Fedics Food Services
'n Kort oorsig van my werk by Fedics Food Services en die Instituut vir Voedseldiemsadministrasie.
Kort nadat ek die eerste drie weke by Fedics Food Services gehelp het met die tenders vir die Vrystaatse hospitale het hulle my weer genader en ‘n pos aangebied. Tydens ‘n vergadering met die Uitvoerende direkteur en ander senior amptenare by Fedics het Hennie seker gemaak dat ek ‘n baie bevredigende aanstelling by hulle gekry het. Ek sou tien dae per week werk en ‘n motor van my keuse met brandstoftoelaag ontvang. Dit was ‘n lekker geleentheid om daardie BMW waaroor ek gedroom het te kry!
Al wat sleg was, nadat ons Pretoria toe getrek het was die ryery Johannesburg toe twee of drie keer per week. Toe ek daar begin werk het het die herbouery aan die M2 begin en hierdie werk is eers afgehandel kort voor ek ‘n paar jaar later weg is by Fedics. Ek het die probleem gedeeltelik oorkom deur te vra om 7vm te begin werk tot ongeveer 4nm. Dit het my kans gegee om die ergste spitsverkeer te mis.
‘n Groot gedeelte van my werk het bestaan uit besoeke aan die Fedics eenhede waar ek veral aan higiëne aandag bestee het. In die proses het ek ‘n higiëne handleiding ook saamgestel. Die riglyne in hierdie handleiding is gebruik wanneer ek inspeksies gedoen het. Na sulke inspeksies het ek dan ook terugrapporteer aan Mnr. Wigley tydens die maandelikse vergaderings van senior amptenare.
Lizette Olivier was die ander dieetkundige wat saam met my by die Fedics kantoor in Rosebank gewerk het. Ons het saam ook aandag bestee aan terapeutiese diëte en spyskaarte opgestel wanneer tenderdokumente voorberei was. Nog ‘n lekker projek was “Healthwise” waar ons wenke vir dieetterapie aangespreek het.
Vir die werk het ek ook dikwels Vrystaat toe gereis om inspeksies uit te voer by hosptale waar Fedics die spysenieringskontrakte gehad het. Dit was nogal lekker want sodoende het ek vir ‘n ruk lank nog kontak behou met my eertydse kollegas ook.
Na ‘n paar jaar by Fedics het my gehoor so verswak dat ek nie meer suksesvol kon kommunikeer tydens vergaderings nie en het ek bedank. Ek het in die proses goeie vriende gemaak by Fedics en was nogal hartseer om afskeid te neem van hulle. Die werk in ‘n korporatiewe omgewing was ‘n heel nuwe maar aangename ervaring.
Instituut vir Voedseldiensadministrasie
Terwyl ek by Fedics gewerk het, het ek weer onder die indruk gekom dat opleiding noodsaaklik was vir persone wat by voedseldienseenhede gewerk het en nie geleentheid gehad het om voltyds te studeer nie. Ek het gereken dat dit mooontlik sou wees om afstandsonderrig vir hierdie doel aan te wend. Dit sou beteken dat studente nie hulle werk hoef te verlaat om te studeer nie. Wat egter noodsaaklik was, was om onderrigmateriaal saam te stel. Dit was ‘n reuse taak.
Die kursus het bestaan uit ses modules wat alle aspekte van Voedseldiensadministrasie sou aanspreek en moes in Afrikaans en Engels beskikbaar wees. Ek het kollegas genader om te help met die ontwikkeling van die studiemateriaal en het self die redigering en vertaling van meeste modules gedoen. Wat ook gehelp het was dat ek op daardie stadium reeds ‘n boek gehad het wat ek in Bloemfontein geskryf het vir studente. Al wat moes bykom was inligting oor kookkuns en voeding. Die grootste werk was om geskikte grafika te kry en ek het meeste sketse self gedoen In daardie jare het ons nog nie die wonderlike tegnologie van vandag gehad waar mens digitale kameras en grafika kon gebruik nie.
Sestien boeke/handleidings later was die onderrigmateriaal gereed vir aanbieding. Selfs die Internet was nie altyd beskikbaar nie en beslis nie met sulke omvattende inligting as wat ons vandag het nie. Ek het darem ‘n baie eenvoudige rekenaar gehad om mee te werk en het met Micrisoft Word se weergawe 1.9 begin werk!
Nadat die modules voltooi was het ek besef dat ek ook formele erkenning vir die kursus nodig gehad het. Na onderhandelinge met die destydse Witwatersrand Technikon het Jane Spowart meegehep om die kursus geakkrediteer te kry by haar Departement. Ek sou die studiemateriaal verskaf en Wits Technikon het die eksamens behartig.
Ek en Hennie het die kursus oral bemark en kort voor lank het ons heelwat studente gehad. Firmas was bereid om studiegeld te betaal en studente het oor die algemeen baie goed gevaar. Ongelukkig was daar ook die wat nie so goed gevaar het nie maar ons was tevrede dat die kursus suksesvol per afstandsonderrig aangebied kon word.
Na nog ‘n aantal jare is die leerplan vir Voedseldiensonderrig by die Technikon totaal hersien. Dit sou beteken dat ek ook die afstandsonderrig studietmateriaal moes aanpas. Ek het nie daarvoor kans gesien nie en toe is die kursus gestaak deur slegs nie weer nuwe studente in te neem nie maar die wat reeds geregistreer was kans te gee om die kursus te voltooi. Teen daardie tyd was Hennie ook al ernstig siek en het sy versorging my eerste prioriteit geword.
No comments:
Post a Comment