Na al die werk inligting in vorige gedeeltes van my biografie is dit tyd dat ek sommer vir afwisseling net stilstaan by ‘n paar grappige insidente tydens my besoek aan Europa waar ons navorsing gaan doen het oor die Kookvries stelsel.
My reisgenote was Koos van Eeden, die argitek en Koot van Rensburg die ingenieur. Ons toergidse was verteenwoordigers van Aloe Catering en Air Products. Mnr. Dawie Grewar LUR vir Hospitaaldienste en Dr. Kruger Direkteur van Hospitaaldienste het vir ‘n kort rukkie aan die begin van die toer by ons aangesluit.
Ons is met groot opgewondenheid weg uit Pretoria op pad na Frankfurt. Ek was verbaas om die enorme veranderinge en gewerskaf aan Frankfurt lughawe te sien. Die reuse Air Bus vliegtuie is kort vantevore in gebruik geneem en lughawens moes vergroot en opgradeer word om die groter aantalle passasiers wat gelyktydig arrivveer het, te kon hanteer. Dit het my laat besef dat ons vir die Kookvrieskombuis ook toekomstige uitbreidings goed in gedagte sou moes hou.
Ons is van Frankfurt af na Gelsenkirchen om in die volgende dae die fabrieke van Kuppersbusch (Die firma wat in Suid-Afrika verteenwoordig was deur Aloe Catering) te besoek. Ons gidse was twee verteenwoordigers van Aloe Catering. Ek kan om de dood nie nou hulle name onthou nie so kom ek noem die Duitser vir hierdie doel maar Reinhardt.
Ons eerste rit op die Autobahn van die lughawe af was blitsig. Ek was verbaas oor hoe vinnig die Duitsers ry. Kort na die lughawe ry ons verby landerye met lappe geel blommetjies en Koot wil by Reinhardt weet wat dit is. Sy antwoord: “Butterblumen”. Wel Koot was nie tevrede met die antwoord nie en Reinhardt beloof om meer uit te vind. Die volgende dag rapporteer hy toe dat dit “Raps” is. Toe wil Koot meer weet: waarvoor dit gebruik word, hoe dit geoes word en hoe lank die seisoen is ens. (Op daardie tydstip was Raps of soos dit hier bekend is, Canola, nog nie op groot skaal in Suid-Afrika verbou nie). Reinhardt weet nie maar sal uitvind.
Volgende dag verskaf hy antwoorde en so hou die uitvraery aan totdat Koot alles weet van Raps. Nog ‘n dag later ry ons weer verby die geel landerye en Reinhardt wuif met sy hand na die landerye en vra ewe gedweë: “Do you know raps”? Daarvandaan het dit ons sêding geword en elke keer as ons iets gewaar het wat ons nie geken het nie was dit begroet met: ”Do you know raps?”
Voor ons vertrek het Dr. Kruger ‘n lang sedepreek gehou vir Koot en Koos en hulle maak belowe dat hulle my goed sou oppas. Hulle het plegtig belowe dat ek nie beter oppassers sou kon kry nie.
Die eerste aand in die hotel het almal na ete aangekondig dat hulle moeg is en wou bed toe. Ons is toe vroegaand na ons kamers. Terwyl ek toe so staan en uitkyk by die venster merk ek op dat die manne wat so moeg was onder in die straat in ‘n huurmotor klim! Blikskottels! Hulle wou my nie saam hê op hulle uitstappie nie en ek kon raai dat hulle na een of ander rooiligbuurt op pad was.
Toe ons in Gelsenkirchen by die hotel aankom na die eerste paar dae in Duitsland was ons veronderstel om Mnr. Grewar en Dr. Kruger daar te ontmoet maar op navraag kon ons slegs uitvind dat hulle nie in dieselfde hotel as ons was nie. Koot het maar net gesê dat ons wel die volgende oggend Suid-Afrika toe kon bel om uit te vind waar hulle tuisgegaan het.
Terwyl ek nog so staan en redelik nukkerig die straat ver onder beskou sien ek toe twee mans uitgestap kom by wat soos ‘n hotel oorkant die straat gelyk het. Die mans kon net ons twee verlore reisgenote wees en ek is in alleryl af straat toe om te sien of dit wel hulle was. Oorkant die straat tref ek hulle toe aan in die voorportaal van die ander hotel. Blye weersiens en Dr. Kruger wil dadelik weet waar Koot en Koos is. Ek antwoord toe: ”Nee ek weet nie, hulle los my maar elke aand so alleen!” My wit leuentjie het die regte effek gehad en Dr. Kruger vra toe dat ek nie moet laat blyk dat ek hom en Mnr. Grewar opgespoor het nie en dat hy die volgende oggend by ons vir ontbyt sal aansluit.
My reisgenote het toe ‘n geil aand iewers in Gelsenkirchen gehad en heeltemal te veel voggies ingeneem. Die gevolg was dat hulle maar taamlik uitgewas by die ontbyttafel opgedaag het en Koos van Eeden nie eers kans gesien het vir brekfis nie. So stap Dr. Kruger toe in en net daar trap hy hulle uit omdat hulle my so verwaarloos terwyl hulle aand vir aand rinkink! Toe is ons maar almal sonder Koos van Eeden vort op die volgende besoek wat ‘n herhaling van die besoek aan Lufthansa se kombuis was.
Voordat Dr. Kruger-hulle by ons aangesluit het was ons ook na die Küppersbush hoofkantoor om die Uitvoerende Direkteur, Dr. Ahle te ontmoet. Pragtige kantore en die sekretaresse dra mengeldrankies aan vir almal. Heerlik en ek sluk sommer twee glase af soos koeldrank. Toe moet ek ‘n draai loop maar soos my kop draai haal ek amper nie die deur nie. Net buite die deur vra die sekretaresse my toe baie besorgd: “Are you okay”? Wel ek was nie maar ek het gou reggekom en nie verder mengeldrankies gedrink soos die ander nie.
Daarna het Dr. Ahle ons onthaal by ‘n baie ou hotel wat iewers in die 1400’s gebou was in die stad Münster waar hy gestudeer het. Ek dink die hotel se naam was Santa Anna en steeds ‘n uithangplek vir studente. Die plek was stampvol en wat interesant was, was dat die tafels uitgekerf was met die name van baie studente wat daar gekuier het oor die jare. Daar was haas nie nog plek om name by te sit nie. Dr. Ahle was egter ‘n vername gas by hierdie restaurant en hy het toe dadelik gereël dat aan elkeen van ons ‘n skerp messie gegee was om ons name op die tafel uit te kerf. So land my naam toe ook op ‘n tafel in die Santa Anna restaurant!
Daardie middag is ons weer na Küppersbush se kantore om Dr. Ahle aan ons hoogeplaaste metgeselle voor te stel. Hierdie keer was ek voorbedag op die effek van die mengeldrankies en het maar gevra vir ‘n bier. Dr. Kruger het saam met die sekretaresse uitgestap om te kyk hoe sy die drankies meng en teruggekom met ‘n bier vir homself. Intussen het ons hooggeplaasde gas die een mengeldrankie na die ander klaarblyklik sonder moeite weggesluk. Die kantoorkompleks was langs ‘n reservaat geleë waar daaronder andere roofdiere en ja, leeus was wat kortkort gebrul het.
Na verdere drankies verdwyn van die manne toe om ‘n draai te loop en net Dr. Kruger en Koot kom terug. Op navraag waar die ander was het Koot net ewe lakonies gese: “Die groot leeu brul”. Iets het my vertel dat Koot gereken het dat die baas terugbetaal was vir daardie oggend aan die ontbyttafel toe hulle so uitgetrap was. Toe ons uitstap het Koos net vir my gesê: “Sê nou vinnig vir my: ‘My liewe neef Louw my neus jeuk nou” Hehehe! Ek kon dit darem foutloos aframmel! Na ons terug was in Suid-Afrika het ons ‘n partytjie gehad om herinneringe te deel en na mekaar se foto’s te kyk ens. Ek merk toe op dat daar ‘n meisietjie is wie ek nog nooit voorheen gesien het nie en vra stilletjies vir Koot wie sy is. Sy bondige antwoord: “Die welpie!”
Ons het hard gewerk gedurende die week en hard gespeel oor naweke. Die Duitsers het ons na allerhande interesante plekke geneem en dit was vreeslik lekker om die Duitsers in hulle eie omgewing informeel te leer ken. So land ons toe die Sondagmiddag by ‘n plaas restaurant op die platteland iewers buite Gelsenkirchen. Die restaurant was pragtig outentiek Duits. Ek onthou ‘n kaggel waar groot hamme en ander vleis disse gereedgemaak was om ryp te word vir bediening. Ons het eenkant by ‘n tafeltjie gesit naby die deur en aan die oorkant van die tafeltjie was ‘n klein kroegie. So gebeur dit toe dat ‘n koei by die deur instap en net daar ‘n groot bol mis reg indie paadjie laat los.
Die restaurantbaas jaag toe die koei uit by die restaurant en soos sy by die deur uit retireer kom ‘n welgeklede Duitser met blink gepoetste skoene en sy Sondagpak aan ingestap en vra heel luidrugtig wat die koei dan tog nou daar kom maak. ‘n Ander gas antwoord dadelik: ”Sy kom net vir haar Campari.” Campari het blykbaar verwys na die drankie wat meeste susters van die nag by die rooiligbuurt van gehou het.
Ons giggel toe al klaar en Koot pomp my in die ribbes en sê: “O hel hy gaan daarin trap!” Wel dit was ook so toe die blink swart skoen wegsak in die bol mis! Toe moes die man ‘n slag grond toe kyk en kon maar net die ergste van sy skoen afskud voor hy ergerlik uit is by die restaurant – sonder Campari.
Na ons verneem het Reinhardt die petalje so geniet dat hy die volgende Sondag sy familie na die restaurant geneem het met die hoop dat dieselfde weer sou gebeur. Al wat eintlik gebeur het was dat die koei by die verkeerde deur ingegaan het want haar stal se deur was reg langs die van die restaurant. Reinhardt moes toe met familie en al teleurgesteld omdraai huis toe.
Na die manne so ernstig deur Dr. Kruger berispe was is ek oral waar hulle heengegaan het saamgesleep en het ek toe, anders as ander vroue, heelwat van die naglewe beleef. So is ons toe in Hambrug en ek ewe flink saam met die manne op die Reperbahn by ‘n deur in. Die volgende oomblik word ek toe bestorm deur twee van die dames wat my in geen onsekere terme uitjaag by die deur: “Aus hier! Aus hier!” Kompetisie was nie toegelaat nie. Op straat wou ek nie alleen staan nie want dan nader die mans jou en sien jou aan vir een van die dames van die nag en begin besigheid praat.
So is dit toe Koos se beurt om saam met my buite te wag tot die ader nou na hartelus gedoen en gesien het wat hulle wou binne die kuierplek. Weerskante van ons staan toe twee dames wat baie geïnteresseerd in Koos raak en die een skuif al hoe ader aan hom tot sy reg langs hom staan en ewe bedees vir hom vra of hy dalk vir haar kan sê hoe laat dit is. Antwoord die ander een haar toe terug: ”Jy mors jou tyd! Hy het sy eie hoer saamgebring!”
Ons het nog ervarings daardie aand gehad wat my steeds laat grinnik. By een plek het ons weer baie lank buite moes wag voordat die manne uiteidelik weer by ons aangesluit het. Toe moes ek verneem dat hulle vooraf ‘n weddenskap aangehad het om te sien wie die beste prys op die Reperbahn kon beding! Wel die persoon wat gewen het kon vir sy swak aanbod slegs ‘n anderskleurige dame kry en in daardie jare was dit vir ons stoere boere net nie aanvaarbaar nie!
In Swede het werk ons moedeloos gehad. Ons vlug van Hamburg na Stockholm was met vyf ure vertraag wat toe beteken dat ons na middernag in Stockholm land. Daar staan ons toe sonder enige teken van die manne wat ons daar sou ontmoet. Al wat ons kon doen was toe om maar die bus te haal tot by ons hotel. Veertig minute later klok ons toe in by die hotel en daar wag die gidse toe vir ons. Dit was alreeds baie lank na middernag maar hulle hou dadelik met ons vergadering om te reël dat ons om 6 uur die volgende oggend opgelaai sou word om per trein te vertrek na ‘n fabriek wat ongeveer 100 km buite Stockholm was.
Dit was in die middel van die somer en toe ek by die venster uitkyk sien ek toe dat dit reeds lig is en mense in ‘n gebou oorkant die straat reeds werk. Ek was vas oortuig dat ek nie die regte tyd gehad het nie want dit was ongeveer 4 uur die oggend! Later stel ek toe vas dat dit nagskofwerkers in ‘n poskantoor was. So is ek toe heel uitgeput twee ure later op die trein. Dit was ‘n moeilike dag na al die min slaap en ons land uiteindelik weer ongeveer 19:00 in Stockholm waar ons hoor dat nog ‘n besoek vir die dag beplan was by die Elektrolux fabriek wat gladnie op ons reisplan was nie. Daar sit ons toe en luister half aan die slaap na ‘n ellelange voorlegging waarby ons geen belang het nie.
Terug by die hotel word ons meegedeel dat ons oor sowat 45 minute gehaal sou word vir aandete! Daar was Smörgasbord maar ons het van die syskaart af bestel wat ure lank geduur het met groot pouses tussen bediening van geregte. Na middernag het ek toe maar vir Dr. Kruger en Koos gevra of hulle nie asseblief met my sal dans om my wakker te hou nie! So land ons toe weer ongeveer 03:0 in die bed met afspraak vir 06:00 dieselfde dag. Weer verskeie besoeke wat wel baie interessant was.
Ek onthou veral ‘n wonderlike mooi nuwe hospitaal met pragtige kunswerke. Die beplanners van die hospitaal het ‘n kompetisie uitgeskryf waar Sweedse kunstenaars gevra was om kunswerke vir die hospitaal te maak. Oral teen die mure en by wagruimtes was die allermooiste werke en veral die kindersaal was prentjiemooi.
Die patroon van die vorige dae is herhaal en ons het weer eens baie laat in die bed gekom en ook op die laaste dag vroeg geroer om na Mälmo te reis. Na die besoek daar is ons per veerboot oor Kopenhagen toe. Koot se reaksie was net: ”Kom ons gaan drink ‘n bier om dit te vier dat ons ontslae is van hierdie slawedrywers!”
Van al my planne om iets te sien en ervaar van Stockholm het net mooi niks gekom nie. Ek het slegs poskaarte in die hotel gekoop en huis toe gepos vir my ma. Op die vliegtuig het ek ‘n tafeldoek uit ‘n tydskrif bestel en laat aanstuur huis toe. Dit was so erg dat ek toe ek tuisgekom het nie die poskaarte van Stockholm se middestad herken het toe ma dit vir my gewys het nie! My hartsbegeerte was deur al die jare nog dat ek dalk eendag ‘n kans sou kry om net te kan vakansie hou in Swede en Noorweë maar selfs dit was my nooit beskore nie.
Van Swede af is ons Engeland toe. Dit het gevoel asof ons tuisgekom het en ook die einde van die werk gedeelte van die toer! Ek het ‘n aantal hospitale in Londen besoek terwyl die mans Skotland toe was vir ander werkopdragte wat met Universitas Hospitaal verband gehou het. Teen die tyd dat hulle weer by ons aangesluit het was ek al redelik moeg vir die mansgeselskap en bly dat ek gereël het om ‘n dag of twee in Amsterdam by die familie van ‘n Suid-Afrikaanse vriendin deur te bring. Dit was ‘n heerlike ontspanne kuiertjie waar ek wonderlik bederf was en na allerhande interesante plekke geneem was! Geselsery met hulle kleuter was vir ons albei “leuk”!
Voor ons weg is uit Suid-Afrika het ek en Koot ooreengekom om ‘n kort toertjie te doen. Sy keuse was om na die suide van Frankryk te gaan en die strande rondom die Middelandse see te verken. Venesië was ook op ons altwee se wenslys. Ek wou Istanboel toe!
So huur ons toe ‘n motor in Parys en sit af Middelandse see toe. Ek maar taamlik sku om te bestuur maar waag dit toe tog en tref dit ongelukkig dat ek in die besige laatmiddagverkeer in Genoa beland. Die nou straatjies ontsenu my en die volgende oomblik bots ek met ‘n ander motor en veroorsaak ‘n kleinerige opdamming van verkeer op ‘n nou bruggie. Wel Koot moes uithelp en na baie beduie is ons verder hotel toe en die motor terug na die huuragentskap. Gelukkig was ons teen so ‘n gebeurlikheid verseker. Ons sou die volgende oggend vroeg Venesië toe vlieg en daarvandaan na Istanboel.
Toe haal die tyd ons letterlik weer in want omdat ons per motor gereis het was ons nie bewus van die verandering in tydsones nie. Toe ek om drie uur die oggend – volgens my horlsie – wakkergemaak word deur die hotelpersoneel is ek dadelik na Koot se kamer om vas te stel hoe laat dit is. Nee wat hy het dit ook as 3:00 uur en hotelpersoneel het maar ‘n fout gemaak. Toe is ons ewe rustig maar in elk geval wakker en maak maar gereed om die lughawebussie te haal.
By die lughawe kan ons toe dadelik ons bagasie inboek en sitplekkaartjies kry. Ons besluit toe om maar te wag en koffie te gaan soek. Intussen pak ek al my aankopies in my handbagasie op die koffietafel uit om plek te maak vir net die noodsaaklikste goed want ons was van plan om ons groot tasse by Venesië toe te sluit by die lughawe en net die minimum goed saam te neem hotel toe. Sit ek toe so en laat die aankondigings by my verbygaan want ons verstaan in elk geval nie Italiaans nie en daar is nog baie tyd om te wag.
Skielik spring Koot op en roep my: Kom! Dis vir ons wat hulle so afkondig!” Ek raap en skraap om my goed bymekaar te kry en Koot hardloop solank vooruit terwyl ‘n baie ongelukkige lughawe man my help met my pakkaas en as ek kon verstaan het hy seker aanmekaar gevloek ook, maar ek hol agterna oor die aanloopbaan tot by die vliegtuig. Toe ek uiteindelik sit het Koot net aangekondig:”Ons het nie geweet van die tydverskil nie en hierdie vlieënier is haastig!” Die geluk was aan ons kant omdat ons bagasie reeds inbespreek was en hulle die sitplekkaartjies kontroleer het. Ek was net jammer dat ek nie kans gehad het om die lekker koppie koffie op die lughawe te drink nie…
In Venisieë is daar toe geen toesluitgeriewe op die lughawe nie en moes ons met ons hele pakkaas op die taxiboot en in die nou straatjies met trappe op en af tot by die hotel. Ten spyte van al die drama het ons baie lekker daar vertoef vir twee dae voordat ons Istanboel toe gevlieg het.
Die aankoms in Istaboel was ongelooflik. Die lughawe het gewemel van soldate en ons bagasie was op ‘n hoop gegooi en elke stukkie deursoek. Ons lei toe af dat daar vername hogere besoekers die dag ontvang sou word en buitendien was dit ook die eerste dag van die somervakansie met honderde “gastarbeiders” wat uit Europa terugkeer Turkye toe. Met die gesukkel bly Koot toe ook nog aanmekaar tot my ergernis vir my vra:”Nou waar is jou Turk?” Al wat ek kon antwoord was dat ons maar met die bus tot by die hotel moes kom. Die reëling was dat die Turk, Necmettin Bas, met wie ek na ons vorgige besoek goed bevriend geraak het, ons op die lughawe sou ontmoet.
So beland ons toe op die trietsige dag wat die wind waai en voel soos stofstorm in die Vrystaat uiteindeik op die bus. Ek baie moedeloos maar beduie toe aan Koot dat daar op die treurige dag ‘n man met ‘n bos rooi angeliere langs die bus staan en iemand ten minste ‘n aangename verwelkoming gaan kry. Toe draai die man om… en die volgende oomblik maak ons oogkontak en spring hy in die bus en ek sit met die bos rooi angeliere! Turk maak verskoning dat sy motor in die garage is maar dat hy van plan is om Istanboel vir ons te wys soos ons dit op geen ander manier sal ervaar nie!
Ons besluit toe om af te pak by die hotel en dat hy ons later die aand sal kom haal. Ons kuier die aand baie lekker by nagkubs waar Koot hom verlustig aan die “belly dancers” en heerlik gesels met die Turk wat uithaal en wys. Laat daardie nag is Koot toe terug hotel toe en ek en Necmettin besluit om nog bietjie te kuier want hy wil my die sonsopkoms oor die Bosphorus wys! So gesê, so gemaak en daar beleef ek toe hoe Istanboel wakker word in die vroeë oggend voor ons terug is hotel toe. Hy sou ons teen middagete se kant weer kom haal vir verdere uitstappies.
Ek was meer as gereed om bietjie slaap in te haal. Net toe ek aan die slaap laak begin die foon in my kamer aanhoudend lui. Eers ignoreer ek die gelui maar dit hou aan. Toe ek uiteindelik antwoord is dit die ontvangs wat my soek en vra om af te kom na die portaal toe. Nukkerig stap ek toe maar af. Al wat die dametjie daar van my wou weet is of ek die man ken met wie ek die oggend ingekom het. Sy wou net waarsku dat ek onder geen omstandighede met vreemde mans moes uitgaan nie! Ja meisies is toe lankal reeds as werkslawe gevang en verkoop!
Na ek haar gerusgestel het is ek toe weer bed toe.Toe ek die storie aan Necmettin vertel was hy hoogs ontsteld dat die vrou hom nie herken het nie want hy was ‘n baie bekende sokkerseler. Hy het haar toe ook sommer op die daad en in geen onsekere terme gerusgestel dat sy niks het om te vrees vir my veiligheid nie.
Die middag was baie interesant. Eers het ons langs die Bosphorus gesit en Necmettin se bykans vierjarige dogtertjie was saam met ons. Hy kry toe vir ons elkeen ‘n vislyn met hoek aan en ons sit en visvang langs die Bosphorus! Baie suksesvol het ons toe later ‘n dosyn of wat kleinerige vissies wat ons aandete sou word.
Ek was baie geïnteresseerd in die pragtige klein dogtertjie ook. Sy wou pampoenpitte by ‘n stalletjie gaan koop. Haar pa gee toe geld en sy sit af na die stalletjie maar moet agterlangs beduie wat sy wil hê want sy is te klein om oor die toonbank te kan sien. Terug by ons oorhandig sy toe die kleingeld aan haar pa maar nadat hy dit beskou het kry sy opdrag om terug te gaan stalletjie toe want dit was die verkeerde kleingeld! Kan jy glo! So klein soos sy was sit sy toe weer af stalletjie toe en gaan stel die saak reg tot haar pa se bevrediging! Ek kon my oë nie glo dat sy al so “streetwise” was nie.
Na die visvangery sit ons toe af na Necmettin se huis waar hy verder vertel van sy gesin en ‘n eiervrug gereg en die vissies begin gaarmaak. Hy vertel toe dat sy vrou nie by die huis was omdat sy op besoek by haar ouers was. Hy het blykbaar op haar verlief geraak met die eerste ontmoeting. Sy was van Armeense afkoms en kon op daardie stadium nie Turks praat nie maar slegs ‘n klein bietjie Engels. Hulle is toe getroud en hulle het by sy ouers ingewoon sodat sy by hulle kon leer Turks praat. Toe die dogtertjie gebore was het die ma in Armeens met die kind gepraat en hy het bygehou met Turks. Soveel so dat hy nie kon verstaan wat die kind met haar ma praat nie! Die kind kon toe reeds drie tale praat met die bietjie Engels wat sy hier en daar ook by haar ouma en oupa aangeleer het!
Ons kuiertjie in Istanboel was toe heel aangenaam en ons het nog interessante plekke besigtig die volgende dag en weer ‘n draai by die groot basaar en die Hagia Sophia ook gemaak. Ek het heerlik inkopies gedoen en was baie traag om terug te gaan huis toe…
Die Hagia Sophia (Wikipedia foto) |
Die "Grand Bazaar - Kapaliçarçi, Istanboel, Turkye (Wikipeia foto) |
No comments:
Post a Comment