My voorskoolse jare was slegs gevul met kuiers by Ouma en
Oupa op die dorp en speel op die plaas. Ons het teruggetrek plaas toe na Pappa
uit die weermag ontslaan is. Daar was geen kleuterskole en ook nie eers graad R
nie. Die lewe was eenvoudig en ons was arm maar nooit gebrekkig nie. Ma en Pa
het hard gewerk en klaargekom met wat hulle kon kweek en versorg op die plaas.
Ons het ook later jare eers ‘n radio gehad en voor ek skool toe is nog perdekar
gery. As ek reg onthou het Pa eers toe ek ongeveer in Sub A was ‘n tweedehandse
motor by ons buurman, oom Ouman Steyn, gekoop. So ‘n swart Chev uit die
vyftigerjare. Verder kan ek nie veel van my kleuterjare jare onthou nie en leef
maar in die verbeelding terug wanneer ek die ou foto’s bekyk.
My broer Philip se geboorte
Ek was maar net ongeveer twee jaar oud toe my broer Philip gebore is en derhalwe weet ek vandag nie wat ek regtig onthou nie en of dit nie maar net is soos ek onthou uit latere vertelings nie. Hoe dit ookal sy, hier volg die storietjie.
Ons was op die dorp by Ouma en Oupa en ek salig onbewus
daarvan dat daar ‘n baba boetie of sussie op pad was. Daardie jare was die
geslag van ‘n baba, anders as vandag, eers bekend tydens die geboorte. Ek kan
onthou dat ek by Ouma en Oupa op die verebed gelê het. Dit het altyd gevoel
asof ek wou versmoor so op die bulsak tussen die twee ou mense. Ek was bewus
daarvan dat ek in die middel van die nag na ouma en Oupa se bed gedra was. Toe
het Ouma my vertel mamma is nie daar nie want sy “het vir ons ‘n boetie gaan
haal”.
Ek en Philip se eerste ateljeefoto |
Later die middag het ek saam met Baba na suster Theron se
kraaminrigting gestap. Daar aangekom was
mamma in die bed en langs haar ‘n wiegie met ‘n pragtige net oor. Ek was baie
nuuskierig en het beskeie gevra: “Kan ek maar die ‘kildyntjie’ oplig?” Met ma
se toestemming het Baba my effens opgelig sodat ek oor die rand van die wiegie
kon loer. Wel daar was my boetie! ‘n Kleine babatjie wat ek nou sou moes leer
ken. Dit het gevoel asof hierdie kennismaking lekker sou wees – en dit was!
Ek en Philip op pad Sondagskool toe |
Terug op die plaas het ons maar soos alle kleuters van
daardie tyd saam groot geword en saam gespeel. Sondae het ons kerk toe gegaan
en was vroeg reeds in die Sondagskool. Toe was ek reeds ongeveer vyf jaar oud.
Op die plaas by die sementdam |
Hester 2 jaar oud |
My sus Hester is vyf jaar na my gebore. Haar geboorte onthou
ek nie so goed nie behalwe vir ‘n herinnering van my ma en haar skoonsuster
Marthie wat in die kombuis in die laatmiddagsonnetjie gestaan en babakleertjies
stryk het. Weer was ek onbewus daarvan dat daar ‘n baba op pad was. My suster
Hester en haar nefie Fanie, is kort daarna gebore ‘n paar dae uit mekaar. Dit
was lekker om ‘n sussie ook te hê!
Baba en haar mense…
Soos reeds genoem was Baba Ouma Hennie se regterhand! Haar
man was Hendrik en my herinnering van hom was dat hy gladnie so vlytig soos
Baba was nie en maar altyd iewers in die agtergrond was. Baba het ook ‘n
dogtertjie (ons het haar ‘Meidjie’ genoem) gehad en hulle het al drie in die
buitekamer by Ouma-hulle gewoon.
Na Ouma se dood toe Oupa by ons op Werda kom woon het, het Ma
vir Baba werk gekry by tant Makkie Meintjes waar ek glo sy gewerk het tot tant
Makkie oorlede is. Teen daardie tyd was ek al op Universiteit en het nie weer
kontak met Baba gehad nie maar my ma het kontak met haar en haar dogter,
Meidjie, behou. Soos ek verneem het Baba oor die negentig jaar oud geword en
het Meidjie haar later jare versorg waar sy in die Swart woonbuurt gewoon het.
Een van Baba se takies wat ek nog onthou was dat sy
verantwoordelik was daarvoor om die stoof in die kombuis aan die brand te hou.
Meeste van die tyd was die brandstof mieliestronke wat Pa van die plaas af
gebring het maar Baba het ook vuurmaakgoed in die dorpsmeent, wat aan die erf
op die dorp gegrens het, gaan versamel. Dit was klam beesmis wat sy dan by die
huis in “patties” so groot soos haar hand, opgemaak en laat droog word het in
die son. Elke plakkie was so te sê ‘n handafdruk van baba! Dit het my altyd
neusoptrekkerig in verwondering gelaat dat sy hierdie taak so gemoedelik
voltooi het. Dit was ‘n feitlik daaglikse taak in die namiddag. Die droë
beesmisplakkies is dan saam met die ander vuurmaakgoed in die houtkas langs die
stoof gehou.
Skool, skoolkar en my eerste skoolmaatjies
Ma het my teruggehou tot ek amper sewe jaar oud was voor sy
my skool toe laat gaan het. Op daardie stadium kon ek alreeds lees, tel en
skryf en eenvoudige somme maak! Die gevolg was dat ek hoogs verveeld was in Sub
A en B en netsowel al in standerd een (vandag graad 3) kon wees. My Sub B
juffrou was Lulu Kruger. Haar man was ook 'n onderwyser en hulle was jarelank koshuisouers van die seunskoshuis.
Ek plaas my eerste skool fototjie. Volgens ‘n skoolvriendin,
Marthie du Plooy was dit ons Sub B foto want sy is op die foto en was volgens
haar nie in Sub A in Theunissen se skool nie.
Op die foto kan julle sien dat skooldrag nog nie verpligtend
was nie en my Ma het vir my bloesies met “sailor” kragies gemaak en truitjies gebrei met diertjies op wat vir haar
pragtig was, maar my erg in die verleentheid gestel het. Ek wou ook tog so graag
net ‘n gewone wit hemp hê! Ek het wel ‘n paar maatjies op die dorp gehad van
wie Elna Venter, die skriba se dogter, een was en naby Oupa-hulle se huis gewoon het.
Ons het oor en weer gekuier.
Volgens my ou skoolvriendinn Marthie du Plooy was dit ons Sub B Foto |
Met die hulp van my vriendinne, Marthie du Plooy en Barbara Cronje wat nog al die jare met my kontak behou het, het ons die kinders so goed moontlik probeer identifiseer.
Die name wat ek tot dusver vir die skoolfoto het (met 'n ? by die onbekende name) is:
Eerste ry: Ek. ?, Elna Venter, Marthie Du Plooy (Nee Nel), Barbara Cronje (Nee Roodt), Sarie Dupper, Amanda Holtshauzen, Louise Theron.
2de ry:Weggesteek agter my Meyertjie Oelfken, Marie Niemand, Yvonne du Randt, Inez Burger, Hester Meintjes, Hester du Plooy, Marie Verster, ? Elise Venter, Gerhardt ? en Ockert Botha
3de ry: Kootjie Dippenaar, Ryno Terblanche, Hansie du Plessis, Willie Kruger, Pieter Parsons, dalk Ryno Louw, Etienne Bruwer, "Kabouter" de Beer, Theuns Wessels, Koekemoer meisie en Andries Griesel.
4de ry: Juffrou Lulu Kruger, Teppi Kuhn?, dan 1 "Vetsak" (Ek dink sy naam was Jannie Coetzee) 2 onbekend, Jurie Louw, Thys du Plessis en ander een onbekend.
"Juffrou" Lulu Kruger met haar dogters Ida Kruger Le Grange en Retha Kruger Malan |
'n Onlangse foto van "Juffrou" Lulu Kruger wat op 87 jarige ouderdom oorlede is op 12 Junie 2014. (Foto verskaf deur haar dogters.)
Skooltoe gaan van Oupa se huis af was nogal ‘n belewenis.
Oupa en Ouma het my douvoordag wakker gemaak. Ouma het hare gevleg want vir die
enigste keer in my lewe het ek lang dun vlegseltjies gehad met natuurlik ook
die strik op die kop! Die dun vlegseltjies is egter teen die einde van Sub A
afgesny waarna die harekammery baie makliker was!
Ons moes elke oggend voor skool wag dat die bure teen die
spoor se kinders verbykom sodat ek saam met hulle kon stap. Hulle was die De
Beertjies en ons het sommer na hulle verwys as die “Kabouters” omdat hulle so
tingerig was. Hulle was baie arm maar gemoedelik en het ook seker maar baie aande honger gaan
slaap. My enigste kontak met hulle was die skool-toe stappery. Die jongste Kaboutertjie was saam met my in die klas en sy skool tas was ‘n blink blikkie.
Die skool was bietjie meer as ‘n kilometer van die huis af in dieselfde straat.
Oupa het dan in die straat bly staan en ons dopgehou totdat hy die een met die
blink blikkie sien indraai het by die skool.
Ons was gewoonlik lank voor die tyd by die skool en in die
winter was dit baie koud. As ons by die skool gekom het, het ons dan in die
klaskamer ingegaan om langs die stofie, wat lekker gebrand het, te gaan staan
en hande warm maak. My eerste kennismaking met die stofie was minder aangenaam.
Ek het handskoentjies uitgetrek en met kaal hand aan die stoofpyp wat vuurwarm
was gevat en my hele hand sleg verbrand.
Dit was bitter seer maar ek moes ‘n plan maak en het maar
die handskoen weer aangetrek en aan gehou. Gelukkig was dit my linkerhand. Ek
het geweet as Ouma dit sien sou sy begin dokter en dit sou baie seer wees. So hou
ek toe heel tyd vir meer as twee dae die handskoen aan en Ouma vermoed niks. Teen die derde dag begin sy onraad merk en teen daardie tyd was die waterblase
oop en leilik ontsteek en het oral aan die wolhandskoen vasgeplak! Wel, toe was
die behandeling baie erger as wat dit aanvanklik sou wees maar ek het oorleef! Meeste seerplekke van
die aard (en ook nerfaf knieë en insekbyte) is bloot met paraffien of brandspiritus behandel
en oop gelaat om droog te word. Paraffien was nog "oraait" maar brandspiritus het
soos die vagevuur gebrand! Ma het alles met paraffien gedokter!
Kort nadat Pa die Chev gekoop het is ons een middag almal in
die motor gelaai om te gaan kuier. Dit was my eerste besoek aan die bure waar
ek my eerste werklike maatjie ontmoet het. Haar naam was Barbara Roodt. ‘n
Krulkop dogtertjie ongeveer dieselfde ouderdom as ek. Ek onthou nog hoe ek gewens het dat my hare ook so moes krul. Ek was toe reeds in Sub A en het gedurende
die week by Oupa en Ouma op die dorp gewoon. Die doel van die besoek was dat Pa
en die bure beurte sou maak om die kinders van die volgende jaar van die plase af aan te ry
skool toe. So het die skoolkar ryery in my Sub B jaar begin en vir my aangehou
tot ek vanaf standerd vyf koshuis toe gestuur was. Die ander kinders het daarna nog vir 'n jaar of twee skoolkar gery.
My eerste oorslaap kuier by Barbara onthou ek baie goed! Dit
was in my Sub B jaar. Na baie duidelike instruksies oor hoe ek my moes gedra
het die kuier aangebreek. Met etenstyd het ek die eerste verrassing beleef.
Daar was so ‘n liggroen/geel vrug wat my baie aan roomys laat dink het maar
almal het dit op hulle brood gesmeer. Avokado! Die eerste hap aan my broodjie met
avokado was ‘n emosionele skok! Ek het gedink aan roomys en was glad nie die
sout smaak van avo met sout en peper op te wagte nie! Dit was vir my vreeslik sleg
maar volgens ma se instruksies moes ek sluk en alles opeet!
Dit was eers baie
jare daarna dat ek weer aan avo blootgestel was en toe het ek suiker oorgesprinkel!
Dit was lekker! Tot vandag toe verkies ek nog om avo met suiker te eet hoewel
ek darem alaan ‘n sout variasie ook gewoond geraak het, veral as daar fyn biltong
ook by is!
Na lekker speel het ek en Barbara saam in die dubbelbed gaan
slaap. Lekker knus teen mekaar lepel gelê. Tot my skok word ek toe die volgende
oggend wakker en ons altwee se boude en die bed is sopnat! Niemand kon vasstel
wie die kooipister was nie maar ek is tot vandag toe nog vas oortuig dat dit nie ek was nie. So ‘n ongeluk het ek nooit eers by ons eie huis oorgekom nie!
Soos dit maar met kinders gaan was die einste Barbara ook een van die voorbokke
wat my gedurende pouses by die skool ongenadiglik geterg het. Ek was maar ‘n
baie stil, skugter, inkennige kind en glad nie in staat om my man te staan teen
boelies nie, want ma se raad was altyd om liewer die ander wang te draai! Dit
was eers nadat ek in my veertigerjare met Hennie getroud was dat ek hierdie minderwaardigheidskompleks
oorwin het. Vandag weet julle dat ek vir niks stuit nie! Ek moet darem byvoeg dat
ek en Barbara vandag nog op Facebook vriende is sonder enige kwade gevoelens en slegs met mooi herinneringe.
Skoolkar
Skoolkar ry het baie insidente opgelewer.
Meeste kere was ons maar saamgebondel in ‘n kleinerige
motor – ongeveer elf kinders! Nie en van die boere het daardie jare ‘n motor
soos ‘n kombi gehad nie. Oom Ouman Steyn het gewoonlik met sy bakkie gery. Die
seuns en tasse agter in en die drie of vier dogtertjies voor by hom. Hester het
gewoonlik langs hom gesit so half weggekruip en amper onsigbaar onder sy arm en een van die vier
op ‘n ander se skoot! Amper soos die hedendaagse taxi’s.
Ek kan net van een geleentheid onthou wat die skoolkar nie
gery het nie. Dit het erg gereën en ‘n damwal bokant ons plaas het gebreek en
die vlei oorspoel. Geen kar kon deur nie en ons het ‘n bonus vakansiedag gekry!
Die volgende dag was die water egter afgeloop en moes ons weer skool toe! Daar het dikwels na 'n reenbui motors vasgesit in die driffie by die vlei. In so 'n geval het iemand dan met 'n trekker gekom om die motor uit te sleep. Later jare het dit my ook 'n paar keer oorgekom en moes Philip tot my redding kom. Al wat nodig was om sy aandag te trek, was om op die toeter te blaas en te wag!
Die lekkerste vir my was as dit oom Piet Roodt se beurt was
vir skoolkar ry. Hy was altyd vol grappies! Op ‘n dag was daar groot drama! In
die pad op ons plaas was daar ‘n bult in die pad soos ’n verkeershobbel. Oom
Piet het sy skoonma se hoedereiers in oop houers in die agterste venster van
die motor gehad en vergeet van die spoedhobbel en ons was alreeds effe laat! Die
volgende oomblik het hy rem getrap en die momentum het die eiers uit die houers
laat wip bo-oor die kinders op die agterste sitplek. Oom Piet se uitroep: “O hel
Ouma se eiers!” het nie die eierstorting gekeer nie! Wat ‘n gemors! Gelukkig
het ek voor in die motor gesit.
‘n Gebruiklike byna daaglikse vertraging op pad was oom
Hannes van der Merwe, ons buurman wat prokureur op die dorp was en elke oggend
na sy kantoor gery het teen ‘n slakkepas met ‘n ou Fordjie. Oom Hannes het ook
nooit anders as reg in die middel van die pad gery nie. Hy was gewoonlik reg
voor ons op die draai net voor Rietgat waar mens nie maklik kon verbygaan nie
en die bestuurder van die motor moes maar noodgedwonge ook stadig ry tot groot
vermaak van die insittendes wat die kommentaar aangehoor het. By sulke
geleenthede was oom Piet Roodt veral baie spraaksaam.
Mens, ek verlang partykeer so terug na hierdie tyd. Die plaaslewe was vir my geduurend my hele lewe die mooiste tyd. Dankie Wia . Dis so mooi
ReplyDeleteDankie Heloise Dit maak my so gelukkig dat jy my skryfseltjies geniet.
Delete