Nadat ek graad gevang het met my D.Admin het ek maar soos gewoonlik aangegaan en lekker gewerk by Kovsies. Werk met die studente was ‘n nuwe ervaring en ek het ook geleer hoe om trane af te droog of slae uit te deel. Oor die algemeen was dit egter goeie ervarings en het ek die studente geniet. My vriendskap met Hennie Kotzé en sy gesin het ook geblom en hy het my huis in Whitesweg dikwels besoek om raad te gee oor die tuin en Saul se werksaamhede.
Laat een middag in 1984 daag hy toe by my huis op. Hy sak in die stoel neer en sê net: “Mari is dood!” Ek was stomgeslaan oor die ontydige nuus en het nie geweet wat om te sê of hoe om te troos nie. Sy het die oggend soos gewoonlik skool toe gegaan waar sy onderwyseres was by die Kleurlingskool in Heidedal. Tydens die pouse het sy inmekaargesak en ‘n ambulans is ontbied. Sy was oorlede toe die ambulans by Universitas hospitaal aankom. Die oorsaak van haar dood was waarskynlik ‘n aneurisme maar ‘n presiese oorsaak van haar dood is nooit vasgestel nie. Hennie het dit oorbodig geag om ‘n nadoodse ondersoek te laat doen want volgens hom sou dit niks aan die situasie kon verander nie.
Na Mari se begrafnis het ek en Hennie se vriendskap voortgeduur en was ons dikwels in mekaar se geselskap. Geleidelik het ons meer en meer raakpunte gevind en het die verhouding verdiep. Teen die einde van die jaar het hy my genooi om saam met hom en sy kinders Kersfees te vier. Dit sou ook die eerste keer wees dat ons in hierdie nuwe verhouding van aangesig tot aangesig met die kinders kom. Ek was maar baie senuweeagtig want dit was nie slegs die eerste Kersfees vir hulle sonder Mari nie en sou buitendien ook op 21 Desember die herdenking van haar eerste verjaardag weg van hulle wees.
Ongeveer in November daardie jaar het Hennie aangedui dat hy verloof wou raak en was ons Johannesburg toe om ‘n diamant te gaan koop en ‘n ring te laat maak. Ek het vermoed dat hy oor Kersfees die verlowing bekend sou maak want hy het die ring gehou en niks verder gesê nie. Ek het maar soos gewoonlik aangegaan en blikke vol koekies by sy huis gebak vir die kinders om te geniet oor Kersfees. Op kersdag het hy my kom haal en al drie kinders en hulle mans was baie vriendelik. Hulle is almal weg begraafplaas toe maar ek was nie saam nie en het net gesorg vir die Kersmaal. Ons het heerik geëet en geskenke uitgedeel en dit was dit. Geen verlowing aankondiging en geen ring nie!
Die kinders het nog tot oujaarsdag gekuier en ek was feitlik elke dag daar saam met hulle. Op Nuwejaarsdag was al die kinders weer terug na hulle eie huise en ek het ek na sy huis gegaan om bietjie op te ruim. Ek was besig om te stofsuig in die woonkamer toe hy skielik agter my verskyn en se: “Nou toe! Hier is jou ring! Jy kan dit nou maar dra”. So romanties soos dit kon kom!
Ek moes weer op 2 Januarie begin werk en ek kan nog onthou hoe my kollegas die verloofring raakgesien het en begin gelukwens het. Ons het egter nog steeds geen datum vir die trouery gehad nie en ek het maar soos gewoonlik aangegaan. Vroeg in die volgende jaar het Hennie by my gekom en gevra of ons dit dalk kan oorweeg om my huis (wat toe pas feitlik oor gebou en gerestoureer was) aan sy oudste seun dogter en haar man beskikbaar te stel omdat hulle in ‘n effense finansiële krisis was. Natuurlik het ek nie omgegee nie maar dit het beteken dat ek by hom sou intrek. Die ouderling in sy wyk het hierteen by hom kom beswaar maak maar ons het ons min daaraan gesteur.
Teen die middel van die jaar het ons besluit om in Oktobermaand te trou Die datum is spesifiek gekies vir 11 Oktober omdat ons seker was dat baie van ons kennisse en kollegas wat ons nie noodwendig troue toe wou of kon nooi nie, weg sou wees vir die langnaweek. Dit het toe ook so uitgewerk en ons was slegs ‘n klein familiegroepie en baie goeie vriende. Enkele van Hennie se broers het die troue bygewoon en sy broer uit Port Elizabeth het met ‘n vrag proteas daar aangekom.
Ons het ‘n koue ete voorgesit en die klein onthaal by ons huis gehou. Alles baie privaat en informeel. Ek het maande tevore reeds begin om ‘n toppie te hekel in plaas daarvan om ‘n trourok te laat maak. Ek sou self ‘n romp maak om by die top te pas. Alles was in plek. My sus het my hare gedoen en gehelp met grimering en die meisietjies – Hester se twee en Hennie se oudste kleinkind, Marinelle, was uitgevat in hulle “trourokke” wat ek ook gemaak het. My vriendin en kollega, Petro Wolmarans het van die Kaap af gekom om die troue by te woon en het my blomme tydens die seremonie vasgehou in die kerk en ook as getuie opgetree.
Aangesien Hennie ‘n bekwame fotograaf was sou hy self die troufoto’s neem. Ons het gelukkig ook ‘n vriend gekry wat foto’s by die kerk sou neem. So neem ons toe foto’s; Hennie se beste vriend Dirk bestuur die troukar en ons trou; eet lekker na die tyd en slaap sommer die eerste aand by ons huis want ons het nooit wittebrood gehou nie.
Dirk het ook sommer in ons huis geslaap en die volgende oggend vir ons ontbyt in die bed gebring terwyl ons besig was om trougeskenke oop te maak. Ek kan onthou dat Dirk ook sommer een of meer van die trougeskenke persent gekry het want ons huis was reeds te vol met beide my en Hennie se goeters wat akkommodeer moes word.
Na alles was dit toe tog ‘n lekker troue. Al wat ek nie kon verstaan nie was waarom Hennie se swaer se vrou haar hart so uitgehuil het in die kerk. Verder het ‘n ander baie goeie vriend van Hennie die bedankings gedoen en “Hennie en Mari” hartlik bedank vir wat hulle vir ons gedoen het. So spook Mari toe op my troue maar dit was ook maar OK.
Na die troue vind ons toe uit dat Hennie geenfoto’s het nie want die film in sy kamera het vasgehaak! Gelukkig het ons ander vriend ‘n paar foto’s gehad en ek kon toe darem enkele foto’s laat vergroot en redigeer en beter maak by die Universiteit se fotografie afdeling. Ek plaas twee collages van ons troufoto’s hier.
No comments:
Post a Comment