Monday, September 12, 2016

Outobiografie blog Deel 27: Flentertjies van onthou


Hierdie blog bevat sommer net los herinneringe wat agterweë gebly het by my ander skryfsels en nog iewers in die geheue lê.

Berge klim

Wat ek nie vertel het nie was dat Pa ook ‘n klein plasie naby die dorp gehad het – Lentelus. Dit was eintlik net weiveld met ‘n klipperige spruitjie (wat vir my as kind soos ‘n bergstroom gevoel het). Vandag kan ek nie eers die klipperige omgewing sien as ons daar verby ry nie. Daar het pa ‘n troppie skape aangehou. Dit was altyd lekker as Pa op ‘n Vrydag na skool daar aangery het om na die skape te gaan kyk. Dan kon ek bietjie rondhardloop en die natuur wat so effens anders as ons plat graanlande was, geniet.
Die "Berg" op die Roodts se plaas
Ek het vandat ek baie klein was ‘n bewondering vir berge gehad. Waar dit vandaan gekom het in die plat Vrystaat weet ek nie, maar kranse en klowe het my betower. Die naaste wat ek as kind daaraan kon kom was by die buurplaas van oom Piet Roodt. Daar was so ‘n klein koppie wat vir my ‘n berg was en ek kon nie wag om daar te kom en saam met Barbara te gaan “berg klim” nie. So het ons dan na die koppie gestap en daar rondgeklouter. Bo gekom het dit gevoel of ‘n kind tot by vir altyd kon sien.

Hierdie rondlopery het ook ‘n soektog na aalwyne en vetpantjies ingesluit want ek het op die plaas vir my ‘n rotstuin gebou. Dit was ook nogal ‘n soektog om mooi klippe te kry vir my rotstuin maar moeiliker om die klippe by die huis te kry. Ons het dan maar klein aalwyne uitgegrawe en ook plakkies en dit was die somtotaal van plantjies in my rotstuin. Die groter taak was om ontslae te raak van die onkruid tussen die klippe wat geiler gegroei het as my vetplante.

Een ding wat nie lekker was by die Roodt gesin nie was die harige swart wurms wat in die kareebome was. Hulle het sommer maklik op mens se kop geval as jy long drop toe gestap het en was ook soms teenwoordig in die longdrop! Die seuns het ons ook daarmee rondgejaag!

Later jare het ek egter die geleentheid gehad om regte berge te klim. Saam met Daantjie in die Kaap het bergklm deel uitgemaak van baie van ons naweek uitstappies. Tafelberg van reg onder die kabelspoor af tot bo was ‘n lekker klimroete en dan weer af met diesefde roete. Die aftog kon ons later in ongeveer 20 minute doen.
 
‘n Staptog om Leeukop of kliim tot bo was ook deel van ons uitstappies. Die lekkerste bergklim was egter in en om Stellenboesch en veral die Pieke en sommer net staptogte in Jonkershoek omgewing en langs die Eersterivier. Die heel lekkerste wat ek altyd sal onthou was ‘n naweek bergklimkamp in die Sederberge waarvan ek reeds vertel het.

Die brand

Terwyl ek al op Universiteit was en vir die April vakansie tuis was was daar ‘n ernstige ongeluk op die plaas. Die gebruik was dat ek gedurende die Aprilvakansie somersklere huis toe sou vat en my wintersklere reg kry vir die volgende kwartaal op Universiteit. Ma het self gesorg dat die wintersklere droogskoongemaak word. Hiervoor het sy vier-gallon dromme bensien aangehou en die huishulp wat die klere gewas het opdrag gegee om die klere met die bensien onder die bome voor die agterdeur te was.

Ons was in die woonkamer besig om naaldwerk te doen toe ons ‘n geweldige geskree hoor en twee bolle vuur by die venster verby sien hardloop. Ma het dadelik uitgehardloop en die bediendes tot stilstand gedwing terwyl sy geskree het dat ek komberse moes bring sodat ons die vlamme kon blus. Altwee bediendes was reeds erg verbrand. Wat gebeur het was dat die een wat die klere moes was in die strykkamer ingeloop het waar die ander een besig was om klere te stryk en die strykysters op die paraffienstofie/ primus met die oop vlam warm gemaak was. Sy het Ma se opdrag ignoreer en wou die klere was terwyl sy gesels met die ander vrou.

Toe sy die bensien oor die klere uitgooi het dit dadelik ‘n die brand geraak en die ontploffing van die primus wat gevolg het het die deur laat toeslaan. Toe hulle uiteindelik die deur oop kry was hulle klere reeds aan die brand en die hardlopery na die kombuis het die toestand vererger.

Die buitekombuis waar hulle gewerk het was ook in ligte laaie en almal wat byderhand was moes help om die vlamme te blus sodat dit nie verder versprei nie. Gelukkig was dit naby die sementdam vanwaar water verkry kon word om die vuur te blus en was die buitekamer afgesonder van ander geboue. Alles was egter daarmee heen en in die proses my somersklere wat gewas moes word asook die bondel wintersklere.

Na die brand is ‘n ambulans ontbied om die vroue hospitaal toe te neem. Die naaste hospitaal was op Winburg. Hulle het die brand oorleef maar was ongeveer nege maande lank in die hospitaal. Ma het maar gereeld op Winburg besoek afgelê om vir hulle die nodige klere en eetgoedjies te vat terwyl hulle in die hospitaal was.

Die buitegeboue was gelukkig ingesluit by ons versekering en Ma kon terug eis vir die skade. Die buitekombuis is nooit weer oor gebou nie en omtrent net die Dover stofie het ongedeerd agtergebly.

Die groter probleem was egter om vir my klere te kry binne die bestek van die paar dae wat oor was voor ek terug moes gaan Pretoria toe. Tyd om klere te maak was daar nie en ons moes Bloemfontein toe om klere te gaan koop. Ek dink dit was omtrent die enigste keer dat ma vir my klere gekoop en nie self gemaak het nie. Wat ek wel onthou was dat sy besig was met ‘n nuwe rok vir my en toe ek terug was op Universiteit was daar ‘n ander student in ons koshuis wat ‘n soortgelyke rok gehad het wat van identiese materiaal gemaak was.

 Motorongeluk

‘n Ander ongeluk waarby ek direk betrokke was was met een van pa se splinternuwe motors. Ek dink ek was nog op skool maar kan nie mooi onthou nie. Hoe dit ookal sy het Pa sy eerste nuwe motor kon koop en nie bloot oom Ouman Steyn se tweedehandse motor nie. Sy keuse was ‘n splinternuwe tweekleur (wit en groen) Holden stasiewa. Pa het in daardie selfde tyd ook ‘n plaas verder noord van Werda en ongeveer 10 myl van Werda af gekoop waar daar slegs landerye was. Die plaas se naam was “Welkom”. Om Welkom plaas te kon koop het Pa Lentelus verkoop. Later is Welkom plaas weer verkoop om hom in staat te stel om die buurplaas Sweet Home te koop.

Pa besluit toe om met die nuwe motor Welkom plaas toe te ry en ek is saam. Ek het toe al reeds ‘n paar lesse in motorbestuur gehad by pa en dit was ook ‘n geleentheid waar ek weer ‘n slag “die wiel kon vat” op die plaaspaaie hoewel ek nog nie ‘n bestuurderslisensie gehad het nie. Ek was te jonk daarvoor.

Na ons kort besoek aan die plaas het Pa soos gewoonlik by die naaste bure aangery waar ons tee gedrink het. Toe ons na die teedrinkery uitgery het by die hek het hy ingestem dat ek sommer so in die ry oorklim na die bestuurdersitplek en verder bestuur. Alles goed en wel met die oorklimmery, maar kort na ons van die plaaspad afgedraai het in die tersiêre pad in was daar ‘n erg sanderige stuk pad. Soos die toeval dit wou hê hardloop daar toe ‘n hond reg voor my in net toe ek by die sanderige strook pad kom. Ek swenk toe uit maar verloor beheer oor die motor en die motor gly in die sand en daar rol die motor en wip oor die doringdraad aan die oorkant van die pad om weer op sy wiele in die mielieland tot stilstand te kom.

Gelukkig het die motor nie die ankerpaal of groter pale getref nie maar ruite is gebreek en die dak erg ingeduik Soveel so dat Pa my maar deur die voorste venster uit die motor moes trek. ‘n Ander buurman was besig op sy huis se dak en het die petalje van daar af sien gebeur en hom na ons gehaas. Pa het net seker gemaak dat ek vir niemand vertel dat dit ek was wat bestuur het nie en die bure kon gladnie glo dat Pa wat so ‘n goeie bestuurder was, so ‘n ongeluk kon maak nie. Ma was in ‘n toestand want sy het geglo dat so ‘n trauma te veel kon wees vir Pa se swak hart. Uiteindelik was die motor toe darem na ‘n maand of twee goed herstel want dit was eintlik net die dak wat beskadig was terwyl die enjin en onderstel geen skade opgedoen het nie.

 Kuier met Philip

Terwyl ek op Universiteit was was Philip in die Lugmag Gimnasium in Pretoria vir sy verpligte militêre opleiding. Ek het gereeld oor naweke saam met oom Tienie-hulle vir hom gaan kuier, maar veral wanneer Ma-hulle vir ons altwee in Pretoria kom kuier het. Ons het gewoonlik sommer piekniek gaan hou by die Fonteine. Dit was lekker kuiers wat Pa veral baie geniet het.
Pa knip 'n uiltjie tydens een van die kuiers by die Fonteine
Wat ek nooit sal vergeet nie was Philip se briefies aan my terwyl ek op Universiteit was. Dit was soos ‘n Theunissen koerant en vol humor! By die briefies was daar dan ook ‘n geldjie ingesluit om my sakgeld aan te vul. Dit was in die tyd toe hy reeds in die bank gewerk het. So het ons grootgeword en ek en Philip het deur al die jare tot sy dood ‘n hegte vriendskap opgebou.

Ek en Hester

Met Hester het ek eers later jare toe ek reeds in Bloemfontein gewerk het en sy aan die Normaalkollege studeer het beter kontak gehad. Anders as ek was sy baie sosiaal gedurende haar studentejare en het op die Huiskomitee gedien en baie stories gehad oor die eerstejaar studente en veral hulle ontgroening. Sy het ook altyd ’n string kêrels gehad en ek onthou veral hoe nie minder nie as drie van hulle die dag met haar troue droëbek by mekaar heel agter in die kerk gesit het.

Kort voor Hester verloof geraak het was het ek haar omgepraat om saam met my op ‘n boot toer na die Seychelle eilande te gaan. Die boot waarmee ons gereis het was ‘n ouerige Griekse passasiersboot. Dit het ons nie geweet nie en ook nie dat ons ‘n storm sou beleef in die Mosambiekkanaal op die eerste aand van die toer nie. Ek was min gepla oor seesiek word en het gereken dat ek gladnie pilletjies daarvoor nodig gehad het nie. Hester het wel ‘n pilletjie gesluk. Wel ek word toe natuurlik erg seesiek daardie aand!

Die volgende dag was lieflik en ek gereed om son te soek langs die swembad op die boot in my baie klein gehekelde pienk bikini! Groot fout! My bleek vel was nie gemaak vir sonbrand nie en hoewel ons meestal in die koelte was het ek baie erg sonbrand opgedoen. Soveel so dat ek behandeling by die skeepsdokter daarvoor moes kry en vir die volgende dag of twee feitlik buite aksie was en gladnie op die dek kon kom nie.

Ons het egter lekker maats gemaak met ander passasiers en die funksies op die boot was baie lekker. Ons het aangedoen in Beira en daar onthou ek ‘n baie lekker aand uit om garnale te gaan eet. Dit was min of meer my eerste kennismaking met seekos. Tot vandag toe nog glo ek dat daardie garnale minstens drie keer so groot was as die wat ons vandag ken, maar dit mag ook maar net ‘n oor-reaksie van my verbeelding wees.

By Mosambiek eiland kon ons ook aan wal gaan. Dit was lekker maar ons was bietjie laat om ‘n soort van riksja karretjie te huur vir die uitstappie maar het tog teen ‘n redelike bedrag so ‘n karretjie te huur gekry. Lekker uitstappie en ek was tevrede dat Hester sou betaal daarvoor. Toe die man dus na die toer geld by my kom vra was ek skepties en het geweier om hom te betaal. Ek was oortuig daarvan dat hy net ‘n kans gevat het en Hester was reeds terug boot toe. Uiteindelik was ek toe op die kleiner bootjie wat ons teruggeneem het na die passasiersboot met die man wat steeds aanhoudend skree vir sy betaling. Op die boot aangekom vind ek toe uit dat Hester geglo het ek sou betaal en het ook nie betaal nie. Daar was niks wat ek verder kon doen nie, want die passasiersboot was reeds op pad oop see toe. Ek voel tot vandag toe nog sleg oor daardie man wat so met ons rondgehardloop het en toe uiteindelik geen betaling ontvang het nie. Heelwaarskynlik het daar daardie aand ‘n paar honger kindertjies op Mosambiekeiland geslaap.
Hester op die passasiersboot
Ek het nog darem ‘n fototjie van ek en Hester op die boot tydens die funksie wat gehou was toe ons oor die ewenaar gevaar het. Die Sychelles was pragtig en ‘n onvergeetlike belewenis. Ons het selfs een aand langs die strand by ‘n hotel die eerste Minister en sy gevolg ontmoet. Dit was kort voor die onafhanklikheidswording van die Seychelle Eilande. Ek het ‘n fotoboek gekoop en die man het vir my die boek geteken. Weet nie wat daarna van die boek geword het nie.
Hester en ek tydens 'n boot funksie
Hester het baie maats gemaak op die boot en selfs hier en daar ‘n fling gehad met ‘n bemanningslid of twee. Ek was nie juis baie ingenome met hierdie avonture van Kleinsus nie – seker maar ‘n vorm van susterlike beskerming gewees soos verwag konword van ‘n Ousus. Dit was seker dan ook van haar laaste vry-in-die-bondel-geleenthede want met ons terugkoms in Durban was Gerrit op die hawe en het hy daar en dan vir Hester gevra om met hom te trou.












No comments:

Post a Comment