Thursday, August 11, 2016

Blog deel 13: Studentepret in Suid-Wes-Afrika


Ek verwys eintlik hier na ‘n studentetoer na Namibië wat in 1963 nog Suidwes-Afrika was. Die foto’s bring goeie herinneringe terug al is dit relatief swak foto’s geneem met my destydse Brownie film kamera. Die herinneringe is egter nog baie vars!
Toergeselskap op die Tukkie kampus voor ons vertrek
Die grootste lekker van my eerstejaar was ‘n studentetoer gedurende die Junievakansie. Ek het Ma en Pa laat glo dat hierdie toer onontbeerlik vir my studies was. Daardie jare het dit ook nog nie ‘n plaas se prys gekos om te reis nie maar dit het seker ‘n duik gemaak aan Ma en Pa se begroting. Dis seker waar my wanderlust en liefde vir die natuur en veral die bos en die dorre woestynland ontstaan het.
Antoinettte Human by ons toer bus
Die toer was vir my ‘n sielsverrykkende lekker ervaring wat my leefwêreld aansienlik groter gemaak het en my selfvertroue ook sommer ‘n hupstoot gegee het. 


Kom ek vertel bietjie meer van ons toerkaskenades.

Die toer was ‘n fees! Ons was almal in ‘n bus gebondel en het oral in slaapsakke sommer op die grond geslaap behalwe in Windhoek waar ons in ‘n koshuis tuisgegaan het. Ons was omtrent eweveel mans en dames studente. Die toer was gereël deur die Biologiese Studentevereniging by Tukkies in samewerking met Afrika-In Toere en Safari’s. Oom Gert Kotzé, ‘n bekende grootwildjagter en eienaar van Afrika-in-Safari’s was toergids en busbestuurder. Omdat die Biologiese studentevereniging gesukkel het om genoeg studente vir die toer te kry was daar ook ‘n paar vriende van oom Gert saam op die toer.

Cor van Niekerk was ‘n geoloog en dan was daar die welbekende Prof. Nico van der Merwe van die Regsfakulteit en ook ‘n paar van sy studente, onder andere Bobby Levin wat geglo het dat hy slegs die eindeksamen by Prof Nico sal slaag as hy hierdie toer meemaak. Andre Hugo het ook baie pret verskaf en die Prof. het na hom verwys as sy “bodyguard”. Ek was meestal in die geselskap van hierdie ouens en het ook agter in die bus by hulle gesit want ek wou vir niks ter wêreld hulle geselskap en kwinkslae mis nie.

Ons eerste stop was op Kimberley by die Groot Gat” Soos julle uit die foto kan sien was daar nog nie veel gedoen om die belangrike baken 'n toeristeaantrelikheid te maak nie en ons kon tot byna op die rand van die gat loop.
Groot Gat op Kimberley

Oom Gert het behoorlik seker gemaak dat ons ‘n ordentlike natuur-ervaring op die toer sou kry en het met ons in allerhande onmoontlike situasies beland. Hy was ‘n natuurkenner soos min! Aan die einde van elke dag het hy hom tuisgemaak op sy kampstoeltjie langs ‘n kampvuurtjie as ons in die veld was, blikbeker met brandewyn in die hand. Dan het hy stories begin vertel tot laat in die nag.

Prof. Nico, Oom Gert, ek en Andre Hugo by die kampvuur
Soggens het hy ons vroeg uit die slaapsakke gejaag en as ons in die bos was ons genooi om saam met hom “koerant te gaan lees”. Koerant lees het bestaan daaruit dat hy die omgewing om ons kamp gefynkam het vir diere spore en ons dan vertel het wie almal daardie nag naby die kamp was.

My eerste ervaring van ‘n nag in ‘n slaapsak deurbring was op daardie toer in die Kalaharie by die kampterrein op Twee Rivieren. Toe was die kamp nog nie so modern soos vandag nie en ons het sommer slaapsakke oopgerol op die sand. As ek reg onthou was daar omtrent net toilette. Die nagtemperatuur was minus 12˚C! Ons het maar styf en stram opgestaan en eers ys laat smelt voor ons tande kon borsel. Teen daardie tyd het oom Gert al die kampvuur weer aan die gang gehad.

Oom Gert het ons ook na ‘n Boesmanskuiling in die Kalahari park geneem voor ons die tog aangepak het na Mata Mata wat die volgende kampplek sou wees. 
Kalaharie Boesmantjie
Daardie dag het ons in die rivierbedding, wat die enigste pad was, gery. Oom Gert het gesorg dat die bus gereeld vasval en net geskree “Uit” as ons moes stoot. Dit het ‘n paar keer gebeur op pad na Mata Mata kamp waar ons die volgende aand geslaap het.
Daardie dae was daar nie soveel plekke langs die pad waar mens kon stop as die nood hoog was nie en oom Gert het sommer iewers stilgehou met die opdrag:”mans links, dames regs!” en dan moes ons maar die naaste bos opsoek. Soms is daar ook ‘n “natuurles” by sulke stopplekke aangebied en kon ons bene rek.
Piepie stop
Natuur les en piepiestoop
Ek onthou die aande in die Kalaharie baie goed. Die hyenas het sommer digby die kamp gehuil en ek kon toe ook nog die jakkalse en ander diere goed hoor. Die sterre was helder en baie naby. Herinneringe wat my vandag nog bybly.
 

Ons het die volgende dag na Windhoek gereis. Ek wys graag die foto’s om aan te dui hoe dié stad in daardie jare gelyk het. Die stad was vir my pragtig – veral die Duitse kerk. Ons het in ‘n koshuis tuisgegaan wat darem geriefliker was as die sandduine en het kans gehad om darem ons klere te was.
Duitse Kerk Windhoek 1963
In Windhoek het die manne effens uitgehaak tydens ‘n nagtelike besoek aan dieDuitse klub in Windhoek. André Hugo het die een “kleine-kleine” na die ander weggesluk terwyl ons snoeker gespeel het. Omdat ek by ‘n skoolmaat op Theunissen geleer snoeker speel het, het ek nogal nie te sleg gevaar daardie aand nie en die geluk was ook maar seker aan my kant. Almal was verbaas oor my vaardigheid want ek dink hulle het nie verwag dat die ou skugter meisietjie ook ‘n snoekerstok kon vashou nie. Die volgende oggend was die vorige nag se gefuif duidelik sigbaar by sommige van die mans! Ek kan onthou dat die Prof. met smaak vertel het hoe hy André Hugo, wat hy sy “Bodyguard” genoem het, in die toilet aangetref het met sy kop op “n plek wat nie daarvoor bedoel was nie.”

Na Windhoek het ons verder gereis na Etosha ook met ‘n stop in Grootfontein. en ander plekke wat ek nie so goed kan onthou nie. Ek onthou wel dat ons na die meteoriet wat vroeër dae in SWA geval het gaan kyk het en dat ons geoloog vriend, Cor van Niekerk, ‘n geologie “lesing” gegee het oor die meteoriet aan almal wat belanggestel het om na hom te luister. Verder onthou ek die ongelooflike sonsondergange in Etosha en die baie diere by die Panne. Ek kan duidelik onthou hoe ‘n groot trop Olifante (dit was soos honderde olifante!) uit die pan gekom het en vlak by die bus verbygestap het Daar was ook omtrent ‘n dosyn kameelperde. Die manne met die goeie kameras het hope foto’s geneem maar ek was maar net aangewys op my Brownie kameratjie. Hierdie herinnering aan die baie diere het my effens teleurgesteld gelaat toe ek baie jare na hierdie toer weer by Etosha gekom het en slegs ‘n paar olifante gesien het maar die sonsondergange was steeds asemrowend. Na ons alles goed beskou en geniet het, hetoom Gert weer behae daarin geskep om met die bus reg op die die kameelperde af te jaar en hulle te verwilder.
Namutoni 1963
Okakeujo 1963
Die kampplekke by Namutomi was vir my baie mooi en interessant. Ons het daar ook heerlik gekamp. Ek het nog nie verteldat ons self kosgemaak het nie. Die studente was on groepe verdeel wat moes sorg vir die spyskaart en die bediening van die kos. Dit het beteken dat ons vir ‘n spesifieke dag drie etes moes voorberei. Selfs dit was pret! Oom Gert het self die bestanddele aangekoop waar hy kans gehad het daarvoor. Onthou in daardie dae was daarook nog nie groot supermarkte nie.


Van Etosha af het ons kuswaarts getoer en by die Brandberg aangedoen waar ons die staptog aangepak het om na die “Wit vrou van die Brandberg” te gaan kyk en ook na ander rotstekeninge. Daarvandaan is ons teen die kus langs tot by Cape Cross. Ek kan die roete nie goed onthou nie maar wel dat ons nie eintlik veronderstel was om in die “Sperrgebiet” in te gaan nie. Aan hierdie verbod het oom Gert hom min gesteur. By Cape Cross het ons gekyk hoe robbe geslag word. ‘n Wrede storie maar tog interessant. Toe was daar ook nog baie meer robbe as vandag.
Brandberg 1963



Cape Cross 1963
 
Ons volgende stop was Swakopmund. Of ek reg onthou weet ek nie maar soos ek onthou was Swakopmund nog maar ‘n klein dorpie. Daar was wel ‘n hotel en ‘n klompie huise en ‘n paar besighede maar ek kan regtig omtrent net die hotel onthou. Ons het sommer ons slaapsakke op die strand oopgerol. Hierdie keer wel in ‘n tent wat vir die dames opgeslaan was want die weer was triestig met ‘n motreëntjie.

Die mans het by die hotel gaan uithang en ons was ook vir ‘n kort rukkie daar maar is later terug kamp toe. Van die gebeure wat daardie aand in die hotel afgespeel het, het ek later eers te hore gekom. Soos ek reeds op gewys het was Bobby Levin daarop ingestel om saam te speel met alles wat die Prof. vereis het met die oog op ‘n goeie slaagsyfer in Rommeins-Hollandse reg. 

So het dit dan toe ook gebeur dat hulle sy siel uitgetrek het daardie aand. Die kroegmeisie was heel aanvallig en die mans het baie aandag aan haar bestee. So kom dit toe ook dat aan Bobby vertel word dat hy ‘n kans kan kry om haar veel beter te leer ken in een van die hotelkamers. Hy moes net aan die deur klop, ingaan en so gou moontlik van sy klere ontslae raak. Sy sou in die bed vir hom wag. Intussen het een van die ander mans in die bed gaan lê en sorg dat hy goed weggesteek is onder die komberse. So kom Bobby toe ewe gewillig in die kamer aan en maak soos hy aangesê is. Toe bespring hy die bed en vind tot sy skok uit dat hy dalk in die verkeerde kamer is, maar word gou ontnugter toe van die ander mans in die deur verskyn om sy verleentheid te aanskou!

Die volgende insident in die hotel was meer dramaties! Cor van Niekerk was nie net ‘n goeie geoloog nie maar het ook die kuns van toertjies uithaal goed onder die knie gehad en was in staat om allerhande voorwerpe soos mis voor die son te laat verdwyn. Die volgende was dat Polisiemanne opdaag om ‘n strik vir die mans te stel en diamante begin uithaal. Cor het natuurlik dadelik besef dat dit ‘n lokval met egte diamante was. Nie hoelank nie toe verdwyn die diamante en niemand kan dit vind nie. Na ‘n vrugtelose soektog besluit die polisiemanne toe dat hulle by die kampplek daarna sou gaan soek opmdat ‘n paar manne reeds niemeerindiekroeg was nie en streep die oorblywende studente toe aan strand toe waar ons salig onbewus van die drama lê en slaap.

‘n Hewige woordewiseling ontstaan en ons hoor hoe André hulle inlig oor die wet en hoe dat elkeen van die dertig of meer studente klagtes teen hulle sou aanhangig maak vir rusverstoring, persoonlike tystering en wat nie nog alles nie. Die redenasies het aangehou tot die polisiemanne sonder diamante druipstert daar weg is. Wat van die diamante geword het het niemand geweet nie. Later het ek gehoor dat dit per gewone pos in ‘n vuurhoutjiedosie na iemand gestuur was. Wie weet ek nie, maar ek kon raai. Die volgende oggend in die bus het die prof net aangekondig: “Mnr. Hugo! Jy het jou praktiese eksamen met lof geslaag!”

Ons volgende stop was by die Visrivier Canyon en Ais Ais. By Ais Ais was alles nog uiters primitief met net ‘n paar poele warm water en bobbejane daar naby. Ons het die rante uitgeklim en ‘n aand daar vertoef. Daarvandaan is ons na die Visrivier Canyon. ‘n ongelooflike uitsig vanaf die rand van die canyon.


Ons toer het einde se kant toe begin staan. Op die tweede laaste aand het ons by Vioolsdrif aan die Oranjerivier gekamp. Daar was nie veel te doene nie en die mans was maar weer by ‘n hotel.

Daar was ‘n reël by Oom Gert dat die tent opgeslaan moes word vir die dames selfs al sou net een dame daarvoor vra. Hierdie proses is tot wrewel van die mans, wat tent moes opslaan, gereeld aangevra deur ‘n spesifieke dame. Laat ek maar volstaan daarby dat sy gesleep het met ‘n seun van een van die Ou Suid-Afrika se Eerste Ministers. Altwee van hulle was soos duifies saam op die toer en het nie eintlik veel erg gehad aan die ander studente nie maar slegs oë vir mekaar gehad.

Laat die aand kom die manne toe met groot lawaai terug van hulle uitstappie. Lekker vrolik! Groot geraas met ‘n asdromdeksel waarop gehamer word. Een student op ‘n ander se rug deksel n die hand. Hulle kondig aan dat die verraaiers gevang en gestraf gaan word en bestorm die tent! Terselfdertyd trek ander die tentpenne uit die grond en die hele spul stort inmekaar!  Wie kruip uit onder die tent? Niemand anders as ons twee duifies nie! Die gespot en aanmerkings sal ek liewer nie aanhaal nie terwille van die politiek. Die tent is ook nie weer opgeslaan nie…

Ek onthou ook ‘n aand by die Augrabies waterval. Ons het almal geloop om na die waterval te gaan kyk. Oom Gert het streng gewaarsku dat ons NIE naby die rand van die afgrond moes kom nie want die rotse was baie glad en gevaarlik. Daar was geen beskerming en veilige wandelpaadjies soos vandag nie. Ook nie ‘n restaurant en ander geiewe behalwe vir die kantoor, nie. Mens kon net daar uitkamp. omGert het dit goed gedink om ‘n ysike stomp van ‘n kameeldoringboom – min of meer die hele boom – te gebruik vir die kampvuur! Van vêr af het dit gelyk soos ‘n groot brand maar soos ons nader gestap het was dit maar net oom Gert wat sy brandwyntjie geniet het en vir ons gewag het! Dit was een van die lekkerste kampvure en die volgende oggend het die stomp steeds gebrand.
Augrabies 1963

Terwyl ons toe die volgende dag op pad terug Pretoria toe op Upington stop gewaar die mans toe ‘n paar skape op ‘n bakkie voor die kroeg. Dis toe net daar dat hulle besluit die skaap lyk net goed genoeg vir ons laaste braaivleis van die toer. En hulle haal die skaap summier af van die bakkie. Die oom kom toe ook uit die kroeg en hulle begin verduidelik waarvoor hulle die skaap nodig het. Groot gelag en geskerts en die oom geniet die studente se manewales so dat hy ons almal nooi om dan die nag op sy plaas deur te bring waar hy wel genoeg vleis het vir ‘n ordentlike braaivleis.


Ons vertek toe na sy plaas en daar daag meer as dertig “gaste” op tot sy vrou se groot verbasing! Haar bekommernis was verniet want die kookspan was gereed om om te sien na die aandete met die groothartige skenking van die vleis. Die mans het daardie aand die oom verras met ‘n rofstoei wedstryd op sy grasperk. Weer eens was Francois die stêr van die aand en die Prof. skeidsregter.

So sluit ons toe die laaste aand van die toer af. Dit was maar ‘n stillerige klomp studente die volgende dag in die bus op pad terug Pretoria toe. Daar was wel ‘n partytjie na die tyd waar ons almal se foto’s bewonder het.

Ons het ook op uitnodiging van die professor ‘n paar van sy klasse bygewoon waar hy die teorie en praktyk na aanleiding van gebeure op die toer komies by mekaar uitgebring het. Stories oor die toer het ook die “Perdeby”, die Tukkies studentekoerant gehaal en die gebeure is in menige koshuiskamer met smaak oorgedra. Ek kon nie wens vir ‘n beter ervaring gedurende daardie eerste studiejaar op Tukkies nie.

Bobby Levin het Romeins-Hollandse Reg met lof geslaag…



No comments:

Post a Comment