Nota: Hierdie deel van my biografie het slegs enkele foto's. Indien ek daarin kan slaag om die 35 mm kleurskyfies wat ek wel het, behoorlik te redigeer sal ek later ‘n paar foto’s byvoeg.
My eerste toer na Brittanje en Europa
Terwyl ek nog in die Kaap gewerk het, het ek beplan om saam met die Steenkamps oorsee te gaan. Hulle dogter Lerine en haar man Johan het in Engeland gewerk en ons sou by hulle gaan kuier en dan almal saam Europa toe gaan. Ek het dus voortgegaan met die reëlings. Ma was nie gelukkig daarmee dat ek oorsee wou gaan nie want sy was bang ek bly daar agter en kom nooit weer terug nie. Hierdie vrees van Ma was omdat een van haar vriendinne se seun presies so gemaak het. Ek het egter geen sodanige planne gehad nie en wou maar net gehoor gee aan my wanderlust.
Ons is weg Engeland toe en ek was baie opgewonde om die wêreld te verken. Op pad na Engeland sou ons ‘n dag of twee in Lissabon kuier. My eerste kennismaking met hierdie mooi stad was ongelooflik. Ek het meestal alleen rondgeloop. Op daardie tydstip was mini rokke hoogmode en my hare was baie blond. As gevolg van ‘n pienk minirok wat ek baie lief was om te dra het ek dus aandag getrek tussen die Spanjaarde wat meestal blas en donker was. Ek onthou ‘n spesifieke insident waar ‘n groepie dogtertjies hande gevat, my “omsingel” het en laggend al in die rondte gedans het. Dit was amusant maar ook ‘n verleentheid want ek kon nie hulle taal verstaan nie.
In Engeland aangekom onthou ek dat dit aanvanklik vir my baie koud was ten spyte daarvan dat dit in die middel van die Europese somer was. Terwyl ons nog in London was het ek vir ‘n paar dae by my naamgenoot niggie Hennie, wat toe daar gewerk en nagraads studeer het, gaan kuier. Ek onthou veral die klein woonstelletjie wat sy met iemand gedeel het en hoe omgekrap sy was dat die woonstemaat die wasbak in die kombuis eerder as die badkamer s’n gebruik het wanneer sy tande geborsel het. Hennie se instruksies was dat ek altyd moes onthou om ‘n skotteltjie in die wasbak te sit as ek skottelgoed was en nie die wasbak in die kombuis direk moes gebruik nie. Vir my was dit maar snaaks dat die Engelse taamlik sku was om te bad!.
Terwyl Hennie bedags gewerk het het ek op allerhande toere gegaan. Dit was maklik met die moltrein en ek het hierdie uitstappies baie geniet. Een wat ek goed onthou was ‘n besoek aan die jaarlikse Chelsea blommeskou waar ek omtrent ‘n hele dag spandeer het. Dan het ek ook verder sommer net die toeriste attraksies besoek en my aan alles verwonder en onder andere wydsbeen oor die streep wat Greenwich "mean time" aangedui het gaan poseer het vir 'n foto en my daar ook staan en verwonder het aan die Cutty Sark seilboot van weleer. Natuurlik was Suid-Afrika Huis op Trafalgarplein ook op die besigtigingsplan en het ek daar 'n paar Suid-Afrikaanse tydskrifte sit en lees.
Van London af is ons na Johan en Lerine se tuiste by Stockton-on-Trent waar hulle by die firma ICI gewerk het. Johan kon ook nie nalaat om ons 'n eg Suid-Afrikaanse braaivleis te trakteer nie. Daarvandaan het ons ook Skotland toe gegaan en al wat ek van Edinburgh onthou is dat dit baie gereën het maar dat ons wel by die kasteel was. Ons het ook ‘n naweek na die Lake Districts gegaan wat vir my ‘n magiese bekoring ingehou het.
Ons het ook aandag gegee aan ons planne vir die Europese besoek. Oom Stoney het met Johan se hulp ‘n tweedehandse Opel gekoop waarmee ons sou ry en dan weer die motor verkoop na die toer. Dit het goed gewerk om die reiskoste binne ons gesamentlike begroting te hou. Johan en Lerine sou met hulle eie motor reis.
Die reis Europa toe was interessant, veral die stukkie met die motor op die boot oor die Engelse kanaal na Calais. Daarvandaan was dit ‘n kort entjie na Parys en het ons hier en daar langs die pad gestop by ander besienswaardighede.
Parys was vir my ‘n teleurstelling want met ons aankoms daar was dit in die middel van ‘n drie weke staking. Studente het betoog en die strate was vol rommel met opgebreekte keistene. Mens het ook nie altyd veilig gevoel nie maar ons het nietemin die stad en omgewing verken en ek onthou ‘n besoek aan Versailles baie goed. Die paleis het my absoluut gefassineer en veral die formele tuine was ongelooflik mooi.
Dan was daar ook natuurlik die ander toeriste attraksies: Die Louvre waar ek spesifiek onthou dat ek na die bekende Mona Lisa gaan kyk het en na die tyd vir my ‘n afdruk gekoop het van ‘n skildery wat oorkant die Mona Lisa gehang het en as gevolg daarvan bekendheid verwerf het. By die Notre Dame het ek ook moeite gedoen om om die kerk te stap en die roosvenster van alle kante te beskou. Ek het onthou dat ek van hierdie venster geleer het in die binnehuisversiering klas op Tukkies. Ek het ook opgeklim tot bo in die toring vanwaar mens daardie pragtige uitsig op die Seine het. O ja en ons het ook met ‘n bootvaart op die Seine gegaan.
Met al hierdie uitstappies het ek leiding geneem en toeristekaarte bestudeer om ons uitstappies en veral die roetes na bekende plekke te ondersoek. So het ek die roetes en besienswaardighede taamlik goed onder die knie gekry. Soms was ek saam met Johan en Lerine op uitstappies of andersins ook saam met die twee ouer mense. Laasgenoemde was minder pret want hulle bewegings was ietwat gestremd met tant Settie wat die lopery moeilik gevind het.
Na die paar dae in Parys is ons na die Suide van Frankryk en daarvandaan deur Spanje tot in Madrid, Terwyl oom Stoney en tant Settie feitlik die hele dag skoenwinkels besoek het om gemaklike nr. 9 skone vir tant Settie te soek het ek die kateraal in Milan besoek. Die skoenekopery was ‘n probleem want die Italianers maak min skoene van daardie grootte vir vrouens! Dit het my tyd gegee om die baie beelde op die dak van die katedraal goed te beskou. Johan en Lerine was by die Fiat fabriek waar hy sy motor laat diens het.
Daarvandaan het ons verder gereis tot in Barcelona, Hier het ek ook maar op my eie rondgeloop of saam met Lerine en Johan. Hulle het nie in hotelle tuisgegaan nie maar by karavaanparke gekamp. Ek onthou ook dat ek een aand ewe verveeld in die hotel foyer gesit het nadat Oom Stoney-hulle reeds gaan slaap het. Twee mans uit Noord Afrika het met my begin gesels en kort voor lank was ek strate toe saam met hulle. Min bewus van hoe gevaarlik dit eintlik was om so ‘n uitstappie met vreemdes te doen. Nietemin het die aand sonder voorval verloop en het ek ‘n smakie van die naglewe in Barcelone gekry. Die volgende oggend was oom Stoney erg omgekrap toe hy verneem het van my nagtelike omswerwinge.
Van Barcelona af is ons na die destydse Tjeggosolowakye waar ons by ‘n lieflike hotel met ‘n eie privaat strandjie oorgebly het. Ek dink dit was in Llubiljana en onthou hoe graag ek verder sou wou toer in die mooi land maar ons het slegs die volgende dag in Sofia gestop waarvandaan ons na Oostenryk is.
As ek reg onthou is dit hier waar Daantjie uit die bloute by ons aangesluit het! Ek was ietwat ongemaklik hieroor maar dit was eintlik lekker want hy het planne gehad om lekker dinge op die toer te doen en ek het my dit laat welgeval. Presies op watter stadium van die toer ons Griekeland toe was kan ek nie mooi onthou nie.
Daantjie was niks geïnteresserd daarin om katedrale en museums te besoek nie en wou eerder in die Middelansde see gaan swem! So gesê, so gedaan en ons het ‘n heerlike dag by die strand spandeer. Sommer met die intrapslag het ons vriende gemaak met ‘n jong klomp op die strand. Hulle het vertel dat die seiljag wat ‘n entjie dieper in die see aan anker gelê het aan hulle pa behoort het. Toe het ons saam met hulle op ‘n klein bootjie geroei tot by die seiljag! Dit was groot pret!
Afgesien van besoeke aan die toeristeplekke in Athene is ons ook op ‘n boot toer na die eiland van Capri. Dit was nog iets wat op my wenslys was en ek was gladnie teleurgestel nie. Die Blou Grot was ‘n asembenewende gebeurtenis en die eilandjie pragtig met bougainvillas wat donkerrooi oor die mure getuimel het.
Gedurende die toer is ons toe verder deur Oostenryk, Switserland en Duitsland. Ek kan nie meer die volgorde van die besoeke onthou nie. Lerine en Johan was van Oostenryk af Hongarye toe en toe terug huis toe. Ons het nie visums vir Hongarye gehad nie.
Verskoon maar as ek slegs herinneringe aanhaal en nie altyd die volgorde en toerplan meer so goed kan onthou nie. Dis mos darem eintlik die plekke wat saak maak en nie meer die reisplan nie.
Ek onthou dat ons in Switserland was met die somer ewening op 22 Junie. Ons was in Genoa en het daarvandaan ook die Jungfraujocht per kabeltreintjie besoek waar ek vir die eerste keer in my lewe regte sneeu gesien het en selfs die yspaleis. Dit was 'n ongelooflike mooi sonnige dag en ek onthou veral 'n pragtige sonsondergang met die Matterhorn wat pienk vertoon het in die aandskemering.
Oom Stoney was 'n groot bewonderaar van Hitler wou die bergvesting by Berchtesgaden besoek maar dit was op daardie stadium moeilik om aanwysings te kry. Hy het egter daarin geslaag en ons is met die ondergrondse tonnel tot bo by die uitkykpunt vanwaar die mere soos blink juwele ver onder in die valleie geskitter het. Daardie nag is vure oral op die bergspitse aangesteek en het volksmusiek oral op geklink soos die Switsers die midsomerdag gevier het. Dit was 'n vrolike besigheid wat ek ook lank sal onthou - veral die musiekinstrumente wat gebruik was en die tradisionele drag van die kunstenaars en ander.
Die toer het vinnig einde toe gestaan. Ons het met die terugtog weer Parys besoek en hierdie keer was dit ‘n baie aangenamer ervaring. Alles was skoon en netjies en Daantjie was by om saam met my die stad te verken. Hierdie keer kon ek gemaklik die roetes vind na die toeristeplekke. Ek onthou spesifiek ‘n wonderlike ervaring toe ons by Mont Marte was en ook die Sacre Coer besoek het. Terwyl ons ons die katerdraal was het die orrel gespeel en dit was ‘n onvergeetlike, asembenewende ervaring. Ons was ook by Napoleon se grafkelder.
My geheue laat my in die steek en ek kan nou nie onthou of ons op die terugreis Griekeland toe was of nie maar dit maak nou nie saak nie. Ons laaste stop was in Istanbul. Nog ‘n wenslys item. Daantjie was intussen al terug na Suid-Afrika.
Op die eerste dag in Istanbul wou ons na die Topkapi museum, die Santa Sophia kerk, die Blou Moskee en die groot basaar (die Dere Cikmazi ? spelling) gaan. Dit was maklik om die moskee en die kerk te kry maar die taal was ‘n probleem wanneer ons hulp nodig gehad met roetes. So sit ons toe maar ‘n koffetjie en drink en wonder hoe ons by die Groot basaar kon kom. Terwyl ek die mense so sit en beskou merk ek toe ‘n man op wat in ‘n Engelse koerant sit en lees. My eerste reaksie was dat hy Engels sou kon praat as hy dit kon lees en ek staan toe daar en dan op om by hom te gaan verneem hoe mens by die basaar uitkom.
Hy was ongelooflik vriendelik en bied daar en dan aan om ons nie slegs te wys hoe om by die basaar uit te kom nie maar ook om as ons gids vir die dag op te tree. Alles net vir die lekker en sonder vergoeding! So ontmoet ek toe vir Necmettin Bas en vind ook uit dat hy ‘n bekende nasionale sokkerspeler vir Turkye is. Dit was nie slegs ‘n baie lekker dag met heelwat laaste minuut inkopies nie, maar ook ‘n goeie begin van ‘n lang vriendskap met die Turk. Terug in Welkom het ons begin om aan mekaar te skryf en die korrespondensie vir ‘n goeie paar jaar aan die gang gehou. Ek was vas van plan om op ‘n later stadium weer Turkye toe te gaan!
Laaste dae in Welkom en my eerste siekverlof
Na die oorsese toer is Daantjie Amerika toe om daar sy navorsing voort te sit. Ek het ek die een brief na die ander van hom gekry waarin hy gevra het dat ons weer verloof moes raak en die verhouding moes laat herleef. Hierin het ek niks belanggestel nie want in Welkom het ek aan beweeg en vriende gehad wat regtig vir my omgegee het. Na die eerste brief het ek nie eers sy briewe oopgemaak nie maar summier weggegooi.
Toe skielik is daarop ‘n dag vir my ‘n besoeker by die verpleegsterstehuis en daar staan Daantjie lewensgroot en vertel dat hy persoonlik by my wou kom hoor waarom ek nie verder in hom belangstel nie. Ek was nie eers daarvan bewus dat hy terug was van die VSA nie. Wel ek het regtig nie belangestel nie en dit kon my gladnie skeel wat van hom word nie, selfs al sou die voortsetting van die verlowing en ‘n troue dalk beteken dat ek in die buiteland sou gaan woon. Hy is druipstert daar weg en ek het jarelank nie weer van hom gehoor nie, maar steeds met sy suster en ouers kontak behou.
'n Werkaanbieding in Bloemfontein
Terug in Welkom het dinge maar soos gewoonlik verloop maar die gevoel dat ek nie meer ‘n dieetkundige wou wees nie het al hoe sterker na vore gekom. Soos reeds genoem kom ek toe af op ‘n advertensie vir ‘n huishoudkunde pos by die Wolraad in Pretoria. Ek het dadelik geskryf en aansoek gedoen. Die pos sou kennis van kleding en modeontwerp vereis en het my soos ‘n handskoen gepas. Boonop het dit goed geklink dat ek na Pretoria sou moes verhuis. Ek kan nie onthou wat die aansoek (dokumente) alles ingesluit het nie, maar ek kry toe bevestiging dat ek suksesvol was met my aansoek teen ‘n baie beter salaris as wat ek by die hospitaal verdien het.
Na hierdie goeie nuus is ek toe dadelik na Dr. van Schalkwyk om my bedanking in te dien en hom in te lig dat ek klaar was met dieetkunde. Hy was gladnie gediend met my besluit nie en het gesê dat hy eers met die Direkteur van Hospitaaldienste in Bloemfontein wou praat. Hoe meer ek daarop gewys het dat ek klaar besluit het en nie van plan was om iets anders te oorweeg nie, hoe meer het hy aangedring daarop dat ek asseblief nie moet bedank nie.
Die volgende dag bel hy toe en sê dat ek hom moet kom sien. Hy lig my toe in dat Dr.Kruger, die destydse Direkteur van Hospitaaldienste by die Provinsiale Administrasie my persoonlik wou spreek en dat hulle aan my ‘n amptelike (PAO) motor sal voorsien om Bloemfontein toe te ry vir die onderhoud. Ek het steeds nie hierdie aanbod aanvaar nie en maar gesê dat ek daaroor sal dink en hom die volgende dag sou inlig oor my finale besluit. Ek wou steeds nie meer dieetkundige wees nie!
Daardie aand is ek toe soos gewoonlik weer tussen my maats en dra die nuus van die Bloemfontein besoek oor aan hulle. Hulle kommentaar was net dat dit ‘n heerlike geleentheid sou wees vir ‘n dag weg van die werk en dat ek moes gaan al besluit ek ook wat. As ek die aanbod wel sou aanvaar kon ek steeds werk as dieetkundige maar dat my stokperdjie tog altyd kleding en modeontwerp sou wees.
So besluit ek toe tong in die kies dat ek die avontuur sal aanpak en lig Dr. Van Schalkwyk in daaroor. Heel braaf en vasbeslote meld ek toe aan in Bloemfontein vir die onderhoud met Dr Kruger. Eerste wat ek toe vertel word is dat hy my die pos van hoofdieetkundige vir die Vrystaat aanbied. My reaksie was bloot dat ek gladnie daarvoor gekwalifiseerd was nie en regtig nie belangestel het nie. Hy reken toe dat soos hy verneem ek goeie werk in Welkom doen en goed gevaar het as dieetkundige by die hospitaal in Welkom.
Sy volgende woorde ruk my toe tot stilstand! Hy reken toe mos dat die enigste hospitaal wat groter as Welkom was die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein was en as ek dan nou nie kans sien om iets te beteken vir kleiner hospitale soos Winburg en Jagersfontein nie ek dan maar die pos by die Wolraad moes aanvaar. Wel daar rys my nekhare toe want die een ding wat nie vir my gesê moes word was dat ek nie goed genoeg sou wees vir ‘n nuwe uitdaging nie.
My reaksie was dat sy meedeling my verder laat dink en dat ek dalk tog sou kans sien om sy aanbod te aanvaar. Toe kom die salaris ter sprake en hy vra my wat die Wolraad my aangebied het. Om hom te toets lieg ek so bietjie by en noem ‘n bedrag dubbel soveel as wat ek regtig aangebied was met die idee dat dit hom van sy plan sou laat afsien. Hierop reageer hy toe deur te sê dat die salaris as hoofdieetkundige twee keer soveel sou wees. Ek was stomgeslaan! Alles was net te aanloklik en die klomp geld wat ek sou kry was ook nie te versmaai nie. Op daardie tydstip was ek maar op die beginsalaris van ‘n dieetkundige. Kan jy glo! My salaris op daardie stadium was R1800 per JAAR!
Daarvandaan sou ek in die hoofdieetkundige pos spring tot R3600 per jaar. Ongelooflik! So word ek toe per ongeluk tog ‘n dieetkundige en reël ons dat ek aan die begin van 1969 in Bloemfontein sou begin werk as hoofdieetkundige. Hierdie gebeure was teen die einde van 1968 en ek wou nog ook eers betrokke wees by die reëlings vir die Kersfees ete by die hospitaal voor ek na Bloemfontein sou verhuis.
Siekte en hospitalisasie
Kort voor Kersfees daardie jaar word ek toe baie siek met die allerverskriklikste bloeding en buikpyne. Soveel so dat ek die aand dog ek is besig om dood te gaan maar weier dat my tehuismaats my na die Ongevalle Afdeling neem. Hulle dring toe later egter daarop aan, neem oor en ontbied uiteindelik ‘n portier met ‘n rolstoel om my na die Ongevalle Afdeling te neem.
Daar aangekom is dit toe my lot dat een van die huisdokters met wie ons so lekker saam gekuier het, my moet ondersoek en verwys. Ek was so siek dat selfs hierdie verleentheid my nie kon pla nie en ek word na Dr. Roos, ‘n ginekoloog verwys wat my vroeg die volgende oggend sou kom ondersoek. Hy het nie veel gepraat nie maar net gesê dat hy ‘n laparotomie sou doen om vas te stel wat fout was en het die noodoperasie dadelik gereël. Dr van Schalkwyk sou hom assisteer.
Ek het nie gou bygekom na die operasie nie maar was bewus van ‘n kamer vol blomme toe ek bykom. Omdat ek so baie bloed verloor het het ek ook op daardie stadium nog ‘n bloedoortapping gekry want my hemoglobienvlakke was gevaarlik laag. Dit was eers die tweede dag na die operasie dat ek werklik my besoekers behoorlik herken het want tyd het stilgestaan. Ek het almal gesien behalwe Carol. Sy het later wel gekom en gesê sy was daar, maar dit het vir haar te veel gevoel asof ek regtig besig was om dood te gaan. Daarna het sy my breedvoerig ingelig oor die operasie en die diagnose. Carol het vertel dat ‘n groot sist verwyder was en het gelui dat: “Die sist so groot soos ‘n kleinerige lemoen was maar volgens Annette se vertellings dit meer so groot soos ‘n moerse nawel was!”
Ek is feitlik direk daarna ontslaan en het in die Datsun geklim en plaas toe gery. Dit was nie goed nie omdat ek nie veronderstel was om motor te bestuur so kort na die operasie nie en ek het taamlik uitgeput op die plaas aangekom. Van my begeerte om deel te wees van die Kersfeesverrigtinge by die hospitaal in Welkom het daar toe ook niks gekom nie. Dit was in die dae tussen Kersfees en Nuwejaar en my trek Bloemfontein toe het ook nog voorgelê.
Ek het intussen ‘n eenslaapkamerwoonstel naby die Nasionale Hospitaal gehuur en Philip sou my help met die trekkery. Ek is weer saam met Ma terug om my goed by die verpleegsterstehuis ook te gaan haal. Daardie trek was seker die maklikste wat ek ooit gehad het want ek is van die plaas af weg met ouma se koperbed, ‘n “Dolly Varden” spieëltafeltjie en ‘n paar bokse met klere en huisgoed wat Ma verskaf het. Die ander meubels sou ek in Bloemfontein aankoop. Philip het vir my ‘n yskas gekoop wat ek vandag nog gebruik en daar was ‘n stoof in die woonstel. Verder is ek weens my swak toestand nie toegelaat om enigiets te pak of te dra nie en moes net aandui waar alles geplaas moes word.
Op 2 Januarie 1969 het ek in Bloemfontein begin werk…
No comments:
Post a Comment