Hennie was angstig om vroeg af te tree en het toe hy 60 jaar oud was so besluit. Hy wou terug Transvaal toe en spesifiek Johannesburg waar hy baie gelukkige dae spandeer het. Na sy bedanking het ek ook bedank maar moes nog ‘n kennismaand of drie in Boemfontein werk voordat ek kon vertrek. Ek het tussenin saamgegaan Johannesburg toe om huis te help soek en ons het uiteindelik besluit op ‘n erf met ‘n groot huis in Ferndale, Randburg. Soos met ons ander eiendomme in Bloemfontein het hy beplan om restourasie te doen en verbeteringe aan te bring.
Hy het solank met die bouwerk begin en ek het ongeveer elke twee weke Johannesburg toe gegaan om by hom te wees en te help met wat gedoen moes word. Ons huis in Bloemfontein was verkoop en ek het vir die laaste kwartaal by Saghie Wilsnach, Constant se ma geloseer. Ons het goed oor die weg gekom en ek het maar voortgegaan by die Departement met die daaglikse aktiwiteite.
Ek is na die tweede kwartaal in 1989 weg by die Universiteit en het by Hennie aangesluit in Ferndale. Ons trek Randburg toe was nogal ‘n belewenis. Ek per motor met die twee honde en die kat. My fantastiese huishulp Alice het ook saamgegaan om te help uitpak. Dit was ‘n yslike trek met meer as 400 kartondose waarvan ‘n groot gedeelte Hennie se wynversameling was. Die kat was nie gewoond aan motor ry nie en was in haar mandjie maar baie ongeukkig. Die twee honde het die kat se gekerm nie ligtelik opgeneem nie en Alice moes net keer om die troeteldiere min of meer rustig te hou.
In Johannesburg aangekom laterig die Vrydagmiddag was Hennie besig met die bouery en ‘n kontrakteur en die honde het die omgewing begin verken. Tutu, die poedel was veral ‘n baie voortvarende brakkie en bang vir niks! Nie lank nie of sy gewaar ‘n Rottweiler in die erf en bestorm hom. Dit was natuurlik ‘n groot fout en Rottweiler het net een hap na haar gegee. Toe kom Hennie ingehardloop met hond in die hande waar ek in die kombuis besig is om gordyne op te hang. Ek kan net onthou dat hy so ontsteld was dat hy net geskree het: ”Mari! Kom vat jou hond!” Ons hondjie kon nie loop nie en moes dringend by ‘n veearts uitkom. Mari was wel nie daar nie maar Tutu was nou my hond en ek moes help!
Die bouer beduie toe na ‘n veearts en ek moet afsit met die hond. By die plek aangekom is daar net ‘n kennisgewing wat lees dat die veearts na ‘n ander plek verhuis het. Ek ken nie die omgewing nie maar kom toe darem uiteindelik ten spyte van baie swaar middagverkeer, by die regte plek uit. Die veearts wou verdere toetse doen en die hond oornag daar hou. Hy sou ons laat weet wat die prognose was. Ek is baie bekommerd terug huis met die slegte nuus. Die volgende dag sou nog verdere toetse gedoen word en ons sou op die Sondag weer veearts toe gaan.
Daardie Sondag het ek met ‘n baie swaar hart opgestaan. In die kerk was my gedagtes maar heeltyd by die hond. Ek het geweet dat ons afskeid sou moes neem en wou maar net nog een keer vir Tutu vashou. Hennie was net so aangedaan. Die diagnose was toe dat Tutu se rug afgebyt was en dat sy indien sy sou oorleef inkontinent sou wees. Ons kon nie anders as om maar te groet nie. Hennie het geweier dat ek naby die hondjie kom en daaroor was ek baie ongelukkig. Tutu het oor die afgelope paar jare eintlik MY hond geword omdat ek die een was wat haar gebad en versorg het. Hennie was te ongeduldig met die bad en skeer takie. Daardie oggend by die veearts sal ek ook nooit vergeet nie. Dit was die eerste keer dat ek Hennie in trane gesien het en hy het net gesê dat hy nie eers met Mari se dood so hartseer was nie.
Die erf was baie groot en daar was baie werk wat aan die tuin en huis gedoen moes word. Die huis het groot buitegeboue gehad en die sou ons inrig as my ateljee en naaldwerkkamer. Dit was in die tyd toe ek nog baie naaldwerk gedoen het en ook met lapverf aangegaan het.
Die tuin was enorm groot. Eerstens het ons die ongeveer 36 roosbome wat oral in die tuin rond was uitgehaal en almal by mekaar in een reuse bedding geplant. Die uintjies het geil gegroei in die nuwe bedding en ek het dae lank sit en uintjies uithaal terwyl ek natgelei het. Hennie het geglo elke roos moes sy eie “dammetjie” hê en elke tweede of derde dag natgelei word. Dit het goeie vrugte afgewerp en ons het fantastiese mooi rose in Randburg gekweek. Hennie het ook vir water laat boor en ons het nogal sterkerige water gekry wat afgelei was na ‘n groot tenk vanwaar die tuin besproei kon word. Die huisverbeteringe het voortgegaan en ons nuwe jong buurman het die elektriese herbedrading pynlik netjies gedoen.
Kort na my aankoms in Randburg het ons ‘n oproep van een van die direkteure van Fedics Food Services gekry. Hy het kom vra dat ek hulle moet help met die tenders wat vir die privatisering van hospitaalvoedeldienste in die Vrystaat gedoen moes word. Dit het na ‘n goeie joppie geklink wat so ongeveer drie weke sou duur met goeie bonusse. Fedics sou ook vir my ‘n motor beskikbaar stel waarmee ek Vrystaat toe kon ry vir die werk en ek het die pos aanvaar maar hulle duidelik laat verstaan dat ek nou afgetree het en nie weer voltyds wil werk nie. (Later vertel ek meer van my werk by Fedics wat gevolg het op hierdie eerste opdrag).
In hierdie tyd was ek ook nog aktief betrokke by die Suid-Afrikaanse Huishoudkunde en Dieetkunde vereniging wat later die Dieetkunde Vereniging geword het. Met die totstandkoming van die Dieetkunde Vereniging is ek verkies as Nasionale President maar omdat die hoofkantoor in Kaapstad was het ek nie kans gesien vir sulke langafstand onderhandelinge nie en het ek voorgestel dat Elsa Albertse liefs President moet wees terwyl ek as Vise-President sou optree. My betrokkenheid by die vereniging het later suur geraak en het ek bedank om verskeie redes en uitgetree uit dieetkunde. Take soos die opstel van ‘n Nasionale Dieethandleiding waarvoor ek met Hennie se hulp, baie geld ingesamel het, het ook uiteindelik in die slag gebly. Een van die min teleurstelings in my loopbaan waaroor ek steeds nie lus is om te gesels nie omdat ek noodgedwonge sal moet verwys na kollegas wat in daardie tyd my lewe versuur het..
Die werk aan die huis het voortgegaan. Ons het lekker daar gewoon, aangename bure gehad en Hennie se kinders het dikwels kom kuier. Ek onthou baie lekker Kersfees byeenkomste met die kleingoed. By een so ‘n Oukersaand het ons soos gewoonlik reggemaak om geskenke uit te deel. Ek het ligte versnaperinge voorberei waaronder baie vleisrolletjies. Ons wou dat die kinders eerste eet voor die persente uitgedeel word en hulle het almal langs die eetkamertafel stelling ingeneem. Ons het rustig sit en kuier in die sitkamer. Na ‘n ruk kondig kinders toe aan dat hulle klaar geëet het. By nadere ondersoek om kos gereed te kry vir die volwassenes vind ek toe uit dat daar feitlik net ‘n paar tamatiewiggies oor was op die tafel! Die kinders het letterlik alles verorber. Gelukkig het ek toe darem nog noodvoorraad in die kombuis gehad. Een van die dogtertjies se kommentaar was net: ”Ons was darem lekker stout né”? Daarna was vleisrolletjies elke Kersfees op die spyskaart maar die kinders het nooit weer so baie geëet nie.
Uiteindelik het die groot huis en tuin te veel geword vir ons om te hanteer en het ons begin dink daaraan om ‘n meenthuis met baie klein tuin aan te skaf. Ons het ‘n erf gekoop en ek het begin planne opstel vir die nuwe huis. Planne is goedgekeur en die bouery het begin.
Dit was ‘n lekker leef huis en ingerig met al my voorkeure in plek. Die hoofslaapkamer, kombuis, eetkamer en sitkamer asook ‘n groot spens en ingangsportaal was op die grondvlak. Op die eerste vloer was twee slaapkamers vir gaste, my naaldwerkkamer en twee en suite badkamers met ‘n groot portaal rondom die trap en ‘n groot balkon aan die noordekant. Die tuin was piepklein en het ‘n area van ongevveer 1.5 meter aan drie kante rondom die huis beslaan.
Daar was ‘n parkie aan die noordekant van die huis langs die Jukskeirivier en ‘n oop stuk grond aan die suidekant oorkant die straat. Op ‘n dag gewaar ek toe ‘n seuntjie wat met ‘n golfstok wil balle slaan by die oop stuk grond maar gladnie regkom nie want twee kiewiete vlieg al om sy kop. Ek besef toe dat daar iewers ‘n nes is en stap oor na hom toe. Ons kry toe die nes met twee eiers in en hy verstaan toe dat hy net daar moet wegbly. So volg ek toe die uitbroei van die kiewietkuiekens getrou elke dag totdat twee kleintjies saam begin draf. Een van die twee het dit nie gemaak nie maar die ander een was ‘n baie gehoorsame kuiken. Ma het gewoonlik saam met hom langs die pad bly staan as hulle parkie toe wou gaan terwyl pa oorkant die straat stelling inneem. Sodra daar dan nie motors in sig was nie het pa net gefluit en dan het ma en kuiken vinnig oor die pad gehardloop parkie toe. Die petalje het ek keer op keer dopgehou uit die kombuisvenster totdat kaalgatkuiken groot genoeg was en self weggevlieg het.
Ons het ingetrek by die huis voordat al die werk afgehandel was. Die sekuriteitstelsel was pas installeer en ‘n mooi hout trap gebou na die boonste vloer. Ek was die aand by ‘n Fedics funksie by Jan Smuts lughawe maar het onrustig geraak en vroeg teruggery huis toe. Ongeveer 21:00 die aand was ek tuis en net op pad bed toe maar het nog nie soos gewoonlik die deur na die gang gesluit om Gina uit te hou nie want sy het soms op die mat in die eetkamer gaan piepie gedurende die nag. Hennie was reeds in die bed.
Die volgende oomblik is daar toe iemand by die gangdeur en volgende is hy met die mes teen my keel langs die bed! Inbrekers!! My eerste gedagte was om hom te vra wat hy daardie tyd van die nag soek want ek het die man herken as een van die kontrakwerkers. Ons kon niks anders doen as om gehoor te gee aan hulle versoeke nie en hulle het begin om klere uit die kaste bo-op ons op die bed te gooi. Ons hande en voete was vasgemaak. Hulle het die skuifdeure en diefwering by die kamerdeur oopgemaak en begin om goed uit te dra en oor die muur aan te gee vir mekaar.
Na ‘n ruk kom een van hulle toe aangestap na my met ‘n blikkie appelsap en se:”Drink! You must be thristy!” Natuurlik kon ek nie en beduie na my hande wat vasgemaak is. Hy maak hande los en ek drink appelsap asof dit vir die laaste keer sou wees. Kort daarna kon nog een na my toe en vra:”Let me see your hands”. Gelukkig was die baas skelm naby en beveel die een toe om my uit te los. So gaan die geplunder toe vir ongeveer twee ure voort. Heel laaste loop hulle om die bed en een pluk ‘n lang mes uit! Vir ons altwee was dit ‘n teken dat ons nou doodgemaak gaan word maar die man sny slegs die telefoon koord af en gooi ons motorsleutels op die bed en sê: “There’s your keys. We do not want the cars”. Hulle het toe alreeds beide ons pistole uit die kas by die kopstuk van die bed gehaal. Hulle sluit toe die gangdeur en is uit bydie skuifdeure en sluit ook daardie hek.
Daar lê ons toe erg getraumatiseer maar ek gelukkig darem met my hande wat nie weer vasgemaak was nie. Ek maak toe Hennie se hande los maar ons is steeds vasgekeer en het geen idee hoe en waar die inbrekers ingekom het nie en Gina is nêrens te sien of te hoor nie. Ek het vergeefs probeer om die alarmstelsel te aktiveer om gewapende respons uit te roep maar niemand het opgedaag nie. Ek reken toe dat al wat ek kon doen maar was om om hulp te roep met die hoop dat die bure my sou hoor. Die huis was in ‘n klein kompleks maar die huis reg langs ons was nog nie bewoon nie.
Na ‘n lang geskree om hulp gewaar ek toe dat daar mense oorkant die straat staan en kyk na ons huis se kant toe. Ek roep toe weer en hulle kom versigtig nader. Die een man was gewapen kon toe darem oor die muur kom tot by die kamerdeur. Ek kon hom beduie om te gaan soek vir spaar sleutels wat ek in die eetkamerkas gehou het. Hy is toe die huis in deur ‘n groot ruit wat hulle oopgebreek het en kry gelukkig die sleutels vir die kamerhek. Gina het vreesbevange nader gedraf toe sy ons uiteindelik sien. Ek vermoed sy het elders onder ‘n bed weggekruip terwyl die inbraak aan die gang was.
Iemand het koffie gemaak en suikerwater aangedra. Hennie het ons bouer laat weet en hy was binnekort daar. Sedert daardie aand het ek vir ‘n baie lang ruk gladnie koffie kon drink nie en vir nog langer – amper tot vandag toe – nog nie weer appelsap nie. Die volgende dag het die bouer begin om die mure rondom die huis hoër te bou en Spaanse diefwering voor al die venters aangebring. Hoe dit so vinnig gedoen kon word weet ek nie maar daardie volgende aand was al die diefwering in plek. Ons het ook uitgevind dat die inbrekers die elektriese draad wat die alarm sou aktiveer afgesny het. Die hoof inbreker was inderdaad iemand wat by die sekuriteitsfirma wat die installering gedoen het in diens was. Die volgende dag het ons ook nog van ons besittings langs die Jukskeirivier in die parkie voor die huis gevind. Die inbrekers het klaarblyklik die buit daar sit en verdeel. ‘n Polisie-ondersoek het niks opgelewer nie.
Ongeveer twee jaar na hierdie voorval, terwyl ons al in Pretoria gewoon het het Hennie ‘n oproep van die Randburg Polisie gehad waar hulle hom in kennis gestel het dat sy pistool gevind was en dat hy dit kon kom afhaal. Die storie lui toe dat die Polisie ‘n wenk gekry het dat ‘n inbraak by een van die polisiedienaars se huis beplan word. Die betrokke poliesman en sy vrou was beide in die Polisiediens. Hulle huis het ‘n dakkamer bokant die ingangsportaal gehad wat met ‘n trapleer bereik kon word. Die trapleer kon teruggetrek word tot binne die dakkamer.
Die man sit toe op die betrokke aand die inbrekers en inwag in die dakkamer terwyl sy vrou agter in die huis skuil. Nie hoe lank nie of die inbrekers bars deur die voordeur. Net daar skiet die man toe vier van die vyf plat terwyl die laaste een na die agterdeur probeer vlug. Toe betrap die vrou die man en boei en arresteer hom. Hennie se pistool is toe by een van hierdie inbrekers gevind. So het die vyf inbrekers hulle toe tog vasgeloop met Karma wat seëvier en ek ook gelukkiger voel oor die hele aangeleentheid. Heelwaarkynlik was dit dieselfde vyf wat by ons huis ingebreek het.
Die alarmstelsel het ook na die inbraak goed gewerk. Op ‘n keer het ma by ons gekuier en was die aand reeds in die slaapkamer op die boonste verdieping. Ons het mooi beduie dat sy nie in die portaal moes uitstap na die alarmstelsel geaktiveer was nie. Skielik gaan die alarm toe ietwat later met luide geskel af. By nadere ondersoek tref ons Ma baie verleë aan:”Ag my kind ek het by die deur uitgeloer en sien toe dat die rooi lig net flikker. Ek dag toe ek sal gou uitglip terwyl hy sy oog knip om my radio in jou werkkamer te gaan haal”. Nou ja toe knip hy sy oog nie lank genoeg nie…
Na die inbraak het ons nog vir ‘n paar maande in die huis aangebly maar ons het intussen besluit om na Pretoria te verhuis waar dit dalk veiliger sou wees. Ons het aanvanklik ‘n erf probeer koop by Silver Lakes wat toe nog in aanbou was, maar was nie suksesvol nie. Na ‘n baie lang soektog het ons toe uiteindelik ‘n huis gekoop in Lynwoodpark. Weer eens sou ons verbeteringe aanbring en het ons huisbouery weer begin.
Ednastraat Pretoria
Die trekkery Pretoria toe was ook maar vol probleme. Die vorige eienaar van die huis wat het gevra of hy sekere van sy besitiings in die buitekamer van die huis kon stoor omdat hulle nuwe huis nog in aanbou was en Hennie het ingestem. Toe ons uiteindelik met die trek in gietende reën in Pretoria aanland nadat die meubelvervoerwa langs die pad onklaar geraak het tref ons toe die vorige eienaar se besittings in die garage aan asook in die buitekamer! Ons het haas nie plek gehad om ons eie meubels in te dra nie! In die deurmekaarspul wat hierdeur veroosaak was het ons ook ‘n hele paar besittings deur diefstal verloor omdat ons nie goed genoeg toesig kon hou oor die aflaaiery nie.
Die huis het weer ‘n groot tuin gehad asook ‘n swembad. Ons verbeteringe hier het die bou van kaste ingesluit asook teëlwerk ens. maar minder drasties as by vorige huise. Die grootste werk was aan die tuin en ons het ook weer geboor vir water, gekry en ‘n tenk opgerig. Een buurvrou oorkant die straat het steen en been gekla oor die lelike Jo Jo watertenk maar ons het net gelag daaroor en maar rankplante toegelaat om die tenk ietwat te verbloem.
Op die wal langs die inrit het ‘n groot roostuin kort na ons intrek baldadig geblom. Hennie het sy gebruiklike Smirna vyeboompie geplant en Ma het twee nartjieboompies van die plaas af aangedra. Hennie was maar baie skepties oor die opgeskote nartjieboompies want die wortels was kaal en half verdroog. Hy het nietemin die twee boompies dadelik geplant en wonder bo wonder het hulle geil gegroei. Seker maar omdat hulle met soveel liefde aangedra was. Ons het ook weer ‘n suurlemoenboom en kumkwatboompies net vir die mooi aangeplant. Die voëltjies het tamaties in die blombeddings geplant.
Die voëls in hierdie tuin was ‘n groot plesier en veral twee dikkoppe. Die dikkoppe het bedags in die bedding voor ons kamerdeur geslaap. Hulle was later so ougat dat hulle soggens teen sonop of selfs vroeër al langs die tralieheining aan die noordekant gehardloop en hard geroep het. Hulle was inderdaad goed genoeg om saans oor die heining te vlieg maar het soggens verkies dat die hek liewer vir hulle oopgemaak word. So het Hennie dan met die afstandbeheer die hek oopgemaak en die dikkoppe het ewe kordaat by die hek ingestap. As daar waterplassies in die oprit was het hulle eers gebad voor hulle kom plek inneem het in die blombedding. As die honde gepla het, het hulle net gestorm en hond se kind het padgegee. Gina het hulle maar net aanvaar as deel van die huishouding.
No comments:
Post a Comment