Magda Meintjes vertel so:
Dankie
vir die mooi vertelling van jou lewe saam met Oupa-hulle. Ek onthou my ma en
oupa het ook vir mekaar geskryf. My pa was net so lief vir tuinmaak en sy
vrugtebome. Hy het ook goed so reggemaak met die draad en goed prakseer wat hy
kon gebruik. Die onthou laat my soms baie verlang.
Ek kan
nie onthou van kuier by Oupa hulle op die dorp nie want ek was seker so 4 jaar
oud toe ouma Hennie oorlede is. Ons het by tannie Koot my ma se suster gekuier
en by tant Annie en oom Jaap op Oes. (Nota: Oes verwys na die plot waar oom
Jaap en tant Annie gewoon het) en by julle op Werda ook.
Ek
onthou jou ma het Pampoentjies gehad. Ek het by haar op die bed gespeel maar nooit
aangesteek nie. Sy het my na 'n Dr Fourie (tandarts) geneem op die dorp, wat ‘n
stukkie goud tussen my tande (vulsel) ingesit het. Dit is nou nog daar!. Ek het
ook heerlik saam met julle in die dam gespeel.
Ek
onthou ook hoe Hester klavier gespeel het dat die hond saam kon huil/sing. Jou
ma het altyd ‘n stofjas aangetrek wanneer sy gery het. Lekker dae
gewees.
Wia se nota: Ja
ek onthou die singery en die stofjas. My pa moes Sondae ook stofjas aantrek oor
sy swart manelpak en ma het hom dan goed “afgestof” wanneer hulle by die kerk aangekom
het.
Magda vertel verder:
Na jou
pa oorlede is het my pa jou ma bietjie gaan help op die plaas voor Philip daar
was. Eendag het hulle met jou ma se motor gery - ek kan nie onthou of dit na
oom Hansie toe was nie of na Alice Pienaar toe nie. Die motor het gerol iewers
op die grondpad maar nie een van hulle het seergekry nie.
Oom
Jaap was ouma Hennie se broer en tant Annie my ma se oudste suster. Sy het ons,
as jou pa ons nie op Oes by hulle kon gaan haal nie, met die kar en perde Werda
toe geneem.
Ek
onthou die koeler by die agterdeur waar groente en so meer ingesit was om koud
te bly. Ek verstaan dat alles tot niet is op die plaas. Dit is jammer.
Ek praat van Oes, dit was soos hulle gesê het 'n plot. Die familie het ook daar
bymekaargekom. So het alles verander…
Ek
lees van die name, so het ek ook ouma se name gekry van my ma se ma. Elizabeth
Gertruida Magdalena. Party onderwysers het Elizabeth gesê of soms de la Harpe. In Balfour Hoërskool het
hulle Magda gesê behalwe Geskiedenis
onnie het Liesbet gesê tot ek eendag
gesê het ek is nie so gedoop nie! Toe sê hy ook de la Harpe. Dit het ook verbygegaan...
Hester van Zyl
onthou so van Oupa en Ouma:
Ek is nie so goed bewoord soos jy
nie. Wat ek wel weet is dat oupa een dag ouma se skoene moes regmaak en toe die
hakke omgeruil het sodat hul weer aan die ander kant kan afloop. Ouma was baie
vies. Haar terugstraf aan oupa was dat sy sy werkbroeke wat altyd voor stukkend
was en sy gereeld moes lap bygedam het. Sy het toe besluit om sommer die
gulpknope in die agternaat te werk... dan is die bene
voor mos heel…
Wia se nota: Lekker lag ek tog vir hierdie agterstevoor broek en onkant skoene! Die broek vernuftig herstel deur ‘n professionele kleremaakster! Oupa se planne was ook altyd goed deurdink al het die ander soms nie saamgestem nie. Hy kon plan maak as dit moes en niks was ooit vermors nie!
Pieter Cronjé skryf so:
Tannie Wia, ek sal nooit in my lewe verveeld raak met stories oor my grootwordplek nie. Ek is net so hartseer dat al daardie bome nou tot niet is. Dit gooi my vandag om te moet sien hoeveel ons hier moet betaal vir heerlike vars vrugte waarvan ons in soveel oorvloed op die plaas gehad het. Ek is seker maar sentimenteel maar sal nooit NIE wil hoor van ons familie nie. Baie dankie vir die wonderlike herinneringe.
Wia ek haal my hoed vir jou af dat jy alles so kan onthou...
ReplyDeleteMy lewe het ook goeie dae, maar daar is baie wat ek eerder wil toesluit en die sleutel saam vat hemel toe.
Ek leef nou elke dag net vorentoe. Dit is beter vir my...:)