Saturday, July 30, 2016

Outobiografie blog Deel 3: Mon Desir en Werda



Die dokumente rondom die verdeling van die plaas Mon Desir gee ons insig oor die ontstaan van die plaas Werda.

‘n Kykie na die dokumente wat Werda pa se eiendom gemaak het.

In teenstelling met familiegeskiedenisse waar mense vir geslagte lank op dieselfde plaas boer was Werda ons wêreld vir die huidige geslag en het die kleinkinders darem kans gehad om op die plaas groot te word. Hierdie beskrywing darem ook net om te wys hoe one plaas deel van die familiegeskiedenis en Pa se trots was.

Kaart en Google lugfoto van Werda asook landmeter se kaart

Onderverdeling van die plaas Werda toon ook die buurplase aan. Op die kaart word Mon Desir as “Restant” aangedui.

In ons tyd en dae was Goedehoop, aan die noordekant van Werda, oom Johannes vd Merwe se plaas. Oom Johannes was prokureur op die dorp en na sy dood het sy seun Nicola op die plaas geboer.

Oom Johannes se vrou was tannie Ann wat Engels gepraat het en ‘n trop honde as troeteldiere gehad het. Ek het vas geglo dat sy liewer was vir die honde as vir oom Johannes wat in die spaarkamer moes slaap omdat al die honde by haar op die bed was. Of so wil ek onthou  (giegiegie) uit vae kinderdae herinneringe.

Pa het later ook die plaas Sweethome, Suid van Werda, gekoop wat aan oom Koos Cilliers behoort het en Sweethome is ook kort voor haar dood deur Ouma Alice aan Buks Meintjies verkoop. 

Pa se broer Flip en sy kinders, eers Tollie en later sy dogter Bettie, se man Willem van Wyk het op Mon Desir geboer.

Die plaas Werda is ‘n onderverdeling van die plaas Mon Desir wat gesamentlik aan pa Piet en sy broer Flip behoort het. Die onderverdeling wat dus as die “geboorte”  van ons familieplaas beskou kan word is gedoen in 1949. Die Landmeter was ‘n ene S. Fereirra wat die opmetings reeds in 1948 gedoen het.

Transportakte vir die onderverdeling en oordrag aan Piet Cronje

Statistiek soos volg: Werda 274 morge; onderverdeling van die plaas Mon Desir no 2264 geleë in die distrik Winburg opgemeet in 1948.

Suider Breedte: 28 ° 19 ‘’
Ooster Lengte: 26° 30 ‘’

Mon Desir besonderhede

Ek onthou dat Pa Piet vertel het die naam Werda is afkomstig van die vraag wanneer ‘n wagwoord verlang was (In Duits “Wer ist da?” en in Afrikaans: "Wie is daar?") tydens die Tweede Wêreldoorlog. Pa was opgeroep vir die oorlog en sou “Noorde” toe gaan maar die vrede is verklaar voordat hy sou vertrek het waaroor Ouma Alice natuurlik baie bly was…

So het Werda sy bestaan gekry en Pa se trotse besit geword. Ons leefwêreld van wonderlike kinderherinneringe. Na Pa se dood het Ma vrou-alleen die boedery behartig saam met broer Philip tot die plaas verkoop is.

Ek onthou nog hoe vertel is dat ma die assessors flou geloop het op die plaas toe opnames vir pa se boedel gemaak moes word na sy afsterwe. Pa het voor sy  dood seker gemaak  dat sy ten volle ingelig was oor elke dier en implement op die plaas.
 


 Op die swart en wit lugfoto wat jare gelede van Werda geneem is, kan mens nog sien hoe dit in ons kinderdae daar gelyk het. Oupa Flip se huis en ons grootwordhuis, die dam en windpompe, die vrugteboorde en buitegeboue, die koeistal, silo en varkhokke. Selfs die trekker wat besig is om die hamermeul aan te dryf.

Die naambord het Philip gemaak en so vasgeanker in 'n betonblok dat die padwerkers dit nie kon loskry nadat hy weg is van die plaas nie. Die laaste keer wat ek op die plaas was het dit nog stewig gestaan. 

Die kleurfoto wys Philp se huis, ‘n nuwer sementdam, die groentetuin en buitegeboue by ons huis, die nartjie en suurlemoenbome langs Ma se huis en die groot stoor. Die sementdam het uiteindelik met 'n donderslag meegegee toe die waterdruk jare later te groot geword het vir die verswakte struktuur van die damwal. Die ouer dam by Ma se huis kan op die swart en wit foto gesien word asook twee windpompe en was een van die min strukture wat nog staande gebly het toe ek in 2012 op die plaas was. (Een windpomp by die ou dam en die ander regs bo in die hoek van die foto.) Daar was baie sterk grondwater op Werda wat Ma in staat gestel het om met groente te boer en vir die groot vrugteboorde.

Werda toentertyd en later…

Die statistiek is goed en wel maar kom ek lig ‘n paar herinneringe uit.. 

Mielieboerdery


Die vernaamste boerderyaktiwiteit was mielies plant en oes.

Aanvanklik het Pa en Oom Flip met spanne osse geploeg. Hulle was bedrewe in hierdie taak wat hulle reeds op Oupa Flip se plaas Philippusdeel, in die Winburg distrik as jong mans bemeester het. Ek onthou hoe die osse donkernag – omtrent vier uur in die oggend - reeds ingespan was. Mens kon duidelik uit die huis hoor hoe die osse geroep was op hulle name om plek in te neem. Later jare het pa met trekkers geploeg. Ek onthou spesifiek ‘n rooi Massey Ferguson trekker en hoe lekker dit was om saam te ry op hierdie trekker.

Graanboerdery het natuurlik ook swaarkry dae ingesluit wanneer pa-hulle gewag het dat die droogtes breek. Hierdie angstigheid van my pa was vir my ook ‘n emosionele ervaring omdat ek sy bekommernis kon aanvoel! Ek onthou veral die donderstorms! Wanneer die weer opgesteek het, het pa gewoonlik op die voorstoep gestaan terwyl die donderwolke aanrol en die blitse oral uitslaan. Wanneer die reën uiteindelik geval het was die angs ook daar dat dit tog net nie hael moes wees nie, maar soms was die haelbuie deel daarvan. Ek het saam met pa ineengekrimp oor die verwoesting. Na so ‘n haelbui het pa gewoonlik lande toe gegaan om die skade te gaan beoordeel en ons saamgeneem. Soms was daar van die  mielies wat reeds in die saad gestaan het feitlik niks oor nie…

Na ‘n lekker reënbui wat nie verwoesting gesaai het nie, was dit heerlik om padlangs te loop en in elke waterplas te spring. Ek kan nog goed onthou hoe die son op die bloekombome geskyn het na die reën en dit soos duisende blink diamantjies gelyk het. Dan het ons soms ook vlei toe geloop waar die water dieper was soos dit afgekom het uit die dam van oom Koos Cilliers op Sweethome. ‘n Bykomende lekkerte was gewoonlik dat die droogte gebreek was en ons weer kon swem in die plaasdam. Ma het ‘n reël gehad wat ons nie toegelaat het om te swem voor daar ‘n “landsreën” was nie. Na elke reënbui moes sy dan verklaar watter soort reën dit was en of ons dan maar kon swem!

Stofstorms, veral in Augustusmaand, was ook nie ongewoon nie. Dit was gewoonlik teen laatmiddag dat die stofstorms aangerol het. Alles was later so donker dat Ma soms die lampe aangesteek het. Dit was aaklig!

Oestyd

Oestyd op die plaas was heerlik en het gewoonlik plaasgevind gedurende ‘n groot deel van die winter skoolvakansie. Ons het dae lank gespeel op die dorsvloer en in die dennebome by die vloer rondgeklouter. Die bome was naby genoeg aan mekaar geplant om ons toe te laat om van een boom na die ander oor te klim en dan met die takke langs af te gly grond toe. Moenie praat van al die gom aan ons klere nie, maar dit was kinderpret.

‘n Spelery in die blare wat afgedors was, was net so lekker totdat ma ons saans gebad het en ons bene met brandspiritus en gliserien, wat erg gebrand het, ingevryf het. 

Oom Kottie Mynhardt het met sy dorsmasjien die mielies gedors. Ek kan onthou dat die dorsmasjien dikwels onklaar geraak het en dat die dorsery onderbreek moes word om herstelwerk te doen en parte te kry. Die mielies wat gedors was, is in goiingsakke geplaas en die sakke dan toegewerk met seilgare voordat die mielies na die graansuier op Theunissen vervoer was. Soms het ons saam gery graansuier toe en daar in die lang tou vragmotors en trekkers met sleepwaens saam met Pa gewag tot dit sy beurt was om af te laai. Andersins het Pa gebruik gemaak van karweiers wat die mielies met groot vragmotors aangery het graansuier toe. Die mielies se voggehalte is eers getoets voordat hulle toegelaat was om af te laai.

Dit was net so lekker om op die sakke met mielies te speel. Ek kan nou nog die gevoel onthou wat mens gekry het as jy die mieliepitte so bakhand deur jou vingers laat gly!

Oom Kottie Mynhardt se dorsmasjien

Met dorstyd het Oom Flip se kinders, Tollie en Bettie, ook dikwels saam kom speel en soms was Oom Tinie se seuns ook tydens die vakansie daar. Ek was gelukkig om ‘n ou fototjie van die dorsmasjien en Bettie wat op die sakke sit te vind – wonderlike herinneringe!

Werda is soos genoem uiteindelik baie jare later op ‘n veiling verkoop – die hartseerste dag in broer Philip wat as gevolg van jarelange droogtes nie meer die mas kon opkom nie, se lewe. 

My hunkering na die plaas het my enkele jare gelede op ’n soort bedevaart daarheen gelei. Ek was alleen daar en die verwoesting wat ek aanskou ‘n hartverskeurende emosionele ervaring. Philip se huis het nog gestaan maar was erg geplunder. Ons grootwordhuis is totaal afgebreek. Al wat oorgebly het was die ou groot boom waarin ons so lekker gespeel het, ‘n stukkie druiweprieel, een sementdam en die koeler voor die agterdeur. Van die vrugteboorde is daar ook niks oor nie. Ek kan nie die hartseer beskryf nie en plaas maar ‘n paar foto’s wat ek daardie dag geneem het. Ek het myself voorgeneem om NOOIT weer terug te gaan Werda toe nie. Intussen het ek verneem dat daar nou ‘n huurder in Philip se huis is en dat hy dit mooi restoureer het.










No comments:

Post a Comment