerden op die dorp ‘n rok gesien wat gelyk het asof dit geskik sou wees en Ma het die rok by die winkel “Op appro” geleen vir my om aan te pas. Die doel was eintlik om goed te kon sien hoe die rok gemaak was sodat ons buurvrou, tant Sophie Cilliers, vir my ‘n soortgelyke rok kon maak teen baie laer koste as die winkelrok.


So afgekyk, so gedaan. Ma het materiaal gekoop en die rok is gemaak – baie goedkoper as die winkelmodel. Ek was nogal taamlik spoggerig in die rok met die romp wat drie valle gehad het en ‘n groot kraag. (Ek is in die middel van die foto reg agter Ds. Heymans. Kyk die hoede!) Die rok het na my “voorstelling” ook lank diens gedoen as kerkrok. Die enigste probleem was dat Mev. van Heerden daarna die rok wat ons gekopieer het nie verkoop kon kry nie en sy was baie lank vir ma kwaad oor die namaaksel wat bykans beter was as die oorspronklike. O ja! In daardie jare was die sogenaamde 30- en 50-jaarts uitskoponderrokke ook hoog mode en het ons omtrent soos valskerms wat uit die lug val gelyk met die wye rokke.

Terwyl ek besig is met Kersfees en ook sommer terwille van die blog titel, nog ‘n paar Kersfees stories.

Kersvakansie by Kenton-on –Sea

Ons het in my kinderdae nie veel vakansies gehou nie want daar was bloot nie geld daarvoor nie. Later jare het ek wel vakansies ingepas en een van die eerstes was ‘n Kersvakansie by Kenton–on-Sea saam met my suster Hester, haar man Gerrit en hulle kinders. Ons het in ‘n taamlike primitiewe vakansiehuis van een van my vriendinne tuisgegaan want dit was bekostigbaar en het vir baie pret gesorg omdat daar nie elektrisiteit was nie en ons amper min of meer daar gekamp het. Oukersaand het egter aangebreek met die gewone tradisie van geskenke uitdeel. Die kinders het heerlik gespeel en ons het bewys dat ons, waar ookal, Kersfees kan vier soos die familietradisie vereis het.
Adele en Jaco met Kersgeskenke by Kenton-on-Sea




No comments:

Post a Comment