Wednesday, September 28, 2016

Outobiografie Deel 31: The Hillside


Terwyl ons nog in Ednastraat gewoon het na al die huisverbeteringe aangebring was het Hennie begin praat daarvan dat ons dalk iewers by die see moet gaan aftree. Ons het toe besluit om Kaap toe te ry en die wêreld daar rond te gaan verken. Ons het van die Kaap af al met die tuinroete langs getoer en toe uiteindelik in Jeffreysbaai ‘n erf gesien wat moontlikhede ingehou het. Hennie het die erf gekoop en ons huis in Ednastraat verkoop.

Ek het begin met huisplanne opstel en dit baie geniet om daaraan te werk. Uiteindelik was die planne gereed en het Hennie begn reëlings tref vir bouers. Ons was van plan om ‘n huis te huur in Jeffreysbaai totdat die bouery voltooi sou wees. Toe begin die probleme – ons kry nie ‘n huis te huur nie en sukkel ook met bouers. Dit was net feitlik onmoontlik om oor die lang afstand van Pretoria af alles in plek te kry. Intussen het die tyd nader gekom dat ons moes uittrek uit die huis in Ednastraat. Toe verander al die planne en Hennie besluit dat ons dan maar liewer in Pretoria moet bly en weer eens begin ons huis soek.

Dit was nogal ‘n moeilike soektog want ons wou ‘n huis hê met klein tuin en het nie kans gesien om weer te restoureer en feitlik oor te bou nie. Ons soek toe tevergeefs maar kry niks wat in ons smaak val nie. Uiteindelik word ‘n huis vir my gewys waar ek moontlikhede sien maar dan sou ons moes restoureer. Uiteindelik kry ek Hennie sover dat hy darem na die eiendom gaan kyk. Daar was moontlikhede maar werklik baie om te doen. Hy stem saam met my voorstelle vir verandering en begin onderhandel oor die prys. Dit alles lei toe daarna dat ons die huis koop teen ‘n baie laer prys as wat aanvanklik gevra was.

So trek ons toe in en bou eerste ‘n kantoor en stoorkamer aan. Meeste meubels word later hier en in die garage gestoor. Na die buitegeboue voltooi is word die dak heeltemal afgegooi en die hoofslaapkamer, eetkamer en stoep uitgebou. In hierdie tyd was daar net een kamer en die gastebadkamer wat bruikbaar was. Dit was winter en met die dak af het die wind snags geloei deur die oop gang. Terselfdertyd was ek in die hospitaal vir ‘n operasie en moes maar so aansukkel.

Ten spyte van die gesukkel het ek dit tog geniet om alles presies volgens my voorkeure te beplan. Die restourasie en feitlik oor bou van die huis het ongeveer twee jaar geneem. Toe het ons ‘n pragtige leef huis gehad en die volgende op ons wenslys was om in Europa te gaan toer.

Ek wys hier sommer ‘n klomp foto’s van The Hillside want ons het so lekker daar gewoon.



 
 

 
 

 
Van toer en die lewe geniet het daar toe ook niks van gekom nie. Ek was steeds betrokke by die Technikon met die afstandsonderrig program. Ek het lekker maats gemaak met ons buurvrou Edna Adams en baie tyd saam met haar spandeer. Ek het ‘n lekker naaldwerkkamer gehad en het heerlik met laslappies gewerk en ook aandag aan my syverf gegee.
 

No comments:

Post a Comment