Thursday, July 28, 2016

Deel 1:Kinderdae op Theunissen en familiename


Ek is teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog op Kroonstad gebore op 10 Februarie 1944. Pappa was nog in die leër en het gewag om opgeroep te word maar gelukkig het dit nie gebeur nie. Mamma het vertel dat hy besoek afgelê het met my geboorte en dat die Suster in die kraamafdeling hom gevra het om te wys watter een sy dogtertjie was tussen die ander babas. Hy het glo sonder skroom reguit na my gestap en na die blou kombersie gewys! Nou ja die storie gaan verder dat Mamma slegs blou kon kry en nie pienk nie maar ek het al baie gewonder of sy nie gewens het vir 'n eersteling seuntjie nie. Hoe dit ookal sy Pappa was reg, dit was ek - toegewikkel in daardie blou kombersie!

Ek en Pa op die gras

My vroegste herinnering is gekoppel aan ‘n foto van my en Pappa op die plaas. Ek was toe so twee jaar oud. Ek kan wel onthou dat ons lateraan baie aande buite op die gras gelê en gesels het. Pappa het my dan die sterrestelsels uitgewys. Op die plaas was die sterre op ‘n donker aand byna voelbaar naby. As ek vandag nog die Suiderkruis sien herinner dit my aan daardie genoeglike aande. Die sterre in die stad sal nooit ooit so helder kan wees nie...


Kinderdae by Oupa Johnnie en Ouma Hennie

My verdere vroegste herinneringe was van die tyd toe Pappa nog in die leer was en ek en ma by Oupa en Ouma de la Harpe op Theunissen gewoon het. Dit was sorgvrye dae. Ek het baie tyd op die voorstoep spandeer waar ek gereeld op die stoep muurtjie geloop het. Mamma het vertel dat ek meeste van die tyd op my tone geloop het om bo-oor die muurtjie te kon sien voordat ek groot genoeg was om self op die muurtjie te kon klim. Daardie tyd het ek nie maatjies gehad nie maar my tyd verwyl saam met Oupa en Ouma. Meeste van die familiefoto’s in my besit was ook op hierdie stoep geneem.
Ek as baba saam met Oupa en Ouma op die stoep

Op die stoep was twee groot stoele vir Oupa en Ouma. Ouma het Josefskleed in paraffienblikke langs haar stoel op die stoep gehad. Oupa het gedurig plantjies gekweek van sade in konfytblikkies en dié het ook op die stoep gestaan.  Voor die stoep was twee groot nartjiebome en heelwat van die plantjies was nartjieboompies in wording.

Die stoele op die stoep en Ouma se Josefsklede

Oupa het die goeie gewoonte gehad om sorgvuldig aantekeninge te maak op foto's
Oupa het hierdie plantery voortgesit tot aan die einde van sy lewe toe hy by ons op die plaas gewoon het na Ouma se dood. Die boompies het Mamma soms irriteer en ek kan onthou hoe sy later vertel het dat sy Oupa se plantery gesaboteer het deur die jong saailinge net so effentjies uit te trek en dan weer terug te druk in die blikkie nadat die wortels beskadig was en hulle nie verder kon groei nie. Oupa was niksvemoedend oor die redes waarom sy plantery nie altyd suksesvol was nie.

Die nartjiebome voor die huis het lieflike soet nartjies gedra maar kinders was nie toegelaat om nartjies te pluk nie. Oupa sou dit self doen! Die kwaaijongens op die dorp het Oupa ook ‘n lewe gely met vrugte steel en dit was veral die nartjiebome wat deurgeloop het. So het Oupa dan plan gemaak om sy nartjie-oes te beskerm.

Oupa-hulle se slaapkamervenster het uitgekyk op die voorstoep en hekkie na die huis. Saans het hy dan die skuifraam van die venster oopgemaak en hom slaggereed gehou vir die kwaaddoeners. Hy het ‘n tou met leë blikke aan die voorhekkie vasgemaak en die tou al met die paadjie na die voordeur gespan by die voordeur in en tot in die kamer by sy bed. Sodra die hek oopgemaak word het die blikke dan geratel en het die geraas hom tot aksie laat oorgaan. ‘n Skoot in die lug met sy haelgeweer was gewoonlik genoeg om die vrugtestelers te laat spaander.

Afgesien van die nartjies het hy ook ‘n groot vrugteboord langs die huis gehad met perskes, pere, appels, kwepers en selfs granate. Ouma het vrugte ingemaak en baie konfyt gekook. Aan die noordekant van die huis was ‘n druiweprieel. Oupa het die trosse druiwe toe gehou deur bruinpapiersakkies om die trosse te bind wanneer die druiwe amper gereed was vir pluk. Dit het insekte weggehou van die druiwe af. Soos met die nartjies het Oupa ook self die druiwe gepluk en nie kinders toegelaat by sy prieel nie. Ek onthou veral die heerlike soet kristaldruiwe.


Ek onthou een episode met ‘n granaat. Hierdie lieflike rooi granaat het onder langs aan die boom gehang en het al reeds begin oop bars maar volgens Oupa was dit nog nie gereed vir pluk nie. Hierdie temptasie kon my broer onmoontlik weerstaan! Hy het die granaat gepluk en ewe trots vir my ma gaan gee! Oupa was natuurlik baie ontsteld en ma moes net keer of boet het pak gekry by Oupa. Ek kan nie presies onthou wat die uiteinde van hierdie storie was nie maar daarna was my broer maar versigtig om nie weer vrugte te pluk uit Oupa se tuin nie.

‘n Ander lekkerte was om by Oupa te speel waar hy in sy werkskamer doenig was. Hier was allerhande soorte gereedskap en hy het dae lank getimmer en goeters reggemaak – meestal met bloudraad en draadtang. Die detail van hierdie werkery kan ek nie onthou nie behalwe dat ek soms moes help vashou, maar ek onthou wel dat dit lekker was om in die namiddagsonnetjie te sit en hom dop te hou. Later jare het ons by ‘n neef van Oupa in die Overberg gekuier en die oom het gespog met ‘n stinkhout eetkamertafel wat hy pas laat restoureer het. Hy het spesifiek beduie na die een poot wat steeds met ‘n stuk bloudraad vasgeheg was en vertel dat hy spesifiek instruksies gegee het dat die draad NIE tydens die restourasie verwyder mog word nie want dit het ‘n “familietradisie” verteenwoordig. Die de la Harpes was vlytige mense en goed met handwerk. Oupa het vroeë dae met sy perdekar rondgery en windpompe herstel in die distrik.

Oupa was 'n baie netjiese man en het altyd 'n snyerspak wat Ouma gemaak het, met das en al gedra as hy iewers heen gegaan het en selfs met etenstye. Hy het dan wanneer hy by sy bestemming aangekom het sy werksklere aangetrek en wanneer hy vertrek het weer die snyerspak. Sy oudste seun, oom Charlie, wat in die Standerton distrik geboer het, het ook in sy voetspore gevolg met dieselfde ambag as ekstra inkomste by sy boerdery.

Koerantuitknipsel op Oupa se 90 ste verjaardag
Oupa was geliefd by die dorpsmense wat gereeld kom kuier het. Dan het hulle ure lank gesit en gesels. Gewoonlik het Oupa ook uitgevra na familie. My liefde vir die genealogie kom seker hiervandaan. Oupa se eerste vraag aan ‘n vreemdeling was gewoonlik “Wie was jou Oupa?” met sulke inligting het hy dan die familiespoor daarvandaan gevat en kort voor lank was daar ‘n verbintenis! Verder het Oupa ook ‘n formidabele korrespondensie gehad met mense selfs in die buiteland. Hoe sou ek tog nie vandag daardie briewe wou hê in my soektog na familiestories nie! Oupa het die familie goed geken en familiekuiers was ook aan die orde van die dag – veral met skoolvakansies en oor die Kerstyd en dan natuurlik met Oupa se verjaardae.


Wanneer ek verveeld geraak het om Oupa dop te hou het ek gewoonlik onder die seringboom in die agterplaas gaan speel met die bessies wat afgeval het of sommer net in die boom rondgeklouter. Dan het Oupa my natuurlik vanuit sy werkkamer dopgehou om seker te maak dat ek veilig is. Niemand was gepla daaroor dat die seringbessies dalk giftig kon wees nie.

Ouma Hennie


Nog 'n familiefoto op die stoep. 

Ek is vernoem na my Ouma Hennie. (Later meer oor my swaar dra aan hierdie familiename)

Ouma Hennie was ‘n merkwaardige, liefdevolle vrou! Sy was Oupa se tweede vrou na sy eerste huwelik met Alice Flora Admiral wat tydens kindergeboorte oorlede is. Tydens sy troue met Ouma Hennie het Oupa reeds vyf kinders gehad waarvan die oudste ongeveer agt jaar oud was. (In totaal was daar nege kinders met 'n paar wat jonk oorlede is, sonder die tweeling wat saam met haar oorlede is). Ouma Hennie het al hierdie kinders as haar eie aangeneem, grootgemaak en liefgehad en die liefde was wederkerig. Oupa het twee kinders by Ouma Hennie gehad – my tante Katie en my ma as jongste kind. My Ma is vernoem na Oupa se eerste vrou en Alice Flora gedoop omdat sy op die sterfdatum (19 Augustus) van Alice Flora Admiraal gebore is. 

Nota: Op die foto hou ek 'n bossie viooltjies vas wat ek toegelaat was om vir Ouma te pluk uit die mooi bedding voor die stoepmuurtjie. Viooltjies is tot vandag nog my gunsteling blom!

Ouma Hennie was ‘n gekwalifiseerde “tailor” en het haar eie skool en vakleerlinge gehad voordat hulle in 1919 uit die Ooskaap na die Vrystaat verhuis het. Op Theunissen het sy voortgegaan met naaldwerk doen en veral donskomberse maar ook klere gemaak veral vir vroue uit die destydse Jodegemeenskap op Theunissen. Ouma kon nie maklik loop nie en het meeste van die tyd soggens van haar bed opgestaan en met hulp tot by haar stoel in die eetkamer gekom waarvandaan sy dan haar take verrig het. Daar het sy sit en naaldwerk doen, gebrei of gehekel en instruksies aan die huishulp, genaamd Baba, gegee. Haar Singer naaimasjien – wat nou in my besit is – het ook in die eetkamer gestaan en was nader gerol wanneer sy moes stik. Anders het mamma die stikwerk gedoen. My ma het ook later jare voortgegaan met donskomberse maak en verkoop – beter as enige duvet wat jy vandag sou kon koop!

Ouma Hennie se Singer naaimasjien...vandag nog in werkende toestand
Baba was Ouma se regterhand! Ouma het haar as klein kind van babadae af letterlik onder die eetkamertafel grootgemaak. Sy was net so geliefd soos Ouma se ander kinders in daardie huishouding. Baba was ‘n “Boesman” en haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Ouma het haar leer kook en sy kon alles net so goed soos Ouma doen. Gewoonlik moes Baba die bestanddele vir geregte wat gebak moes word aandra eetkamertafel toe vanwaar sy dan die kosmakery behartig het onder Ouma se toesig. Vleis en groente het sy op eie stoom in die kombuis langs die eetkamer gemaak. Lateraan het ek saam help kosmaak of net verwonderd staan en toekyk.

Ek onthou veral Ouma se sago, brood en ryspoedings. Wanneer dit gemaak was is ek toegelaat om in die hoekie van die bakskottel - wat erd af was - my porsie ekstra lekker te maak deur ‘n klontjie botter, meer rosyne ens. net daar by te voeg. Met etenstyd is my porsie dan ook gewoonlik eerste uitgeskep. Ek het nog nie ‘n beter broodpoeding as Ouma s’n raakgeloop nie! Vir rys-, brood en sago-poedings was min of meer dieselfde resep gevolg: Brood in klein blokkies gesny, of rys of gaar sago gebak in ‘n vlamengsel van eiers, melk en suiker met rosyne by en besprinkel met neut en kaneel. Heerlik!


Die familiename



Ouma was vernoem na haar Oupa: Hendrina Lodewika Jacoba en haar noemnaam was Hennie. Familiename was baie belangrik in ons familie en ma moes my na Ouma vernoem en toe word ek Hennie Lodewia Jacoba gedoop. My tante Katie – Mamma se ouer suster – het egter ingegryp en Ma oortuig om my Wia te noem. Dit was goed en wel tot ek skool toe gegaan het. Wanneer die register gelees was in die klas het die onderwysers dan ook gewoonlik my volle name uitgelees tot vermaak van al die boelies in die klas en met speeltyd is ek genadeloos geterg met ‘n refrein van: “Ou seunsnaam, Ou seunsnaam!” Dit het baie trane gebring – soveel so dat ek selfs in my hoërskooldae nog ongelukkig was daaroor. 

Een insident bly my vandag nog by. Ouma se buurvrou was wat my betref ‘n luidrugtige, kwaai vrou vir wie ek maar lugtig was. Hierdie tante het weer begin skool hou toe ek in standerd vyf was. Die eerste dag op skool het ons gehoor dat daar ‘n jong mansonderwyser vir die een standerd vyf klas sou wees en dat “Tant Ollie” die ander klas sou behartig. Al die kinders was saamgebondel in een klas met die onderwysers gereed met die register om te kies wie in watter klas sou wees. 

Ek het die ergste gevrees en heel agter in die klas plat gelê op die skoolbank agter die ander kinders dat tant Ollie my tog asseblief net nie moes sien nie. Hoe naief kan 'n mens tog wees? Die volgende oomblik is tant Ollie toe toegelaat om eerste te kies en bulder sy met haar kenmerklike brei: “Hennie Kgongjee waag is jy?” Dit was die begin van my ellende by tant Ollie in standerd vyf en ek was sielsongelukkig! Op daardie stadium het my pa op ‘n keer aangebied om my name te laat verander maar ek het gereken die skade was reeds gedoen en dat dit nie werklik ‘n verskil sou maak nie. So dra ek vandag nog swaar aan die familiename…maar gelukkig weet niemand deesdae meer van my wroeging oor name nie en kan ek selfs daarmee spot.

Bietjie meer oor tant Ollie...

Sy was Ollie du Preez en haar man het die drukkery op Theunissen gehad. Hulle huis was aan die westekant van Oupa se huis en sy het dikwels oorgestap na Ouma en was jarelank ook goed bevriend met my Ma. Ek kon hierdie verknogtheid aan tant Ollie nooit verstaan nie want sy was beslis nie een van my gunsteling persone nie.

Toe ek in Sub A was het ma besluit dat ek skoonskrif lesse moes neem by tant Ollie om te leer hoe om in kursief te skryf. Hierdie lesse was ongeveer twee keer per week. Ek onthou nog tant Ollie se instruksies baie goed: "Skuins op geg af"! Dit was seker die enigste weldaad wat tant Ollie gedoen het want ek kon in my jong dae nogal baie mooi netjies skryf! Sy het hierdie instruksies tot selfs in my standerd Vyf jaar in die klas gedemonstreer op die swartbord.


















4 comments:

  1. How very, very wonderful Thank you for this beautiful journey through your life. I would love to read more Wia.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Halo Wia ek het jou eerste vertelling baie geniet. Jy het ‘n lekker verteltrant en jy hou die leser geboei. Ek het baie lank terug al gesê jy moet skryf. Moenie ophou nie.

      Ek het so bietjie ge-edit en kyk maar of jy saam stem.

      More gaan ek voort met deel 2

      Deel 1 : Kinderdae op Theunissen e familiename

      Paragraaf 2 - Laaste reël – (helderkan) moet lees – helder kan
      Paragraaf 4 - derde reël – (die) moet lees – dié
      Paragraaf 6 – tweede reël – ( - Oupa) moet lees – . Oupa
      Paragraaf 8 - Laaste reël – (prieel) – is dit reg gespel?
      Paragraaf 9 - derde reël – (sit) moet lees – dit
      Paragraaf 11 - eerste reël – (snyersspak) – slegs een s
      Paragraaf 11 - tweede reël – (heengegaan) – twee woorde dink ek?
      Paragraaf 12 – vierde reël – (urelank) – twee woorde
      Paragraaf 13 - vierde reël – (MY) – klein letters
      Heel laste paragraaf heel laaste reël – gedemonstreeer – slegs twee e’s

      Notas – Voorstelle
      1 vermy argetipe woorde soos mog.
      2 vermy die gebruik van (–) gebruik eerder ‘n punt.

      Baie liefde Oswald

      Delete
    2. Thank you for all the wonderful comments Heloise!

      Delete
  2. Baie dankie ook vir jou aanmoediging en hulp met die korreksies Oswald. Ek waardeer en het reggemaak.

    ReplyDelete