Wednesday, September 28, 2016

Outobiografie Deel 31: The Hillside


Terwyl ons nog in Ednastraat gewoon het na al die huisverbeteringe aangebring was het Hennie begin praat daarvan dat ons dalk iewers by die see moet gaan aftree. Ons het toe besluit om Kaap toe te ry en die wêreld daar rond te gaan verken. Ons het van die Kaap af al met die tuinroete langs getoer en toe uiteindelik in Jeffreysbaai ‘n erf gesien wat moontlikhede ingehou het. Hennie het die erf gekoop en ons huis in Ednastraat verkoop.

Ek het begin met huisplanne opstel en dit baie geniet om daaraan te werk. Uiteindelik was die planne gereed en het Hennie begn reëlings tref vir bouers. Ons was van plan om ‘n huis te huur in Jeffreysbaai totdat die bouery voltooi sou wees. Toe begin die probleme – ons kry nie ‘n huis te huur nie en sukkel ook met bouers. Dit was net feitlik onmoontlik om oor die lang afstand van Pretoria af alles in plek te kry. Intussen het die tyd nader gekom dat ons moes uittrek uit die huis in Ednastraat. Toe verander al die planne en Hennie besluit dat ons dan maar liewer in Pretoria moet bly en weer eens begin ons huis soek.

Dit was nogal ‘n moeilike soektog want ons wou ‘n huis hê met klein tuin en het nie kans gesien om weer te restoureer en feitlik oor te bou nie. Ons soek toe tevergeefs maar kry niks wat in ons smaak val nie. Uiteindelik word ‘n huis vir my gewys waar ek moontlikhede sien maar dan sou ons moes restoureer. Uiteindelik kry ek Hennie sover dat hy darem na die eiendom gaan kyk. Daar was moontlikhede maar werklik baie om te doen. Hy stem saam met my voorstelle vir verandering en begin onderhandel oor die prys. Dit alles lei toe daarna dat ons die huis koop teen ‘n baie laer prys as wat aanvanklik gevra was.

So trek ons toe in en bou eerste ‘n kantoor en stoorkamer aan. Meeste meubels word later hier en in die garage gestoor. Na die buitegeboue voltooi is word die dak heeltemal afgegooi en die hoofslaapkamer, eetkamer en stoep uitgebou. In hierdie tyd was daar net een kamer en die gastebadkamer wat bruikbaar was. Dit was winter en met die dak af het die wind snags geloei deur die oop gang. Terselfdertyd was ek in die hospitaal vir ‘n operasie en moes maar so aansukkel.

Ten spyte van die gesukkel het ek dit tog geniet om alles presies volgens my voorkeure te beplan. Die restourasie en feitlik oor bou van die huis het ongeveer twee jaar geneem. Toe het ons ‘n pragtige leef huis gehad en die volgende op ons wenslys was om in Europa te gaan toer.

Ek wys hier sommer ‘n klomp foto’s van The Hillside want ons het so lekker daar gewoon.



 
 

 
 

 
Van toer en die lewe geniet het daar toe ook niks van gekom nie. Ek was steeds betrokke by die Technikon met die afstandsonderrig program. Ek het lekker maats gemaak met ons buurvrou Edna Adams en baie tyd saam met haar spandeer. Ek het ‘n lekker naaldwerkkamer gehad en het heerlik met laslappies gewerk en ook aandag aan my syverf gegee.
 

Monday, September 26, 2016

Outobiografie Deel 30: Werk in die korporatiewe omgewing

Fedics Food Services

'n Kort oorsig van my werk by Fedics Food Services en die Instituut vir Voedseldiemsadministrasie.

Kort nadat ek die eerste drie weke by Fedics Food Services gehelp het met die tenders vir die Vrystaatse hospitale het hulle my weer genader en ‘n pos aangebied. Tydens ‘n vergadering met die Uitvoerende direkteur en ander senior amptenare by Fedics het Hennie seker gemaak dat ek ‘n baie bevredigende aanstelling by hulle gekry het. Ek sou tien dae per week werk en ‘n motor van my keuse met brandstoftoelaag ontvang. Dit was ‘n lekker geleentheid om daardie BMW waaroor ek gedroom het te kry!

Al wat sleg was, nadat ons Pretoria toe getrek het was die ryery Johannesburg toe twee of drie keer per week. Toe ek daar begin werk het het die herbouery aan die M2 begin en hierdie werk is eers afgehandel kort voor ek ‘n paar jaar later weg is by Fedics. Ek het die probleem gedeeltelik oorkom deur te vra om 7vm te begin werk tot ongeveer 4nm. Dit het my kans gegee om die ergste spitsverkeer te mis.

‘n Groot gedeelte van my werk het bestaan uit besoeke aan die Fedics eenhede waar ek veral aan higiëne aandag bestee het. In die proses het ek ‘n higiëne handleiding ook saamgestel. Die riglyne in hierdie handleiding is gebruik wanneer ek inspeksies gedoen het. Na sulke inspeksies het ek dan ook terugrapporteer aan Mnr. Wigley tydens die maandelikse vergaderings van senior amptenare.

Lizette Olivier was die ander dieetkundige wat saam met my by die Fedics kantoor in Rosebank gewerk het. Ons het saam ook aandag bestee aan terapeutiese diëte en spyskaarte opgestel wanneer tenderdokumente voorberei was. Nog ‘n lekker projek was “Healthwise” waar ons wenke vir dieetterapie aangespreek het.

Vir die werk het ek ook dikwels Vrystaat toe gereis om inspeksies uit te voer by hosptale waar Fedics die spysenieringskontrakte gehad het. Dit was nogal lekker want sodoende het ek vir ‘n ruk lank nog kontak behou met my eertydse kollegas ook.

Na ‘n paar jaar by Fedics het my gehoor so verswak dat ek nie meer suksesvol kon kommunikeer tydens vergaderings nie en het ek bedank. Ek het in die proses goeie vriende gemaak by Fedics en was nogal hartseer om afskeid te neem van hulle. Die werk in ‘n korporatiewe omgewing was ‘n heel nuwe maar aangename ervaring. 

Instituut vir Voedseldiensadministrasie


Terwyl ek by Fedics gewerk het, het ek weer onder die indruk gekom dat opleiding noodsaaklik was vir persone wat by voedseldienseenhede gewerk het en nie geleentheid gehad het om voltyds te studeer nie. Ek het gereken dat dit mooontlik sou wees om afstandsonderrig vir hierdie doel aan te wend. Dit sou beteken dat studente nie hulle werk hoef te verlaat om te studeer nie. Wat egter noodsaaklik was, was om onderrigmateriaal saam te stel. Dit was ‘n reuse taak.

Die kursus het bestaan uit ses modules wat alle aspekte van Voedseldiensadministrasie sou aanspreek en moes in Afrikaans en Engels beskikbaar wees. Ek het kollegas genader om te help met die ontwikkeling van die studiemateriaal en het self die redigering en vertaling van meeste modules gedoen. Wat ook gehelp het was dat ek op daardie stadium reeds ‘n boek gehad het wat ek in Bloemfontein geskryf het vir studente. Al wat moes bykom was inligting oor kookkuns en voeding. Die grootste werk was om geskikte grafika te kry en ek het meeste sketse self gedoen In daardie jare het ons nog nie die wonderlike tegnologie van vandag gehad waar mens digitale kameras en grafika kon gebruik nie.

Sestien boeke/handleidings later was die onderrigmateriaal gereed vir aanbieding. Selfs die Internet was nie altyd beskikbaar nie en beslis nie met sulke omvattende inligting as wat ons vandag het nie. Ek het darem ‘n baie eenvoudige rekenaar gehad om mee te werk en het met Micrisoft Word se weergawe 1.9 begin werk!

Nadat die modules voltooi was het ek besef dat ek ook formele erkenning vir die kursus nodig gehad het. Na onderhandelinge met die destydse Witwatersrand Technikon het Jane Spowart meegehep om die kursus geakkrediteer te kry by haar Departement. Ek sou die studiemateriaal verskaf en Wits Technikon het die eksamens behartig.

Ek en Hennie het die kursus oral bemark en kort voor lank het ons heelwat studente gehad. Firmas was bereid om studiegeld te betaal en studente het oor die algemeen baie goed gevaar. Ongelukkig was daar ook die wat nie so goed gevaar het nie maar ons was tevrede dat die kursus suksesvol per afstandsonderrig aangebied kon word.

Na nog ‘n aantal jare is die leerplan vir Voedseldiensonderrig by die Technikon totaal hersien. Dit sou beteken dat ek ook die afstandsonderrig studietmateriaal moes aanpas. Ek het nie daarvoor kans gesien nie en toe is die kursus gestaak deur slegs nie weer nuwe studente in te neem nie maar die wat reeds geregistreer was kans te gee om die kursus te voltooi. Teen daardie tyd was Hennie ook al ernstig siek en het sy versorging my eerste prioriteit geword.

Monday, September 19, 2016

Outobiografie deel 29: My sewe kinders



Eie kinders het ek nooit gehad nie maar sewe van hulle (en later ook hulle nageslag) het sommer net in my hart gekruip en was deur al die jare tot nou nog net lief en dierbaar. Kom ek vertel van hulle met foto’s wat altyd my gunstelinge sal bly – die kleintyd veral. Die baie doopfoto's is omdat ek altyd in diekonsistorie was tydens die doopplegtighede omdie babas gelukkig te hou.

Millie


Die eerste kleinind in ons familie was Amalia of Millie soos ons haar nou nog noem. Amalia is gebore op 26 Oktober 1970. Ek onthou die dag wat ek haar vir die eerste keer gesien het soos gister! Op daardie dag het ek haar ook vir die eerste keer gebad in Ouma se huis voor die venster. Ek wou hê dat sy myne moes wees! Sy was myne maar nie soos vir haar ma nie – net vir lekker en baie lief wees. Millie was ons sonstraaltjie

Haar hoërskooldae by Oranje Meisieskool in Bloemfontein onthou ek goed. Ek het inderdaad ‘n aandeel gehad in hierdie skuif in haar lewe en ek dink dit was goed. Die skool was naby my huis in Whitesweg ensy het dikwes daar ingeloer en ook vir die matriekeksamen daar gestudeer. 

Sy is jonk vir die eerste keer getroud en ek onthou dat Hennie gesê het dat daardie plaastroue en van die lekkerstes was wat hy beleef het. Daarna het gelukkiger maar ook moeilike dae gevolg toe sy haar twee kinders alleen grootgemaak het. Vandag is hulle die toonbeeld van die liefde waarmee sy hulle destyds omvou het.

Sy het grootgeword en steeds haar plekkie in my hart volgestaan tot vandag toe! Daar was groot hartseer want vir sommige vanons is dit deel van die lewe. Vir sommiges net erger as vir ander maar Millie het die storms weerstaan en skitterend bo uitgekom! Dankie my lief! Jou plekkie in my hart sal altyd spesiaal bly maak nie saak hoe die lewe ons rondgooi nie.

Deur al die hartseer was Millie ‘n ystervrou nes sy vandag nog is. Haar kinders en kleinkinders lê baie diep in haar hart. Sy het hulle goed grootgemaak onder moeilike omstandighede maar vandag vergeet ons die seerkry en waardeer elkeen van hulle op ‘n besondere manier. Kinders om voorwaar trots op te wees! Die hartseer het selfs verder gestrek en ook haar eerste kleinkind weggeneem van ons af voor ons hom kon sien grootword maar vandag is daar ‘n tweede enetjie wie ons nog moet leer ken en liefkry. Die sal nie moeilik wees nie!

Pieter

Pieter is gebore op 12 Junie 1972. Ons winter babatjie. ‘n vrolike, liefdevolle, gelukkige seuntjie wat dadelik in mens se hart gekruip het. Lief vir sy sussie Millie, en almal om hom. Met die grootwordjare het hy na Sentraal hoërskool in Bloemfontein gegaan. Wat ek van daardie jare onthou is dat hy gereeld by my en Hennie kom kuier het. Sommer net ingeloer om dag te sê.
Die plaas was sy wêreld en het getuig van lekker speel met Millie en nefies en ander maatjies.


Die groot hartseer het gewag… ek onthou Pieter se eerste troue baie goed en hoe hy en Andrea my lughawe toe geneem het toe ek die koglêre kongres in Minneapolis gaan bywoon het. Toe ontvang ek die ontstellende nuus dat die twee in ‘n afgryslike motorfietsongeluk was en ek sukkel om uit die verre VSA te kommunikeer. Met my terugkoms het ek heel eerste hospitaal toe gegaan waar hulle altwee nog was – Pieter steeds bewusteloos in Intensiewe sorg. Die herstel was stadig en hulle is later oorgeplaas na ‘n Rehabilitasiesentrum. Pieter se huwelik was ook op die rotse en hy is kort na die ongeluk geskei. Nog hartseer by die hartseer.

‘n Ruk later het Pieter by my ingetrek en dis in hierdie tyd dat ons baie na aan mekaar geleef het. Hy kon beswaarlik loop en ek was nog rou na Hennie se dood en het gesukkel met my eerste koglêre inplanting. Ons het dinge maar dag vir dag gevat en uiteindelik oorleef. Op ‘n manier was die lewe tog goed vir ons twee.

Later is Pieter weer getroud en vandag baie gelukkig by die liefde van sy lewe. Die nadraai van die ongeluk is nog nie verby nie en vandag hou ek hom steeds in my hart want dalk is al die seer nog nie verby nie… Sterkte liefkind! Jy is vir ewig in my hart en ek weet jy stamp struikelblokke uit jou pad!.

Lief vir sy sussie en sy nefie, toe hy nog by my gewoon het en met sy Mooivrou

Jaco

Jaco was die volgende bondeltjie vreugde gebore op 29 November 1974! Hester vertel dat ek glo daardie eerste dag al vir Jaco vasgehou het en gesê het: “Hy is nou myne ook!”.

Ek onthou veral die kleintyd van hierdie plaaskind. ‘n Werkertjie van formaat! Ek onthou hoe hy doodmoeg aangemeld het vir middagete op die plaas nadat hy urelank saam met ou Blom in die skaapkraal gewerk het - werk soos in regtig werk met sy klein waentjie mis uitgery! Tot vandag toe is sy spreekwoord waar ek teenwoordig is: “Wag tannie Wia! EK SAL!” net soos hy telkens as ek gaan kuier het met waentjie nadergekom het om my goeters op te laai doen hy onlangs nog toe Woertsie in die motor gelaai moet word of wat ookal vir my gedoen moet word. Altyd ‘n glimlag en altyd behulpsaam.

Ek en Jaco het ook altyd storietjies gehad en hy het vir my Gesing: Kapoete Kapoete Kapat Die eseltjie loop in die pad; Hy pluk aan sy toompie, en sukkel met oompie ; en trek sy twee langore plat AAAN!” Iewers het ek nog ‘n bandjie waar Jaco hierdie liedjie vir my sing…

Saans as hy gaan slaap het wou ek aanvanklik nog die nagliggie aan hou maar sy antwoord was net: “ Sit af die lig ek wil nou slaap!”

So onthou ek ook vrolike tye op hulle plaas. Die kinders was in ‘n plaasskool en het gerepiteer om die “Fluitspeler van Hamelin” op te voer. Hester was in die hospitaal en kon nie help met die kostuums en ander voorbereidings nie. Ek het maar ingestaan hoewel daar nie veel te doene was nie. Jaco sou ‘n rot wees en sy kostuum het ‘n lekker lang stert gehad. Toe word ek vertel dat al die rotte op die verhoog sou moes verskyn en ek grap en vra Jaco hoe ek nou sal weet watter rot hy is? Ons besluit toe dat hy aan sy stert sal byt sodat ek kan sien waar hy is. So gesê so gedaan en ek sien tot vandag toe nog hoe hy met ‘n breë glimlag aan sy stert hap!


Afgesien van kuier op die plaas was daar ook die heerlike seevakansie by Kenton on Sea. Selfs daar is sy gewilligheid om te help getoets tydens Adéle se “potty training” Die foto spreek vanself! Met hierdie vakansie het hy ook saam met Ouma vir die eerste keer gevlieg. Toe ons vra daarna was sy antwoord:”Bo-op die wolke”.  

Later jare was daar ook die angstige geleentheid toe Jaco erg met petrol verbrand het terwyl hy aan ‘n voertuig gewerk het. Ek onthou die angs en is so dankbaar dat vinnige behandeling verhoed het dat hy ernstige letsels oorgehou het.
Jaco en Karen met Karlin kort na die ongeluk en Jaco en Corine 2014
 Jaco het altyd gesê hy is my man. Weet jy dis waar! Nog altyd!

Vandag is Jaco 'n wonderlike pa vir sy twee dogters en avontuur bly nie uit nie. Die hele gesin is lief vir 4x4 geleenthede en so is dit dan ook dat hy reeds met sy eerste verjaardag ‘n 4x4 persent gekry het! Die liefde vir spoed en avontuur is dalk ook ‘n belangstelling wat hierdie ou tante met hom deel. Dit is op my wenslys om nog saam met hom in daardie Landy te gaan ry…

Altyd hulpvaardig, "my man" en sy eerste 4x4
Adéle


AAAAH Adéle! Ons poppie gebore op 14 Januarie 1976 in Welkom. Ek onthou nog haar tuiskoms op die plaas! Lieflike vrolike kind en tot vandag nog deel sy liefde uit net waar sy gaan!!

 
Sal ek vergeet hoe sy ‘n tiekie draai gedoen het en haarkoppie geswaai het soos in die advertensie op TV – “Wow Lookie cookie now!” met die hare wat swaai oor haar skouertjies! My Pop vandag is jy nog net so mooi!

Op die plaas onthou ek hoe broer Philip Adéle en die seuns laat resies hardloop het al om Ouma se huis en dat sy elke ker gewen het! Vandag is sy steeds in ‘n wenspan!


Daardie einste vakansie op Kenton hou ook nog mooi herinneringe vas – ‘n vas-aan-die slaap Adele wat deur haar ma gepêpa word terug huis toe na ‘n warm dag op die strand. Adéle het altyd gesing – of liewer soos Hester gesê het “gedreun”. Liedjies geneurie vir haar poppe. Voor sy skool toe was het sy ook na ‘n kleuterskooltjie naby hulle plaas gegaan en op die vraag “Wat het julle gedoen?” was haar antwoord: “Gekleuter!”. Sy “kleuter” tot vandag toe nog!



Die lewe het Adéle ook bygekom met hartseer maar sy het uitgestyg bo die aanslae en het aangegaan met die lewe soos sy moes om vandag gelukkig te wees met haar seuntjie Miekie en man Gert en steeds kontak te hou met vriende en spesiale mense uit haar eerste huwelik.

Vandag oorlaai hierdie mooi vrou my steeds met liefde. Sy is die een wat sorg dat ek hier en nou nie alleen voel nie want ek word bygesleep wanneer ons rondom Gert se braaivleisvuurtjie kuier en wag dat die potjie gaar word terwyl jy my snoesig toevou in ‘n sagte kombersie teen die winterkoue. Sy karwei my aan na haar vriendinne wat sorg dat my hare en naels mooi bly! Dankie my Lief! Jou omgee en mooi glimlag dra my deur swaarkry en ook in goeie tye.


 

Corrie

Nou ja wat sal ek vertel van Corrie wat gebore is op 28 Maart 1976?


Ek onthou corrie se doop goed. Hy en Adele is op dieselfde dag gedoop en teen die tyd dat die foto’s geneem kon word was altwee babas nie juis geneë daartoe nie want hulle was honger en moeg! Daarom slaap Corrie al lekker toe ek die doopfoto geneem het en is ook maar nie te gelukkig saam met die Oupa Oumas en grootouma nie.

Corrie was ‘n anderster kind met ‘n baie sterk wil! Aanvanklik was dit vir my moeilik om te aanvaar dat hierdie kinner nie soos al die ander voor hom onmiddellik aanklank by my gevind het nie – hoe hard ek ookal probeer het om sy guns te wen. Hy was alreeds ‘n knapie wat lekker rondgedraf het toe sy ouers op ‘n keer by my in Bloemfontein was en hospitaal toe moes gaan vir ‘n aandbesoek. (As ek reg onthou was Jean in die hospitaal). Corrie moes by my bly en het keel opgesit die oomblik toe sy ouers vertrek! Daar was niks wat ek kon doen om hom te laat ophou huil nie! Net so droewig as wat hy gehuil het, het hy egter onmiddellik opgehou net toe sy ma by die deur instap na besoektyd! So dit was EK wat hom so ontstel het! 

Corrie se doop met Oupa Cor, Ouma Milla, Ouma Alice en Grootouma Poppie
Ek onthou ook hoe vriendin Petro se ouers in dieselfde tyd by my gekuier het. Corrie het reg by my verbygesluip en op oom Wollie wie hy gladnie vantevore geken het, se skoot gaan klim net om so ver as moontlik weg te kom van my af. Gelukkig het hierdie doelbewuste vermyding nie aangehou nie en het hy sommer op ‘n dag kort daarna sommer sonder vrees op my skoot kom klim en van toe af was ons groot vriende tot vandag toe!

Ek het min beleef van Corrie se grootwordjare omdat ek toe reeds nie meer so dikwels op die plaas gekom het nie. Hy het egter uitgestyg, ‘n goeie kwaifikasie behaal en intussen oral in Afrika rond gewerk en doen steeds so – meer weg van die huis as hier maar ‘n wonderlike man vir Mariza en Pa vir sy twee pragtige kinders.

Wat ek met groot deernis onthou is hoe lief Corrie en Mariza vir Ouma Alice was. Julle besoeke aan haar in die ouetehuis en veral daardie laaste dae in Karmel toe ek noodgedwonge nie naby haar kon wees nie sal kosbaar bly vir altyd!  


Vandag is Corrie al 40 en gaan hulle voort om liefde aan my te betoon! Hulle sukses in die lewe doen geen afbreuk daaraan nie. Veertig jaar later deel hulle ook liefde aan my uit en trek my nader soos die tyd vereis. Dalk het ek op ‘n manier Ouma se plek ingeneem… en dis goed so…  

 

Jean

Laaste seuntjie maar besis nie die minste nie. Jean is gebore op 17 Desember 1977 op sy Oupa Flip se verjaardag maar wat persoonlikheid aanbetref was hy de la Harpe in murg en been. Ek onthou sy doop! Hy het die de la harpe familiename nie verniet gekry nie! Sy oom Jean het geglo dat die klein mannetjie na hom vernoem was en het moeite gedoen om Jean se doop by te woon.

Wat ek egter beter onthou is die tyd toe Jean in die hospitaal was met sy eerste oogoperasie. Die soetste kind ooit! Hy was in die oog saal en nie soos ander kinders in die kindersaal nie en het al die pasiënte en personeel se harte gesteel. Die eerste oggend wat ek gaan loer het hoe dit met hom gaan het hy grootmeneer op ‘n saaltrollie gesit en saam met die saalsuster beweeg terwyl sy medisyne uitgedeel het. Almal se liefling.
 

Doop en pret
Op die foto’s kan sy liefdevolle laggie so goed gesien word! Hy was ‘n gelukkige kind en het gratis drukkies uitgedeel! Vandag staan ek steeds aan die ontvangkant van Jean se omgee al sien ons mekaar minder dikwels. Nie omdat ons nie by mekaar wil wees nie, maar bloot weens die fisiese afstand tussen ons.

Sy grootwordjare het ek ook min van beleef maar ek onthou hoe hy saam met Ouma op die plaas groente geplant en versorg het. Hy was dikwels in Ouma se geselskap en het baie by haar geleer. Deur die jare het hy ook ‘n noue band met Ouma gehad en ek onthou spesifiek ‘n besoek wat hy aan Pretoria gebring het kort na Ouma se beroerte terwyl sy by Lynmed Hospitaal was. Sy bekommernis oor Ouma daardie tyd voel ek tot vandag nog aan. 

Jean se troue met Lisa was vir my ‘n besondere geleentheid. Hulle was soos twee duifies. Ek kon haas nie ‘n foto neem waar hulle nie liefdevol aan mekaar vasgehou of na mekaar gekyk het nie. Jean en Lisa was beide dolgelukkig en ek glo vandag steeds. Die somtotaal van hulle liefdevolle persoonlikhede het intussen oorgespoel na hulle seuntjie Lian. ‘n Kind vol stories en deernis nes sy pa.
 
Jean en Lisa en Jean met Lian

Corlia

Op 18 September 1981 is Corlia gebore. Weer eens was ek in Klerksdorp hospitaal kort na haar geboorte. Op daardie dag het ek haar Poplap gedoop en so sal sy vir my bly vir altyd. Toe sy gebore is vier jaar na Jean was dit van voor af ‘n lekkerte om weer ‘n baba in die familie te hê. Vir haar boetie en sussie was sy ‘n lewendige speelpop! Vir ons ander ook!

Kuiertyd by die van Zyl gesin was vrolik. Ek en Gina het lekker daar gekuier en ek het selfs saam met die kinders gebad hehe. Sorgvrye dae waar ons net by mekaar wou wees soveel as wat ons kon. Kuiertyd was min en die kinders het onder my uit gegroei!



Corlia was een van die min kinders wat regte briefies vir my geskryf het. Ek het nog een van hulle! Nou al geel verbleik en broos maar dit dra nog die belangsteling van daardie jare.


Wat ek beste onthou was Corlia en Carlo se troue. Die troue was by ‘n gastehuis in Coligny en ek het oral foto’s geneem – werkers wat stoele uitgesit het, blomme in die tuin, Familie wat allerhande takies verrig, vooraf hare doen en grimering aanverf, troeteldiere en wat nie nog alles nie.

Toe breek die uur aan en dit REëN! Corlia en haar pa kom vrolik aangehardloop onder ‘n groot sambreel en ek staan gereed omde foto vandiejaar te neem as Gerrite haar aan sy nuwe skoonseun oorhandig. Adêle neem ‘n video en Kalie en skoonpa sit soos verkluimde hoenders onder ‘n sambreel.
 


Dis toe net daar dat ek besluit ek moet ek moet meer na die oostekant beweeg om ‘n mooi foto te kry maar hiervoor moet ek uit die pad van Adele met die videokamera kom. Om dit te doen buk ek toe laag maar misgis my met die nat gras en sloeg neer reg voor die troupaar en Gerrit wat op die punt staan om sy plig na te kom en Corlia aan haar toekomstige eggenoot te oorhandig! Ek lê plat op my rug met kamera omhoog in my hand en bloos beetrooi terwyl almal wil ophelp en weet of ek okay is! Wel my ego het baie seergekry en ek is druipstert op en gereed om voort te gaan met die fotonemery.

Die troue gaan voort asof niks gebeur het nie en dit reën saggies…Ek is later bekommerd oor die dowwe kolle op my kamera se lens maar Corlia hou daarvan. Die son breek uiteindelik deur en strooi die laatmiddag goue lig oor die gebeure soos ‘n sëen.


Ons het nogal lank gewag daarvoor maar uiteindelik is Poplappie daar! Corlia se rooikoppie, Anke, wat nou al vir jare lank almal se harte steel nes haar ma destyds gedoen het!

Ek en Poplappie met haar doop...

 Naskrif

Hierdie kort herinneringe is besis nie die totale som van liefde en omgee wat ek van “my sewe kinders” deur die jare gekry het nie. Feit bly staan dat daar ook ‘n tyd was toe ek nie so naby hulle was nie maar na Hennie se dood het hulle almal onmiddellik teruggekom om by my te wees en hulle is vandag nog steeds naby my. Nou, na Kalie se dood dra hulle my weer – elkeen op sy of haar eie besondere manier. Dankie dat ek ”Ma” kon wees vir julle almal maar veral dankie dat julle my intussen ook “Tannie-Ouma” gemaak het.

"Huidige"  Familiefoto's

Ons is net op troues en begrafnisse almal saam en dan ook nie eers nie, maar hier is die laaste twee foto's waar ek "my kinders" en hulle voor- en nageslag bymekaar het.

Met Jason se begrafnis was Philip alreeds oorlede en Corrie was nie teenwoordig.
Vlnr: Mariza Pieter, Laetitia, Philip, Thea, Ek Jean, Lisa Gert, Millie
Voor: Nicky en Lian

Hester en Gerrit se nageslag op Adele se troue... (Foto: Oswald Theart)
Agter: Altus , Gert Karen, Jaco, Adele, Hester Gerrit, Corlia Carlo met Anke
Kinders voor: Inge, Karlin, Corine en Miekie