Die terugtog met die trein Vrystaat toe onthou ek
nog baie goed. Ek kan onthou dat ek nie geweet het hoe om my emosies te
interpreteer nie. Aan die een kant was ek jammer om weg te gaan uit die mooie
Kaap maar dan het ek ook onthou dat dit niks meer lekker daar was nie en dat my
verlowing met Daantjie vir goed verby was. Die toekoms was onseker en ek het
ook nie geweet of ek terug in die Vrystaat wou wees nie. So het my emosies maar
wipplank gery die hele ent pad.
Die aankoms op Theunissen stasie was ook ‘n skok.
Nooit ooit sal ek vergeet hoe ma, totaal in swart geklee (sy het nog gerou na Pa
se dood) my op die stasie ingewag het nie. Sy was net ‘n toonbeeld van
eensaamheid wat vir my vreemd was. Die wind het stofwolke opgejaag soos dit net
kan op 1 Augustus… ‘n droewige prentjie.
Op daardie stadium het die werklikheid van Pa se dood
vir die eerste keer tot my deurgedring. Terwyl ek nog in die Kaap was het ek in
‘n soort ontkenning geleef en het dit maar gevoel asof hy nog op die plaas was.
Hierdie bewuswording op daardie Augustusdag was derhalwe vir my baie erg en ingegrafeer in my onthou. Ek was hartseer en ek het half vir Ma verkwalik vir my hartseer omdat sy
nog gerou het oor Pa. Op ‘n punt het sy uitgevra na Daantjie en ek was dadelik
op my perdjie en het dit goed laat blyk. Soveel so dat sy maar net verskoning
gevra het en gesê het: “Ekskuus my kind! Ek sal nooit weer sy naam noem nie.”
Sy het ook nooit weer van Daantjie gepraat nie.
Ek wou nie weet van my Pa of Daantjie nie! Dit was
skielik of die stofstorm wat om ons gewoed het tot in my siel gewaai het en al
wat ek wou doen was om op Welkom te kom hoewel ek gladnie kon dink wat daar op
my sou wag nie. Ek wou net wegkom en alleen wees om my wonde te lek soos ek maar
van kleintyd af net in my dop gekruip het as dinge te veel vir my geraak het.
Ons het in stilte gery tot in Welkom…
Ons moes direk Welkom toe want ek moes daar inklok
om te begin werk as dieetkundige. Reëlings was reeds getref dat ek by die
verpleesgterstehuis sou inwoon. Alles het vlot verloop toe ons by die
Verpleegsterstehuis aangekom het en ek het verneem dat daar ‘n kamer vir my
gereed was op die tiende vloer en ons is op daarheen met die hysbak.
'n Paar van my maats op die tiende vloer. |
Carol, Denise en Esme; Pajama party |
Ek 1968 Fritz Jaekel se foto's |
Toe ek uit die hysbak stap het ‘n meisie by die
badkamerdeur uitgekom net met ‘n handdoek om haar en vasgesteek reg voor my en
uitgeroep: ”Ek ken jou! Jy was in Asterhof op Tukkies!”
Wel ek het haar beslis dadelik herken. Sy was
Annette Broekman en ek het haar baie goed onthou as ‘n student met baie energie
en lewenslus wat Liggaamlike opvoeding geswot het en veral uitgeblink het in
gimnastiek. Sy was ‘n jaar of wat my senior op Tukkies en haar kamer was op dieselfde vloer in my eerste jaar. Wel net daar het ons
mekaar ‘n drukkie gegee en is ek saam met haar na my kamer waar ek uitgevind
het dat haar kamer weer reg langs myne was. Sy het intussen weer gaan swot en was toe ‘n
radioloog by die Provinsiale hospitaal op Welkom.
Ek het uitgepak en Ma is terug Theunissen toe
duidelik bly dat ek weer nader aan die huis was. Annette het my ook dadelik
voorgestel aan die ander meisies op die tiende vloer. Ek het uitgevind dat ons
so min of meer afgesonder van die verpleegsters was en dat al die meisies wat
op tiende vloer gebly het ander beroepe gehad het –‘n hele paar radioloë, sekretaresses
en meisies wat in die laboratoriums gewerk het.
Die verpleegsters wat op nagdiens was het op die verdieping bokant ons geslaap gedurende die dag en op die negende vloer het niemand gebly nie. Ons manewales op die tiende vloer het dus niemand gepla nie. Die meisies wat ek kan onthou was Brenda ‘n radioloog uit Engeland wat nie Afrikaans kon praat nie en saam met Annette gewerk het, Denise Threherne en Esmé (hulle het by die Mediese navorsingseenheid se laboratoriums gewerk) asook Christa Hancke (‘n Duitse meisie wat nie juis by ons aktiwiteite ingeskakel het nie) Carol Meyer wat vir ‘n Farmaseutiese firma by die hospitaal gewerk het. ‘n Uiteelopende groep jong dames by wie ek verbasend gou ingeskakel het.
Ek het geen foto’s van Welkom nie behalwe ‘n paar
35 mm skyfies wat ek so goed as moontlik probeer redigeer het. Ek wys maar enetjie
hier terwille van die herinnering.
O ja! Ek het ook ander foto’s wat Frits Jaekel die
fotograaf op Welkom, lateraan geneem het toe ek met hom en sy gesin bevriend
geraak het. Fritz het ook my sus Hester en Philip se troufoto’s geneem.
Daardie heel eerste aand het Annette my genooi om
saam met haar uit te gaan om hulle mansvriende te ontmoet. Die was net so ‘n
lekker groep.’n Klompie mans wat saam in ‘n huis gewoon het – meeste het by die
myn gewerk, ‘n paar huisdokters wat hule finale praktiese jaar by die hospitaal
as jong interns gedoen het en nog ander. Die klomp het gereeld by die groter
groep se huis bymekaargekom waar die dames dan by hulle aangesluit het om
lekker partytjie te hou of ons het saam uitgehang by die inryteater of elders.
Ons almal het sommer so in die bondel saamgekuier en soms ook individueel
uitgegaan.
Ek onthou veral vir Pepsi de Witt wat ‘n
mynkaptein was en almal beïndruk het met sy Porche sportmotor. Pepsi het met al
die meisies uitgegaan behalwe Christa. Dan het hy die meisie kom oplaai by die
tehuis en goed “entertain.” Ek kan onthou dat ons nie geweet het wie die
volgende een sou wees as hy gebel het nie en maak nie saak wie die foon
beantwoord het nie, ons moes maar die gelukkige een gaan roep vir sy afspraak.
So het toe darem ook dikwels ‘n beurt gekry om saam met hom sy Porche te
geniet. Daar was ook ‘n huisdokter by die Oppenheimer hospitaal wat dikwels by
ons aangesluit het.
Die huisdokters wat by die Provinsiale hospitaal
gewerk het, het ook in een van die hospitaal huise saam gewoon en dit was nog
‘n plek waar ons gekuier en braaivleis gehou het. Hierdie kuierdery het ‘n heel
nuwe fase in my lewe ingewy en ek het letterlik van daardie heel eerste aand af
elke aand uitgegaan vir meer as ‘n jaar lank! Ek was werklik welkom in Welkom
en het sommer weer baie tuis gevoel in die Vrystaat! Ek het agtergekom dat die
“myners” baie gawe mense was en veral lekker kon kuier. Soms het ons paarties
wild geraak en het die drank te goed gevloei maar ek het ook leer dans en my
sosiale lewe was meerendeels ‘n fees.
Later meer oor ons sosiale lewe.
My eerste werksdag was ook heel interessant hoewel
ek Gerda Swanepoel se woorde goed onthou dat ek “hare op my tande” sou moes hê
daarvoor. Die mediese Superintendent was Dr. Maans van Schalkwyk – ‘n hartlike
vriendelike man wat my net so tuis laat voel het. Hy het ‘n fantastiese sin vir
humor gehad en kon mens in enige moeilike situasie opbeur. Later jare toe ek in
Bloemfontein gewerk het was ons twee ook nog goeie vriende wat dikwels saam gekuier
het.
My kollega in die kombuis was ‘n Duitse sjef Mnr. Schumacher. Die dames wat as huishoudsters in die kombuis gewerk het was almal
baie ouer as ek en kon nie aanvaar het dat so ‘n piepsnuiter nou hulle baas was
nie en selfs ‘n hoër pos as Mnr. Schumacher beklee het. Onthou ek was maar 23
jaar oud toe ek in Welkom begin werk het! Hierdie keer het ek nie ‘n “Swart
boek” gehad om die reëls van die voedseldienseenheid onder die knie te kry nie
– ek moes self die kitaar slaan!
Maklik was dit gladnie! Mnr Schumacher was egter
baie hulpvaardig en eintlik het hy nog maar aan die begin feitlik alles
behartig. Ek het my maar meeste van die tyd toegespits op die terapeutiese diëte
en die res aan hom oorgelaat. Die enigste uitsondering was dat ek behoorlike
spyskaarte wat oor vier weke geroteer het opgestel het. Hier het die
ondervinding wat ek in Karl Bremer hospitaal opgedoen het handig te pas gekom.
Mnr. Schumacher sou sorg vir die resepte maar ek het dit ook begin
standaardiseer en ‘n reseplêer/handleiding begin opstel.
Ongeveer drie weke na ek daar begin werk het was
dit tyd om die nuwe spyskaart in werking te stel. As ek reg onthou was die
hoofgereg vir die middagete ‘n kerrie stowegereg. Wat ek nie besef het nie was
dat daar hopeloos te veel peper aangedui was op die resep en die huishoudsters
het die resep letterlik uitgevoer! Dit was dan toe ook nie lank nie of die
klagtes oor die gereg het ingestroom. Mnr Schumacher het die klagtes hanteer en
ek kan onthou dat die een huishoudster vir my gesê het: “Juffrou! Vandag fluit
hulle die ‘Indian love song’ agteruit!” Ja dit was toe ook so! Later het dit
veel beter gegaan met Mnr. Schumacher wat ‘n wakende oog gehou het oor die
resepte.
Mnr Schumacher het onkonvensionele metodes gehad
om die personeel te tugtig. Omdat daar beperkings was op fisiese straf het hy
eenvoudig die skuldige vir ‘n klompie minute in die koue afvalkoelkamer
toegemaak. Of die werkers nie bewus was daarvan dat mens in so ‘n geval uit die
donker koelkamer kon kom deur net hard op die slot te druk nie en of hulle te
bang was om uit te kom weet ek nou nie maar sy metode het keer op keer gehelp
dat die skuldiges gou afgekoel het!
Die huishoudsters het my gladnie aanvaar as hulle
“baas” nie. Dit het so ver gegaan dat een van hulle my na ek haar berispe het
oor iets toegesnou het: “Wie dink jy is jy?. Ek kon jou ma gewees het!” Dit was
die laaste strooi en ek is in trane na Dr. van Schalkwyk om die insident onder
sy aandag te bring! Hy het simpatiek na my geluister en net gesê:” Juffrou
hulle weet nie, soos ek weet, dat jy ‘n ‘lover’ is en nie ‘n ‘fighter’ nie.” Ek
het toe maar trane afgedroog en hy is saam met my terug kombuis toe om vir
almal die leviete voor te lees. Daarna was my lewe ietwat gemakliker maar ek
was steeds nie ‘n "fighter" nie.
Die pret en partytjies saans het voortgeduur. Daar
was nie juis vir ons klomp beperkings gestel oor uitgaantye soos in
universiteits- en ander koshuise nie. Ons het elk ‘n sleutel vir ‘n agterdeur
gehad wat mens bereik het deur met die brandtrap af te gaan. Op ‘n keer het ek
‘n afspraak met die huisdokter van die Oppenheimer hospitaal gehad en die
spesifieke partytjie het naglank aangehou. Soveel so dat ek omtrent ses uur die
volgende oggend eers weer by die tehuis aangekom het by die brandtrap se deur.
Toe ek die deur wou oopmaak was daar reeds ‘n sleutel in die slot! Die volgende
oomblik het die deur oopgegaan en het een van die huishoudsters wat in die kombuis
vroegskof gewerk het, uitgekom op pad werk toe! Soe! Wat ‘n verleentheid! Al
wat ek kon doen was om om te draai na my metgesel en te sê: “Ag baie dankie
dat jy my so vroeg op die stasie kom afhaal het.” Of die huishoudster my woorde
ter harte geneem het en dalk selfs geglo het, weet ek nie maar ‘n uur later was
ek op my pos in die kombuis.
Kort na ek in welkom begin werk het, het ek ook my
broer Philip se Datsun Bluebird by hom gekoop. Hierdie spesifieke eerste motor
wat ek besit het, het so deur die familie geswerf en was ook op ‘n stadium
ryding vir my ma en my suster. Die feit dat ek toe my eie vervoer gehad het het
ook die lewe makliker gemaak. Ek kon naweke plaas toe gaan of saam met Annette
na hulle huis in Bloemfontein of sommer ook vir kuiers na my ander vriendinne
se ouers.
Annette was gewild by die mans in ons vriendekring maar het ook nog ‘n
kêrel in Bloemfontein gehad by wie sy graag gaan kuier het en dan het ek ook
gewoonlik saamgegaan. Op een so ‘n kuier het ons ‘n sak vol sampioene gehad wat
ons op die hospitaal grasperk geoes het. Die ingenieur by die hospitaal was ‘n sampioenkenner
en het ons verseker dat dit veilig was om die sampioene te eet. By Annette se ouerhuis
(haar ouers was nie tuis nie) maak ons toe die sampioene gaar maar bly steeds
agterdogtig. Die enigste raad was om vir die hond daarvan te gee om te eet en toe
hy na ‘n uur of wat nog springlewendig was het ons toe maar aan die dis weggelê.
Wel, ek is darem vandag nog hier om die storie te vertel!
Ek en Carol Meyer was ook baie goeie maats. Carol
of Karolie soos ons haar genoem het, was een van twee aangenome kinders en ek was
baie lief vir haar aanneem ma. Die tannie was nie baie ingenome met ‘n plot wat
hulle ook naby Kroonstad gehad het nie en het die stukkie aarde “Doodsroggel”
genoem. Hulle het op die dorp gewoon en net af en toe plot toe gegaan. Haar pa was
in die motorhandel.
Iets wat my ook lewenslank sal bybly was dat Carol se suster gehunker het daarna om haar biologiese ouers te leer ken. Sy het met die bietjie inligting wat sy gehad het, bv. haar geboortedatum en die plek waar sy gebore was, begin om na die Departement Binnelandse Sake te bel om meer oor haarself uit te vind. Daardie dae was inligting oor aangenome kinders nog baie meer geheim gehou as vandag.
Hoe dit ookal sy het sy die persoon met wie sy gepraat
het so oortuig dat sy baie meer geweet het as wat sy te kenne gegee het dat die
persoon haar toe vertel het wie haar biologiese ma was en dat die vrou
toevallig ook op Kroonstad gewoon het. Haar aanneem ma was ‘n dierbare vrou wat
nooit die feit van hulle aanneming weggehou het van die kinders nie. Sy het toe
met die nuwe inligting wat hulle gehad het, die dogter gehelp en hulle het die
biologiese ma opgespoor. Dit was ‘n vreugdevolle gebeurtenis waar Carol se
suster toe ook haar pa ontmoet het (hy was nooit met haar biologiese ma getroud
nie maar die ma is later wel getroud) en vasgestel het dat sy twee halfbroers
het.
Daarna het sy vir Carol aangebied om ook net soos
vir haarself vas te stel wie en waar Carol se biologiese ma was. So gesê, so
gedaan maar Carol se biologiese ma het iewers in die Westransvaal gewoon. Al
wat hulle toe kon doen was om vir die vrou te skryf en te probeer reël vir ‘n ontmoeting.
Die hartseer nuus was egter dat die biologiese ma teruggeskryf het en gevra het
dat hulle haar asseblief nie weer moet kontak nie, want sy was getroud en haar man
het niks geweet daarvan dat sy vantevore ‘n kind gehad het nie. Ek weet dat
Carol baie hartseer en ontsteld was hieroor juis omdat dit so presies die
teenoorgestelde was as wat met haar suster gebeur het. So het ek dan ook die vreugdes
en hartseer van hierdie maat en haar gesin gedeel.
Na ek weg is uit Wekom het Carol ook verhuis na Johannesburg.
Die laaste keer dat ek haar gesien het was jare later met een van my besoeke
aan Johannesburg. Ek het by haar woonstel aangekom en haar byna nie herken toe
sy die deur oopgemaak het nie. Sy het sedert ons mekaar laas gesien het soveel
gewig verloor dat sy in plaas van ‘n no 44 rok toe weer in ‘n 34 nommertjie
gepas het! Sy het steeds by die farmaseutiese firma gewerk by hulle
hoofkantoor. Sy het ook vas uitgegaan en sou binnekort trou. Daarna het ek weer
kontak met haar verloor.
‘n Paar jaar later het Ma my vertel dat Carol haar
gebel het om na my te soek. Sy het vertel dat sy geroud was maar dat haar
driejarige dogtertjie kanker gehad het en terminaal siek was. Tot vandag toe
voel ek nog sleg dat ek destyds nie kans gesien het om Carol te kontak na ek
hierdie nuus gehoor het nie. Ek was innig jammer vir haar maar het gladnie
geweet hoe om die situasie te hanteer nie. Ek was nie regtig gevoelloos nie ek het
bloot nie geweet wat om te doen nie, want ek het gevoel dat ek nie haar situasie
beter maak nie. Ek sou later met haar praat maar daardie geleentheid het nooit
gekom nie. Nog later het ek haar probeer opspoor maar sonder sukses.
Die feit dat ek haar nie gekontak het toe dit nodig
was nie is iets wat ek nagelaat het om te doen waaroor ek tot vandag nog spyt
is. Dit was eers baie jare later toe ek getref was deur Hennie se kanker, dat
ek besef en waardeer het hoeveel ander se omgee vir mens beteken in so ‘n
situasie en dat mens niks eintlik hoef te sê nie maar net ‘n skouer kan aanbied
as jy dan niks anders kan doen nie. So het ek eers baie jare later “grootgeword”.
Welkom was ‘n mengsel van goed en kwaad wat oor my pad moes kom.
Afgesien van die kuiers buite die tehuis het ons ook
ons eie partytjies sommer in iemand se kamer gehad. Regte pajama paarties. Die paarties
het ons ‘k$fferbraaivleis’ genoem want dit het eintik bestaan uit drank,
(meestal bier) rooiworsies en ‘n uitgeholde wit brood maar het gesorg vir baie pret
maar dan natuurlik ook erge babbelaas die volgende dag.
So het die tyd aangestap en was ek baie gelukkig – beide in my werk en sosiaal. Iewers in my binneste was daar tog heel tyd ‘n stemmetjie wat my vertel het dat ek NIE ‘n dieetkundige was of wou wees nie. Op daardie stadium het ek toe ook vasgestel dat ek maar een van twee dieetkundiges in die Vrystaat was. Soort van eenoog in die land van die blindes!
Ek het nie regtig ander werk gesoek nie maar ‘n
advertensie in die koerant het my aandag getrek en dit het gelei tot die
volgende fase in my lewe waarvan ek later sal vertel.
No comments:
Post a Comment