Tuesday, August 9, 2016

Blog Deel 10: Hartseerdae


Hierdie deel van my blog is met baie trane geskryf en ek vra vooraf verskoning vir die hartseer maar vandag MOET ek dit skryf om die seer dalk beter te maak. As jy nie sneesdoekies het nie vat ‘n groot mans sakdoek! Huil gaan jy dalk huil!

My kinder en jeugjare was meerendeels gelukkig en sorgvry, maar dit beteken gladnie dat daar nie hartseerdae ook was nie. My grootste hartseer is vasgevang in die onthou van mense met wie ek in my lewe die vol sirkel saamgeloop het. Ek vertel met ‘n traan in die oog en groot deernis van ‘n paar van hulle. 

Ouma Hennie  († 3 Februarie 1955)


My eerste kennismaking met die finaliteit van die dood was met Ouma Hennie se afsterwe. Ek was byna tien jaar oud. Sy was vir ‘n lang tydsiek en voor haardood was daar gedurig mense by die dorpshuis. Op ‘n dag het ek die oggend wakker geword met ‘n gevoel van onheil en wou nie skool toe gaan nie omdat ek geweet het iets baie sleg gaan plaasvind. Pa het my egter by die skool gaan aflaai. Tydens die pouse het ek uitgeglip en na Oupa se huis gehardloop. Daar was alles steeds dieselfde en Pa het my teruggeneem skool toe.


Na skool het ek weer so vinnig as moontlik dorpshuis toe geloop. Toe ek amper by die huis was het ek tant Ollie oorkant die straat aangeloop sien kom op pad na die huis. Sy het vasgesteek toe sy my sien en geskree:”Hennie Kgonjee jou Ouma is dood!” Dit was ‘n dolk deur my hart en het gevoel asof tant Ollie verantwoordelik was daarvoor! Verder kan ek nie veel onthou behalwe dat Ma verduidelik en getroos het nie. Van Tant Ollie se oordrag van die tyding was Ma nie bewus nie.

Die volgende paar dae het familie arriveer vir die begrafnis. Ek onthou die begrafnis goed en veral die baie mense wat na die tyd by die dorpshuis aangedoen het vir die gebruiklike tee en verversings. Ek het tussen die mense rondgedwaal en nie vir Oupa gesien nie tot ek in die eetkamer gekom het en hom op die riempiesbank sien sit het met sy hande oor sy gesig gevou. Ek het by hom gaan sit en hy het my net vasgehou en niks gepraat nie. Dit was nie nodig nie! Op daardie stadium het die hartseer oorgeneem.

Al sewe Oupa en Ouma se kinders was by die begrafnis. Ek onthou dat Ma later vertel het hoe ontsteld hulle was toe oom Gawie na Alice Flora Admiraal se vyf kinders verwys het as Ouma se “stiefkinders”. Niemand was “stief” nie! Almal was “eie” kinders en ewe geliefd!

Na die begrafnis was ons nog ’n paar dae by die dorpshuis. Dit was net ‘n paar dae voor my tiende verjaardag op 10 Februarie. Ek onthou dat Oupa vir my ‘n mooi blikkie met lekkers gegee het wat aan Ouma Hennie behoort het. Daar was nog lekkers in die blikkie en ek het die blikkie jarelank vertroetel. Ek kan nie onthou waar en wanneer dit weggerak het nie. Ma het ook my heel eerste verjaardagpartytjie gereël met omtrent tien van my maatjies. Daardie middag was daar ‘n donderstorm en ek kan onthou dat ek vir die eerste keer ‘n tornado sien verbytrek het in die rigting vandie Theronskoppe en hoe ons verwonderd en bang staan en kyk het na die tonnelwind wat verbybeweeg het. Dit was ‘n soort beklemtoning van die angs wat steeds in my hart vasgevang was ten spyte van die partytjie wat vrolik moes wees..
 

De la Harpe kinders byOuma Hennie se begrafnis
 Die kinders is vlnr: Eddie, Jean, Hansie, Charlie, Dinah, Oupa, Katie en Alice

Oupa Johnnie (†4 Februarie 1963)

Na Ouma se dood het Oupa Johnnie by ons op die plaas kom woon. Dit was lekker dae. Van die plaas af het hy ook gereeld per trein by famiie gaan kuier. Op so ‘n geleentheid het hy by sy kleinseun Gawie, tant Katie se seun, op Potchefstroom gaan kuier.

Ek onthou baie goed dat die telefoon gelui het en Ma die boodskap ontvang het datOupa in die hospitaal was en Gawie laat weet het dat ons Potchefstroom toe moes kom. Ma was in trane en ek het nog nie mooi verstaan wat die tyding beteken het nie. Ek onthou dat ek Oupa in die hospitaal gesien het en dit was vir my baie sleg dat hy so hulpeloos gelê het. Hy is daardie nag oorlede op ‘n dag na op dieselfde datum as Ouma Hennie. 

Ons moes terug Theunissen toe vir die begrafnis en ek onthou dat ons met die kis agter in die stasiewa Theunissen toe gery het. Van die begrafnis kan ek nie veel onthou nie behalwe dat Ma ons geroep het om na Oupa in die kis te kom kyk om te groet. Dit was eintlik vir my ‘n mooi ervaring want dit het die beeld wat ek in my gedagtes gehad het van Oupa in die hospitaal vervang. Oupa het kalm en rustig gelyk soos ek hom geken het en dit was goed. Vir my was dit net asof hy maar geslaap het…

Ek het geen foto’s van Oupa se begrafnis nie daarom plaas ek maar een van hulle grafsteen in die ou begraafplaas op Theunissen.

 Pa Piet Cronjé (18 Maart 1967)

Tydens pappa se siekte voor sy dood het ek by Karl Bremer hospitaal in die Kaap gewerk. Dit was tyd om na my eerste gradeplegtigheid in Pretoria te gaan en Oom Tinie-hulle sou my op die lughawe kom haal vir die geleentheid. Toe ons op Bloemfontein land het ek ‘n ongewone drang gehad om af te klim van die vliegtuig en ‘n plan te maak om eerder Theunissen toe te gaan, maar voor ek kon het ons weer opgestyg en verder gevlieg.

In Pretoria aangekom was tant Joey se eerste woorde dat sy naarstigtelik probeer het om my te kontak en te vra dat ek op Bloemfontein moes afklim en huis toe gaan want Pa “was op sy laaste”. Ek het die gradeplegtigheid by gewoon en sou die volgende dag saam met Oom Stoney en tant Settie Steenkamp, my destydse verloofde se ouers, Theunissen toe gaan.

Op pad na hulle huis in Benoni na die plegtigheid het ‘n klip die motor se voorruit getref en dit heeltemal verbrokkel. Dit het beteken dat ons die volgende dag met my verloofde en hulle seun Daantjie, se tjorrietjie Theunissen toe sou moes ry.

Wat niemand van bewus was nie was dat ek pas die vorige dag my verlowing met Daanjie verbreek het. Ek het die aand vir oom Stoney en tant Settie die nuus oorgedra. Ek onthou nog dat tant Settie ontsteld was en oom Stoney haar daarop gewys het dat die hele petalje Daantjie se skuld was en dat sy moes ophou om vir hom te skerm. Dit was ‘n skrale troos waarvoor ek die ou man lank dankbaar gebly het. 

Die volgende dag se rit was die ene drama! Eers is ons voorgekeer deur ‘n spietkop wat allerhande probleme gehad het met die motor se padwaardigheid maar ons kon verder ry na ‘n lang oponthoud. Die volgende was ‘n pap wiel wat netsoveel vertraging veroorsaak het. Die rit wat drie ure moes neem was toe al vyf ure lank.

Toe ons by die plaaswerf indraai het angs my beetgepak want daar was motors by die huis en ons getroue huishulp Leah het voor die agterdeur staan en huil. Hester het uitgekom en net gesê: “Pa is dood!”

Ek het by die huis ingehardloop en so in die hardloop my verloofring afgepluk en geskree: “ Nou maak dit nie meer saak nie! Ek is ook nie meer verloof nie!” Ek het reg deur die huis by Ma verby gestorm by die voordeur uit! Daar het een van Pa se beste vriende, Oom Koos van Wyk, pas aangekom en my vasgevang in sy arms. Die begrafnisondernemers het ook op daardie oomblik voor die huis stilgehou.

Al wat ek wou doen was om vir Pa te groet maar Ma wou my nie alleen by hom toelaat nie. Ek het haar baie lank daarna nog hiervoor verkwalik. Ek kon nie groet nie maar ek was in die kamer toe die begrafnisondernemers hom onseremonieel aan hande en voete gevat het om in die kis te sit. Dit sal ek nooit ooit vergeet nie.

Die begrafnis self het in ‘n waas by my verbygegaan. Ek onthou dat ma die enigste wit varkoor by die dam gaan pluk het om by die kis blomme te sit. Baie jare later was daar ook ‘n wit varkoor tussen haar kis blomme. Ons moes weer na die lyk gaan kyk voor die begrafnis maar ek het maar net heel onwillig saam met Ma, Hester en Philip by die kis gestaan. Ek wou nie kyk nie!

Vir almal van ons was Pa se dood ‘n skokkende ervaring en miskien meer so vir my Ma, broer en suster. Pa het die oggend grappenderwys soos gewoonlik by Hester se kamer ingeloer en haar beveel om haar luiheid te los en hom te kom help skeer in die badkamer. Sy het so gemaak en net daar in haar arms het hy inmekaargesak en gesterf! Dit was net sy en ma in die huis en hulle kon hom beswaarlik hanteer. Intussen het die plaas foon aanhoudend gelui met vier kort luitjies…die oproep was vir ons! Ma kon die tuinjong egter roep en het hom beveel om net die foon op te tel en te sê: “Die Baas is dood!” Die persoon wat gebel het was my broer Philip!!

Ons het almal baie lank geneem om Pa se dood te verwerk. Daar was ‘n baie groot begrafnis. Die winkels op die dorp het almal gesluit vir die begrafnis en die kerk was stampvol. Pa was geliefd op Theunissen. Ek kan onthou dat oom Stoney sy verbasing uitgespreek het “dat so ‘n eenvoudige man” so ‘n groot begrafnis kon hê. Ja Pa was nie ryk of beroemd nie maar hy was gerespekteer en geliefd!

Daar was sedert daardie dae baie begrafnisse wat sekerlik ook hulle porsie groot hartseer gehad het, maar ek moet die jare vorentoe skuif om by meer onlangse hartseer te kom.

Ma Alice (15 Maart 2005)


Ma Alice is agt-en-dertig jaar na Pa feitlik op dieselfde datum oorlede. Die aanloop na ma se dood was vir my ‘n traumatiese ervaring. Ek en Kalie het pas teruggekeer na ‘n landswye toer met ‘n buitelandse besoeker, Stuart Mc Naughton. Ma was toe al in die Karmel ouetehuis se afdeling vir verswakte bejaardes na ‘n beroerte en kon nie regtig meer met my kommunikeer nie maar het Kalie nog baie goed herken en gereageer as hy met haar gepraat het. Ek het met skok ontdek dat haarvoet potblou was en het navraag daaroor gedoen. Dit was duidelik dat sy mishandel was. 

‘n Paar aande later het ons ‘n oproep ontvang dat sy in die HF Verword hospitaal opgeneem was en ons is dadelik soontoe. Na uitgerekte gewag by die ongevalle afdeling, wat vir my angsvol was opmdat ek weens my gehoor nie gemaklik kon kommunikeer nie is sy in ‘n saal opgeneem en ons is ingelig dat hulle haar been sou moes amputeer. Ma was amper 93 jaar oud!

Die heel moeilikste vir my was dat ek die operasievorms moes teken om toestemming te gee vir die amputasie. Dit op sigself was seker die moeilikste ding wat ek ooit in my lewe moes doen, want ek het nie geweet wat dit sou beteken as ek NIE toestem nie. Vyf dae na die operasie is Ma oorlede. 

Weer moes ons die lyk Theunissen toe neem want ek het haar belowe dat ons haar by Pa sou begrawe. Philip het haar Theunissen toe geneem en ek het ‘n roudiens in Pretoria gereël. Ons is daarna Theunissen toe waar ons haar,net soos Pa, op 22 Maart begrawe het.

Die begrafnis onthou ek goed maar hier wil ek die eerbetoon van my broer Philip aanhaal want dit sê alles van ons Ma.

Phlip betoon eer aan Ma

Ma-Alice Cronjé

Dinsdag 15 Maart 2005

Dankie om iets te praat van albei my ouers Piet en Alice Cronje.

My pa het ons weggeval 18 maart 1967. Dit is op drie dae na 38 jaar gelede.

Vandag weet ek nie so mooi wat ek nou eintlik wil sê nie want daar is so baie om oor te praat want ons is in ‘n “leef-huis” grootgemaak deur twee mense met groot liefde en respek vir mekaar.

Wia, ek en Hester is nie deur boek geleerdes groot gemaak nie maar deur 2 ouers wat die wêreld se mens-wees kennis in pag gehad het. Standvastig geleef deur die lewe. Vir ons kinders het hulle al die geleenthede geskep wat hul kon en aangemoedig om elke kans in die lewe te benut.

Ma-Alice het Laetitia, Gerrit, Hennie en Kalie gesien as haar eie kinders. Haar kleinkinders se wederhelftes het sy ook eie gemaak. Baie lewensvreugdes gedeel met al haar kleinkinders en agterkleinkinders, met elkeen ten volle, sonder inhou.

Pa-Piet en Ma-Alice het hulle eie lewe geleef, opgebou van so te sê niks, of kan ook maar sê met min aardse besittings hulle lewenspad begin en geloop, met ‘n volle geloof in hul Skepper en ‘n vasbyt, eie aan hulself.

Ek was maar so pas “geskool en ge-army” toe my Pa van ons weggeneem is en self nog maar nie juis ”gerigting” vir die lewe nie. (21jr).

Die beginjare van my op die plaas het ek en Ma soms maar goed koppe gestamp soos seker maar met enige kind en sy ouer. Maar ons was altyd daar vir mekaar. Sy meer vir my as ek dalks vir haar.

Ek het nie veel van die “finer-points” van boerdery geweet nie en het maar so van die diep kant af leer swem. Met die tyd saam kon ek my eie ding doen op die plaas. Daar was voorspoedige en ook maer, dun jare op die plaas soos ons maar almal van bewus is. Ma-Alice het oor ‘n werkywer beskik wat vir niks geskrik het nie. Onder haar hand en leiding het als tot sy reg gekom of dit nou plant, dier of kind was.

Kyk ek na die blomme hier vandag sien ek haar soos sy is met alles om haar.

In als in die lewe kon sy iets mooi sien of dit mens, dier, plant of blom in die tuin was. Nooit van andere in en om haar lewe swak gepraat nie en dit vir ons kinders ingeprent.

Sy’t my geleer daar is niks verniet in die lewe nie net jou opstaan in die oggend was genade onverdiend vir jou.

Wanneer ek so  terugdink aan die tyd kom daar soveel mooi lekker-goeie herhinneringe op wat die “nie-so-goed” heeltemal toekrap. In my grootword huis was daar baie meer lag as trane. Al treur ons almal vandag hier na diegene wat ons vooruitgegaan het. Daarom het die ou Hallelujalied: 485 Oorkant die water blinkend en bly  ‘n baie besonderse plek in my menswees.

Met oud en jonk het sy oor die weg gekom en ander mense met waardigheid en die nodige respek behandel.

Haar kennis, lewenslus en vreugdes het sy met almal gedeel – oud, jonk en ook die kleines wat haar pad gekruis het. Daar was altyd ‘n ietsie of ding wat sy die kinders geleer en gewys het. Sêgoed en pittighede was volop by haar en sy was altyd reg met raad en daad vir ons.

Iemand het haar op ‘n dag gesê: “ek wil nie so oud word nie” Ma-Alice sê: “Wie gaan jy vra om jou dood te maak?” Wat met jou gebeur is jou deel en net jou geloof sal jou deurtrek. Soos jou pad deur die lewe gemerk is vir jou sal jy hom loop met die genade wat onverdiend vir jou gegee word.

Ons kon ook van haar verskil maar haar idée was hare en sy’s nie ‘n maklike ene om anders te oortuig nie.

Sy het ‘n vol lewe geleef en ek wil langs hierdie weg ook aan die mense van Theunissen sê: “Dankie vir die leefruimte en plek in die samelewing wat ons Cronjé familie deur julle gegun is”

Vir elke mens wat vir Ma-Alice in haar lewe gehelp en gedoen het net ‘n groot dankie van my hart-kant af. Met die bly in Sonheim –Oord en die laaste ruk na die beroerte in Karmel te Pretoria. Veral vir Wia en Kalie wat haar so goed versorg het, die laaste end van haar lewensweg op hierdie ondermaanse van ons.

Ds. Ben vir jou ook ‘n groot dankie.

Die ander wat nie by die naam genoem is nie – julle ook - want daar is baie van julle.

Dankie Heer vir die bevoorregte lewe wat ek lei, vir elke dag van my menswees wat ek net ontvang.

Dankie – is al…


Ja, Dit was al en dit is genoeg. Haar grafskrif lees: “My genade is vir jou genoeg”

Hennie Kotzé (16 Desember 1999)

Hennie se impak op my lewe was fenomenaal en daaroor sal ek nog baie skryf. Vandag wil ek net kortliks volstaan met daardie treurige dag in 1999 toe hy weg is. Sy lyding was verby en die maande se versorging tydens sy siekte was skielik nie meer deel van my lewe nie. Die hartseer was ongelooflik en ek was doof en alleen en baie angstig oor die toekoms.

Op 15 Desember het ek besef dat ek dalk nie daardie Kersfees saam met hom sou wees nie en het ek besluit om vroeg Kersfees te vier. Hierdie twe kleibeeldjies - my Krismiskinders - was my laaste Kersgeskenk aan Hennie.

Krismiskinders

Ek onthou die baldadige kleur van die bougainvilleas toe ons hom die middag na Hospice geneem het met die ambulans. Hoe ek die nagwaak aangepak het en hom met angs dopgehou het en geweet het dat die einde naby was. Tot ek besef het dat die laaste oomblikke aangebreek het en ek sy hand kon vashou toe hy weg is. Ek was alleen en ek onthou nog tot vandag toe dat ek gevoel het asof ek sien he sy gees ons verlaat om tienuur daardie aand.

Ek en sy dogter Belia is laat die nag terug na ons huis. In die kamer aangekom was die bed nog deurmekaar en sy polshorlosie, wat met beweging van sy arm tyd gehou het, het gaan staan.

Vyf uur die volgende oggend was ek steeds wakker en het ek op die stoepie gestaan en kyk hoe die nuwe dag breek. Twee rooikop houtkappers het skielik op die telefoondraad kom sit en vir my ‘n duet gesing! Ek het onthou hoe Hennie my vertel het van hierdie singery maar het dit nog nooit vantevore kon hoor of sien nie. Daardie oggend kon ek dit sien en hoor met my spinternuwe bioniese oor! So het Hennie gegroet! Sedertdien het ek dit nog nooit weer gehoor nie.

Die begrafnis was soos al die ander hier emosioneel en hartseer. Ds Barry van der Merwe het sy boodskap vir my getik sodat ek hom kon volg tydens die herdenkingsdiens maar dit was nie nodig nie. Ek was geseënd en kon elke woord hoor. My koglêre inplanting het toe al begin om my lewe weer nuut te maak. 

Na alles verby is, was ek alleen en het nie geweet hoe ek verder sou kon aangaan nie. Ek het sy as by die Ooskerk in Pretoria in ‘n nis gaan sit en soms net daar gaan sit en onthou dat ons wonderlike maar ook soms moeilike jare saam gehad het.

Die tyd het egter wel aangeloop en met die volgende jare ‘n nuwe wending ingeslaan saam met baie vriende van regoor die wêreld maar veral saam met Kalie.

Philip Cronjé († 24 Junie 2015)

Philip se heengaan was vinnig en onverwags hoewel ons tog geweet het dat hy ‘n aneurisme by sy niere gehad het wat enige tyd sy dood kon veroorsaak.

Ons het die tyding ontvang dat hy in die hospitaal was en ons na Welkom moes kom. Ek en Kalie kon nie dadelik wegkom nie want ek was begig met die begrafnisboekie van ‘n Boeremusiek vriend.

Toe ons uiteindelik kon wegkom was dit reeds laat en ons was baie angstig. Op pad het ons selfoonboodskappe gekry dat ons na hulle huis op Welkom moes gaan en nie na die hospitaal nie. Daar aangekom was niemand tuis nie maar na nog ‘n paar boodskappe het die kinders opgedaag by die huis met die tyding dat Philip gesterf het. Ons was te laat om te groet en ek was stukkend!

Die begrafnis was ook op Theunissen. Op pad soontoe het ek en Kalie amper ‘n uur lank in Welkom verdwaal en ek was bevrees dat ons laat sou wees vir die begrafnis. Uiteindelik was ons net betyds. Ek was in ‘n dwaal en het later besef dat niks eintlik by my registreer het nie. My enigste broer het gegroet en nou was dit net ek en Hester wat oor was.

Hy het jare tevore twee grafte reg agter die van my ouers gekoop en is daar begrawe. Baie familie het die begrafnis bygewoon en dit was goed om neefs en niggies en ander weer te sien. My hart is nou nog te stukkend om meer te skryf maar ek sal onthou en het so gegroet in sy begrafnisbriefie:


Broer Philip...

Jy was my ruwe diamant in 'n goue halssnoer...Jou skerp kant het jou mense en geliefdes geslyp tot die blink sterre wat hulle vandag is. In die proses het jy die seerkry en bekommernisse aangespreek met liefde en hulle met sagte hand gebind in 'n 24 karaat goue snoer. Jou humor het geskitter en vreugde gebring in vaal dae. Jou siel was sag en meelewend...

Dankie vir jou prag aandeel in my lewe oor 69 jaar. Kleintyd en later jare se onthou is baie en genoeg om vir altyd in my hart te bly.

Rus sag en sê groete waar jy nou is...

Jason Dominic Coetzee (*24 Oktober 2014 † 4 Oktober 2015)

Die dood van ‘n kind wat maar enkele maande vir ons geleen was moes bywoon het ook ‘n onuitwisbare rou kol in my hart gelaat.

Jason was broer Philip se agterkleinkind en eersteling van Thea en Philip Coetzee. Hy het meningitis op gedoen en was in die hospitaal op Bethlehem. Ek het hom tydens broer Philip se afsterwe en begrafnis in Welkom enkele maande tevore vir die eerste keer leer ken. ‘n Laggende seuntjie wat almal se harte gesteel het!

Jason se dood was vir my amper onwerklik! So ‘n pragtige jong kind en mens kon nie wonder waarom hy nie vir ons gespaar was nie. My hart bloei steeds vir sy ouers ennaby familie. Vandag is ek maar net bewus daarvan dat jong kinders ons soms vooruitgaan al verstaan mens nie waarom nie.

Rus sag Jason! Ek het nie woorde nie…

Kalie († 6 Junie 2016)

Vandag is ek weer stukkend! Kalie se dood is nog te rou om oor te skryf. Ek kan steeds nie glo dat hy weg is nie. Net die onthou het oorgebly.. dalk kan ek later skryf. Vandag kan ek net dankie sê dat hy oor my pad gekom het en so ‘n groot en belangrike deel van my lewe was…


Naskrif:

Ek bid dat ek nooit weer oor 'n geliefde se begrafnis hoef te skryf nie en dat dit volgende keer maar my beurt moet wees om te gaan. Dan moet julle my net stil laat gaan soos ek al so baie kere versoek het.  My wens is dat my liggam as heelliggaamskenking na Pretoria Universiteit moet gaan. Asseblief GEEN begrafnis nie. Strooi maar my assies iewers en as dit moontlik is by Rietvlei.

No comments:

Post a Comment